Tuesday, August 25, 2009

Welkom op die plaas

Ons het Vrydagaand na werk vertrek. Ek het besluit om die Groot Westelike Hoofweg te neem omdat ons in die aand sou moes ry en ek nie allerhande onbekende paadjies wou ry nie. Wanneer ons egter teruggekom het om Sondag het ek die alternatiewe roete vanaf Lithgow via die Kurrajong roete teen die berge af geneem terug Castle Hill toe. Ons het so om en by nege uur by die plaas aangekom. Die plaasmense was so gaaf om reeds die kaggel aan die brand te steek. Ons is ook begroet met twee borde Spagetty en maalvleis. As mens by die plaasopstal se hek aankom word jy met die volgende begroet...




Dit is 'n baie netjiese drieslaapkamerhuis met 'n volledig toegeruste kombuis en ook 'n sonkamer. Daar is was beide gas verhitting en 'n "Internal Combustion Fire", wat soort van 'n kaggel is, maar wat toe is soos 'n antrasiet verwarmer.



Reg rondom die huis strek die 40 hektaar groen gras na elke kant. Daar is ook bome, 'n paar skure en groot reënwater tenks. Die mense in hierdie geweste is baie op reënwater aangewese.



As mens hier op die plaas is, vergeet mens die beknoptheid van die stad. In die stad kos selfs 500 vierkante meter grond 'n plaas se prys en die mense leef baie naby aan mekaar, maar hier op Bathurst strek die spasie uit na alle kante.




Kyk na die volgende foto wat ek langs die huis geneem het.



Ook binne in die huis was dit heerlik gerieflik. Lekker sagte matte, mens wil jou sommer uitstrek voor die 'kaggel'.



Die aand van ons aankoms het ons hier 'n lekker wyntjie gedrink en na ete lekker koffie met kondensmelk in gedrink.



Alles wat mens nodig het is hier vir 'n wegbreek naweek, selfs 'n wasmasjien as jy langer sou wou bly.



Daar is so 19 beeste op die plaas en 'n hele paar skape. Die 'boer' het al die jare in Sydney gebly en nou hier kom afree saam met sy vrou.

Die nagrus wat mens hier kry is ongelooflik. Doodstil. Mens slaap soos 'n klip. En as jy in die oggend wakker word, word jy begroet met 'n miskombers wat oor die omgewing gedrapeer is.





In die verte kan julle die boer se skuur deur die mis sien.



As mens in Bathurst se rigting kyk, hang daar ook 'n miskombers oor die dorpie.

Soos wat die oggendson se strale die aarde opwarm verdwyn die mis voor die son.

Net om julle so 'n gevoel te gee, hier is 'n kort video van die klanke vroegoggend op die plaas.







Hierdie skape is "low maintenance" sheep soos die boer ons verduidelik en kry nie soveel wol soos die Merino skape nie. Hy hou hoofsaaklik ooie aan en verkoop die rammetjies.





...mens kan maar droom...

Vind meer uit oor die mense (Michael en Anne) en die plaas by:
www.bathurstfarmstay.com.au
Die presiese posisie van hul plaashek is hier
Hulle was baie gasvry.

Monday, August 24, 2009

Lente is in die lug, tyd vir 'n wegbreek

Sedert laasweek hang die vars geur van lentebloeisels in die lug elke oggend as ek in die pad afstap. Dit is weer lente! Vandag was heerlik warm, dalk het die seisoen gedraai. Die somer is oppad...

My vrou het nou onlangs verjaar. Ek het besluit om haar te verras met 'n wegbreek naweek net die twee van ons. Sy het tot op die laaste nie eens geweet waarheen ons gaan nie. Die bestemming was aan die anderkant van die blou berge, tussen die uitgestrekte grasvlagtes van Bathurst, New South Wales. Dit is landbougemeenskappe daardie, en watter beter plek as om te gaan bly op 'n regte plaas...

Kliek op die fotos om dit te vergroot.




Die omgewing hier verskil heelwat van die beboste heuwels van Sydney en omgewing...baie meer soos die grasvlaktes van Betlehem in die Vrystaat.

Kyk bietjie na die volgende 2 panoramiese fotos van Bathurst se omgewing...julle kan deur die muis se knoppie in te hou in die foto rondkyk en selfs inzoem.

'n Plaas naby Bathurst, NSW



Die volgende foto is van die plaas waar ons gebly het, hierdie was die uitsig vanaf die plaashuis waarin ons gebly het. In die agtergrond kan julle die klein dorpie Bathurst sien. Daar bly net so bietjie meer as 30700 mense hier.

Die plaas waarop ons gebly het naby Bathurst, NSW






Ek het nog tonne fotos om julle te wys, kliek, zoem in en kry 'n idee van hoe dit hier lyk.

Tuesday, August 18, 2009

Groen Mamba vir jou baba

Ek sit en luister vandag lekker Internet radio op my iPod op die bus oppad terug huis toe, en daar hoor ek Jak de Priester se nuutste liedjie: "Groen Mamba". Hoe laat dit my nie terugdink aan die dae toe ons nog 'n baba en 'n kleuter in die huis gehad het nie... Sommige mense noem Centurion mos "Nappy Valley", want oral is daar net jong paartjies met of 'n baba of klein kinders, en dis doekesakke en prams en tietiebottels en op een of ander wonderbaarlike wyse moet ek as jong pa al die goed in die kattebak van 'n Uno Cento kry! Die kleinste en goedkoopste kar op die mark op daardie stadium... En as die kinders snotneusies kry of winde, dan koop mens by Kloofsig apteek in Centurion Groen Mamba medisyne. Dit is soos Telament wat die mammas gebruik vir babas.

Hierdie "song" is sommer lekker boeremusiek.

Luister bietjie na Jak de Priester se liedjie deur die volgende skakel direk in 'n nuwe bladsy van jou "Internet Browser" in te kopieer:

http://www.we7.com/#/track/Groen-Mamba!trackId=1831611&m=0


Om een of ander rede werk dit net as jy dit "Cut en paste".

Of kliek op die volgende skakel:





Groen Mamba (deur Jak de Priester)

Ek sit in die donker, koppie koffie in my hand
en ek wonder "Hoe de heng, het ons hier beland?"
'n Man en 'n vrou en 'n baba wat huil
Hoe kan ek my Twenties vir die' lewe ruil?
Ons bly in 'n huis in die bank se huis
en net soos al die ander het ons huis ook 'n kruis
My vrou is wispelturig: Dan's sy vriendelik, dan's sy kwaad!
Ek weet nie wat sy soek nie: Soek sy liefde? Ek soek raad!

Groen Mamba vir jou baba
en Prozac vir jou vrou
En elke aand 'n Disprin
om die bloed lekker dun te hou
Groen Mamba vir jou baba
en 'n Myprodol vir jou vrou
en die Homopaat se druppeltjies
om die trane weg te hou
Groen Mamba vir jou baba
en Rooibostee in die nag
en 'n hand vol vitamines
dit help ons deur die dag...

Die lewe het net deesdae so normaal geword
al my vriende het hierdie jaar 'n pa geword
Vakansietyd in Hartenbos se Gypsie karavaan
Orals speel die deuntjie van Sewende Laan
Elke liewe dag is nog 'n dag verby
Tyd staan nie stil nie soos 'n trein wat ry
Die nuus maak my "depressed" en die baba wil nie slaap
As ons huis net eers verkoop is...dan trek ons na die Kaap!

Groen Mamba vir jou baba
en Prozac vir jou vrou
En elke aand 'n Disprin
om die bloed lekker dun te hou
Groen Mamba vir jou baba
en 'n Myprodol vir jou vrou
en die Homopaat se druppeltjies
om die trane weg te hou
Groen Mamba vir jou baba
en Rooiwyn vir jou vrou
en 'n lekker pil as jy sestig strike
om daai spier lekker fiks te hou...

Wat sou ons gedoen het sonder KFC ?
Na wie sou ons gekyk het sonder DSTV ?
Hoe sou ons oorleef het sonder klein bietjie wyn?
Hoe keer mens al die worries en die hart se pyn?
Hoeveel pille moet ons sluk om net ons "sanity" te hou?
Hoeveel gatte moet ons lek om net ons jobs te hou?
Hoeveel nagte moet ons op wees voor die baba deurnag slaap?
Ek sê jou, my pellie! Dis lekker in die Kaap...

Groen Mamba vir jou baba
en Prozac vir jou vrou
En elke aand 'n Disprin
om die bloed lekker dun te hou
Groen Mamba vir jou baba
en 'n Myprodol vir jou vrou
en die Homopaat se druppeltjies
om die trane weg te hou
Take it away!

Groen Mamba vir jou baba
en Prozac vir jou vrou
En elke aand 'n Disprin
om die bloed lekker dun te hou
Groen Mamba vir jou baba
en 'n Myprodol vir jou vrou
En 'n lekker pil as jy dertig strike
om jou hare op jou kop te hou.


Daar het julle dit nou....en kyk waar trek ons nou. Die babas gaan al amper Hoërskool toe!

Thursday, August 13, 2009

Bush Telly

Bush Telly is die Aussie benaming van 'n Kampvuur.

Indien julle belang stel om die TV programme te kyk wat ons hier in die land "Down Under" kyk, hier is 'n site waarop julle 'n lys daarvan kan kry:

Australian Free TV Online sites

Vir lewendige Aussie TV nuusuitsendings gaan na : News.com.au

Ons gunsteling kanaal is : Kanaal 7

Kyk elke dag na die nuutste episode van Australië se sepie "Sewende Laan" wat by Palm Beach (alias Summer Bay) afgeneem word :
Home and Away

Nog 'n gewilde sepie is: Packed to the Rafters (wat heelwat toekennings by die Logies gewen het)

Of kyk na die nuutste weergawe van Today Tonight, wat amper soos "Carte Blanche" is.

Seker een van die beste programme is Better Homes and Gardens vir huisverbeterings (amper soos die "Die Nutsman", maar dek ook koskook en binneversiering)

Of vir mense wat in lewensredding belang stel is daar Surf Patrol.

Gaan loer gerus ook in by Kanaal 10 waar julle ook na "HEAPS of" TV programme kan kyk.

Ons hou nogal van die speletjiesprogram "Talkin bout your generation"

Daar is ook The 7-PM project.

Hier is Kanaal 9 se TV webtuiste met spesifiek die TV episodes.

Dan is daar ook ABC se iView. Hierdie kanaal het baie meer dokumentere programme.

Julle kan ook na van SBS TV se volledige episodes gaan kyk. Soos James May (van Top Gear) se 20th Century

My een groot gunsteling op SBS is Top Gear met Jeremy Clarkson.

Wednesday, August 12, 2009

Fair Dinkum

As 'n mens mos vars uit die oond hier in die land van die Dingos, Wallabies, Wallaroo en Kangeroes aanland, dan klink al die sêdinge van die Dundee mense nogal vreemd. Aan die begin kan jy jouself omtrent glad nie indink hoe jy dit nog gaan regkry om gemaklik met hulle woorde op jou tong te werk nie. Dit voel so dan so uitlands. Hoe kan mens dan nou vir iemand sê: "Good dy meid" ?! Die konnotasies en beelde wat by jou opkom as jy sekere woorde gebruik voel net nie lekker nie! Ek sukkel nou nog om nie soos 'n Duitser te klink met my ge-JA-JA nie... JAWOL - dink hulle seker ek gaan sê. Maar 'Ye-Ye' klink dan soveel na 'n SONG of selfs 'n BAND wat in 'n sjebien tuishoort. Hoe sal ek nou voel met 'n ge-ye-ye-ery heeldag... Maar dis hoe die mense hier praat wanneer hulle instemmig jou volg terwyl jy praat...ye...ye, en tog voel dit nie vreemd as ek steed JA-JA nie, ek sal dit seker nooit ophou doen nie, want dis die moeilikste.

My eerste tree om die land se spreekwoorde en sêdinge baas te raak het begin toe ek besluit het om my tong te waag aan die groetvorm G'DAY, nadat ek die eerste paar maande nie verder as Hi kon vorder nie. Aanvanklik het dit baie vreemd gevoel...mens voel amper asof jy oor jou woorde gaan struikel en wonder of iemand gaan agterkom dis die heel eerste keer in jou lewe wat jy iemand groet met G'Day Meid. My eerste slagoffer was die busbestuurder...hy het my net so een kyk gegee en ge-antwoord: "You are from South Africa!..en die volgende paar weke was Suid Afrika se krieket altyd op die spyskaart wanneer ek in die bus geklim het huistoe...

As die mense hier wil weet hoe dit gaan met jou, dan is dit: "How ya going?", waarop ek gewoonlik antwoord met "Good and you"...maar dit klink lomp asof ek bedoel "Goed en met jou", dalk moet ek eerder vra "Well and with you?". Hulle antwoord dan gewoonlik met "No worries!", maar dit klink eerder soos "Nou Wohrees" en hulle gebruik dit eerder wanneer mens verskoning gevra het oor iets en hulle eintlik bedoel: "Moenie worrie nie!" of "Dis OK".
Ek klink vir myself ook presies net soos 'n Suid Afrikaner wanneer ek totsiens sê met: "Have a nice evening / Hev a naais day..." Amper soos antie Stienie in Agter elke man! Nou besluit ek maar ek sê eerder "G'Day" as ek van die bus afklim, want hier kan mens dit ook vir totsiens gebruik. Ek onthou ek het in die begin eerder "Don't worry" gesê, maar net soos mens later amper soos 'n Kapenaar begin praat as jy baie tussen die Kaapse mense is, of soos 'n swart man begin praat as jy met jou tuinjong praat....net so voel dit later amper asof mens iemand anders se manier van praat aanneem...onbewustelik dink ek mens wil vir hulle wys mens identifiseer met hulle in jou praat. Nou voel dit nie meer vreemd om "Nouw wohrries" te sê nie. Dit kry nou amper die betekenis van "Dis my plesier!" en "Dit was nie moeite nie!"

Gister het ek myself nogal verbaas...toe een van ons kliente dit reggekry het om self die sagteware op sy rekenaar te "fix". Ek was so dankbaar ek haak sommer af met: "Good on Ya!" - dit is mos soos om te sê : "Mooiskoot! Wel gedaan! Knap gedaan!" Dit was my eerste keer - en dit het nie eens vreemd gevoel nie.

Ek vang myself nou die dag waar ek so entoesiasties praat oor die baie foute wat ek uitgesorteer het...en vertel my baas daar was "HEAPS of BUGS" wat ek moes regmaak. "HEAPS" is wat hulle hier gebruik om die konsep van "VREK BAIE" uit te druk. Dis soos as iemand vir jou vra: "Hoeveel mense was daar by die rugbywedstryd?" HIEPS man HIEPS.

Nog woorde waarvan mens gou die betekenisse hier leer is:
'n Weekly - die weeklikse treinkaartjie wat ek nou al vir 2 jaar getrou koop sonder dat iemand dit nog ooit nagenaan op opgecheck het.

Uni - wat hulle universiteit hier noem

TAFE - staan vir Training and Further Education = soos 'n tegniese kollege waar enigiemand enigiets van fotografie tot koffiemaak (om 'n BARISTA te wees) kan gaan leer na ure of voltyds

Postie - dis nou Nie POUSTOUSTIES nie! Dis wat hulle 'n posman hier noem

P-Plater - dis nou iemand wat sy bestuurderslisensie nog op "Probasie" het en tussen 4 en 7 punte het om te verloor voor sy lisensie vir 3 maande "Voertsek Goebaai is" (Met 'n vol lisensie het mens 12 punte)

RTA - The roads and traffic authority (dis nou die plek waar jy die bestuurderslisensie en motorregistrasie gaan doen)

'n Digger - wat hulle Aussie soldate noem

Boat people - die ekwivalent van onwettige Zimbabwiers wat oor die grens kom met 'n boot

Bushwalking - iemand wat voetslaan of stap in die veld

True blue - as iemand 'n True Blue Aussie is, dan is hy 'n baie patriotiese Aussie

Pub night - dis nou 'n ander naam vir Donderdae aande

Dunny - ek het agtergekom dis die Aussie naam vir 'n toilet

'n Chook - aanvanklik het ek gedink dis 'n trein, maar na 'n ruk het ek agtergekom dis 'n ander naam vir 'n hoender - die vergrotingstrap van 'n Chick

'n Clunker - is 'n ander naam vir 'n Skedonk van 'n kar

The baggy green - die pofferige groen pet van die Aussie krieketspelers (soos Sir Donald Bradmanvan ouds)

En laaste maar nie die minste nie is die gesegde "Fair Dinkum !"
As mens sou vra "Are you fair dinkum?" Vra jy eintlik: "Is jy nou ernstig? Is jy nou eerlik met my, praat jy die waarheid of trek jy my been?" Waarop jy kan antwoord:
"Fair dinkum!!" En dis net soos om te sê: "NJANNIES KGOPELA! TRUSE BOB! Dis nou die REINE waarheid! "
Die woorde kom waarskynlik van die ou Engelse woord 'dincum' wat harde werk beteken, wat die konnotasie het van jou geld op 'n eerlike manier verdien het...en nie op 'n maklike manier skelm in die hande gekry het nie.

Julle weet mos ek het al vertel van hoe hulle hier die treine met busse vervang as daar aan die spoorlyn gewerk word. Ek het dalk al ook genoem van hoe ek soms my busstop mis omdat ek ingedagte is, wel hier is nou 'n fair dinkum storie: 7 passasiers wat van Hornsby na Gosford (net so 'n paar stasies noord van Sydney) wou reis, moes juis as gevolg van 'n ongeluk met die spoor die bus haal, maar het te midde van die geharwar op die verkeerde bus geklim en een ou moes toe tot sy afgryse naby Newcastle uitvind dat daardie bus eers weer in Brisbane stop!!! Dit het regtig gister gebeur : Bus ride home ends in Brisbane
en But he insists he had no chance to get off at Gosford.
Truce bob!

Sunday, August 09, 2009

Jaarlikse "Wood Chop" kompetisie in Berowra

Dagsê vriende. Ons was vandag bietjie in Berowra (dis net so 'n 20 minute se ry noord van Castle Hill). Hulle het die jaarlikse houtkap kompetisie daar gehou vir 2009. Manne van oraloor die kontrei het kom deelneem om te sien wie kan 'n houtstomp die gouste in twee kloof hetsy met 'n byl of met 'n saag. Iets soos 'n "Knysnabos houtkapper kompetisie". Julle onthou mos nog vir Saul Barnard in "Kringe in 'n Bos". Wel, dis sy soort mense hierdie. Vooraf word daar deeglik beplan en merke word sorgvuldig opdie houstompe gemaak met bordkryt waar presies daar gekap gaan word. Daar word selfs spykers in die houtstompe gekap om te verseker dat hulle nie op die verkeerde plek bars nie. Hierdie ouens staan bekend as Axmen. Dit laat my nogal dink aan die woorde uit John Williamson se liedjie:

Rip rip Woodchip

What am I gonna do - what about the future?
Gotta draw the line without delay
Why shouldn't I get emotional - the bush is sacred
Ancient life will fade away

Over the hill they go, killing another mountain
Gotta fill the quota - can't go slow
Huge machinery wiping out the scenery
One big swipe like a shearer's blow

Rip rip woodchip - turn it into paper
Throw it in the bin, no news today
Nightmare, dreaming - can't you hear the screaming?
Chainsaw, eyesore - more decay

Remember the axemen knew their timber
Cared about the way they brought it down
Crosscut, blackbutt, tallowood and cedar
Build another bungalow - pioneer town


I am the bush and I am koala
We are one - go hand in hand
I am the bush like Banjo and Henry
It's in my blood - gonna make a stand

Rip rip woodchip - turn it into paper
Throw it in the bin, no news today
Nightmare, dreaming - can't you hear the screaming?
Chainsaw, eyesore - more decay

Rip rip woodchip - turn it into paper
Throw it in the bin - don't understand
Nightmare, dreaming - can't you hear the screaming?
Stirs my blood - gonna make a stand

Hierdie ou is so bekend soos Steve Hofmeyr by rugby wedstryde...


(Toe hierdie video afgeneem is was ek nog in Uni, salig onbewus van my Aussie aspirasies)




Posted by Picasa

Eerste word die houtstompe stewig op 'n staander staan gemaak, dan word daar aan weerskante van die hout verwyder sodat dit makliker is om daarop te kan staan sonder om te gly, want sien, hierdie ouens moet bo-op die stomp staan wat hy besig is om middeldeur te kloof met die byl. Hulle kap letterlik net sentimeters van hulle tone deur die stompe.


Die byle word eers behoorlik skerpgemaak met slypstene. Hierdie ouens pas hulle byle op hoor. Die engelse woord vir skerp is mos "keen". As 'n mens "keen" (ywerig) is om te werk, dan is jy soos 'n byl wat maklik kap, maar as jy nie "keen" is nie, kap die houtkapper (jou baas) maar moeilik met jou - dis waar die woord vandaan kom.


Hier word nog gemeet en gepas, sodat die keep in die stomp met presisie gekap kan word.

Posted by Picasa


Hier word 'n plekkie gekap waar die houtkapper gaan staan.



Posted by Picasa
En daar word sorgvuldig ge-korrel en die manne oefen hoe hulle gaan staan tydens die kragmeting.

En as die kap sessie, waaraan so ses ouens op 'n slag deelneem, verby is, dan lê daar hout gestrooi net waar jy kyk. Hierdie ouens speel nie met hout nie.

Hier is so 'n paar videos van die kragmeting:

Daar moet bo-op die stomp wat jy afkap gestaan word sonder om jou balans te verloor.





Die manne maak gereed:


Let op in die video dat daar ook jong Aussie jafels en ook vroue deelneem...




Net soos in die bos word die houtstompe opgesny deur manne wat in pare saamwerk op die saag.


Posted by Picasa


En moenie dink dis net vir mans nie! Daar was 'n paar vrouens wat ook hul staal gewys het.

So 'n saag is omtrent so lank soos 'n man.


Posted by Picasa


Gaan lees gerus ook hierdie bloginskrywing oor "Kringe in 'n bos".

Monday, July 20, 2009

Aroma fees

Stadig stap die jaar aan. Dit is maar steeds koud in die oggende, maar gelukkig het die reën so 'n bietjie opgeklaar. Hierdie week is effens warmer - die warmste winterdag vir hierdie jaar. More is dit 'n hele 22 grade hier by ons. Die kinders is nog op vakansie. My seun het hierdie week 'n basketbal-kamp in die dag. Verder het ons hierdie naweek bietjie ons roosbome gesnoei. Ek het ook 'n paar moewiese dik boomwortels onder die huis se plaveisel uitgegrawe, dit het die opritte skoon begin omdolwe. As mens so werkkaf, dan vergeet jy vir 'n oomblik dat dit nie regtig jou eie huis is nie, maar wat ook al - ten minste geniet ONS die vrugte van die huis, of dit nou op ons naam is of nie. Ons droom ook om eendag te kan huis koop...nou voel net nog nie reg nie. Australië is nog nie heeltemal in ons bloed nie...20-30 jaar is 'n lang tyd om af te betaal. Wel, met al die gewerskaf voel my lyf vandag soos 'n stuk melksuur biltong. Weet julle hoe het ek gesukkel om vannaand die built van die busstom of op te kom?
Verder byt ons nog vas in die GFK. By my werk is daar heelwat nuwe dinge om te leer. Het nou onlangs 'n Vektor kaart enjin in Microsoft Silverlight geskryf. Maa mens voel ook maar nooit of jy besig is om aan jou eie besigheid te bou nie. Jy bly maar 'n besoldigde slaaf. Maar werk mens ooit vir jouself...as jy jou eie besigheid het werk jy ook maar tog net vir kliënte, en soms is hulle minder vergewingsgesind.

Ons het gisteroggend met die trein ingeskiet stad toe. Dit kos op Sondae net $10 vir 'n retoerkaartjie vir die hele familie stad toe en terug...minder as die prys van 2 koppies koffie. Ons het so na 11 uur se kant daar aangekom. En was daar nou vir jou mense. Dit waar die jaarlikse Aroma fees by die Rocks net langs Circular Quay (die kaai). Dis amper soos die Alfred Waterfront in Kaapstad. Daar is ook allerhande stalletjies, maar Sondag was ekstra spesiaal, want oraloor was daar stalletjies waar hulle koffies teen 'n appel en 'n ei verkoop of selfs verniet weggegee het. Die Brazilaanse koffie by Piazza d'Oro die meeste geniet. Dis nie so sterk soos die ander soorte nie. Ons geniet veral Lattes, dis nou koffies met melk in. Ek hou baie van Gloria Jeans se Irish Nut Creme. Buiten die baie verskillende soorte koffies en Chai Tee, was daar ook heelwat sjokolade om te kies en te keur. 'n Stokkie met 4 aarbeie in sjokolade gedoop het sowat $6.50 gekos. Daar was ook kunstenaars wat opgetree het wat agtergrond musiek veskaf het, soos hierdie ou en sy maat...





Ons het ook deur die ou straatjies van The Rocks gaan verken. By die "G'Day Cafe" het ons vir ons lekker middagete teen 'n baie billike prys gekoop. Die kos was heerlik! Ek het 'n Bief Kebab geëet, en Tania 'n geroosterde Ham & Cheese Foccacia broodjie en die kinders het 'n lekker groot hamburger en toasted broodjie geëet. Ons het eintlik per ongeluk op die plekkie afgekom, want net regs daarvan is daar 'n ondergrondse winkeltjie wat marionette verkoop. Net soos pinocchio aan toutjies, sommer baie van hulle. Die winkeltjie is in , wat lyk soos 'n eeue oue huis met 'n vuurhert die toetie.


View Larger Map

Daar is ook 'n winkel in hierdie straat met die pragtigste geraamde fotos van Australië! Gaan loer gerus bietjie in by die winkels in hierdie straatjie. Net so 'n entjie aan is daar ook baie vlooimark kuns stalletjies.

Daar was heelwat mense. Hulle het selfs van die strate rondom die Rocks afgesper van Saterdag af al.

Hier is so 'n uittreksel...


Ek neem nie meer so baie fotos soos vroeër nie, mens raak ook mos dik van selfs die gunsteling goed in jou lewe...hier is so 2 fototjies van die petalje:



Dit was baie heel lekker om so baie mense in ontspanne luim die aangename dinge in die lewe te sien geniet. Ons is seker so 3 uur se kant weer met die trein terug. Sommer tot by Wynyard stasie gestap om die ergste opeenhoping te mis en ons was so 16h00 se kant weer by Pennant Hills stasie.

Groete tot volgende keer.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings