Friday, May 15, 2015

Mees populêre voorstede in Australië onder Suid Afrikaners gebaseer op 2011 sensus

Goeiedag

(Skakel na hierdie bladsy)

Ek het dit goedgedink om weereens 'n bladsy te maak wat die nuutste Australiese sensus-data van 2011 gebruik om 'n paar baie nuttige brokkies inligting aan mense te verskaf wat meer wil weet omtrent die demografiese inligting van Australië.

Julle kan gerus my skrywes gaan lees oor waar die meeste oud Suid Afrikaners hulself in Australië kom vestig het:

Bogenoemde was alles gebaseer op die 2006 sensus data.

Ek het gedink...wat as ek die 2006 en 2011 sensus data op 'n per-voorstad basis vergelyk en dan bereken wat die toename of afname is in die ex - Suid Afrikaanse bevolking vir daardie voorstad.

Sodoende sal mens 'n idee kan kry van watter voorstede is HUIDIGLIK die bestemming vir Suid Afrikaners.  Dit sal die historiese emigrante wat alreeds meer as 20 jaar gelede hiernatoe gekom het 'n kleiner breukdeel laat uitmaak van die data (indien mens sou aanneem dat hulle steeds in hul gevestigde voorstede bly..ek verwys nou hier na voorstede soos Vaucluse en Dover Heights).

Die vrae wat ek wou beantwoord was:
  • Watter voorstede is NOU die setels van die meeste groei in nuwe Suid Afrikaanse immigrante
  • Watter voorstede het (vir watter redes ook al) tussen 2006 en 2011 Suid Afrikaanse mense verloor deur 'n eksodus na ander voorstede.
Ek het toe vir julle 'n interaktiewe Google Kaart  saamgestel wat julle die voorstede aandui met 'n Suid Afrikaanse populasie toename van 25 persone of meer, asook 'n afname van 20 of meer.

Daar is natuurlik heelwat voorstede wat geen Suid Afrikaanse populasie verandering gehad het nie: hoofsaaklik omdat daar glad nie Suid Afrikaners bly nie, of waar dit konstant gebly het.

Julle kan die kaart besigtig deur hier te kliek:

Julle kan ekstra informasie oor die voorstad kry deur op die gekleurde areas te kliek.

Ek het die gebiede ingekleur op grond van die hoeveelheid oud Suid Afrikaners wat tussen 2006 en 2011 in hierdie voorstede ingetrek het.
Rooi = die meeste
Oranje
Geel
Groen
Ligblou
Donkerblou= die minse maar steeds meer as 25 persone

Pers = voorstede waar daar meer as 20 persone (netto) weggetrek het tussen 2006 en 2011

NB - die voorstede wat in PERS gekleur is, het om een of ander rede nie aanklank gevind met Suid Afrikaners nie (derhalwe het hulle WEGGETREK soos nou maar eenmal ons se gewoonte is).

Daar is voorstede soos Ashby in Westelike Australie is waar daar in 5 jaar se tyd 1171 nuwe oud Suid Afrikaners ingetrek het (amper 70% van die totale Suid Afrikaanse populasie van daardie voorstad wat 1711 behels).
Dan is daar ook ander swartskaap voorstede soos Dianella,WA en Tallebudgera, Qld wat onderskeidelik 52 en 74 Suid Afrikaners verloor het oor die afgelope 5 jaar.

Dit mag inderdaat wees dat vir areas wat dieselfde gebly het (groter as minus 20 en kleiner as plus 25), dat daar baie in- en uitbeweeg het, maar ek het hulle nie ingesluit nie.

My kaart dui net 'n groot netto invloei of uitvloei aan.
Julle sal onthou dat St Ives in Sydney voorheen hoog op die ranglys was, maar omdat ek hierdie keer meer na die verandering sedert 2006 gekyk het, kry die nuwe voorstede soos Kellyville, Beaumont Hills en Rouse Hill hierdie keer die meeste NUWE immigrante.

Vir 'n volledige verduideliking van die inligting kyk gerus na my vorige skrywes in die skakels aan die bokant van hierdie post.
Die "Indeks" in die inligting verwys na 'n maatstaf om die mate te bereken waarmee die spesifieke voorstad meer Suid Afrikaners huisves as wat statisties verwag sou word (m.a.w daar is 'n mate van kieskeurigheid vir spesifieke voorstede wat die willekeurige beweging van populasie verontagsaam).

Daar is onder andere ook 'n skakel na die 2011 sensus bron data, en skakels na die nuutste RealEstate.com.au en Domain.com.au webtuistes indien jy op soek is na 'n huis om te huur.

Dieselfde inligting is in die volgende Google Spreadsheets beskikbaar, maar hierdie het ALLE voorsted in Australië. Hierdie dokumente is almal gesorteer volgens die kolom "Change population from SA since 2006 census", maar dit staan julle vry om die rekords te sorteer volgens enige ander kolom soos gemiddelde maandelikse inkomste of "Median monthly rent".

Ek hoop hierdie sameflansing van inligting sal julle handig te pas kom. Groetnis.


Gaan kyk gerus na 'n soortgelyke kaart vanaf SBS se webtuiste. (Dit mag dalk met die 2006 data gemaak wees)

Kaart van Australië wat die lande van afkoms aandui

Gedink julle sal hierdie kaart wat deur die TV Kanaal SBS gemaak is baie insiggewend vind.
Kliek op die verskillende stede om te sien waar die Suid Afrikaners meestal bly.  (Hulle is die oranje gekleurde dele)

Kliek op hierdie skakel om te gaan kyk na 'n baie insiggewende interaktiewe kaart wat wys waarvandaan al die immigrante in Australië afkomstig is.

Adelaide, Suid Australië


Brisbane, Queensland

Canberra, ACT

Hobart, Tasmanië

Melbourne, Victoria

Perth, Westelike Australië

Sydney, NSW

Hierdie data is baie dieselfde as die drie aflewerings wat ek daaroor gedoen het.  Ek beoog nog om eendag die statistieke van die laaste 2 sensus opnames te vergelyk om aan te dui waarheen Suid Afrikaners sederdien getrek het en watter voorstede nou populêr is.

Saturday, May 04, 2013

Wat net onder die wateroppervlak vir ons wag

(Skakel na hierdie inskrywing)

So gereeld as wat ek moontlik kan, probeer ek om 'n goeie snorkel in te kry.  Wanneer mens mos by die see bly kom jy later nie meer so gereeld op die strand soos wat jy behoort nie.  Mens se lewe raak dalk net te besig.  Maar laas naweek het ons 'n heerlike warm sonnige dag hier in Sydney gehad en ons het besluit om bietjie na Freshwater strand toe te gaan


View Larger Map

Ons snorkel gewoonlik teen die rotse aan die noordelike kant van die strand.  Hierdie tyd van die jaar is daar 'n verbysterende groot hoeveelheid klein visse vir 'n gebied wat in die gematigde temperatuur waters van Australië voorkom.  In die tropiese streek is daar natuurlik baie meer verskeidenheid in seelewe.

My familie snorkel saam en geniet dit ook baie.  Ek het al 'n paar keer baie besonderse seelewe hier by Freshwater strand gesien, soos byvoorbeel die 2 meter Wobbegong haai wat ek al hier gesien het.  Hulle is nie regtig gevaarlik vir mense nie, behalwe as jy miskien op hulle gaan trap.  Mense egter is wel gevaarlik vir hulle, soos die volgende uittreksel lees: "Although wobbegongs do not eat humans, humans frequently eat wobbegongs; the flesh of a wobbegong or other shark is called flake and it is often used in fish and chips in Australia".

Wel, hierdie keer het ek my bewapen met my klein Olympus mik en druk en my seun belowe dat ek fotografiese bewyse gaan probeer kry van die Wobbegong by Freshwater beach.  Die see het my egter verras met baie meer as wat ek kon gevra het en ek het my fotografiese bewyse gekry.
Wobbegongs leef op die seebodem soos naby rotspoele en daarom is ek altyd op die uitkyk vir hulle tussen die seeplante - juis omdat hulle hulself so goed kamoefleer.

Ek het nou wel nie die ou grote opgespoor nie, maar kon wel hierdie kort videotjie afgeneem kry van die kleiner een (nie seker watter sub spesie van die Wobbegong dit is nie).  As julle fyn dophou sal julle sien hoe dit agter die rotse verdwyn.  Ek het 'n geruime tyd gewag vir dit om uit te kom, maar later aanbeweeg elders.



Ek het die plek waar ek hom gesien het op die onderstaande satellietfoto gemerk.



Die water was heerlik...ek het seker meer as 2 ure gesnorkel en het ook die volgende twee "Rays" gesien, net so 'n entjie verdel langs die rotspoele af, omtrent gelyk met die getypoel.

Die eerste was 'n Fiddler Ray of Banjo Ray.
Hier is die video.

Met hul kenmerkende patrone op hul rug, is hulle baie maklik om te eien.

Terwyl ek besig was om hierdie kalant te bewonder het ek skielik in die hoek van my oog 'n tamaai "Bullray" of "Southern Eagle Ray" gesien.  Ek het eers gedink dit is dalk 'n Stringray, maar het na 'n soektog uitgevind dit is die "Asutraliese Southern Eagle Ray (Myliobatis australis)"

Ek het dit op 'n veilige afstand gevolg en die volgende video daarvan geneem terwyl ek gesorkel het:


Ek is redelik seker dit is die Bullray - hier is 'n ander video wat in Sydney deur Scuba duikers geneem is.

Dit was die "Cherry" op die koek vir my.

My enigste spyt is dat ek nie 'n beter onderwaterkamera gehad het om dit vir julle af te neem nie.

Hoe bevoorreg is ons nie om die see so op ons voorstoep te hê nie...
Ek het 'n 8 minute video gemaak van die magdom ander vissies wat ek Sondag daar gesien het wat julle kan sien deur hier te kliek.

Op 'n effense ander noot....  Het julle geweet jy kry nou die Google Street View ekwivalent vir die "Great Barrier Reef".  Dit is nou wel nog in wording, maar mens kan die onderwater skatte van die koraalrif verken deur slegs die kliek van jou muis.  www.catlinseaviewsurvey.com
Dit staan bekend as die Catlin Sea View Survey (www.catlinseaviewsurvey.com)

Jy kan op 'n virtuele skubaduik gaan.  Hulle het reeds 'n hele paar koraalriwwe met spesiale 360 grade kameras afgeneem.






Wat nogal besonders is van die webblad is dat mens dit in volskerm met realistiese onderwater klank kan bekyk, wat jou amper laat voel of jy werklik daar is.

Kliek op "Locations" en kies een van die riwwe, soos byvoorbeeld die Opal Reef.

Gaan besoek asseblief hierdie Webblad....dit is uitstekend.  Nou kan almal die Groot Australiese Rif besoek.
Hier is 'n koerantartikel oor die webblad uit die SMH.

Op dieselfde onderwerp:  Die Verenigde Nasies het Australië blykbaar kennis gegee dat hulle die Groot Australiese Rif op die lys van bedreigde wêrelderfenisgebiede gaan plaas wat in die woorde van 'n Australiese senator beteken dat "it was worrying that Australia was on the brink of joining the ‘‘list of shame’’ as a country that could not manage its world heritage sites." " ‘‘Australia would be the only developed country in the world to have a world heritage site on endangered list. It would be a huge international embarrassment and it would be a big blow to our tourism industry,’’ she said.


Saturday, December 22, 2012

Missie rollemskaats

(Blog skakel)

Woensdagaand van 9:00 PM tot 12:30 AM het ons 'n mission rollemskaats/rollerblade gedoen van so by die 18.7km ver vanaf Queens Park, verby Randwick, Kensington,Alexandria, Surry Hills en terug deur Darlinghurst terug tot waar ons begin het.  Daar was so 13 skaatsers.  Daar is voorwaar baie fietsroetes om te skaats in die stad en watter beter oefening.

Hier is die kaart roete wat ek met my Garmin Foretrex 101 opgeneem het.


View Rollerblade 20121219 in a larger map




Aussie Krismis

(Blog skakel)

Soos in meeste ander lande in die suidelike halfrond is 'n wit kersfees met sneeu so uit soos koekies in die weeshuis, want dis eenvoudig te warm hier.  Hoe komies is hierdie video van die kersfees vaders wat Surf in hulle warm jasse nie?
Hier is 'n video van die Kersfees TV advertensie van 'n kruideniersware winkel ALDI wat nou hier op ons TV wys:



Sunday, December 16, 2012

Eerste somer snorkel by Clovelly strand

Hierdie naweek was dit weer 'n heerlike dag by die see.  Ons het ons skuilinkie op die strand opgeslaan teen die son se ergste strale, heerlik gekuier en gesnorkel saam met vriende.  Hier is sommer so 'n kort video van die visse wat ek gesien het.

Snorkel by Clovelly



Kersfees liggies

Hierdie tyd van die jaar versier die mense hul huise en kerke alte fraai met die helderste en veelkleurigste kersfees liggies.  As jy in jou motor spring en na donker bietjie gaan rondry is daar op telke plekke net liggies waar jy kyk  Hier is 'n paar fotos wat ek gisteraand geneem het.  (Kliek op die huise en kerke om te sien waar)





























Friday, December 14, 2012

'n Oorsig oor ons Suid Afrikaanse geskiedenis tot die slag van Spioenkop

(Skakel na hierdie inskrywing)

Alhoewel ek hier in die verte bly, lê my land van herkoms se geskiedenis my steeds naby aan die hart - dit het my gemaak wat ek is en wie ek is.  Ek lees op die oomblik 'n boek van Thomas Pakenham oor die Anglo Boereoorlog (ISBN: 1868420744). Wat vir my so fassinerend is, is die groot hoeveelheid hoë kwalitiet fotos wat daarin is wat die mense van daardie tyd tuisbring aan mens).  

Toe kom ek af op die volgende paar uitstekende vertellings van die geskiedkundige verteller. Raymond Heron.

Hy gee in 'n kort paar videos vir mens so 'n goeie oorsig van ons hele geskiedenis van Jan Van Riebeeck af tot by die slag van Spioenkop waar die Boere teen die Britte geveg het.

Battle of Spionkop: Webisode 1: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 2: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 3: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 4: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 5: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 6: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 7: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 8: Narrated by Raymond Heron
Battle of Spionkop: Webisode 9: Narrated by Raymond Heron


Raymond Heron gives a gripping account of the perils of war and draws you into the narrative.  He really knows his subject matter and brings the year 1900 to life as if one's present to experience it.


Daar is ook nou 'n permanente skakel aan die regterkant van my blog na 'n permanente bladsy waar ek al die interessante inligting oor ons ryke Suid Afrikaanse geskiedenis gaan plaas.

Ek hoop julle vind dit insiggewend
Groete van die Boertjie in die verte

Wednesday, December 12, 2012

My gunsteling tydverdryf op die trein en bus - oudio vertellings/podcasts oor tegnologie en geskiedenis

(Skakel na hierdie inskrywing)

Een van die groot salighede wat my hier in Australië te beurt geval het is die feit dat ek nie meer soos in my geboorteland in die oggende en middae in verseersknope hoef vas te sit nie.  Ek laat daardie las oor aan die busdrywers wat my in die oggende by die stadie moet aflewer.  As die busrit langer vat is dit alles vir my heel gewensd, want dit beteken eenvoudig dat daar meer tyd is om na my gunsteling potgooie (podcasts) te luister.  Hetsy op die bus of op die trein traak die tyd my nie meer soveel nie, want ek kan in elk geval nie meer daaraan verander nie.  Dan sit ek maar eerder rustig en ontspan terwyl ek my wy aan intellektuele stimulasie uit die boonste rakke.


Ek het al heelwat oudioboeke en "podcasts" deurgeluister op die trein in die oggend en die middag.


Soos wat ek luister na allerlei temas oor tegnologie, wetenskap en geskiedenis leer ek op hierdie manier ontsettend baie van die wêreld rondom my.  Ek het heelwat gunsteling potgooie waarna ek luister en ek wil graag die RSS skakels met julle deel sodat julle ook daarna kan luister:

Die RSS feed skakels na my heel gunsteling podcasts is die volgende: (Julle behoort dit te kan gebruik om jul oudio spelers op te stel.)

Indien julle hul webtuistes wil deursoek:
Tweedens is ek baie lief vir Geskiedenis.  Hulle sê in Aardrykskunde en sterrekunde leer 'n mens oor waar jy is in ruimte, terwyl jy weer in Geskiedenis leer waar jy jou bevind in tyd.  Dit help jou om jouself te kan plaas in alle eeue.

Van my gunsteling Geskiedenis PodCasts wat ek al deurgeluister het is die volgende:

  • Die geskiedenis van Alexander die Grote - deur Jamie Redfern
    560 vC tot 276 vC

    Hierdie podcast handel oor die tyd voor, gedurende en na die lewe van Alexander van Macedonië (noord van Griekeland) wat in 356 vC gebore is en in 323 vC oorlede is en in sy kort lewe van net 33 jaar die eens magtige Persiese Ryk onder Darius II op hul neus laat kyk het.
    Daarword baie agtergrond gegee oor die Persiese ryk wat Alexander voorafgegaan het, tot so ver terug as 560 vC.  Dit dek selfs die oorlog in 480 vC  tussen die Grieke, Spartane en die Persiese koning Xerxes I in die oorlog van in die fliek 300 so goed uitgebeeld is, waar koning Leonidas van die Spartane gespeel is deur Gerhard Butler.
    Die storie van Alexander begin by die oorloë van sy pa, Philip II van Macedonië om en by 358 vC teen onder meer Bizantium (die oos Romeinse Ryk), die geboorte en lewe van Alexander totdat hy op die ouderdom van 16 jaar saam met sy pa in oorloë teen die Grieke in Athene en later saam met die Grieke teen die Persiese Koning Darius II.  Dit vertel die storie van hoe Alexander al op ouderdom 33 kort voor sy dood die hele mediterreense streek insluitende Egipte, Babilon tot sover as Indië onder sy beweind gehad het.  Daarna word daar ook verduidelik wat met die Grieks/Macedoniese ryk gebeur het tot en met 276 vC wanneer die Romeinse Ryk na vore begin tree het.  Dit is ook in die tyd dat die Gaulliers (soos in Asterix en Obelix) begin het.

    Dit is 'n uitstekende podcast deur Jamie Redfern en julle kan na sy blog gaan kyk by:
    thehistoryofpodcast.blogspot.com.au.
    Die RSS feed van die Alexander Podcast is:
    RSS FEED : Die Geskiedenis van Alexander van Macedonië : http://thehistoryofpodcast.weebly.com/uploads/1/3/4/7/13473658/alexander.xml

    Of as julle wil kan julle aanlyn daarna gaan luister by:
    www.learnoutloud.com : A-History-Of-Alexander-the-Great

  • Die Geskiedenis van Hannibal en die oorloë tussen die ryk in Carthage in noord Afrika (nou Tunisië) en die Romeinse Ryk - deur Jamie Redfern
    264 vC - 182 vC
    Dit handel onder andere oor hoe Hannibal 'n weermag met olifante deur die Alpe gelei het.
    RSS FEED : Die geskiedenis van Hannibal van Carthage
    www.learnoutloud.com : A-History-Of-Hannibal

    Dit is nog 'n podcast van Jamie Redfern (wat met sy Noord Engelse/ Ierse aksent en humorsin die geskiedenis besonder lewendig kan maak)

  • Die Geskiedenis van Rome - deur Mike Duncan
    800 vC - 480 nC

    Besoek Mike se blog by 
    thehistoryofrome.typepad.com
    Luister dit aanlyn bywww.learnoutloud.com : The-History-of-Rome
    Dit is 179 episodes wat handel oor die ontstaan van Rome (om en by die tyd van die Trojaanse Perd) tot en met die val van die Westelike Romeinse Ryk om en by 405 nC.  Die vaandel van die Romeinse Ryk is verder deur die Oosterse Romeinse ryk in Konstantinopel as die Bizantynse Ryk voortgedra to sover as 1453 nC waaroor julle kan leer in 'n podcast van Lars Brownworth.

  • Die Geskiedenis van die Bizantynse/Oostelike Romeinse Ryk aan die hand van 12 Bizantynse Regeerders - deur Lars Brownworth
    285 nC - 1453 nC

    Hierdie is 'n in-diepte en baie insiggewende podcast wat handel oor die Oos Romeinse Ryk wat deur Keiser Konstantyn in Konstantinopel (nou Instanbul in Turkye) begin is. Dit dek ook die geskiedenis voor die vol van die Westelike Romeinse Ryk gesetel in Rome.
    RSS FEED : 12 Byzantine Rulers
    Luister dit aanlyn by Lars se webtuiste : 12 Byzantine Rulers : The History of The Byzantine Empire (By Lars Brownworth) : 12byzantinerulers.com
    Dit begin in 285 nC toe die Romeinse keiser Diocletian die Romeinse Ryk opgesplit het in die Westelike en Oostelike Romeinse Ryk, met Rome as die hoofstad van die Oostelike Ryk en Bizantium (Later Konstantinopel) as die beter hoofstad van die Oostelike Romeinse Ryk.  Dit was alles gedoen om die Ryk beter te kan regeer.  Dit dek  die lewens en tye van 12 van die Oos Romeinse Ryk se Keisers en eindig in 1453 nC met die val van Konstantinopel tydens die inval van die Turke en die dood van die keiser.   Die Byzantynse Ryk word gesien as die skans wat die kultuurskatte en westerse kultuur van die Romeinse Ryk vir eeue vir die latere nageslagte behoue laat bly het juis omdat dit vir 'n hele 1000 jaar na die val van Rome nog weerstand kon bied teen die inval van die oosterse plunderaars- met Konstantinopel 'n tipe van 'n Fort wat die insuipeling gekeer het.
    Baie geskiedenis oor die Gotiese volke soos die Vandale, die Lombarde, Franke en die Normanne word ook genoem, maar die meeste oor die Noormanne kan julle leer in Lars se ander podcast: Norman Centuries.

    Lars Brownworth is 'n uitstekende geskiedenis verteller en sy vertellings sal julle geboei hou.  Maak gerus 'n draai op sy blog : Finding History

  • Die Geskiedenis van die Noormanne / Vikings - deur Lars Brownworth
    793 nC - 1194 nC
    Luister aanlyn na hierdie uitstekende podcast : Norman Centuries 
    Dit begin met die plundering van die Europese wêreld van Westelike Europa en Brittanje deur groepe van Skandinawiese Viking "avonturiers".  Dit vertel die storie van 'n Noorweegse Viking Rolf die Viking wat so groot was dat hy altyd net gestap het omdat hulle nie 'n perd kon kry wat hom kon dra nie.  Daar word vertel van hoe Karel die Grote (Charlemagne) se Frankiese koningkryk toenemend die prooi was van hierdie  Noormanne wat die kus van Noordelike Frankryk geplunder het.  Uiteindelik het die Franke in 911 nC  besluit om vir hulle 'n groot kusstreek te oorhandig wat ons nou ken as Normandië - in ruil daarvoor dat hulle die Christelike geloof aanneem en hulle "beserker" gode Odin opgee.  Op hierdie manier moes die Vikings hul eie grondgebied beskerm. Daar word breedvoerig ingegaan op die magtige Vikings wat eeue lank die beskaafde wêreld geterroriseer het. Vikings het ook Brittanje ingeval en selfs Dublin in Ierland gestig.  Hulle het Konstantinopel ingeval en selfs Rusland se naam is van hulle afkomstig.  Die lewens van baie van die Noormanne word behandel asook die inval van Brittanke deur William die Veroweraar.  Later was daar selfs 'n Noorweegse koning op die Britse kroon sodat daar tot vandag nog bande tussen die Britse en Noorwee is.

    Dit is 'n baie, baie interessante podcast en ek sal dit hoogs aanbeveel.
    RSS FEED : Norman Centuries posdcast

As julle aan die regterkant van my blog kyk sal julle altyd 'n skakel na hierdie bladsy met potgooie kry. Ek sal dit altyd probeer bygewerk hou soos ek nog oudio podcasts ontdek.

Sunday, December 09, 2012

Om Sydney stad op rollers te neem

(Skakel na hierdie inskrywing op die blog)

Wat as ek vir jou sou vertel dat hier in ons geweste is 'n skaatsbaan so groot soos 'n stad.  Om die waarheid te sê...net so groot soos jy dit wil hê.  Alhoewel daar ook ysskaats bane hier in Sydney is, is hierdie 'n rolskaatsbaan.  Amper soos mens by Margate altyd gekry het, maar net 'n buitelug een - 'n massiewe groot skaatsbaan onder die sterrehemel.

Met die warm someraande wat nou naderkruip is dit 'n ideale geleentheid om vir jou 'n paar rollemskaatse aan te skaf en bietjie oefening te kom kry hier in Sydney, want elke Woensdagaand in die hartjie van die middestad hier in Sydney neem enigiets van 10 to 100 bittereinder skaatsers die stad op horings op hul skaatse.  Die groep bestaan al 20 jaar en skaats elke Woensdagaand verskillende roetes deur die stad.  Hul ouderdomme wissel van die twintigs tot in die sestigs, en daar is mense van allerlei beroepe en lande.  Die skaatsers begin so 9 uur in die aand saamdrom op die trappe van die "Land Titles Offices" aan die regterkantste boonste hoek van Hyde Park.


Die Sydney Bladers se offisiële webtuiste is by www.sydneybladers.com waar julle meer inligting kan kry.

Julle kan die groep wat reeds meer as 600 lede het se Facebook bladsy gaan besoek by hierdie skakel.
Hierdie jaar se "Chrissie skate" fotos is by hierdie skakel

Die volgende fotos het iemand Woensdag geneem.  Dit was die jaarlikse skaats aand met 'n Kersfees tema, wat gewoonlik so aan die begin van Desember plaasvind.  Dit is amper soos 'n stapklub, maar net op rolskaatse.  Ek het Woensdagaand saam met hulle gaan skaats en hulle het my dadelik welkom laat voel.  Dit het gevoel of ek 'n nuwe speelding ontdek het, want dit was die eerste keer wat ek Sydney stad op hierdie manier in die aand leer ken het.  Watter beter manier om 'n stad se hoekies en draaie te leer ken as om dit saam met 'n klomp mense wat jonk van gees is te doen.

Kyk of julle die "Rustige Swerwer" rollerblader met sy Madiba hemp aan tussen die mense in die volgende fotos kan vind....












Omdat die eerste Woensdagaand van elke maand spesiaal ingestel is om mense uit te nooi wat nog nooit in die aande in Sydney geskaats het nie, word daar dan altyd 'n vasgestelde roete geskaats.  (Maar die laaste Woensdag is Mission Skate aand waar daar tot 25 kilometer so ver as die lughawe geskaats word).  Ons begin naby Hyde Park en die groep skaats dan deur die park se plaveisel verby die fonteine in Hyde Park.  Daar word op die sypaadjies en arkades langs die strate geskaats al langs Pitt street tot by Martin Place waar daar op die oomblik 'n tamaai kersfeesboom opgerig is.  Hier is daar toe eers fotos geneem vir die vale om hierdie groot jaarlikse gebeurtenis te onthou.  Vandaar het ons met George street se sypaadjies langs geskaats tot by Circular Quay en die Sydney Operahuis.  Wie kan sê dat hulle al om die Operahuis geskaats het op rollemskaatse?  Dit was heerlike oopgetrekte weer vir 'n skaats in die stad.  Daar was 'n groot plesierskip by die internasionale passasiers-terminaal vasgemeer en ons het verby dit geskaats deur "The Rocks" in die rigting van die Hawebrug.  Dis ongelooflik hoe baie gladde skaatsplekke daar hier is.  Onder die Hawe Brug is daar eers weer fotos geneem.  Op die video wat ek julle nog later sal wys sal julle moontlik die honderde vlermuise of "flying foxes" sien wat in die aande bo teen die hawebrug swerm.

Hierna is ons om die "Wharf"s by Dawes Point waar daar fantastiese rolskaatsplekke is soos julle kan sien op hierdie satelliet fotos.  Hierna het ons koers gekies Darling Hawe toe waar daar heerlike fietspaaie is vir rollerblading en toe is ons terug deur die stad verby die Sydney tower tot by Hyde Park.  Ons het seker eers so 22h00 begin skaats omdat ons vir almal gewag het, maar die plan is om 21h00 te begin skaats omdat die strate dan nie meer so baie motors in het nie (alhoewel ons nie juis op die strate skaats nie maar op die fietspaaie).  Ons was seker weer so 23h50 terug by die beginpunt.

Hier is 'n Google Kaart van die roete wat ons geskaats het:


Kyk na Sydney Bladers Chrissy Skate 05/12/2012 9:45pm op 'n groter kaart

Die totale afstand was: 11.81 km
Total tyd: 1:56:15

Gemiddelde skaats spoed: 8.14 km/h
Maksimum spoed: 35.26 km/h
Gemiddelde pas: 7.37 min/km
Maksimum hoogte: 92 m
Minimum hoogte: 12 m
Hoogte geklim: 358 m
Max grade: 33 %
Min grade: -28 %
Opgeneem: 05/12/2012 9:45pm


Hieronder is die hoogte profiel vir die wat belangstel.





Dit is heerlike oefening om die minste te sê - en mens ontmoet soveel nuwe mense. Daar was mense van Brasilie, Tjeggo Slowakye, Amerika, Portugal en vele meer.  Die feit dat mens 'n Suid Afrikaanse aksent het veroorsaak natuurlik ook baie belangstelling.


Ek het hier en daar video geneem, maar verskoon tog asseblief die kwaliteit, want my kamera se sluiterspoed is nie so vinnig in die aande nie en dit maak dat die video sulke liggie strepe maak wanneer jy vinnig op jou rollerblades beweeg en daar is nie regtig 'n manier om te kompenseer daarvoor nie.

Hier is die skakel na die video op YouTube.  Dit is sowat 15 minute lank en begin in Martin Place, wys hoe ons langs George street af skaats tot by Circular Quay.  Julle sal rondom en onder die Operahuis sien, dan langs die Rocks waar die plesierboot gestaan het, onder die Sydney Hawebrug deur, enn al die pad tot by Darling Hawe, vanwaar ons terug is na Hyde Park.




Saturday, December 08, 2012

'n Oomblik in tyd kan soms die hele verloop van jou geskiedenis verander

(Skakel na hierdie inskrywing)


Woensdag 5 Desember 2012 was 'n besondere mylpaal in ons lewens.  Ons kom nou al 'n vêr pad sedert on die eerste keer op die Australiese kontinent voet aan wal gesit het.  Hierdie besondere mylpaal waarvan ek praat is natuurlik die Australiese Burgerskap Toets wat ons Woensdagmiddag in Parramatta by die "Australian Department of Immigration and Citizenship" (DIAC) geskryf het.  

Hoe belangrik is drie maande in 'n leeftyd?  Dit was net sowat 0.7 % (bietjie meer as 'n halwe persent) van ons lewens, maar dit het verrykende gevolge vir ons toekoms asook ons hele nageslag ingehou...  Want binne drie maande vandat ek daardie Januarie in 2007 my CV vir 'n maatskappy hier in Sydney gestuur het, was ons pens en pootjies in 'n nuwe land.  Ha ha, my vrou sê mos ek oordryf altyd so 'n bietjie, maar neem dit maar met 'n knippie sout. 

Nooit eens gedroom van oorsee gaan vakansie hou op daardie stadium nie, my hele lewe in Pretoria grootgeword en gewoon, maar binne 'n tyd van drie maande was ons hier in Sydney.  Van die aangesig van die aarde af verdwyn...dis seker wat die inkomstediens in Pretoria dink wat met ons gebeur het, want ons het met 'n enkelkaartjie hiernatoe gevlieg en een van die dae word ons hier burgers.  Wat eens net 'n plan was, word nou 'n werklikheid.

Net soos baie immigrante in vorige eeue Amerika, Australië en regoor die wêreld in die nastrewe van geluk en 'n beter toekoms aan wal gegaan het, net so word ons een van die dae trotse burgers van hierdie land.

Burgerskap is nie 'n kleinigheid nie.  Mens gaan bly en werk nie sommer net goedsmoeds in 'n ander land nie.  'n Mens kan nie eens landsgrense oorsteek soos jy wil nie.  Miljoene mense smag elke dag om te kan ontsnap uit hul omstandighede, maar helaas kan hulle nie net vlug uit hul omstandighede nie, en word soos ingehoktes gevange gehou in sommige lande.  

Dit is 'n groot voorreg om 'n nuwe land se burger te kan word. Dit is nou nie juis maklik om tot op die' punt te kan kom nie, maar waar daar 'n wil is is daar 'n weg

Selfs in Paulus se tyd was dit as 'n baie groot voorreg beskou om 'n Romeinse Burger genoem te kan word.  Dit is 'n feit wat op 'n keer selfs Paulus se lewe gered het:

HANDELINGE 21:39
Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”


HANDELINGE 22:29
Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.


HANDELINGE 23:25-29
Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?
Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.
Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord Paulus.
Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.” En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.”
Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.



Watter groter voorreg het ons nie as dit nie:

FILIPPENSE 3:20
Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.


Mens gaan deur baie emosies en het vele ervarings langs die pad, maar uiteindelik as jy terugkyk kan jy sien alles was sover die moeite werd.

Die hoof aktiwiteit by die afspraak wat mens by die departement het is natuulik nie die toets nie, maar eerder die nagaan van al jou verskeie ID dokumente om jou sodiende op die Australiese Departement van Binnelandse sake se rekords oor te plaas as 'n WARE BURGER van die nuwe land.  Daar word na geboortesertifikate, huweliksertifikate, paspoorte, bestuurderslisensies, Medicare kaarte en bewyse van verblyf gekyk om te verifieer dat jy wel aan al die vereistes voldoen en jy nie op een of ander manier die VISA proses omseil het en nou sommer kortpad wil kies na Burgerskap nie.  

Daar word ook 'n verdere soektog deur die Federale Polisie gedoen om te verseker dat jy nie in die laaste paar jaar 'n kriminele rekord opgebou het nie.  Indien mens dalk meer as 365 dae in die buiteland was (gelukkig nie op my van toepassing nie), dan moet daar ook 'n oorsese kriminele rekord soektog gedoen word.
Ek het nie heeltemal geweet wat om te verwag in die toets nie, behalwe vir die feit dat al die 20 "monkeypuzzle" vrae in dietoets sou kom uit die PDF dokument wat ek reeds vooraf deurgelees het en ook vanuit die videos oor Burgerskap wat op Youtube beskikbaar is.
Dit alles handel oor jou regte en voorregte as 'n nuwe Australiese burger asook hoe die Australiese regeringstelsel werk.

Aan die hand van die volgende belofte wat mens by 'n burgerskap seremonie gaan aflê...

From this time forward, under God,

I pledge my loyalty to Australia and its people,

whose democratic beliefs I share,

whose rights and liberties I respect, and

whose laws I will uphold and obey


word daar aan jou verduidelik wat dit beteken:
- Wie is Australië se mense
- Watter demokratiese beginsels dit is wat ek ook in glo
- Watter regte en vryhede die fondament vorm van die leefstyl hier in Australië
- Watter wette die land se vryheid op berus

Mens kry 45 minute om die toets te voltooi.  Ek stres gewoonlik oor enige toets. Dit kom seker van skooldae af, maar ek het verniet gestres, want die toets was toe glad nie so moeilik nie en ek het dit met rasse skrede geslaag...iets wat julle ook sou kon doen.

Ek dink dit het nie eens 5 minute geneem nie.  Nou gaan ons laat weet word wanneer ons na Baulkham Hills Stadsraad toe moet gaan vir die Offsiele seremonie waar die belofte afgeleê gaan word.

Ten minste "pledge" ek nie my "allegiance" aan 'n koning of koningin nie, maar aan die Australiese mense wat so deel geword het van my lewe oor die laaste amper 6 jaar: die mense wat ek elke dag groet op die bus, die mense by my kinders se skool, die mense wat saam met my by die werk is en saam skouer aan die wiel sit elke dag...al die mense wat saam met my glo aan 'n vrye, veilige en gelukkige toekoms vir ons en ons kinders.

'n Land waar meer as 1 uit elke 4 mense net soos ek van êrens oor die see af gekom het om hier 'n nuwe plekkie in die son vir onsself uit te kerf. 

Net soos mens net "anders voel" wanneer jy uiteindelik jou permanente VISA gekry het om vir altyd hier te kan bly en jou hele toekoms nie in die hande van iemand anders lê nie, net so, voel mens effens meer tuis wanneer jy deur die formaliteite is en jy weet: jy is nou oor die perd se rug, die koeël is nou deur die kerk - jy is nou so Aussie soos Jan Rap en sy Maat.

Die voorregte wat ons nou bykry is die volgende:
- Ons kan nou ons stemreg uitoefen in verkiesings
- Ons kan (indien ons sou wou) in die Australiese Weermag, Lugmag of vloot gaan werk of by staatsdepartemente soos Medicare, Centrelink of die inkomstediens.
- Ons kan staan as kandidate om verkies te word vir die parlement
- Ons kan 'n Aussie Paspoort kry en het nie meer papierwerk nodig (soos 'n resident return visa) as ons buite die land wil reis nie
- Ons kan ons kinders wat oorsee gebore is as "True Blue" Aussie burgers registreer met dieselfde regte as die wat hier gebore is.
- Ons kan op Australiese ambassades se knoppie druk vir hulp oorsee
- Ons kinders kan met baie goedkoop lenings vanaf die regering by universiteite gaan studeer en eers begin terugbetaal as hulle meer as 'n sekere hoeveelheid verdien in hul werk

Ons kry ook verantwoordelikhede by:
- Ons moet die wet gehoorsaam (en niemand wat burgerskap het kan op "diplomatic indemnity" aanspraak maak omdat hy van 'n ander land is nie)
- Ons moetr registreer in verkiesings
- Ons MOET stem in verkiesings of 'n boete betaal
- Ons moet Australië verdedig as daar 'n oorlog sou uitbreek
- Ons moet op 'n jurie dien in 'n hofsaak as ons opgeroep word daartoe


Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings