Wednesday, October 12, 2005

Elkeen gaan heen op sy eie manier

'n Hele ruk gelede het ek op die volgende storie afgekom wat soos wat ek kon aflei deur die geliefde radio persoonlikheid Fanus Rautenbach bymekaargesit is. Hy het geskerts met die manier wat ons almal eendag gaan doodgaan...

"Ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep:

Reisigers gaan heen

Die melkman en die posman kom om

Jagters gaan bokveld toe

Kokke steek lepel in die dak

Die horlosiemaker se tyd breek aan

Die valskermspringer ontval ons

Die tuinier word van die gras af gemaak

Die melkboer skop die emmer

Die begrafnisondernemer sien sy gat

Die dominee het die tydige met die ewige verwissel

Die ouderling is ontslape

Die skeidsregter blaas sy laaste asem uit

Dis gradedag vir die student

Die golfspeler is skoonveld

Die dobbelaar is noodlottig beseer

Die bouer is ses voet onder die grond

Die motorband verkoopsman het sy dae verslyt

Die stasie kruier stoot nou Daisies

Die motorkaper is daarmee heen.

Die bankklerk is nie meer met ons nie (banke is mos met ons elke tree van die pad)

Die argeoloog keer tot stof terug

Die skoonmaker is morsdood

Die deurwag is by die poorte

Die chirurg se hart het gaan staan

Die elektrisiën se liggie word uitgedoof

"Die rekenaarprogrammeerder het gehang" - hierdie een het ek bygevoeg!!

Die koster het die doodsklokke hoor lui

Die kleremaker se draadjie word geknip

Die politikus rus in vrede

Die skrynwerker maak dit nie

Die dief is van die lewe beroof

Die atleet het dood neergeslaan

Die motorwerktuigkundige het die gees gegee

Die renjaer se lewe het by hom verbygeflits

Die oogkundige het sy oë gesluit

Dit is klaarpraat met die dosent

Die regter se oordeelsdag breek aan

Die teoloog het sy Moses teëgekom

Die geoloog word ter aarde bestel

Die dromspeler is op slag dood

Die slagter het die spit afgebyt"


Dit was en bly vir my nogsteeds baie besonders dat ons in Afrikaans soveel verskillende maniere het van doodgaan....

Monday, October 10, 2005

Miskolle

Partymaal kom mens se kinders met die snaaksste sêgoed vorendag.  Laasweek hoor my sesjarige seuntjie die weervoorspeller praat van miskolle oor dele van die land.  Net vir interessantheid vra ek hom toe of hy weet wat miskolle beteken.
 
Sy antwoord was: "Pappa, dis wanneer jy iemand bel, maar jy sit die selfoon neer voordat hy kan optel..." (sy wakker brein het dadelik gedink dit het iets met 'missed calls' uit te waai)

Sunday, October 09, 2005

Die nimmereindigende gewoel van die lewe

Hier is ek, 'n wese van die lewe in die 21 ste eeu. Tegnologiese vooruitgang het dit mos vir ons metropool nasie moontlik gemaak om 'n "heel rustige" asemlose bestaan te maak. Die "moeitevolle arbeid" waartoe ons verdoem was in vroeëre eeue is mos nou veronderstel om 'n saak van die verlede te wees. Al die magdom katoeters (Afrikaans vir "gadget", nee regtigwaar!) het ons niks in die sak gebring nie. Want steeds elke dag swoeg ons, werskaf ons, skarrel ons, net so koorsagtig soos 'n muurkolonie wat verbete swoeg om al die eiers na hoë grond verskuif te kry voor 'n stortvloed reën in die somer. Hiermee hou ons aan bykans ons hele lewe lank, totdat ons eindelik tot ruste gelê moet word (soms voortydig) teen ons sin nadat ons "makliker" lewe al die lewensap uit ons getap het...

Meeste van ons vandag word vry gebore. Meeste van ons kom nie die wêreld binne as die eiendom van 'n ander nie. Ons is vryburgers van die nuwe millenium. Vry om ons eie weivelde uit te soek, vry om ons eie drome na te jaag, vry oms eie kop te volg. As ons gelukkig is, kom jy via die "regte" familie die wêreld binne, met die broodnodige finansiële voorsprong. Dis nou as jy sukses net aan stoflike welvaart sou meet. Sonder dat ons dit sal wil erken, word ons in 'n sekere vlak van die samelewing in-gebore, wat soms (maar nie altyd nie) direk everedig is aan die mate van moeite wat vir ons gaan voorlê as grootmense. Dan is daar ook die op en en wakker enkelinge onder ons wat 'of deur onverskrokke hul drome na te volg, 'of deur eenvoudig baie hard te werk en te leer, daarin slaag om hulself uit te lig na 'n ietwat makliker, maar soms meer stresvolle, dimensie van lewe. Hoe dit ook al sy...ons is baie doenig hier op moederaarde.

Nou vra ek myself die vraag: Is ons werklik nog vry? Of is ons noodgedwonge dwangarbeiders, slawe van ons eie luukshede, vasgeketting met 'n polshorlosie aan die pendulum van die moderne lewe? Kan ons regtig gaan waar ons wil? Of is ons ook maar soos tronkvoëls gedoem om 'n derde (of meer) van ons lewe vasgekluister te wees om die pot aan die kook te hou. Ten minste laat hulle ons toe om in die aande huis toe te kan ry en in die verkeer te kan gaan wroeg. Enigste verskil...ons betaal vir ons eie verblyf.

Soms laat ek my toe om van al hierdie gewoel te ontsnap. Ek neem die voetpad van my verbeelding na die domein van my drome. Ek leef my uit in als wat mooi is in die natuur, die hemelruim bo my, die gedruis van die see, die geklots van water oor 'n rots by 'n waterval. Ek neem die "groen voetpad van die horison vêr, om die aarde skat..." en breek weg vir 'n staproete of wat met my kamera in my hand en my sintuie paraat soos 'n voetsoldaat, op soek na nuwe sonsondergange, wye oop ruimtes, oop skoon sterrenagte, wit roomskuim wat blink ongeskonde strande oorstroom in die vroeë oggend langs die see, sout seesproei wat waai teen mens se gesig, vars blommegeure en die reuk van vrugbare blarewoudbedekking terwyl mens stap deur modderige paadjies in klowe...

Ek kwoteer een van Koos du Plessis se alombekende en geliefde liedjies, wat vir 'n natuurmens 'n heel ander betekenis kan aanneem:

"As jy my kon volg op die vleuels van die wind, na wêrelde oorkant die maan,
sou jy my spoor in die melkweg vind, my tent tussen sterre sien staan,
Want ek is nog jonk en die wêreld is oud, sy skadu val ver deur die ruim,
neem nou my hand want die nag word koud, en waarom sal ons versuim..."

Koos du Plessis

Dan, as die roetine vir my te veel word, van elke dag opstaan, werk toe gaan, terugkom, eet, slaap, werk toe gaan;
dan vat ek die pad na die platteland en ontnap, al is dit ook net vir 'n wyle oor 'n naweek, na die plekke van my drome...

Monday, October 03, 2005

My heel eerste inskrywing

Welkom aan al die mede internet burgers daarbuite wat af en toe, terloops of per ongeluk, hier by my nederige hoekie van die kuberkosmos kom swerf. Ek heet julle hartlik welkom.
Moenie alles glo wat ek hier skryf nie, want dit hier waar ek droom, my verbeelding vrye teuels gee. Partymaal sal ek filosofeer oor die realiteit van die lewe, ander kere nie. So neem elke bietjie "pitkos", met 'n knippie sout...

Hierdie is my...insameling van stoflike taal materiaal vir..."Met 'n Knippie Sout", die dagboek met kulturele pitkos vir die fynproewer...(soos geneem uit Manakwalanners op SAUK TV)

Oor...maar nie uit...

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings