Wednesday, November 12, 2008

Kwel jou nie oor die dag van môre nie, want elke dag het genoeg van sy eie kwaad...

Ses en dertig jaar. Net soveel tamaties as wat daar in 'n All Gold bottel tamatiesous is...

Een tamatie vir elke jaar wat ek nou al op hierdie groot klip rondloop (...ek het vroeg begin opstaan teen goed... ;-)

Dis hoeveel jare ek nou al die voorreg het om mens te wees, om die vryheid te smaak om my eie identiteit uit te leef, om foute te maak, om te leer uit my foute, om lief te hê, om lief ge-hê te word, om geluk te ervaar, om hartseer te wees, om rus te ervaar, maar ook om hard te moet werk om enigsins iets te kan bereik...die lewe skuld mens mos niks.

Daar is so baie dinge wat mens deur moeitevolle ondervinding in hierdie aardse bestaan leer. Soos 'n marathon atleet spring mens met 'n spoed weg in jou jongmens dae...die lewe wink, die onbekende wag...wie weet watter van jou drome sal waar word...net die tyd leer jou. Aanvanklik dink jy mos jy kan die wêreld alles wysmaak, van waar jy op die grasperke voor Merenski biblioteek as ledige student tob oor "belangrike" vraagstukke en met ander studente redeneer oor "die lewe en die dood".

Dan...na heelwat jare kom jy agter dat jy, soos die oorgrote meerderheid van die mensdom, meeste van jou wakker ure moet spandeer om in die basiese behoeftes van jou en jou familie se bestaan te moet voorsien. Jy kom agter, dat, gee nie om HOE INTERESSANT OF BELANGRIK 'n WERK MAG VOORKOM OP 'n WERK-ADVERTENSIE NIE...dat alle loopbane maar een doel het: om die ratte van die wêreldekonomie-masjien aan die draai te hou. Hetsy dit is om die wiel te draai, of om die werkers wat die wiel draai geolie en gesond te hou. En ons almal neem elke dag vlytig hieraan deel, want die teendeel sal vir ons almal 'n gewisse hongersnood in werking laat tree, met bykans onmiddelike effek, want die pas van die hedendaagse samelewing is geskoei op die voorbeeld van 'n arbeidsame mierkolonie. Elkeen het sy rol om te speel. Ons is nou interafhanklik van mekaar en net soos 'n netwerk tonnels in 'n miernes verbind, vorm geld die kanale waarlangs lewensmiddele van ander kontinente oor see en land na ons beweeg en ons aan die lewe hou. So werk almal om hierdie geld aan die vloei te hou...en as dit ophou vloei of verstop raak...dan noem ons dit : RESESSIE (MIERNES KONSTIPASIE).

Ek is soms verbaas oor die hoeveelheid werk wat hierdie vlytige Aussie miere in hul dag kan pas. Hierdie mense kan werk hoor. As "komper-ingenieur" sit ek baie oggende en kopkrap hoe ek sekere rekenaar raaisels gaan oplos - jy word beproef tot op die tippie van jou tegniese talente. Soms maak ek regtig nie kop of stert uit van hoe ek iets moet oplos nie. Dan, na baie sit en sukkel "maak ek die probleem moeg" en kry ek uiteindelik die oplossing. Dan stres mens maar so bietjie. Want sien, jy sit hier in 'n vreemde land, op 'n Aussie tydskaal is jy maar 'n groeintjie in hierdie land...jy wil ook nie hê die mense moet die verkeerde indrukke oor jou kry nie. Netnou netnou dink hulle jy is een van daai mense wat hul graadpapiere oor die Internet bestel het sonder dat hulle ooit 'n boek oopgemaak het... Want as 'n boom geskud begin word, wil jy nie een van die avokadopere wees wat eerste afval nie. Ons baas het hoeka vandag op 'n vergadering gesê: ons maatskappy is nie immuun teen die wêreldwye finansiële krisis nie!

Ek het gelukkig al geleer...hierdie is 'n langafstand resies, jy kry jou "oppe" en jou "affe". Wat ook al na jou kant toe kom...hanteer elke dag net op sy eie. Jy kan net aan VANDAG se uitdagings iets doen, want jy is daar. GISTER is water onderdeur die waterwiel waarmee jy nie meel kan maal nie en jy kan niks uitrig in jou gedagtes aan Môre se probleme nie, want jy is nog nie daar nie. Nou vat ek maar elke dag op 'n slag. As ek in die middae by die stasie in die volgende fotos staan en wag vir my trein...dan los ek die werk by die werk. Dan sien ek uit na die tydjie saam met my vrou en kinders, die mense wat ek saam met my in die toekoms in neem.


Ons beleef 'n baie goeie tyd in ons familielewe. Vanaand was soos meeste aande die tyd wat ek dolgelukkig is. Om lekker te skaterlag oor die gesellige samesyn by die eetkamertafel, om by mekaar uit te vis hoe hulle dag was, om saam met my seun en vrou te kon tafeltennis speel, om in die koel aandluggie saam met my vrou te staan terwyl sy tuin natspuit en die kinders by ons voor in die straat op hul skopfietse ry. Om met die mense wat voor ons huis verbygestap het 'n geselsie aan te knoop, om soms 'n lekker koppie koffie saam met ons vriende te geniet, Om vir my kinders te kon stories lees teen slaaptyd en om dan aan die einde van die dag...hier te sit en blog oor hoe gelukkig ek is om te kan leef saam met die mense wat aan my toevertrou is in hierdie wêreld. Nou is elke dag vir my 'n ete wat ek op sy eie eet, sonder om my te ooreet aan die dag van more...elke dag het net genoeg vir my om te hanteer. Dis maar soos om 'n waatlemoen te eet, eet die rooi deel...en spoeg die pitte uit. En sien al die pêrels in elke dag raak - gryp dit dan met albei hande aan.

"KOM SNY DIE PAPAJA
BREEK STUKKEND DIE SON
OM DIE GOUDGEEL VREUGDE TE RUIK
GRYP BONDELS SWART PÊRELS
UIT DIE SUIKERSOET SKATKIS
VIR DIE NUWE SON SE GEBRUIK" - Laurika Rach

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings