Wednesday, September 24, 2008

Huis, Paleis, Pandok...varkhok

Wanneer jy jou vaderland verlaat, jou huis opgee, al jou familie en vriende agterlaat tesame met alles wat jou tot op daardie stadium ge-definieer het as mens, ondervind mens noodwendig 'n soort identiteitskrisis. Nie baie emigrante sal dit vir jou sê nie, maar 'n mens verlang baie terug. Dit waarna mens terug verlang is egter 'n ontwykende ding, want jy kan soms nie self jou vinger daarop sit nie. Voorheen was jy in jou element, tussen jou eie mense, nou voel dit vir jou af en toe of jy op 'n oorsese TV reeks se filmstel ronddwaal.


Ek het egter terwyl ons nog in SA gewag het vir al ons trek voorbereidings om afgehandel te word, soms die' eksperiment gedoen: 
Wanneer ek winkelsentrum toe gegaan het, het ek spesifiek uitgekyk hoeveel van die mense wat my pad kruis in die groot winkels en inkopiesentrums werklikwaar aan my bekend was. En ek het toe een ding besef - omtrent almal was mense wat ek vir die eerste keer in my lewe gesien het, of soms net onthou het omdat ek hulle elke dag met middagete verby my sien loop het. Al was dit my "eie" land, was die meeste mense tog onbekendes.

Een ding wat ek egter in gemeen gehad het met al hierdie onbekende mense oral rondom my op straat en waar ek my ook al bevind, was die feit dat ons in soortgelyke omstandighede grootgeword het, dieselfde lewensindrukke gedeel het, ook waarskynlik elke aand na Riaan Cruywagen op die nuus gekyk het, dieselfde TV advertensies gesien het, meestal almal Afrikaans kon verstaan en soortgelyke bekommernisse en vrese gedeel het. 

Ek het myself dan afgevra: Nou wat is dan nou eintlik anders? Hier in Sydney is die meeste mense wat jy in die winkels sien ook onbekendes. Totdat jy met hulle praat, kon hulle net sowel deurgegaan het as Afrikaanse mense, want hulle lyk maar dieselfde. Die kleurskakerings neig hier net na die ligter kant. Dan wonder mens soms hoekom ondervind mens so 'n vreemdelingsgevoel al is die meeste mense waarmee jy jou paaie kruis steeds onbekend is, selfs in jou vaderland? 

Waar jy vandaan kom leef mense by mekaar verby en hier ok maar - soos skepe wat in die nag in die hawe by mekaar verbyvaar : heeltemal onbewus van wat in mekaar se leefwêreld aan die gang is. Almal van ons is vreemdelinge....totdat jy een van die persone op jou pad van nader leer ken. Skielik word daardie persoon deel van dit wat bekend is in jou leefwêreld. Mens ry elke dag byvoorbeeld saam met vreemdes op die bus en trein. Eendag egter vra iemand vir jou by die bus-stop wanneer die volgende bus opdaag. Jy antwoord vriendelik en begin sommer oor alledaagshede gesels. Jy vra waarheen hulle oppad is? Ja nee, daardie bus kom oor so 5 minute. "Ek ry ook met daardie bus."  Dan hoor jy hulle bly net hier af in die straat en is al 11 jaar hier in Sydney. Die volgende dag is daardie persoon skielik nie meer heeltemal vreemd nie, en groet ons mekaar. Kort voor lank word hulle deel van die mense waarmee mens kort geselsies aanknoop in jou reise tussen huis en werk en huis. Net so hoor mens byvoorbeeld dat die busbestuurder binne 'n paar jaar wil aftree. Hy wil graag vir hom 'n plekkie langs die Suidkus gaan koop, maar tot dan bestuur hy maar bus. So leer ken mens maar "jou naaste" oral waar jy kom. Dit begin stadig maar seker by jou insink dat die mense van jou vaderland jou tog eendag dalk gaan vergeet en dat die mense wat jy nou ontmoet die nuwe bekendes in jou lewe word. 

Nog 'n krapperige klitsgras in jou kous is die feit dat huise so duur is hier in Australië. Dis eintlik nie net 'n klitsgras nie....dis 'n bleddie groot klip on jou skoen. 

Julle kan dit maar weet - mens sukkel baie hier in Sydney om 'n huis te huur te kry. Ons 1 jaar huurkontrak waar ons gebly het het verstryk en ons het gehoor dat die eienaar van plan is om al die huise in die kompleks waar ons bly te verkoop. Daarom het ons seker al so 3 maande lank begin om vir 'n ander huis te soek. Dit het maar moeilik gegaan, want daar is baie groot aanvraag vir huur eiendom. Huispryse is deur die dak. Dit is nou wel bekend dat die gemiddelde huisprys van 'n huis in Sydney 6 keer die jaarlikse gemiddelde inkomste is, in vergelyking met 3 keer die jaarlikse inkomste in Amerika. Ons het ook al gehoor dat dit nou duurder is om in Sydney te bly as in New York. Die stygende rentekoerse maak dat baie mense hulle huise verloor en nou in huur akkommodasie moet intrek, baie beleggers is ook nou sku om huise te koop en uit te huur omdat die huur inkomste 3 keer kleiner is as die paaiement op die huis. Daar daag sommer 'n hele klomp voornemende huurders by 'n huis op wat in die huurmark is en dit is moeilik om 'n geskikte 2'e handse huis in die hande te kry wat jy teen 'n nie-belaglike prys te huur kan kry. Die slotsom: Daar is 'n moewiese huis tekort in Sydney : "The experts have been arguing for some time that Sydney has a housing shortage, exacerbated by high levels of immigration."

Volgens wat ek kon agter kom uit nuusberigte, die nuus op die TV en mense wat mens mee praat, word dit veroorsaak deur faktore soos die huidige wêreldwye kredietkrisis.  Banke is huiwerig om geld te leen vir mense om huise te kan koop en daarby moet mens 'n baie groot deposito bymekaar kan maak voor jy wel kan koop.  Die feit dat huispryse so hemelhoog is maak dat baie minder mense die huismark, selfs vir 'n belegging, en gevolglik is huureiendomme baie skaars.  As gevolg van die stygings in rentekoerse (wat hier is Australië histories baie laag was en dit moontlik gemaak het vir mense om baie meer te leen) het sommige huiseienaars hul huise verloor omdat hulle eenvoudig nie meer die verband-terugbetalings kon bybring nie en genoodsaak was om hul huise deur die bank te laat terugneem.  Die enigste opsie vir baie soos hulle was dus om in huur akkommodasie in te trek.  Daarby is die jaarlikse instroming van immigrante soos ons nou op die hoogste OOIT in die geskiedenis van Australië.  Bykans 350 000 mense kom jaarliks hiernatoe.  Sover ek verstaan word daar of nie genoeg grond beskikbaar gestel deur die regering nie, of daar vind nie genoeg nuwe ontwikkelings plaas as gevolg van toenemende grond en boukoste nie....wat ook al die rede vir die tekort aan huise, die situasie is dat daar nie genoeg huise is om te huur hier in Sydney nie.  'n Groot hoeveelheid mense ding mee om 'n klein klompie beskikbare huise.  Volgens 'n onrusbarende berig vandag in die koerant, is daar nog net 739 huise beskikbaar om te huur in die hele Sydney.

"Rental rage era as vacancies vanish"

Aan die laer koste huur huis omgewings, kom mens plekke teë wat nie altyd in 'n goeie toestand is nie, in die middel ding mens mee met BAIE ander voornemende huurders en aan die hoër koste omgewings moet mens jou dollars rek en 'n groot persentasie van jou inkomste afstaan aan behuising...

Dan ag ek myself gelukkig dat ons onsself nou vasgeteken het in 'n 3 jaar huurkontrak, maar ek dink steeds aan die woorde in Hebreërs 11 : 13:
In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek.
En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.
Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei.

Wat is "vreemdelinge en bywoners" anders as "immigrante en huurders" in moderne taal?

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings