Saturday, May 24, 2008

Ek dink ons wa is nou deur die drif

Vandag, presies een jaar gelede, op die 24 ste Mei 2007, op 'n Donderdag middag, het ons ons eerste tree op die Australiese vasteland gegee. Wildvreemd, onseker en met boordenstevol tasse het ons hier aangekom. Omtrent alles was vreemd en nuut. Die lug het anders geruik met 'n swetterjoel nuwe reuke. Die son het met 'n anderste hoek geskyn op ons. Nou kon ons vir die heel eerste keer voel hoe dit voel om permanent naby die see te bly. As alles vir my te veel gevoel het om te glo het ek net altyd vir myself gesê: Ons trek net see toe.

Nou ja, hier is ons nou 'n jaar al besig met die tweede bedryf in die toneelstuk van ons lewe. Ons speel nou ietwat ander rolle in die' bedryf.
Steeds leer ons die woorde. Ons speel ons karakter uit in vele nuwe oorde.
Vergete lê die eerste bedryf se struwelings en kwellinge, vervang met nuwe uitdagings en struikelblokke. Maar ons visier is gerig op die toekoms, verby die verlede, want om aan dit wat was te probeer vashou is kompleet soos om 'n dooie liggaam te balsem. Dit mag dalk nog so bietjie herrinner aan die persoon wat was, maar hy sal nooit weer deel van jou lewe wees nie. Net so vertolk ons nou ons nuuste karakter met volle oorgawe.

Laat my nogal dink aan die volgende woorde van William Shakespeare:

All the world's a stage,
And all the men and women merely players:
They have their exits and their entrances;
And one man in his time plays many parts,
His acts being seven ages.
At first the infant
,
Mewling and puking in the nurse's arms.
And then the whining school-boy, with his satchel
And shining morning face, creeping like snail
Unwillingly to school.
And then the lover,
Sighing like furnace, with a woeful ballad
Made to his mistress' eyebrow.
Then a soldier,
Full of strange oaths and bearded like the pard,
Jealous in honour, sudden and quick in quarrel,
Seeking the bubble reputation
Even in the cannon's mouth.
And then the justice,
In fair round belly with good capon lined,
With eyes severe and beard of formal cut,
Full of wise saws and modern instances;
And so he plays his part.
The sixth age shifts
Into the lean and slipper'd pantaloon,
With spectacles on nose and pouch on side,
His youthful hose, well saved, a world too wide
For his shrunk shank; and his big manly voice,
Turning again toward childish treble, pipes
And whistles in his sound.
Last scene of all,
That ends this strange eventful history,
Is second childishness
and mere oblivion,
Sans teeth, sans eyes, sans taste, sans everything.

Soos ook Koos Dup ons leer in sy liedjie "Onthou jy nog..."

Onthou jy nog die dae van wens ons was al groot
Al ons wysheid en ons vrae na die lewe en die dood
Die dag was veertig volle ure die nag was net een oogknip kort
En 'n vesting was die mure om ons heen wat later sel sou word

Onthou jy nog die tye van liefhê droom en bou,
En die later dae sy swye om iets van als te behou.
Tog vreemd die tyd se laaie die lewe is so bitter kort
Dat ons na al ons paaie iedereen weer kind maar wees moet word
Dat ons na al ons paaie iedereen weer kind maar wees moet word.

(Koos du Plessis)

Hierdie ossewa van ons kom nou al 'n lang pad en daar was baie hartseer en afskeid langs die pad. Maar die oop vrye wêreld lê nou voor ons...en ons weet nie wat dit alles vir ons inhou nie. Baie mense, is ek seker, het ons nou al vergeet. Jou vriende en kennisse word soos meel gesif en net die fynmeel sonder klonte eindig op in die baksel van jou lewe. Pioniers, miskien. Lafhartiges, is die mening van sommiges. Dromers, dalk, wat anders kon ons doen? Ons dra ons Afrikaanse taal en kultuur in 'n klein flessie ingelegde appelkose in 'n "canned fruit bottle" saam met ons. Ons kleinkinders gaan dalk net so min van ons taal verstaan soos wat oorle oumagrootjie, wat nog uit die Hollandse Bybel gelees het, nou deel is van onse eie lewe. Mens kan seker ook die vraag vra of die verstrooiing van al die duisende Jode oor die hele wêreld hulle hul taal en kultuur laat verloor het? Of het dit dalk die teenoorgestelde uitwerking gehad - om hul kultuur soos suurdeeg in bykans elke nasie in die wêreld in te werk tot dit deeglik ingesuur was...Russiese Jode, Poolse Jode, Aussie Jode, Amerkaanse Jode, Engelse Jode, Suid Afrikaanse Jode. Net so - so word ons nou deel van dieselfde bodemlose volk...die Afrikaanses: Britse Afrikaanses, Amerikaanse Afrikaanses, Aussie Afrikaanses, Kanadese Afrikaanses, Midde Oosterse Afrikaanses, Taiwanese Afrikaanses, Japannese Afrikaanses, en die storie gaan so aan. Want sien....ons is op ons beskeie manier besig om die suurdeeg van ons vriendelike gasvrye lief-vir-die-lewe hardwerkende Afrikaansspekende mense met hul oop harte in te knie in elke vlak van die Australiese samelewing.

Soos wat windsade vasklou aan hul stingel was ons eers, maar toe die wind van verandering sterk teen ons geblaas het, het ons losgeskeur van daai stingeltjie en in duisende windrigtings ingesweef - elkeen met die potensiaal om weet 'n stingeltjie met net soveel sade voort te bring.

Man....ek weet nie of al hierdie gefilisofeer verseker waar is nie, maar die parallel is wel daar. Elkeen vertel maar vir hom sy eie storie en maak homself wys dat dit wat hy doen reg is. Solank jy net gelukkig is met die omstandighede waar jy jou bevind as gevolg van jou eie keuses. Ek dink ons is nou reeds goed gevestig, die osse is uitgespan, die kamp is opgeslaan en die koffie is al klaar.

En so voltrek ek dan my ossewa storie vir vandag.






No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings