Thursday, February 28, 2008

Die kratte van die lewe kan so maklik breek

Wanneer mens een keer in jou lewe so baie dinge en mense wat vir jou kosbaar was in die lewe, moes agterlaat of ver verwyder word daarvan, dan besef mens weer die waarde van vriendskap. Vir die vriende wat ons nou al in Australië gemaak het (insluitende die' wat ons reeds van Suid Afrika af ken...julle weet wie julle almal is), wil ek net sê dankie. Ons waardeer julle vriendskap opreg asook al die lekker tye wat ons saam met julle deel. Vir al die kere wat ons op julle knoppie kan druk sê ons opreg dankie, vir die wat saam met ons kuier en die vreemdheid laat verdamp, dankie....

Hier is 'n baie mooi gedig van Ernst van Heerden, wat mens net weer laat besef hoe kosbaar die lewe is asook die mense wat die herinnering aan jou eendag met sorg gaan hanteer, en verby jou foute gaan kyk na die mens wat jy regtig was:

Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,
Want sierpotte en erdewerk,
Keurborde en fyn glas
Sluit ’n hele lewe
Met sy drome
En verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
Want die drag,
Van veerbed,
Tafel,lessenaar,
Druk teen die bors
Se dun skelet;

Dra saggies, regters
Want die oordeel
Oor my klein bedryf
Lê vasgevang
In prente, boeke
En ’n eie ou gemakstoel;

Dra saggies, Gode,
Want die hart se porselein
Is broos en te veel seer
En kwesbaarheid geneig:
Die kratte van ’n lewe
Kan so maklik breek

Ernst van Heerden


Hier is 'n paar gesegdes van C J Langenhoven wat vir my nogal baie laat nadink...

Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou ewemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir jou God.

Beleefdheid is die hoedanigheid van hart wat die stukkende hekkie nie raak sien nie en die aandag vestig op die blomme in die tuin daaragter.

1 comment:

  1. Hi
    Ek geniet jou blog baie.
    Klink my maar dat julle party dae homesick raak.
    Vasbyt, dinge hier in liewe ou SA maak mens party dae so moedeloos, ek oorweeg dit al sterk om ook maar "groener" weivelde te gaan soek.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings