Sunday, August 29, 2010

Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 1

(Skakel na hierdie blog inskrywing)

Op Saterdagoggend 25 Februarie 2006 om 9h24 in die oggend, was ek en my vrou op die bodem van die see naby Sodwana, besig om die koraalrif aan die oostekant van Suid Afrika te bewonder. (Dit was ook die presiese tyd wat die volgende goto geneem is.) Dit was die eerste keer wat ek so diep onder die water was, besig om 'n wonderwêreld te verken wat ek toe nog nooit geken het nie.  Ek het my Open Water SCUBA kursus deur NAUI gedoen en dit was my eerste duik-naweek.  My vrou het haar duik sertifisering toe al reeds lankal gehad.

 
Talryke soorte visse van vele skakerings het om my gewemel. Daar was 'n prag en skoonheid aan die die koraal wat ek nie met woorde kon beskryf nie. Dit het 'n tekstuur gehad wat ek nog nooit voorheen op 'n ander plek raakgeloop het nie.  Dit het geblink asof dit oorgetrek was met 'n fluweel stof en so ver as wat die oog kon sien het dit uitgestrek gelê rondom. Plate en plate so ver as wat mens kan sien.  Dit was 'n weggesteekte wêreld, amper ses verdiepings onder die see en dit het gevoel of ons die eerste mense was wat dit ontdek het.  Die kleure van die visse hier was soveel helderder, soveel meer uitspattig as was mens gewoond aan was, so rojaal voorsien van mooiheid.  Tog, en dis 'n jammerte, sien so baie mense nooit hierdie wonderwêreld van naby nie.  Die volgende foto is van 'n Engel vis op die Koraalrif by Sodwana (deur die duikinstruktrise geneem).

As jy eers SCUBA geduik (of gesnorkel) het, dink ek verander die manier wat jy na visse en seediere kyk. Dit is nie meer net nog 'n kossoort in 'n Seekos restaurant nie, maar 'n kosbare plek wat ten alle koste beware moet bly en jy dink met respek van hierdie ondersese skatte.  Elke moontlike geleentheid word dan aangegryp om weer by hierdie verborge wêreld te gaan kuier.

Dit bring my dan nou by die punt waarby ek eintlik wil uitkom.  Om die "Great Barrier Reef" / Groot Walrif / Groot Australiese Koraalrif te kon sien was tot nog toe net 'n onmoontlike droom.  Aan die begin het 'n besoek aan Australië nie eens in my gedagtes opgekom nie...hoekom sou ek tog ooit daarheen wou gaan? Wat nog te sê om daar te gaan bly? Mens het koraalriwwe soos in Australië en die Karibiese eilande mos maar net in flieks gesien!  Hoe het alles tog nie verander nie.  Nou bevind ek my op daardie juiste Australiese eiland en die see is net 'n halfuur se ry van ons af en om na die Groot Koraalrif te vlieg is minder as 'n drie uur vlug van hier af.  Skielik was hierdie droom moontlik, maar ek het dit eers later regtig besef.  Sommige van die ouens wat saam met my werk het al by Vanuatu en Fiji gaan scuba en snorkel en 'n ander een was onlangs vir vakansie na Hawaii toe.  Die Stille Oseaan is mos net op ons voorstoep en ek verstaan nou hoekom dit die Stille/ "Pacific Ocean" genoem word...die see is party dae regtig baie kalm en dan is snorkel net so maklik soos om in die see in te loop en op jou maag te gaan lê.

Ons het toe besluit om op 'n Donderdag oggend net na 6h00 'n Jetstar vlug te neem van Sydney na Cairns in Queensland, amper by die noordelike punt van Australië (Cape York is sowat 960 km vanaf Port Douglas). En om dan weer die Sondag terug te vlieg. Die soortgelyke afstand in Suid Afrika sou ongeveer so ver wees soos om van Port Elizabeth tot bokant Zimbabwe te vlieg.  Dit het natuurlik beteken dat ons reeds sowat 03h20 sou moes opstaan, sodat iemand ons net na 4 kon lughawe toe neem om te verseker dat ons ten minste 5h00 reeds by die Sydney Binnelandse lughawe kon wees om in te boek.)  Dit was net ek en my vrou en ons was baie opgewonde, want hierdie was 'n eens in 'n leeftyd ervaring. Iets wat ons nie gedink het gou sou gebeur nie.  Daar sit ons toe op die vlug, gestewel en gespoor.  Die kaptein wens almal welkom op die vlug en kort voor lank word ons teen die sitplekke vasgedruk soos die Airbus 320 die oggendhemel in-klief. Dit was nog baie koud in Sydney en ons het baie uitgesien na die vooruitsig om na die somer toe te kon vlieg.  Die wolke het soos 'n wattekombers tot in die verte gestrek en toe die ou sonnetjie sy ogies agter die kombers uitsteek was ons al baie vêr van Sydney af.


Vanaf Cairns (uitgespreek as "Cans") sou ons 'n Hertz motor by die lughawe huur om tot by Port Douglas te ry waar ons bespreek het by die Sabaya oord.

Die pad vanaf Cairns na Port Douglas is omring met palmbome en suikerriet plantasies.  Die warm vogtige lug herinner mens nogal aan die Natalse suidkus en die berge strek naby aan die kus voor mens uit aan jou linkerkant.


Oppad het ons by Palm Cove aangedoen.  Dit is 'n soort toeriste dorp wat direk op die strand ontwikkel is met plaveisel strate, baie palmbome, voetpaadjies langs die see en baie restaurante.


Die bordjies langs die see waarsku dat hierdie 'n geskikte plek is om krokodille te kom afneem.  Verder is die boks jellivis hier dodelik, maar hulle raai mens aan om net tussen die rooi en geel vlae te swem, want sien, die krokodille en jellievis weet dat dit is waar die mense mag swem.
Verder langs die roete, wat omtent so 'n uur neem om te ry tot in Port Douglas, het om afgekom op 'n plek waar die mense hangvlugte ("hang gliding") doen langs die see omdat daar sulke sterk opwaartse winde is teen die berge op langs die see.






Die water langs die kus is baie troebel as gevolg van die rivierwater wat hier in die see inloop.  Dit word baie bruin gekleur as gevolg van die grond afvoei vanaf die suikerriet boerderye in die riviere in. Dit is 'n groot kopseer vir mense wat die rif wil bewaar omdat die modder op die korale kan gaan lê en fotosintese van alge, wat as voedsel vir die korale dien, kan belemmer.


Die plantegroei in Port Douglas is baie ryg want hier by die 16 de breedtegraad is die klimaat heeltemal tropies.


Toe ons by die oord aangekom het, het ons gou-gou ingeboek in die self-sorg eenheid van die Rydges hotel


...en daarna na die Port Douglas Marina gery om ons snorkel vir die volgende dag te gaan bevestig.

 



Ons sou die Vrydagoggend vroeg saam met Wavelength se boot en die Saterdag oggend saam met HABA se dubbelromp katamaran na die Koraalrif geneem word wat sowat 46 km in die see in is. Julle kan die fotos by die fotogalery se Google kaart skakel gaan bekyk om te sien hoe ver dit van Port Douglas af in die see in is.

Friday, August 27, 2010

Ons droom om die "Great Barrier" Koraalrif te besoek word bewaarheid

(Direkte skakel na hierdie blog inskrywing)

Hello aan al die Internet vriende

Daar kom nog baie Koraalrif stories en beskrywings wat ek vir julle gaan skryf, maar om vir julle die geleentheid te gee om hierdie naweek al saam met ons die Koraalrif te ervaar, het ek die fotos vir julle opgelaai op die Internet.

Ek werk nou al 'n week of wat onverpoost om gepaste beskrywings by al my fotos te kry sodat dit 'n volle storie vertel.


Om na die volle foto/skyfievertoning van ons besoek aan die "Great Barrier" Koraalrif te kyk, kliek op die volgende skakel:

Great Barrier Reef Snorkel 2010

en druk dan dadelik die F-11 knoppie op die sleutelbord om dit vol skerm te maak. Julle sal ook dalk aan die onderkant die spoed van die vertoning bietjie stadiger moet maak.

Alternatiewelik kan julle na die volle gallery van fotos kyk deur op hierdie FOTO GALERY skakel te kliek.  Daar is 'n "SlideShow" knoppie op daardie bladsy se boonste linkerkanste hoek waarop julle dan ook kan kliek, of julle kan die "FullScreen" knoppie kliek nadat julle op enige van die fotos gekliek het.  Die links en regs knoppies op die sleutelbord sal jou dan toelaat om tussen die fotos te spring.

Ek plaas ook 'n permanente skakel na my Australiese Koraalrif bladsy aan die sykant van hierdie blog.

Geniet dit.  Daar kom nog baie leersame artikels oor hierdie onderwerp aan die hand van my fotos.

Monday, July 26, 2010

'n Fees van Aroma

(Skakel na die' blog inskrywing.)

Jong, mens kan nie glo daar is alweer 'n jaar verby nie. Dit voel soos nou die dag dat ons by laasjaar se aroma fees in die stad was. Sedert ek hier is, het ek in 'n hopelose koffieverslaafde ontaard. Hierdie jaar is ons weer soontoe om die kleure en geure van die land se beste koffiesmouse en sjokolateurs te gaan beproef. Ons het Sondag die trein saam met ons vriendin stad toe geneem en bietjie daar by die "Rocks" gaan kersopsteek. Sy het toe sommer van die fotos geneem. Dieselfde straat kunstenaars was weer daar, hierdie keer bietjie beter toegerus.


Ek het heerlike Baklava geproe, dan ook aarbye met sjokoladesous. Daar was "Belly Dancing" soos op Australia's got talent en heelwat Turkse en uitlandse kosstalletjies soos hier onder.



Ook kameelritte

Die strate het gegons van die geroesemoes van mense en die geur van varsgemaalde koffiebone het deur die neusgange na binne gevloei.

Ek het ook vir my 'n panfluit CD van 'n groep van Bolivie in Suid Amerika gekry. Hulle naam is FJF Cubas en werk nou as kustenaars hier in Australie. Ek het hulle eenmall lank gelede daar by Centurion Sentrum gesien. Ek het die een ou gevra of hulle al daar was en hy het dit bevestig. Besoek gerus hulle webtuiste en luister na uittreksels van hul liedjies deur op die prentjies van die CDs te kliek.

Hier is so 'n video uittreksel om 'n proeseltjie van die atmosfeer te kry.



Sunday, July 18, 2010

So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney

So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney (blog skakel)

Afrikaanse kultuur is nie in oorvloed in Australië nie.  Toe ons die besluit geneem het om hierheen te kom het ons dit so soort van geweet. Maar daar was verskeie redes waarom ons tog die besluit geneem het om te kom.  Ons lewe is nou hier, maar mens mis dit wat so in oorvloed in Suid Afrika is - daardie Afrikaanse kultuur en die gemeenskaplike deelwees van 'n groep mense wat dit sommer net vir die lekker doen.  Hier is dit maar in "short-supply".  Daar is 'n paar pynlike realiteite wat mens verder besef...dat jou kinders Afrikaans nooit so goed gaan ken en ten volle waardeer soos jy self wat die voorreg gehad het om dit as eerste taal op skool te kon leer nie. Ons doelwit met ons eie kinders is steeds om hulle (so ver as ons kan) ten volle tweetalig groot te maak.  Vir hulle sal Afrikaans altyd die taal bly wat hulle met hulle eie ouers van kleins af gepraat het.  Hulle leer egter Engels as die wêreldstaal wat vir hulle baie deure sal oopmaak in die toekoms.

'n Mens se taal is iets wat deel van jou is. Dit is soos 'n garedraad wat deur die tappisserie van jou lewe ingeweef is en die storie en ervarings van jou lewe met woorde vertel wat eie is aan wie jy in jou diepste wese is.  Dit is soos 'n vingerafdruk, dit definieer van waar jy kom, wie jou voorouers was, dit is die taal van jou verbeelding. Die duisende momente wat ek myself al in my eie taal uitgedruk het lê soos 'n laslappie kombers agter my, soos wat jy terugkyk vanaf die bergtoppe waar ek my al bevind het in my lewe.  Maar dis ook die taal waarin ek myself uitdruk as ek hartseer is of "down" voel.  Dis die taal waarin ek bid...mens, maar voel dit vir jou nou vreemd om dit in Engels te probeer doen, dit voel opsluit asof 'n mens 'n "speech" moet lewer.

Hier is ons maar net een val vele ander kulture.  Ek wonder soms of daar 'n kritieke massa van 'n taalgroep moet wees voordat daar noodwendig mense met goenoeg skeppende vaardighede is om in hul eie taal musiek in hul nuwe land te begin maak.  Daar is tog seker Griekse sangers in Sydney?  Iemand wat in Frans of Italiaans so 'n paar woorde kan gooi wat getoonset is?  'n Paar Indiese of Turkse sangers en dansers?  So hoekom nie ook 'n paar jong Afrikaanse musiekante, sangers of digters in Aussie land nie.  Al ons voorouers was tog Europees.  Ek is 'n potpourri van Skots en Portugees en Hollands, maar ek praat Afrikaans.  Ons voorsate het mos verseker hulle talente saamgebring na Suid Afrika toe.  Net so seker het hulle daardie selfde talente die binneland ingedra.  Hoe lank het dit geneem, en hoeveel "immigrante"/voortrekkers het dit geneem voordat daar byeenkomste gehou is in die binneland waar die Afrikaanse kultuur en musiek ge-vier (ge-celebrate) is?  Indien daar geen eerste-generasie musiekante ge-trek het nie...wat het hul kinders (die 2e generasie voortrekkers) aangespoor om in Afrikaans te begin sing?  Nou wonder ek maar net - gaan ons Afrikaanse musiek hier in Australië voortleef?  Hoekom nie?  Wat is dan nou anders?  Gaan daar Afrikaanse Aussie kinders wees wat oor 10 jaar 'n paar Afrikaanse CDs hier uitgee?  Dit is seker maar 'n vergesogte droom. Of nie.

Van wat ek nou al gesien het, het die Aussies nou nie juis 'n kultuur waarop jy jou vinger kan druk nie.  Hulle is eerder 'n mengelmoes van baie kulture wat almal te bang is om die hok te skud en met hart en siel of met woord en daad hulle eie kultuur uit te bou en te bevorder.  Maar tog is hier onbevange vryheid.  Die Aussies verwelkom nuwe kulture (mits dit hulle nie te veel an terroriste laat dink nie).  Want hierdie vryheid is een van die redes waarom so baie mense oor die jare hierheen gestroom het met sakke vol hoop en drome onder hulle arms.  Om hulle eie kultuur in vryheid te beoefen.

Ek beskou dit as 'n helse voorreg om my eie taal hier te kan praat.  Ek praat dit hard en ek praat dit suiwer ook in die winkelsentrums, dis vir my 'n mooi taal. Maar net so mooi is Engels - my ander (nie tweede, nie) taal (waarin ek net so goed wil kan praat om myself suiwer uit te kan druk, nie net met die volstrekte allernodigste minimum woordeskat om oor die weg te kom nie, maar as 'n alternatiewe taal wat ek soos 'n swaard reg en met presisie kan gebruik.  Hoekom moet ek my net tot Engels beperk?  Ek voel hier geensins in my Engelse woordgebruik gestrem nie.  Die Aussies mag dalk Engels praat, maar hulle kan dit verseker nie spel nie...ek is bereid om enige tyd die mense wat saam met my Engels Tweede taal in Matriek by Juffrou Buchner gehad het teen die deursnee Aussie in 'n opstel skryf kompetisie te plaas...en hulle sal met die meeste spelfoute wen!  Ons het ook "Merchant of Venice" en "Romeo and Juliet" van oom Wikkelspies gehad. Hulle spreek nie eens al die Engelse lettergrepe uit nie - hoe kan jy dan vir hulle sê daar pas ekstra letter in sommige woorde in.  Ons Afrikaanses kan trots wees op ons Engels.  Ek help gereel my baas reg as hy "Longtitude" of "Longitiude" spel in plaas van "Longitude" of "Maintance" in plaas van "Maintenance".  En hy is 'n gebore Aussie.

Nou hoekom dink en dan nou so oor al hierdie goeters?  Sommer.  Omdat ons Vrydagaand so 'n lekker tyd gehad het by Kurt Darren se optrede hier in Castle Hill se RSL klub.  Kurt en Arno Jordaan het vir ons klomp uitgewekenes kom kuier op besoek aan springhaasland.  Die byeenkoms het heel stemmig begin, met almal wat lyk of hulle 'n tipiese sangvertoning kom bywoon, maar op die ou einde was bykans die hele verhoog vol jongmense en ouer mense wat saam met Loslappie gedans het.  Sommige het selfs op die stoele gestaan en dans. Heelwat van ons het ons vrouens gegryp en agter en voor in die RSL se saal ge-sokkiejol en geskoffel.  Toe besef ek net.  Daar is seker baie mense van Suid Amerika en Spanje wat net so sou voel as daar 'n Spanjaard of Portugese sanger hier sa kom sing.  Hulle sal onbevange saam dans! Daar is net iets in die Afrikaanse kultuur wat ons anders maak.  Ons is 'n raserige spul, vol lewenslus.  Die Aussies het hier maar so 'n tweedehandse disco-kultuur wat van die weste oorgewaai het as hul idee van plesier aanvaar.  Hoeveel ryker is ons nie!

Kyk bietjie na hierdie (ek moet erken bra swak kwaliteit) video van Kurt Darren en die klomp op die verhoog.


Ek het ook so 'n uittreksel van Arno Jordaan se "Daar is Engele" liedjie afgeneem.



Nou wonder ek mos net hoekom kan ons nie ook Afrikaanse sangers hier voortbring nie....miskien omdat hulle nie gaan dink dat hulle beroemd kan word in Afrikaans in Australië nie.  Vir die res van die wêreld lyk Engelse Aussie kunstenaars maar net soos mini VSA "lookalikes" amper soos wat mens baie Elvis nabootsers kry. Die Aussies se kultuur lê nie in hul taal nie.  Maar ons (en baie ander nasionaliteite in Australië se kultuur wel).  Dit maak ons uniek.  Net soos wat die Franse baie romanties klink as hul Engels praat of die Italianers se taal die wese van Klassieke liedjies verteenwoordig, hoekom kan Afrikaans nie ook so iets aan die Engelssprekende mense bied nie. Net soos wat Spaanse danse, Italiaanse operasangers, Franse romantici, of selfs Turkse "belly dancing" iets geword het vir die wêreld om te waardeer en te bewonder, so is daar verseker iets van ons warmte wat ons aan hulle kan bied.

Iets soos Blackie Swart se musiek of die Klipwerf Orkes se boeremusiek.

Ons wonder soms of ons die regte besluit geneem het om alles so weg te gooi... Maar het die vele voorsate wat na Suid Afrika getrek het eeue gelede nie maar ook so gevoel nie?  Ek dink terug aan die dae wat ons altyd op staproetes saam met vriende om die kampvuur gesit het en dwarsdeur die nag Afrikaanse liedjies gesit en sing het nie. Jaco, IP, Brenlie en Hennie, Lizelle en die res...ons onthou daardie dae.
Maar 'n mens kan nie meel maal met water wat reeds onderdeur die brug is nie.





Onhou julle nog die liedjies wat ons gesing het...hierdie musiek van Jacques de Coning

Sunday, July 11, 2010

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour (blog skakel)

Dit is die middel van die winter in Sydney.  Buite val die reën en mens kan nie juis baie doen in die buitelug nie.  Ons het nou net lekker kaneelpannekoek geëet met botterkaramelsous wat ek self aanmekaargeslaan het.  Net gisteraand het ons teruggekom van 'n heerlike week-lange vakansiebreuk aan die noordkus van New South Wales.  Loukie (ons hond) kon nie saamkom nie en het by vriende van ons gebly hierdie week. Ons het vanoggend bietjie by Fagan Park met hom gaan stap, maar dit het later sagkens begin reën en dit het my laat dink aan die lekker pannekoek (Crepe) met Butterscotch sous wat ek by die Butter Factory in Bellingen geëet het.

Op hierdie soet noot...ons het vir die middel winter vakansie afgesuiker na Woolgoolga.  Dit is 'n piepklein dorpie net noord van Coffs Harbour.  Ons het daar vakansie akkommodasie gehuur wat soos in REG op die see uitgekyk het. Woolgoolga het 'n pragtige strand met ongerepte natuurskoon langs die kus af.  Dolfyne en walvisse baljaar in die silwer see en die son glinster op die golwe tot in die verte.  Die melkweg skitter in die nag want mens is letterlik 'n halwe duisend kilometer weg van Sydney in die suide en amper net soveel vanaf Brisbane in die noorde.  Aan die oostekant strek die stille see so ver as wat jou oog kan sien met die Solitary Eilande op die horison.  Na die weste is lowergroen grasvelde, piesangplantasies en berge met subtropiese reënwoude.

Die see se temperatuur was 'n heel gemaklike 19 grade en ons het saam met die kinders (darem bygesê met 'n wetsuit) in die branders baljaar. Ons het hierdie week darem ook bietjie gesnorkel, maar as gevolg van die bewolkte weer en winderigheid langs die see was die water maar troebel.  Maar ons het nou nie juis toegelaat dat dit ons afskrik nie.  Ons het ook ons vier fietse op die fiets-rak saamgeneem.  Ons familie kuiergas het vir hom 'n bergfiets gehuur by Woodseys Wheels.   Daar is dwarsdeur die dorpie en langs die lagoon en die see 'n heerlike fietspaadjie wat oor die rivier met houtbruggies verbind is.  Dit is 'n heerlike aktiwiteit om saam met 'n mens se familie te doen op vakansie.  Ons het langs die kus ook by 'n hele paar strande ingeloer soos: by Emerald Beach, Moonie Beach, Port Macquarie, Anna Bay en Nelson Bay by Port Stephens naby Newcastle.  Heelwat van hierdie strande is binne in natuurreservate waar die kangaroes in hul natuurlike omgewing vry rondloop...ook sommer tussen die erwe.  Die Moonie Strand reservaat by Emerald Beach is so 'n voorbeeld.  Daar is pragtige kranse langs die see wat men nogal aan fotos van Skotland of Ierland laat dink.

Eendag het ons die binneland verken en toe met die pas teen die berge op gery tot by Dorrigo Nasionale park waar ons deur die reënwoude gestap het en die panoramiese uitsigte bewonder het vanaf die Skywalk by Dorrigo (wat so terloops, heeltemal gratis is).  By een van die klein dorpies, het ons ingeloer by die Old Butter Factory, waar ons oggend-tee (morning tea) genuttig het.  Daar is ook 'n kunsgalery en 'n plek wat allerhande snuisterye en gedoentes van leer verkwansel.  Ons ry baiemaal ver uit ons pad uit "op ekspedisie", sommer net om nuwe plekke te ontdek...want die eindpunt is nooit die bestemming nie: op vakansie is die reis na jou bestemming die belangrikste, en nie hoe gou jy daar kom nie. 

Elke aand by die woonstel het ons saam gekuier, op die strand gaan stap of sommer net saam met die kinders op die fietse gery.  My seun was veral in sy noppies omdat ons in die aande tot laat gesit en Monopoly speel het.  Nou wil hy het heeltyd Monopoly speel.

Ons het dit baie geniet.  Oppad terug het ons besluit om 'n draai te ry en Fisherman's Bay en Anna Bay net noord van Newcastle te gaan besoek.  Dis 'n pragtige omgewing...en ook so naby aan Sydney.  Ons het die sonsondergang daar bewonder en toe teruggekeer huis toe.   Daar was 'n walvis en 'n hele skool dolfyne wat daar in die branders baljaar het. 

Ek het vir julle ons fotos opgelaai.  Julle kan dit hieronder kyk of by die web albums.



By Emerald Beach het ek die volgende verliefde paartjie afgeneem.

Monday, June 28, 2010

Sydney in die aand

Die afgelope 2 weke of so het ons so 'n paar keer in die stad 'n draai gaan maak en ek het weer bietjie fotos van Sydney teen skemer en ook in die aand geneem.

Die 12de Junie is ons met die 621 Hills bus stad toe gewees. Die bus stop so om en by 20 minute na elke uur op 'n Saterdag hier by die Oakhill Shops en gaan laai jou dan naby die Queen Victoria Gebou in die stad af. Ons het na die Sydney Vivid vertoning in die stad gaan kyk. Dis nou wanneer hulle Macquarie straat in 'n skouspel van kleur verander deur digitale projektors op die geboue te rig. Ons het toe tot by die Sydney Operahuis gestap en weer laat die aand die 620X bus by presies hierdie plek gekry in Clarence St, net na King St. Dis nogal moeilik om die bus in die aand te kry indien jy nie presies weet waar dit weer verbyry nie. Hierdie bus loop not na middernag. Julle kan ook die 621/620X se tydtable by CDCBus se website kry hier.

Hier is 'n paar baie mooi aand fotos naby Macquarie st.



Gister het ons na die sonsondergang by North Head in die Sydney Harbour Nasionale Park gaan kyk. Mens sien die stad baie mooi van daar af.


Sunday, May 16, 2010

Hoera vir Jessica

Saam met derduisende Aussies het ons ook hierdie naweek met bewondering gekyk na die dapper Jessica Watson wat voor haar sewentiende verjaarsdag (wat op Dinsdag aanbreek) die solo om-die-wêreld vaart, vroualleen en sonder om by land aan te doen, suksesvol voltooi het.  Daar was derduisende mense in Sydney hawe wat haar ingewag het. 

Jessica Watson se webtuiste

Hier is 2 videos van haar op YouTube:



Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings