Tuesday, October 14, 2008

Julle weet mos wat is hittete

Julle weet mos wat is hit-te-te. Dis nou naelskraap (soos op 'n swartbord) of amper soos as jy op jou g.. ek bedoel agterstewe se velle deurskuur in 'n toets -

Wel, dis hoe ek vandag voel. Vandag WEET ek hoekom ek trein ry!

Mellow, dis hoe ek die afgelope week was. Was mos op verlof. En het ons dit nie geniet nie. My bloeddruk was skoon laag. Maar weë jou as jy dink dit sal vir altyd aanhou...want sien, vanoggend reën dit toe mos weer in Sydney. En as dit reën; wel, dan dink mense mos hulle ry in stampkarretjies by die skou...

Ek het ons kuiergaste by die lughawe gaan aflaai en toe ewe doodluiters teruggery werk toe, nog heel in die vakansie gevoel. Mooitjies na Sylvia (dis nou die GPS) se stem geluister terwyl sy my deur 'n haas onbekende roete terug deur die stad begelei het tot by my werk. Dis mos toe dat die popo amper die fan tref.

Gelukkig was ek nie in 'n bui om op een of ander persoon se kar se stert te ry nie, en dus was my volgafstand gelukkig reg vir hierdie reënerige dag....want toe ek my weer kon kry, toe sien ek net dominoes voor my soos wat die drie motors reg voor my in die sopnat Lane Cove straat in 'n kettingbotsing met mekaar te make kry. Daar was bitter bitter min kans om aan enigiets anders te dink as om my voet plat te trap op die rempedaal - ek het nie gedink ek sou enigsins op die afdraande van 'n seepgladde nat pad betyds kon stop nie en het reeds in my geestesoog gesien hoe my ou splinternuwe karretjie soos 'n gekreukelde roesyntjie van voor lyk. Kyk, ek het al 'n paar keer vinnig probeer stop in die reën met karre wat ek voorheen besit het, en al daardie kere het ek klaaglik misluk. As die wiele mos eers vashaak, dan gly die kar sommer etlike meters verder op die nat pad. Een van daardie tjorre was 'n 1967 Beetle. As so 'n karretjie eers so 'n effense snif van nat teer kry, dan tol hy sommer so lekker in die rondte.

Maar hierdie keer was dit anders. Soos wat ek die pedaal so amper deur die vloer trap, hoor ek net hoe vibreer die ABS remme hier onder my soos wat die skywe en dromme so haak-en-steek los en gryp aan die nat pad. Dit klink amper soos die geraas van klinkende metaal, en ek dog toe amper iemand gooi my met iets wat op die dak te lande kom.

Ek was skoon uit die veld geslaan toe ek sien dat ek 'n hele halwe meter van die kar voor my tot stilstand gekom het. Toe die ou uitklim om na die skade te kyk kon hy dit amper nie glo dat ek betyds kon stop nie, want hy het die kar voor hom se agterstewe skoon in die lug op gery soos 'n trekklavier. Ook die heel voorste kar was lelik beskadig. 'n Driedubbele kettingbotsing reg voor my op 'n sopnat pad was nou nie juis die manier wat ek die vakansie wou eindig nie. Ek was skoon dankbaar verskrik toe ek uiteindelik by die werk uitkom. Weet jy hoe bly is ek nou ek het ABS remme aan die kar....daar sou net geen manier gewees het wat ek betyds sou kon stop as die kar dit nie gehad het nie - want ek kon kompleet voel hoe dit telkens laat los om te verhoed dat die bande op die pad begin gly.

Dis wat ek bedoel met HITTETE. Dis wat mens dankbaarheid noem.

1 comment:

  1. Goeiedag! Ek het nou heel toevallig op jou blog afgekom, en dit sommer baie geniet - ek hou ook van jou blogtitel (ek was mal oor die Manakwalanners reeks!).
    Sterkte en groete.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings