Tuesday, May 19, 2009

Besluite besluite

Seker al gewonder wat van ons geword het. Wel die lewe gaan voort en soos in enige doodgewone ou se lewe het ek maar min om te sê na 'n dag by die werk. Miskien moet ek iets nuuts met hierdie blog probeer. Dink ek gaan dit in die vervolg kort hou, dan sal ek meer gereëld iets te sê hê - amper soos hulle nou op Twitter doen.

Vir almal wat gewonder het - alles gaan goed. Ons is Sondag al 'n hele twee jaar hier. Die kinders groei soos boontjieranke en die dag toe ons met net ons tasse hier op die lughawe aangekom het lê vêr in die verskiet. Alles voel nou bekend. Ons is ander mense. Anders as die mense wat 2 jaar gelede hier geland het. Ek is seker ons sal daardie eerste baie benoude maand of so ook eendag heeltemal vergeet. Ek dink nie daar was 'n moeiliker tyd in my hele lewe nie. Ek onthou nog hoe vreemd dit gevoel het om in die aande die donker trappe by Marsden Gardens woonstelle met 'n paar pakkies kruideniersware op te piekel. Die leë koskaste wat ons heeltemal van voor af moes vul. Die mistroostige reën wat buite geval het as ek in die aande van die bus in Epping Road afgeklim het, met my ou gesinnetjie my hele wêreld. Alles so vreemd, alles so bangmaak onbekend. Die knaende gevoel van verlies in jou hart wat wil breek. Alles op die TV is vreemd, al die produkte in die winkels is anders. Ek ry in die aand op soek na 'n winkel wat oop is na-ure, maar het nie 'n "clue" in watter rigting om te ry nie. My werkgewer my enigste lewenslyn om hier te wees. Ek onthou nog hoe dit gevoel het toe ons aan die begin nie eens internet gehad het of goedkoop kon Afrika toe bel nie - net 'n selfoon. En oral soek mense net rekeninge met jou adres en naam op vir bewys van identiteit - en daar bly ons toe nog in tydelike akkommodasie. Ek onthou nog hoe ons vir lank op 'n matras op die grond geslaap het, uit 'n tas geleef het, ons eetgerei saam met ons op die vliegtuig gebring het in 'n piekniek mandjie. Ons saam gehuil het oor die vreeslike verlies van ons familie terwyl ons mekaar op ons bed sit en vashou...

Nou voel daardie tyd weer soos 'n ewigheid, soos 'n vorige lewe. Nou het ons weer vriende en braai gereëld saam, geniet mekaar se samesyn. En as ons weer Suid Afrika toe kom, dan gaan kuier ons net bietjie oorsee...


Hoe hou julle van my Barbie/BBQ T-Shirt?

Posted by Picasa

2 comments:

  1. Dis alles so waar. Daardie eerste kennismaak met 'n nuwe land, en voel soos 'n verlore reisiger .. en die besef dat jy nie net vakansie hou op 'n vreemde plek nie, dis jou nuwe lewe hierdie!!

    ReplyDelete
  2. Hallo daar, lekker om weer van julle te hoor, ons kan ons heeltemal met julle vereenselwig, alles wat jy hierbo genoem het, net een verskil ons sit in Perth. Al gedink om n boek te skryf oor almal se ervaringe en staaltjies. Ons het vriende wat nou so 5 maande hier is. Die man en sy drie seuns het een oggend gaan soek vir "household goods" op die sypaadjies. Kom toe op n goeie vonds af, begin toe alles deurgaan om te kyk wat kan hy vir hulle oplaai. Die vrou kom toe en sê vir hom "sorry mate, we are moving in, this is mine" Ons was ook ons eerste naweek hier sonder geld, nie tred gehou met die banke wat toe is naweke, so is daar baie dinge wat ons sal onthou en soos die tyd aanstap sal terugkyk en glimlag. Dankie vir jou post ons geniet jou inskrywings altyd. Groete vir jou gesin!

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings