(Die skakel na hierdie blog inskrywing)
Dit was met groot opgewondenheid wat ons Vrydagoggend 13 Augustus opgestaan het. Ons het al baie lank hierna uitgesien en die dag het uiteindelik aangebreek. Ons moes reeds teen 08h00 by die Port Douglas Marina wees om saam met die span van Wavelength na die Koraalrif te vertrek. Ons het 'n spesiale afslag op die Rydges oord se ontbyt gekry en het gesorg dat ons al voor half 8 die lekker buffet nuttig. Dit was 'n lekker ervaring om vir 'n slag gepamperlang te word.
Die Port Douglas Marina is baie kleiner as baie van die seiljag marinas wat mens in Sydney teëkom. 'n Groot klomp van die bote word gebruik om toeriste na die Rif toe te neem, maar daar is ook 'n paar wat mens kan huur om self in die lagoons te gaan vaar. Die riviere en die see langs die kus hier in die Noorde wemel mos van krokodille.
Hier is 'n foto van die Port Douglas marina wat op een van die advertensieborde was.
Voor ons vertrek het die bemanning eers al die Koraalrif groentjies vertel van al die logistieke aspekte van die reis, soos om jou papier-kotssakkie oorboord te gooi en nie te hergebruik nie omdat vir baie gou bio-degradeer as dit nat word, dat die toilet die laaste plek is waar jy wil wees as jy olik begin voel (omdat mens nie die horison van daar af kan sien nie) en dat gratis Travel-Ease pilletjies beskikbaar is vir almal wat dink hulle kan dalk siek raak van die boot se skommelbewegings. Mens moet altyd sorg dat jy altyd ten minste met een hand aan die boot vashou waar ook al jy beweeg. Almal is baie streng daaraan herinner om nie aan enige van die korale te vat nie, en om ook te kyk dat jou finne nie die korale beskadig nie. Indien enige "makker" sou oorboord val, word van almal verwag om dadalik die woorde "MAN OVERBOARD!" te skree.
Elke boot het ook 'n rubber-duck motorboot om maklik 'n besoeker wat in die moeilikheid beland te hulp te kan snel. Hier is 'n foto wat ek geneem het net nadat ons vertrek het.
Ons was baie gelukkig om die twee dae wat ons uitgegaan het op die rif baie goeie sonskyn weer te kry. In Sydney was dit nog kliphard aan die reën, en die week tevore het dit ook hier in Port Douglas gereën. Ons was dus voorwaar gelukkig. Dit het beteken dat die golwe op die rif baie kleiner was, ideaal vir snorkel.
Die bootrit uit na die rit duur amper 'n uur en 'n half, teen 'n spoed van sowat 36-46 km/h. Soos wat mens al hoe dieper die see in reis, word die land en die berge naderhand al hoe kleiner en begin ampertjies agter die horison verdwyn. Op so 50 kilometer van die land af begin mens amper die gevoel kry jy is besig om naby 'n eiland te kom, want hier en daar is daar sulke donker na heldergroen gebiede onder die diepblou seewater en aan die rand daarvan kan jy die branders wat begin breek oor die riwwe sien en hoor. Die' Koraalrif van Australië, staan as 'n "barrier" of walrif bekend en lê op die kontinent se plato-rand, op 'n diepte van minder as 20 meter. Verder die see in daal die seebodem baie gou na astronomiese dieptes. Die rif wat ons eerste besoek het was die Opaalrif. Daar is oral oor die koraalrif, wat uit meer as 2200 individuale riwwe bestaan, sulke permanente vasmeerplekke / "moorings". Dit is spesifiek daar sodat bootoperateurs nooit hulle anker hoef af te gooi in die water nie. So 'n tamaai anker sal honderde jare se koraaldier handewerk in 'n paar sekondes kan vernietig. Die eerste mooring waar ons vasgemeer het was "Beautiful Mooring" genoem en dit was deel van die Opaal rif. Ek het my Garmin GPS saam geneem en kan julle verseker dat die posisie waar ons eerste vasgemeer het presies HIER is op die Google kaart. Ons was dus direk suid wes van die Opaal rif, in die Koraal See.
Hierso is 'n foto wat ek geneem het van die pragtige kleur van die see oor die koraal.
Voordat ons in die water gaan was daar weer 'n kort voorligting sessie, en toe sê hulle : "The pool is now open". Die lekker daarvan om saam met 'n boot te gaan waar almal net snorkel (ons weet, want die tweede dag is ons saam met SCUBA mense ook), is dat alles net soveel meer rustiger is. Met 'n kleiner boot soos Wavelength kon ons na 3 verskillende duikplekke gaan omdat die logistiek om 23 mense in en uit die water te kry net soveel makliker as is met 150 mense.
Voordat jy kon sê "Moenie die haaie terg nie" was ons binne in die water. Die gedagte dat ons 50 km van die naaste land was, vêr weggebêre in ons gedagtes. Met 'n neopreme wetsuit, 'n duikbril en 'n pypie om aan te suig en die mees wonderlikste skoonheid wat voor ons oë oopvou.
Ek het met my ou nederige digitale kameratjie in 'n plastieksakkie met 'n glasvenster binne die 3 dae wat ons Port Douglas en die rif besoek het 'n totaal van 908 fotos geneem, waarvan sowat 537 onderwater fotos was van die rif. Ek het besef mens hoef nie duur onderwater kameratoerusting te hê om skaflike fotos van die koraal te neem nie, want die rif is eenvoudig so vlak dat daar oorgenoeg lig is vir 'n goeie spoed foto.
Die duik en snorkel operateurs het baie streng riglyne waarvolgens mense die rif besoek getel en ge-"double check" word. Na elke snorkel sessie wanneer almal weer terug was op die boot, is almal se name van 'n lys afgelees en dan moes elkeen persoonlik daarop antwoord. Hierna moet almal stilstaan en die bemanning tel dan almal op die boot twee keer om te sorg dat die telling met die aantal mense ooreenstem. Om hier na die oppervlak te kom na 'n SCUBA sessie en dan te ontdek die boot het sonder jou vertrek kan nie 'n goeie ervaring wees nie. Die kans is klein, maar dit het wel al gebeur. Met 50 km na die land toe is daar nie 'n manier waarop jy dit gaan oorleef nie, want dit is in die nag wanneer al die visse na hul wegkruipplekkies gaan en die koraaldietjies oral oor die rif uitkom om te voed op plankton, wat die groter jagters van die see, met hul sintuie wat geoefen is vir nagtoestande hier seëvier.
Ons het 3 snorkel sessies gehad:
- Die eerste was by die "Beautiful mooring" op die opaal rif:
so 10h46 tot 11h39 (sowat 'n uur) - Die tweede was by die "Ray Ban" vasmeerplek (Noord oos van die eerste plek) :
so 12h07 tot 13h06 (weer 'n uur) - Die derde vas by die "Turtle bay" vasmeerplek (Heelwat suid wes)
so 14h30 tot15h02 (net so bietjie langer as 'n halfuur)
Charl het ons ook na al die mooi dele van die rif geneem, soos om vir ons te wys waar ons vir Nemo die Clown anemoonvissies op die rif kon kry. Wat dink julle van my eie Nemo vissie fotos hieronder?
Na die tweede sessie snorkel het ons 'n heerlike koue buffet ete genuttig en gesels oor alles wat ons gesien het. Daar was ten minste 2 marine bioloë op die boot. Ek dink hierdie ouens doen hul praktiese ondervinding op hierdie manier op.
Hier volg so 'n kort, en rukkerige video van 'n paar van die korale wat ek op hierdie dag afgeneem het...sorry, maar ek het nog nie uitgevind hoe om 'n kamera onder water stil te hou terwyl die golwe jou rondskommel en die visse vir jou wegswem nie...
Gaan kyk gerus na my fotos by die foto galery. Daar is 'n "slider" regs bo waar julle die grootte van die fotos kan verander.
Volgende keer vertel ek meer.
No comments:
Post a Comment
Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.
Note: Only a member of this blog may post a comment.