Tuesday, November 13, 2012

Fietsry Video in die Fred Caterson Reservaat hier naby ons

(Skakel na hierdie inskrywing)

Wat doen 'n mens as jy vir so 'n uur of wat op 'n Sondag iets aktiefs wil gaan doen in Castle Hill? Wel, een opsie is om te gaan fietsry. Hier in die "Hills" gaan jy heelwat oefening kan kry. Jy kan natuurlik die publieke paaie aandurf, 'of jy kan in een van die baie parke gaan ry. Sondagmiddag soek ek toe op Google vir 'n fietsroete hier in ons omgewing. Ons gaan ry mos soms fiets by Parramatta Park, Centennial Park of Sydney Olympic Park, maar dit is heelwat uit ons pad uit. Ek dink toe daar moet 'n lekker fietsroete hier in ons omgewing wees. Dis mos waar Google Earth handig te pas kom. Spoedig sien ek toe daar is fietspaaie in die Fred Caterson Reservaat in Castle Hill hier naby ons en dit is net so 9 minute se ry (5.6 km) van ons af in Dural.

Hier is die kaart van die Reservaat. Julle kan ook die fietsryroetes vanaf die Satellietfotos eien.


Besigtig Fred Caterson Reservaat Fiets roete op 'n groter kaart deur hier te kliek.

Ek het die roetepunte met 'n Garmin ForeTrex 101 opgeneem wat ek al van toentertyd af in die Drakensberge gebruik het om my pad te vind. Dit kan tot 10000 punte stoor asook 500 "waypoints".

Ons het sommer die roetes gaan verken en ek het die hele verkenningstog van so 8.3 kilometer vir julle op die kaart geplot. Vandat ons begin het totdat ons weer terug was by die kar het ons 'n uur geneem.

Kyk, ek is mos nie wêreld se fiksste ou nie, maar wie gee om, mens doen dit mos vir die plesier daarvan. As mens dit elke keer 'n oefensessie maak sien jy later net op daarteen.  Derhalwe vat ons dit toe redelik rustig.

Ek het vir julle 'n video animasie gemaak van ons roete op die fietse.
Ek het die kaart se orientasie so bietjie gewysig met Gilbert Road aan die bokant sodat die hele roete beter inpas. (Noord is dus nie bo nie, maar die bokant is die Suid-Ooste). Gilbert Rd sluit later by Showground Road in Castle Hill aan.



Hier is 'n foto van die hoogte profiel van die roete soos uitgebeeld in die vorige Google Earth Animasie:


Wanneer mens so op 'n fiets ry, is dit nogal moeilik om heeltyd 'n kamera vas te hou, want jykan jou nogal self te pletter val as jy die kamera in een hand probeer vashou en met die ander hand probeer bestuur. Maar, gelukkig het ek onlangs so 'n vernuftige Sonbril HD videokamera gekry. Dit kan tot 3 ure se 25 raampies per sekonde Hoë Definisie Video neem en dit lyk opsluit nes 'n gewone sonbril. Daar is net een probleem...'n mens se kop is nou nie juis die ideale driepoot nie, en 'n mens draai ook nie jou kop so egalig in die rondte soos RoboCop nie, daarom kan die videos die gehoor partymaal so 'n bietjie "Rollercoaster" laat ry. Julle kan die volume maar so bietjie afdraai, veral waar die wind so raas op die mikrofoon van die kamera wanneer mens vinnig ry.

Ek gee julle hiermee so 'n bietjie van 'n kykie hoe die wêreld vanuit my oë lyk - so asof julle in my KOP is....die spesiale harde asemhaling wat julle hoor terwyl ek uitasem raak op my fiets is vir spesiale effekte.

Ek het nogtans besluit om 'n paar videos van die roete te maak en dit vir julle op te laai om julle sodoende so 'n bietjie van 'n idee te gee hoe dit langs die roete lyk.

'n Mens kan op 'n paar plekke in die Fred Caterson Reserve parkeer. Ons het besluit om naby die BMX bane in die middel van die Reservaat te gaan stop en dan die paadjies daarvandaan te gaan verken.

Die eerste been van die roete begin soos volg:
Fietsry in die Fred Caterson Reservaat in Castle Hill (Deel 1 - Boendoe Bashing)



Ons het die fietsry roete afgeskop in die sentrale parkeerterrein naby die BMX baan.  Die roete gaan dan om die sokkerbane, verby die bofbalbaan en dan deur die bome tot waar dit uiteindelik by die groter paadjie aansluit. Hier en daar moet mens jou fiets so bietjie oor die rotse help, maar meeste van die pad kan mens gemaklik op jou fiets aanhou ry tussen die bome deur. Indien jy nie wil boendoe bashing doen nie, kan jy eerder agter die BMX baan by die breër paadjie aansluit en dit dan na regs volg tot waar dit Gilbert Road kruis.

Hier is die sonbril video van hierdie deel van die roete. (Vir my was dit nie minder mooi deel van die pad)



Nadat ons met die rowwe deel klaar was, was daar 'n lekker breë fietspaadjie met op plekke sementpad was. As jy met die paadjie aanhou kruis dit later Gilbert Road. Daar is 'n tonnel onder die pad deur en mens kan die paadjie verder volg totdat dit by Tuckwell Rd uitkom - dit is die pad wat by Castle Towers winkelsentrum  uitkom (en daar is sulke rooi strepe op die pad). Ons het tot daar gery en toe weer die paadjie terug geneem tot naby die BMX baan.

Fietsry in die Fred Caterson Reservaat in Castle Hill (Deel 2 - Die Noordelike deel)



Hier is die sonbril video van die tweede deel van die roete. Hierdie was 'n lekker deel om te ry en ook baie gelyk en meer groen.



Einde ten laaste die laaste been van die fietsroete...

Fietsry in die Fred Caterson Reservaat in Castle Hill (Deel 3 - Die Suidelike deel)



Ons het so 'n effense ruskansie gevat om water te drink en toe het ons die suidelike paadjie geneem vanaf die BMX baan, deur die bome verby sportvelde to by die Basketbal stadium.  Hier en daar kan 'n mens oor 'n bruggie ry om by die omliggende woongebied uit te kom. Mens kan ook aan die suid westelike kant by Cedar Grove en Brooke avenue aansluit. Hier is ook 'n plek waar jy jou kar sou kon parkeer om met die fietse te ry. Ons het verder verby die Hills Basketbal stadium gery en so 'n effense draai verby die tennisbane gemaak waarna ons terug is tot waar ek die kar geparkeer het.

Hier is die sonbril video van die laaste deel van die roete. Nogsteeds baie gelyk met goeie fietspaadjies. Hierdie is 'n lekker Sondagmiddag roete.



Ek het hier en daar van die videos verkort, soos met die oninteressante deel verby die tennisbane.

Ek hoop hierdie inskrywing sal vir julle 'n idee gee van hoe dit op die roete lyk.

2 comments:

  1. Jou inskrywings oor Australie bly baie interessant. Ek sukkel net om hier kommentaar te lewer.

    ReplyDelete
  2. Ah! Ek sien darem hierdie keer het ek reggekom! :)

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings