Ek dink nou al 'n geruime tyd daaraan om julle bietjie te wys hoe dinge hier in Australië gedoen word. Dit is alledaagse dinge soos hoe die vullis byvoorbeeld verwyder word wat soms anders werk as wat ons aan gewoond is. Daar word ook nie 'n groot kabaal opgeskop tydens die proses nie. Een trokbestuurder en een vullistrok is al wat nodig is om die strate se vullishouers sommer gou gou kaf te draf. Daar is so 'n meganiese arm aan die trok wat dan die asblik oplig en netjies in die agterkant van die vragmotor leegmaak. Jou asblik moet ook net reg staan anders slaan hulle dit sommer oor. Daar word ook nie dae oorgeslaan nie, geen rooster skuif aan vir vakansiedae nie. Somer en winter, reen en sneeu, vakansiedae of werksdae, elke Woensdag oggend is hul op hul pos hier by ons.
Wel, ek het daarin geslaag om vir julle hierdie kort video van die gedoente te bekom.
Nog 'n verskynsel wat mens hier baie sien is mos die mense wat hul eie petrol so ingooi. Aanvanklik het dit baie vreemd gelyk, maar nou kan mens jou nie eens indink dat dit ooit anders kon werk nie. As mens jou bande wil pomp, dan kies jy net die regte banddruk op die LCD skermpie en koppel die pyp, die masjien pomp dan self jou wiel op (of blaas dit af) tot die regte druk en "biep" as dit die regte druk bereik.
Selfde met die biblioteek: jy kies jou boeke, skandeer hulle in, plaas jou kaart op die glas en stap uit.
Dit bly vir my ongelooflik om te sien hoe dinge hier gedoen word. Oorkant ons in die straat is hulle besig om huis te bou. Ek het nog nooit meer as drie mense op een slag op die perseel gesien werk nie. Een ou kom man-alleen om vier "pallets" vol bakstene af te laai. Dit vat hom skaars 'n halfuur om dit te doen.
ReplyDeleteHier sien jy net eenvoudig nooit 20 werkers met overalls wat staan en gesels en hanna hanna vir drie maande lank op 'n site nie.
As jy jou oge uitvee, dan staan die huis klaar gebou. 'n Dak word in een dag geslaan, en die volgende dag is die teels op.
My bek hang na 'n jaar nog steeds oop as ek kyk hoe werk die mense.