Soos belowe gaan ek julle nou so bietjie meer wys van Jervis Bay aan die NSW suidkus.
In die volgende kaart kan julle die verskil in grootte sien tussen Jervis Bay aan die linkerkant, en Valsbaai in die Kaap aan die regterkant. Jervis bay is omtrent so 15 km in deursnee. As gevolg van die feit dat die baai so beskut is deur 'n baie nou poort, bly die water in die baai se water tot laat in die wintermaande steeds betreklik warm. Tussen Junie en Julie kry Jervis Bay ook baie besoekers soos dolfyne en walvisse.
Ons het die pad vanaf Sydney na Jervis bay in sowat 5 ure afgelê. Soos julle uit die groot hoeveelheid fotos kon aflei - was ons nie verskriklik haastig nie.
Hier is my eerste ervaring van Jervis Bay... Die see is so stil dat dit soos 'n seepgladde meer lyk. Die golfies klots rustig op die spierwit strand terwyl daar selfs in die laatmiddag amper nie eens 'n briesie te bespeur is nie.
Plek-plek langs die strand lei sagte sanderige paadjies, tussen groen plantegroei op die duine, wat jou welkom heet en jou innooi om jou skoene uit te trek en die sand tussen jou tone te laat ingaan.
Hier en daar is daar 'n heuningby wat nektar versamel by die talle pienk blommetjies op die strand.
Die seesand is so wit en sag, jy kan jou maklik verbeel iemand het versiersuiker hier langs die see kom strooi. Die strande is lank en wyd en strek so ver as wat die oog kan sien. Verder voel dit asof jy die hele strand vir jouself het. Silwerskoon. Mens kan selfs met Google Maps sien dat die sand besonder wit is.
Oral langs die kus loop netjiese sementpaadjies, waar mens heerlik met jou fiets of Rollerblades kan kerjakker - 'n hele 4 kilometer lank! Ek het te heerlik met my rollerblades op die paadjies gery - en dit het my 'n hele 16 minute geneem om tot in Huskisson te ry. Ons het by 78 Elizabeth Drive, Vincentia gebly in 'n vakansiehuis wat ons saam gehuur het.
Hier is 'n hele reeks fotos:
Omdat ons so ver van die helder ligte van die stad af was, was die sterre in die aande besonder helder. Alhoewel dit in die dag meestal bewolk was, was dit in die aande heeltemal oopgetrek. Jy kon maklik die melkweg sien, die ou bekende suiderkruis en 'n besonder helder planeet loodreg in die lug...ek vermoed dit was Jupiter. Dit was besonder stil langs die strand - mens kon die golwe duidelik hoor as jy in die nag in jou bed gelê het. In die agtergrond het die ritmiese metronoom van die golwe eindeloos herhaal. Hier is so 'n smakie van wat ek in die aande ervaar het....die einste klank wat ek vir julle in 'n video vasgevang het van ons woonstel af....
Maak jou oë toe, verbeel jou jy stap in die aand langs 'n windstil strand. Die sterrehemel is oopgevlek bo jou, in die verte sien jy die vuurtoring by die ingang van die baai. Rus en vrede.
Nou ja...so kom alle goeie dinge ook op 'n einde. Dinsdag het ons rustig opgestaan, lekker ontbyt geëet en so 12 uur die middag in die pad geval terug Sydney toe.
Baie mooi foto's het jou blog geniet!
ReplyDelete