Sunday, October 10, 2010

Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 3 Korale, Skatte van die see

(Die skakel na hierdie blog inskrywing)

Ek hoop ons sal eendag weer die Groot "Barrier Reef" kan besoek (in Afrikaans sê mens seker: Walrif of skansrif of so iets).  Dit was 'n ongelooflike belewenis wat my altyd sal bybly.  Mens staan in verwondering dat sulke skoonheid, so ver die see in, weggesteek kan lê weg van die oog van die gelate besoeker.  Oral in die natuur is daar sulke plekke, wat "genadiglik" weggesteek lê van die "rusper leërs" van die mens.  Mens vind sulke plekke in grotte, diep ondergronds, baie hoog in die berge of weggebêre in die skatkamers van die see.  Pragtige plekke, met delikate en breekbare skoonheid.  Soms is dit plante, soms is dit eenvoudig klippe (net soos die Stalaktiete en stalagmiete in grotte wat so maklik verweer kan word slegs maar van die koolsuur in ons asems), en dan soms, soos in die geval van korale is dit lewende diertjies wat oor die uitsonderlike talent of gawe beskik om die kalsium minerale in die soutwater as Kalsium-karbonaat of Kalksteen vas te lê in pragtige klipstrukture oor duisende jare. Dit is effektief diere wat klippe kan maak.   Hul lewe se nalatenskap.


Iets wat mens van die natuur leer, is dat dinge van waarde, goeters met die mooiste en fynste strukture en kosbaarhede wat die verstand te bowe, altyd te paard gaan met baie geduld en/of tyd. Net soos die langdurige gedrup-drup in 'n donker grot, of die vorm van 'n pêrel in 'n skulp, die stadige skepping van 'n skulp deur 'n seeslak of die of selfs die formasie van 'n diamant in die hart van die aarde.  Soms gebeur dinge egter vinnig soos die spin van 'n sy-kokon of 'n spinnekop se web, die metamorfose van 'n ruspe in 'n skoenlapper .  Diere in die natuur wat hierdie beginsel goed kan toepas is Koraal-poliepe.  In Engels: "Coral Polyps".  Korale leef uit ons oogpunt in "stadige aksie".  Dit wat voor ons oë so stadig gebeur dat ons dit beswaarlik kan waarneem, is vir die koraaldiertjies normale spoed en alles gebeur stadig maar SEKER.  Korale verdedig hul eie grondgebied met besliste aksie en beplanning en groei letterlik vir hulle 'n plekkie in die son.

Maar wat is 'n koraal?  Van wat is dit familie?  Hoe leef dit?  Wat eet dit?  Hoe oud word dit en hoe groot word dit?  Wat maak dit en waar pas dit in?  Hierdie is alles vrae wat by mens opkom as jy hierdie vreemde lewensvorm beskou.

Om 'n koraal in die regte perspektief te plaas, moet mens besef dat dit deel is van die dier koninkryk (Animalia).  Dit is dus nie plante nie en mens kan dus nie na korale as 'n koraal tuin of "Coral garden" verwys nie, maar eerder 'n koraal kolonie.  Verder is dit in die Phylum/stam met die naam: Cnidaria.  Die naam Knidaria is afkomstig van die woord Cnidae wat 'n brandnetel sel of brand-sel beteken.  Dit staan ook bekend as 'n Nematosist of "lasso sel" (amper soos die "lasso" wat deur "Cowboys" gebruik word om die beeste te vang).  Alle lede van hierdie Knidaria hoofgroep of diereryk stam, besit derduisende nematosiste of cnidae wat hul tentakels oordek.  Hierdie brandselle bestaan uit baie lang opgevoude buisvormige pypies met baie skerp spiespunte met weerhakies wat deur aanraking en chemiese prikkeling ge-sneller word om uit te skiet in die liggame van hul prooi.  Die Knidarian pomp dan 'n gifstof deur hierdie pypies in die liggaam van die prooi in om dit te verlam en dit nader te trek.

Een van die bekendste lede van hierdie dier-stam of phylum wat julle dalk al mee in aanraking gekom het is die bloublasie.  In engels genoem die bluebottle of die Portuguese Man o'War.
Die bloublasie is egter 'n hele kolonie van verskillende gespesialiseerde diertjies wat elk op 'n verskillende manier gevorm is om saam die oorlewing van die hele kolonie te verseker.  Sommige vorm deel van die blasie wat gebruik word om te dryf, ander is deel van die tentakels wat onder die water dryf, wat gebruik word vir voeding en ander vorm deel van die' wat gespesialiseer is vir voorplanting.

Die hoofgroep Cnidaria word verder onderverdeel in klasse, maar al die diere in die onderskeie klass het steeds die kenmerkende brandnetel-selle:
  • Anthozoa:
      Waaronder ons die Koraal poliepe, die see anemone en see penne kry. Hierdie klas van Knidaria word onderskei van die volgende drie omdat hulle hoofsaaklik huis opsit ("settle down"). Koraal poliepe versprei deur sperms en eierselle in die lente vry te stel in die seewater.  Daar vind bevrugting plaas en die planula heg dan vas aan 'n geskikte substraat soos 'n rif of 'n wrak van 'n skip, waar dit volwasse word as 'n koraal poliep.  Daarna groei en vermeerder die poliep kolonie deur derduisende identiese klone van hulself te maak wat nogsteeds soos 'n siamese tweeling (maar in hierdie geval 'n derduisende) aanmekaar verbind bly as 'n groot koraal kolonie.   
  • Scyphozoa:
      Waaronder die gewone see jellies (of soos ons hulle ken as Jellievisse). Die woord "schyph" kom van 'n griekse woord wat drinkbeker beteken omdat hierdie jellie visse soos drink bakke gevorm word wat onderstebo swem.
  • Cubozoa:
      Die kubus agtige "box jellies" waarvan die bekendste lid van hierdie klas seker die uiters giftige boks-jellievis is.
  • Hydrozoa:
     
    Die bekendste van hierdie klas is seker die Hydra wat in varswater leef, maar in hierdie klas vind ons ook die bloublasie (in die sub klas Siphonophores).  Waar die Hydra as induviduele diertjies voorkom, is die bloublasie 'n kolonie van 'n groot hoeveelheid hydra agtige dietjies war saamwerk tot almal se voordeel.  
Die jellies en Hydroids het 'n lewens stadium wat as 'n medusa bekend staan waarin hulle deur die see versprei word deur die seestrome totdat hulle die volwasse stadium bereik en nader aan die land voorkom.  Dit is waarom mens so baie bloublasies langs die strande kry.  Die medusa wat soos 'n skyf met 4 tentakels lyk, stel dan gamete (onbevrugte selle) vry wat as larwes volwasse word om weer ander medusas vorm.

Die boks jellievisse kom op dieselfde manier in riviermondings in Noord Queensland voor en nie soos almal dalk sou dink op die koraalriwwe voor nie.

Maar die diertjies wat ek nou op wil konsentreer is korale, in die klas Anthozoa.  Die klas Anthozoa sluit ook die see anemone in (wat effektief uit 'n enkele poliep diertjie bestaan met talle tentakels wat oortrek is met nematosist brandselle) asook die see-penne, wat weer soos 'n outydse skryf-veer lyk met talle poliepe op die sweepvormige liggaam wat dit dan soos 'n veer laat lyk.  Korale en anemone kan amper beskryf word as jellievis familie wat, instede van om met die tentakels na onder gerig agter hul prooi aan te dryf deur die see, eerder besluit het om met die tentakels na bo op hul rug vasgeanker te lê en te wag dat hul prooi na hulle toe kom.  See anemone vorm nie koraal riwwe nie en sommige korale ook nie.  Hierdie korale word die sagte korale of Octocorals genoem, wat nooit kalksteen vorm nie, en altyd 8 tentakels het (vandaar die naam Octocorals) en dan kry mens die harde korale wat oor die vermoë beskik om selfs eilande te vorm oor baie jare.

Hier is 'n foto van die "Octocoral", met en sy poliepe met hul tentakels.

Hier is die koraal substraat waar 'n groot klomp poliepe afgeval of afgeët is.


Die kaal koraal sagte koraal voue bly agter.


'n Poliep kan beskryf word as 'n diertjie met 'n buisvormige liggaam wat uit drie lae selle bestaan, 'n uitwendige laag wat die buitewand vorm, 'n middellaag wat die mesoglea ('n jel-agtige vloeistof) bevat en 'n binnelaag wat gebruik word om die kos te verteer en te absorbeer.  Al die knidarians het eers as Coelenterata bekend gestaan omdat hulle almal 'n Coelenteron (hol liggaamsholte)  besit, maar die diertjies met en sonder die Cnida/brandselle is later in aparte stamme geplaas.  Aan die onderkant van die buisvormige liggame deel die poliepe gemeenskaplike liggaamselle waardeur voedingstowwe tussen mekaar versprei kan word en wat as 'n fondament of basis dien vir die koraal en ook waardeur die poliepe voedingstowwe tussen mekaar kan uitruil.  Aan die bopunte van die poliepe is daar altyd tentakels in veelvoude van ses of agt wat oortrek is met nematosist brandselle.  Die poliepe gebruik die Cnida of brandselle om hulle prooi met die gif te verlam en te vang en om dit dan met behulp van die tentakels in die mondopening aan die bokant van die poliepe in te trek en binne die liggaamsholte te verteer. Amper net soos wat 'n "cowboy" 'n bees "lasso" en dit nader trek. 

Korale bestaan uit duisende poliep kopieë wat deur 'n kloningsproses duplikate van hulself gemaak het om sodoende hele kolonies van hulself te groei. Dit staan in Engels as "budding" bekend.  Dit is 'n ongeslagtelike manier van voorplanting waar diertjies met identiese DNA gevorm word.  Geen vermenging van DNA vind op hierdie manier plaas nie en presies dieselfde goeie en swak eienskappe word voortgedra in die "kinders".  Die kleinste eenheid wat op sy eie in die see kan voortbestaan is die koraal poliep.  Wanneer 'n stuk koraal of selfs 'n enkele poliep afgebreek sou word deur die golwe, dan sou dit weer 'n nuwe koraal kolonie van daardie soort op die nuwe landingplek kon voortsit.  Mens sou dit amper kon beskryf as 'n soort diereryk-weergawe van die vegetatiewe voortplantingsproses wat by plante voorkom.

Korale versprei ook geslagtelik (die stuimeel en stempel weergawe van plante) deurdat hulle een keer 'n jaar 'n massa vrystelling van sperms en eierselle uitvoer.  Dit gebeur altyd in die nag, en word deur die watertemperatuur en die maan se fases beheer.  Die sperms neem sowat drie tot vier maande om te ontwikkel soos wat die watertemperatuur styg, terwyl eierselle sowat 22 maande neem.  Tydens die eerste ses dae na die eerste volmaan in Oktober, stel elke soort spesie van koraal al sy eierselle en spermselle (gamete) in die water vry. Hierdie proses staan as "spawning" bekend. Die geslagselle van verskillende lede van dieselfde spesie kan dan vermeng en verseker dat die DNA se eienskappe verbeter kan word.  Bevrugting vind in die water plaas en 'n bevrugte koraal eiersel vorm dan 'n planula wat deur seestrome honderde kilometers verder gevoer kan word om te verseker dat die diertjies nie in direkte kompetisie met hul nasate kom vir dieselfde beperkte hulpbronne en voedingstowwe nie. Verskillende spesies korale stel interessant genoeg hul gamete op verskille nagte vry om te voorkom dat tussen spesie vermenging kan plaasvind. Lees hier verder hieroor.

Korale leef hoofsaaklik van 2 hoof bronne van voedsel:
  • In die nag, wanneer die koraal poliepe met hul tentakels uit hul wegkruipplek te voorskyn kom om te voed, word die tentakels gebruik om Zoo-plankton (wat mikroskopies klein seediertjies is) te vang en in die mond van die poliep in te trek en te verteer.  Zoo-plankton wat diertjies is verskil van Phyto-plankton wat weer mikroskopies klein plantjies of alge is.  Korale is dus vleis etende diere of Karnivore en nie Herbivore wat plante eet nie.
  • In die dag wanneer die meeste korale binne in hul klip-agtige kalksteen vesting wegkruip, verkry die meeste klipkorale hul voedingstowwe van simbiotiese alge wat binne in die liggaamsholte en mesoglea slym van die poliepe voorkom.  Hierdie is die hoof rede waarom korale so meeding vir hul plekkie in die sonlig - en dit is omdat hulle gasheer speel vir die derduisende Zooxanthellae (uitgespreek as Zoo-zan-thellie).  Hierdie goudbruin alge plantjies wat ook aan meeste korale hul geel bruin kleur gee, gebruik die afvalstowwe van die koraaldiertjies wat hoofsaaklik koolsuurgas en water is om via die proses van fotosintese die koolstowwe en waterstowwe in die vorm van koolwaterstowwe te verbind soos glukose, met die addisionele byproduk van suurstof. Die korale leef dan in die dag van hierdie glukose en suurstof wat hulle as diere benodig vir oksidasie van die glukose om vir hulle lewens energie te verskaf.  Die korale sorg dus goed vir hierdie lewensnoodsaaklike alge en die alge geniet die beskerming en konstante lewens - habitat wat die korale se liggaamsholtes vir hulle bied.  Hierdie alge beskik ook oor die pigmente (soos chlorophyl in plante) wat benodig word vir fotosintese.  Korale kan slegs by sekere temperature leef.  Wanneer korale onder omgewings stres kom as gevolg van verhoogde temperature of oormatige blootstelling aan sonlig of verlaagde PH (te suur seewater a.g.v verhoogde CO2) , dan veroorsaak dit dat die korale hierdie zooxantellae alge in groot hoeveelhede uitforseer as slym.  Die verskynsel van koraal verbleiking ("coral bleaching") vind dan plaas en die korale kom dan op 'n afwaartse spiraal van agteruitgang omdat hulle nie meer oor die nodige konsentrasie van simbiotiese alge beskik om genoegsame voedsel te verskaf vir oorlewing nie.  Tot 90% van hermatipiese (klipvormende korale) se energie vereistes is afkomstig van hierdie alge.  Korale wat by dieper dieptes in die see voorkom waar daar minder lig is, is nie instaat om riwwe te vorm nie en leef hoofsaaklik van plankton.

Hierdie klein diertjies beroem hulleself op groot dinge deurdat hulle oor die unieke eienskap beskik om die kalsium karbonaat wat in die water opgelos is te absorbeer en as deel van 'n harde kalksteen ekso-skelet neer te lê as harde koraal riwwe. Hierdie koraal eksoskelet neerslae wat deur korale gevorm is, staan as korallite bekend.  (amper soos die kalsium karbonaat stalaktiete en stalagmiete). Elke koraal spesie vorm 'n unieke koraal neerslag en nalatenskap. Dit word gewoonlik bepaal deur die manier waarop die koraal vermeerder deur homself te kloon of te "bud" (seker die analogie van 'n blom wat bot?) As mens die meganisme verstaan waarop elke spesie koraal groei, dan kan mens verstaan hoekom die koraal lyk soos hy lyk.  As mens in die dag die korale besoek sien mens meestal net hierdie koralliete omdat die koraal poliepe met hul tentakels veilig in hul klip skuiling wegkruip, maar wanneer dit aand word, kom hulle uit hul wegkruipplek,  Sommige soorte korale is selfs instaat om onder ultra violet lig te fluoriseer, omdat hulle die onsigbare lig energie absorbeer en dan weer in die sigbare spektrum uitstraal.  Kyk gerus na voorbeelde van sulke pragtige korale  op google.

Kyk bietjie na hierdie foto van die koralliet in die dag. Die groen wat julle in die holtes van hierdie ster koraal kan sien is die vlesige koraal poliep se teruggetrekte ligaam en tentakels.


Soms, koekeloer van hierdie korale selfs in die dag so 'n bietjie na die buitewêreld, soos in die volgende foto.  Dis 'n wonderlike metamorfose van iets wat in die dag na 'n dooie stuk kalksteen lyk, na 'n vlesige bondel van tentakels met snelwerkende effektiewe en dodelike nematosist brandselle.



Die soort koraal wat seker die volopste is, is die vertakkende harde koraal ("branching hard coral") genaamd Acropora. Hierdie soort koraal vorm gewoonlik plate of bome van koraal soos die "Stag horn" koraal of die "table coral" omdat die poliepe of heeltemal los van mekaar uit die gemeenskaplike basis ontwikkel, of as vertakkings bo-op of langsaan die bestaande koraal poliepe.  In die volgende twee fotos wat ek geneem het kan julle die koraal poliepe sien as sulke halfmaanvormige "valletjies" bo op mekaar wat dan saam sulke horingkies vorm.  Die kenmerkende geelbruin kleur word veroorsaak deur die simbiotiese alge en dit is ter wille van hierdie alge wat die korale altyd probeer vertak of uitsprei om derhalwe soveel as moonlik sonlig blootstelling vir hul gaste te kan verkry. Want hoe meer die gaste kan fotosinteer, hoe meer van 'n "sugar fix" kan die korale kry op die geproduseerde glukose.

Soos wat die korale groei vul die alge die koraal poliepe.  In die onderstaande foto is die korale se punte nog wit, omdat die alge nog nie heeltemal versprei het na al die nuutste die jong poliepe nie en dit kom wit voor, want baie korale het nie hul eie pigmente nie en is sonder die alge deurskynend wit en kry hul kleur van die simbiotiese alge.



Soos wat die Acropora dus poog om soveel moontlike son blootstelling te kry, noop dit hulle om uitwaarts te groei om die oppervlakte wat sonlig kan kry te maksimeer en dit veroorsaak die plaat/tafel vormige koraal groei soos julle kan sien in die volgende paar van my fotos.

 

 

 

Net soos in "Survivor" probeer korale dus hulle kompetisie "Outwit, Outplay en Outlast" deur letterlik hulle to probeer "Out grow"!

Presies dieselfde familie harde Acropora koraal vorm ook die "Stag Horn" korale deur soos takbok horings die oppervlakte van die koraal die beste te benut.  Hierdie soort koraal groei tot 30 cm per jaar en kan ook versprei deurdat die see se golwe die vertakkings kan afbreek sodat die poliepe verder kan versprei en weer 'n nuwe koraal kolonie op die plek kan begin waar dit te lande kom.

 
Takbok horing korale soos hierdie kom ook in pragtige blou skakerings voor op die rif. (Hierdie is Acropora nobulus)

 

'n Ander soort koraal familie word heel verstaanbaar die Rots of "Boulder coral" genoem.  Dit staan bekend as die Porites korale wat groot en massiewe rotsvormige strukture vorm wat "rotse" van tot 10 meter in grootte kan vorm soos groot rotse lyk.  Hierdie korale groei teen 'n baie stadige tempo van sowat een to drie millimeters per jaar.  Deur hierdie groeitempo te ekstrapoleer en die grootte van die rots kolonies in ag te neem is bereken dat sulke koraal kolonies reeds honderde jare oud is.  Wanneer hierdie koraal poliepe ontwaak lyk hierdie "rots" letterlik soos 'n klip met 'n tossel kombersie soos julle in my foto by hierdie skakel kan sien.

 
Sommige "boulder coral" soos die volgende een wat ek afgeneem het is pragtige pers en blou kleure.  Die papegaai visse wat spesiaal aangepaste monddele het (gevorm soos 'n snawel) leef van die alge wat hulle met hul monddele van die koral afskraap.

 

 


In ander gevalle soos in die geval van brein koraal vorm hulle sulke doolhof patrone omdat die poliepe se liggaamsholtes en monde nooit regtig heeltemal van mekaar skei nie, maar soos 'n siamese tweeling verbind bly aan die kinder poliepe wat deur die kloningsproses van die ouer poliepe afgebot het.  Die resultaat is 'n pragtige unieke ondersese kunsskat wat tot twee meter in deursnee groot kan word.  Die menigte voue gebruik die oppervlakte van die koraal optimaal om soveel moontlik poliepe in te pas.

 
Hier onder is 'n vergrote weergawe van 'n deel van die foto.  As julle mooi kyk kan julle die verbindingslyn sien tussen die poliepe.

Wat 'n brein koraal verder uniek maak is die feit dat dit net soos die jaarringe van 'n boom afwisselende donkerder en ligter bande tussen aangrensende poliepe het wat as 'n ingeboude kalender dien vir hoe oud die koraal kolonie is.

 
Hier is nog 'n foto van 'n Platygra brein koraal met 'n geler kleur. Hierdie een het selfs wit strepies tussen die poliepe.

 

Hierdie is maar net 'n paar van die koraal skatte wat in die skatkamers van die see te vinde is, elkeen herproduseer homself foutloos, perfek geprogrammeer met die proses van kloning, lank voor die mens nog daarvan te hore gekom het.
  

  

Saturday, September 11, 2010

Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 2

(Die skakel na hierdie blog inskrywing)

Dit was met groot opgewondenheid wat ons Vrydagoggend 13 Augustus opgestaan het.  Ons het al baie lank hierna uitgesien en die dag het uiteindelik aangebreek.  Ons moes reeds teen 08h00 by die Port Douglas Marina wees om saam met die span van Wavelength na die Koraalrif te vertrek. Ons het 'n spesiale afslag op die Rydges oord se ontbyt gekry en het gesorg dat ons al voor half 8 die lekker buffet nuttig.  Dit was 'n lekker ervaring om vir 'n slag gepamperlang te word.

Die Port Douglas Marina is baie kleiner as baie van die seiljag marinas wat mens in Sydney teëkom. 'n Groot klomp van die bote word gebruik om toeriste na die Rif toe te neem, maar daar is ook 'n paar wat mens kan huur om self in die lagoons te gaan vaar.  Die riviere en die see langs die kus hier in die Noorde wemel mos van krokodille.

 

Hier is 'n foto van die Port Douglas marina wat op een van die advertensieborde was.


Voor ons vertrek het die bemanning eers al die Koraalrif groentjies vertel van al die logistieke aspekte van die reis, soos om jou papier-kotssakkie oorboord te gooi en nie te hergebruik nie omdat vir baie gou bio-degradeer as dit nat word, dat die toilet die laaste plek is waar jy wil wees as jy olik begin voel (omdat mens nie die horison van daar af kan sien nie) en dat gratis Travel-Ease pilletjies beskikbaar is vir almal wat dink hulle kan dalk siek raak van die boot se skommelbewegings. Mens moet altyd sorg dat jy altyd ten minste met een hand aan die boot vashou waar ook al jy beweeg.  Almal is baie streng daaraan herinner om nie aan enige van die korale te vat nie, en om ook te kyk dat jou finne nie die korale beskadig nie.  Indien enige "makker" sou oorboord val, word van almal verwag om dadalik die woorde "MAN OVERBOARD!" te skree.

Elke boot het ook 'n rubber-duck motorboot om maklik 'n besoeker wat in die moeilikheid beland te hulp te kan snel. Hier is 'n foto wat ek geneem het net nadat ons vertrek het.


Ons was baie gelukkig om die twee dae wat ons uitgegaan het op die rif baie goeie sonskyn weer te kry.  In Sydney was dit nog kliphard aan die reën, en die week tevore het dit ook hier in Port Douglas gereën.  Ons was dus voorwaar gelukkig.  Dit het beteken dat die golwe op die rif baie kleiner was, ideaal vir snorkel.

Die bootrit uit na die rit duur amper 'n uur en 'n half, teen 'n spoed van sowat 36-46 km/h.  Soos wat mens al hoe dieper die see in reis, word die land en die berge naderhand al hoe kleiner en begin ampertjies agter die horison verdwyn.  Op so 50 kilometer van die land af begin mens amper die gevoel kry jy is besig om naby 'n eiland te kom, want hier en daar is daar sulke donker na heldergroen gebiede onder die diepblou seewater en aan die rand daarvan kan jy die branders wat begin breek oor die riwwe sien en hoor. Die' Koraalrif van Australië, staan as 'n "barrier" of walrif bekend en lê op die kontinent se plato-rand, op 'n diepte van minder as 20 meter.  Verder die see in daal die seebodem baie gou na astronomiese dieptes.   Die rif wat ons eerste besoek het was die Opaalrif.  Daar is oral oor die koraalrif, wat uit meer as 2200 individuale riwwe bestaan, sulke permanente vasmeerplekke / "moorings".  Dit is spesifiek daar sodat bootoperateurs nooit hulle anker hoef af te gooi in die water nie.  So 'n tamaai anker sal honderde jare se koraaldier handewerk in 'n paar sekondes kan vernietig.  Die eerste mooring waar ons vasgemeer het was "Beautiful Mooring" genoem en dit was deel van die Opaal rif. Ek het my Garmin GPS saam geneem en kan julle verseker dat die posisie waar ons eerste vasgemeer het presies HIER is op die Google kaart.  Ons was dus direk suid wes van die Opaal rif, in die Koraal See.

Hierso is 'n foto wat ek geneem het van die pragtige kleur van die see oor die koraal.


Voordat ons in die water gaan was daar weer 'n kort voorligting sessie, en toe sê hulle : "The pool is now open".  Die lekker daarvan om saam met 'n boot te gaan waar almal net snorkel (ons weet, want die tweede dag is ons saam met SCUBA mense ook), is dat alles net soveel meer rustiger is.  Met 'n kleiner boot soos Wavelength kon ons na 3 verskillende duikplekke gaan omdat die logistiek om 23 mense in en uit die water te kry net soveel makliker as is met 150 mense.

Voordat jy kon sê "Moenie die haaie terg nie" was ons binne in die water. Die gedagte dat ons 50 km van die naaste land was, vêr weggebêre in ons gedagtes.  Met 'n neopreme wetsuit, 'n duikbril en 'n pypie om aan te suig en die mees wonderlikste skoonheid wat voor ons oë oopvou.


Ek het met my ou nederige digitale kameratjie in 'n plastieksakkie met 'n glasvenster binne die 3 dae wat ons Port Douglas en die rif besoek het 'n totaal van 908 fotos geneem, waarvan sowat 537 onderwater fotos was van die rif.  Ek het besef mens hoef nie duur onderwater kameratoerusting te hê om skaflike fotos van die koraal te neem nie, want die rif is eenvoudig so vlak dat daar oorgenoeg lig is vir 'n goeie spoed foto.

Die duik en snorkel operateurs het baie streng riglyne waarvolgens mense die rif besoek getel en ge-"double check" word.  Na elke snorkel sessie wanneer almal weer terug was op die boot, is almal se name van 'n lys afgelees en dan moes elkeen persoonlik daarop antwoord.  Hierna moet almal stilstaan en die bemanning tel dan almal op die boot twee keer om te sorg dat die telling met die aantal mense ooreenstem.  Om hier na die oppervlak te kom na 'n SCUBA sessie en dan te ontdek die boot het sonder jou vertrek kan nie 'n goeie ervaring wees nie.  Die kans is klein, maar dit het wel al gebeur.  Met 50 km na die land toe is daar nie 'n manier waarop jy dit gaan oorleef nie, want dit is in die nag wanneer al die visse na hul wegkruipplekkies gaan en die koraaldietjies oral oor die rif uitkom om te voed op plankton, wat die groter jagters van die see, met hul sintuie wat geoefen is vir nagtoestande hier seëvier.

Ons het 3 snorkel sessies gehad:
  • Die eerste was by die "Beautiful mooring" op die opaal rif:
    so 10h46 tot 11h39 (sowat 'n uur)
  • Die tweede was by die "Ray Ban" vasmeerplek (Noord oos van die eerste plek) :
    so 12h07 tot 13h06 (weer 'n uur)
  • Die derde vas by die "Turtle bay" vasmeerplek (Heelwat suid wes)
    so 14h30 tot15h02 (net so bietjie langer as 'n halfuur)
Gedurende die tweede sessie het Charl van Wavelength vir ons 'n Marine Biologie lesing gegee oor 'n paar van die koraalrif se bewoners. Dit was nogal baie interessant. Hier onder is hy besig om 'n See-komkommer te wys.  See komkommers is familie van seesterre, hulle eet koraalrif sand, filter dit van plankton in hul liggame en skei dit dan weer uit.  Op die manier filter hulle die sand van die rif.

Charl het ons ook na al die mooi dele van die rif geneem, soos om vir ons te wys waar ons vir Nemo die Clown anemoonvissies op die rif kon kry.  Wat dink julle van my eie Nemo vissie fotos hieronder?


Na die tweede sessie snorkel het ons 'n heerlike koue buffet ete genuttig en gesels oor alles wat ons gesien het. Daar was ten minste 2 marine bioloë op die boot. Ek dink hierdie ouens doen hul praktiese ondervinding op hierdie manier op.

Hier volg so 'n kort, en rukkerige video van 'n paar van die korale wat ek op hierdie dag afgeneem het...sorry, maar ek het nog nie uitgevind hoe om 'n kamera onder water stil te hou terwyl die golwe jou rondskommel en die visse vir jou wegswem nie...



Gaan kyk gerus na my fotos by die foto galery.  Daar is 'n "slider" regs bo waar julle die grootte van die fotos kan verander.

Volgende keer vertel ek meer.

    Sunday, August 29, 2010

    Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 1

    (Skakel na hierdie blog inskrywing)

    Op Saterdagoggend 25 Februarie 2006 om 9h24 in die oggend, was ek en my vrou op die bodem van die see naby Sodwana, besig om die koraalrif aan die oostekant van Suid Afrika te bewonder. (Dit was ook die presiese tyd wat die volgende goto geneem is.) Dit was die eerste keer wat ek so diep onder die water was, besig om 'n wonderwêreld te verken wat ek toe nog nooit geken het nie.  Ek het my Open Water SCUBA kursus deur NAUI gedoen en dit was my eerste duik-naweek.  My vrou het haar duik sertifisering toe al reeds lankal gehad.

     
    Talryke soorte visse van vele skakerings het om my gewemel. Daar was 'n prag en skoonheid aan die die koraal wat ek nie met woorde kon beskryf nie. Dit het 'n tekstuur gehad wat ek nog nooit voorheen op 'n ander plek raakgeloop het nie.  Dit het geblink asof dit oorgetrek was met 'n fluweel stof en so ver as wat die oog kon sien het dit uitgestrek gelê rondom. Plate en plate so ver as wat mens kan sien.  Dit was 'n weggesteekte wêreld, amper ses verdiepings onder die see en dit het gevoel of ons die eerste mense was wat dit ontdek het.  Die kleure van die visse hier was soveel helderder, soveel meer uitspattig as was mens gewoond aan was, so rojaal voorsien van mooiheid.  Tog, en dis 'n jammerte, sien so baie mense nooit hierdie wonderwêreld van naby nie.  Die volgende foto is van 'n Engel vis op die Koraalrif by Sodwana (deur die duikinstruktrise geneem).

    As jy eers SCUBA geduik (of gesnorkel) het, dink ek verander die manier wat jy na visse en seediere kyk. Dit is nie meer net nog 'n kossoort in 'n Seekos restaurant nie, maar 'n kosbare plek wat ten alle koste beware moet bly en jy dink met respek van hierdie ondersese skatte.  Elke moontlike geleentheid word dan aangegryp om weer by hierdie verborge wêreld te gaan kuier.

    Dit bring my dan nou by die punt waarby ek eintlik wil uitkom.  Om die "Great Barrier Reef" / Groot Walrif / Groot Australiese Koraalrif te kon sien was tot nog toe net 'n onmoontlike droom.  Aan die begin het 'n besoek aan Australië nie eens in my gedagtes opgekom nie...hoekom sou ek tog ooit daarheen wou gaan? Wat nog te sê om daar te gaan bly? Mens het koraalriwwe soos in Australië en die Karibiese eilande mos maar net in flieks gesien!  Hoe het alles tog nie verander nie.  Nou bevind ek my op daardie juiste Australiese eiland en die see is net 'n halfuur se ry van ons af en om na die Groot Koraalrif te vlieg is minder as 'n drie uur vlug van hier af.  Skielik was hierdie droom moontlik, maar ek het dit eers later regtig besef.  Sommige van die ouens wat saam met my werk het al by Vanuatu en Fiji gaan scuba en snorkel en 'n ander een was onlangs vir vakansie na Hawaii toe.  Die Stille Oseaan is mos net op ons voorstoep en ek verstaan nou hoekom dit die Stille/ "Pacific Ocean" genoem word...die see is party dae regtig baie kalm en dan is snorkel net so maklik soos om in die see in te loop en op jou maag te gaan lê.

    Ons het toe besluit om op 'n Donderdag oggend net na 6h00 'n Jetstar vlug te neem van Sydney na Cairns in Queensland, amper by die noordelike punt van Australië (Cape York is sowat 960 km vanaf Port Douglas). En om dan weer die Sondag terug te vlieg. Die soortgelyke afstand in Suid Afrika sou ongeveer so ver wees soos om van Port Elizabeth tot bokant Zimbabwe te vlieg.  Dit het natuurlik beteken dat ons reeds sowat 03h20 sou moes opstaan, sodat iemand ons net na 4 kon lughawe toe neem om te verseker dat ons ten minste 5h00 reeds by die Sydney Binnelandse lughawe kon wees om in te boek.)  Dit was net ek en my vrou en ons was baie opgewonde, want hierdie was 'n eens in 'n leeftyd ervaring. Iets wat ons nie gedink het gou sou gebeur nie.  Daar sit ons toe op die vlug, gestewel en gespoor.  Die kaptein wens almal welkom op die vlug en kort voor lank word ons teen die sitplekke vasgedruk soos die Airbus 320 die oggendhemel in-klief. Dit was nog baie koud in Sydney en ons het baie uitgesien na die vooruitsig om na die somer toe te kon vlieg.  Die wolke het soos 'n wattekombers tot in die verte gestrek en toe die ou sonnetjie sy ogies agter die kombers uitsteek was ons al baie vêr van Sydney af.


    Vanaf Cairns (uitgespreek as "Cans") sou ons 'n Hertz motor by die lughawe huur om tot by Port Douglas te ry waar ons bespreek het by die Sabaya oord.

    Die pad vanaf Cairns na Port Douglas is omring met palmbome en suikerriet plantasies.  Die warm vogtige lug herinner mens nogal aan die Natalse suidkus en die berge strek naby aan die kus voor mens uit aan jou linkerkant.


    Oppad het ons by Palm Cove aangedoen.  Dit is 'n soort toeriste dorp wat direk op die strand ontwikkel is met plaveisel strate, baie palmbome, voetpaadjies langs die see en baie restaurante.


    Die bordjies langs die see waarsku dat hierdie 'n geskikte plek is om krokodille te kom afneem.  Verder is die boks jellivis hier dodelik, maar hulle raai mens aan om net tussen die rooi en geel vlae te swem, want sien, die krokodille en jellievis weet dat dit is waar die mense mag swem.
    Verder langs die roete, wat omtent so 'n uur neem om te ry tot in Port Douglas, het om afgekom op 'n plek waar die mense hangvlugte ("hang gliding") doen langs die see omdat daar sulke sterk opwaartse winde is teen die berge op langs die see.






    Die water langs die kus is baie troebel as gevolg van die rivierwater wat hier in die see inloop.  Dit word baie bruin gekleur as gevolg van die grond afvoei vanaf die suikerriet boerderye in die riviere in. Dit is 'n groot kopseer vir mense wat die rif wil bewaar omdat die modder op die korale kan gaan lê en fotosintese van alge, wat as voedsel vir die korale dien, kan belemmer.


    Die plantegroei in Port Douglas is baie ryg want hier by die 16 de breedtegraad is die klimaat heeltemal tropies.


    Toe ons by die oord aangekom het, het ons gou-gou ingeboek in die self-sorg eenheid van die Rydges hotel


    ...en daarna na die Port Douglas Marina gery om ons snorkel vir die volgende dag te gaan bevestig.

     



    Ons sou die Vrydagoggend vroeg saam met Wavelength se boot en die Saterdag oggend saam met HABA se dubbelromp katamaran na die Koraalrif geneem word wat sowat 46 km in die see in is. Julle kan die fotos by die fotogalery se Google kaart skakel gaan bekyk om te sien hoe ver dit van Port Douglas af in die see in is.

    Friday, August 27, 2010

    Ons droom om die "Great Barrier" Koraalrif te besoek word bewaarheid

    (Direkte skakel na hierdie blog inskrywing)

    Hello aan al die Internet vriende

    Daar kom nog baie Koraalrif stories en beskrywings wat ek vir julle gaan skryf, maar om vir julle die geleentheid te gee om hierdie naweek al saam met ons die Koraalrif te ervaar, het ek die fotos vir julle opgelaai op die Internet.

    Ek werk nou al 'n week of wat onverpoost om gepaste beskrywings by al my fotos te kry sodat dit 'n volle storie vertel.


    Om na die volle foto/skyfievertoning van ons besoek aan die "Great Barrier" Koraalrif te kyk, kliek op die volgende skakel:

    Great Barrier Reef Snorkel 2010

    en druk dan dadelik die F-11 knoppie op die sleutelbord om dit vol skerm te maak. Julle sal ook dalk aan die onderkant die spoed van die vertoning bietjie stadiger moet maak.

    Alternatiewelik kan julle na die volle gallery van fotos kyk deur op hierdie FOTO GALERY skakel te kliek.  Daar is 'n "SlideShow" knoppie op daardie bladsy se boonste linkerkanste hoek waarop julle dan ook kan kliek, of julle kan die "FullScreen" knoppie kliek nadat julle op enige van die fotos gekliek het.  Die links en regs knoppies op die sleutelbord sal jou dan toelaat om tussen die fotos te spring.

    Ek plaas ook 'n permanente skakel na my Australiese Koraalrif bladsy aan die sykant van hierdie blog.

    Geniet dit.  Daar kom nog baie leersame artikels oor hierdie onderwerp aan die hand van my fotos.

    Monday, July 26, 2010

    'n Fees van Aroma

    (Skakel na die' blog inskrywing.)

    Jong, mens kan nie glo daar is alweer 'n jaar verby nie. Dit voel soos nou die dag dat ons by laasjaar se aroma fees in die stad was. Sedert ek hier is, het ek in 'n hopelose koffieverslaafde ontaard. Hierdie jaar is ons weer soontoe om die kleure en geure van die land se beste koffiesmouse en sjokolateurs te gaan beproef. Ons het Sondag die trein saam met ons vriendin stad toe geneem en bietjie daar by die "Rocks" gaan kersopsteek. Sy het toe sommer van die fotos geneem. Dieselfde straat kunstenaars was weer daar, hierdie keer bietjie beter toegerus.


    Ek het heerlike Baklava geproe, dan ook aarbye met sjokoladesous. Daar was "Belly Dancing" soos op Australia's got talent en heelwat Turkse en uitlandse kosstalletjies soos hier onder.



    Ook kameelritte

    Die strate het gegons van die geroesemoes van mense en die geur van varsgemaalde koffiebone het deur die neusgange na binne gevloei.

    Ek het ook vir my 'n panfluit CD van 'n groep van Bolivie in Suid Amerika gekry. Hulle naam is FJF Cubas en werk nou as kustenaars hier in Australie. Ek het hulle eenmall lank gelede daar by Centurion Sentrum gesien. Ek het die een ou gevra of hulle al daar was en hy het dit bevestig. Besoek gerus hulle webtuiste en luister na uittreksels van hul liedjies deur op die prentjies van die CDs te kliek.

    Hier is so 'n video uittreksel om 'n proeseltjie van die atmosfeer te kry.



    Sunday, July 18, 2010

    So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney

    So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney (blog skakel)

    Afrikaanse kultuur is nie in oorvloed in Australië nie.  Toe ons die besluit geneem het om hierheen te kom het ons dit so soort van geweet. Maar daar was verskeie redes waarom ons tog die besluit geneem het om te kom.  Ons lewe is nou hier, maar mens mis dit wat so in oorvloed in Suid Afrika is - daardie Afrikaanse kultuur en die gemeenskaplike deelwees van 'n groep mense wat dit sommer net vir die lekker doen.  Hier is dit maar in "short-supply".  Daar is 'n paar pynlike realiteite wat mens verder besef...dat jou kinders Afrikaans nooit so goed gaan ken en ten volle waardeer soos jy self wat die voorreg gehad het om dit as eerste taal op skool te kon leer nie. Ons doelwit met ons eie kinders is steeds om hulle (so ver as ons kan) ten volle tweetalig groot te maak.  Vir hulle sal Afrikaans altyd die taal bly wat hulle met hulle eie ouers van kleins af gepraat het.  Hulle leer egter Engels as die wêreldstaal wat vir hulle baie deure sal oopmaak in die toekoms.

    'n Mens se taal is iets wat deel van jou is. Dit is soos 'n garedraad wat deur die tappisserie van jou lewe ingeweef is en die storie en ervarings van jou lewe met woorde vertel wat eie is aan wie jy in jou diepste wese is.  Dit is soos 'n vingerafdruk, dit definieer van waar jy kom, wie jou voorouers was, dit is die taal van jou verbeelding. Die duisende momente wat ek myself al in my eie taal uitgedruk het lê soos 'n laslappie kombers agter my, soos wat jy terugkyk vanaf die bergtoppe waar ek my al bevind het in my lewe.  Maar dis ook die taal waarin ek myself uitdruk as ek hartseer is of "down" voel.  Dis die taal waarin ek bid...mens, maar voel dit vir jou nou vreemd om dit in Engels te probeer doen, dit voel opsluit asof 'n mens 'n "speech" moet lewer.

    Hier is ons maar net een val vele ander kulture.  Ek wonder soms of daar 'n kritieke massa van 'n taalgroep moet wees voordat daar noodwendig mense met goenoeg skeppende vaardighede is om in hul eie taal musiek in hul nuwe land te begin maak.  Daar is tog seker Griekse sangers in Sydney?  Iemand wat in Frans of Italiaans so 'n paar woorde kan gooi wat getoonset is?  'n Paar Indiese of Turkse sangers en dansers?  So hoekom nie ook 'n paar jong Afrikaanse musiekante, sangers of digters in Aussie land nie.  Al ons voorouers was tog Europees.  Ek is 'n potpourri van Skots en Portugees en Hollands, maar ek praat Afrikaans.  Ons voorsate het mos verseker hulle talente saamgebring na Suid Afrika toe.  Net so seker het hulle daardie selfde talente die binneland ingedra.  Hoe lank het dit geneem, en hoeveel "immigrante"/voortrekkers het dit geneem voordat daar byeenkomste gehou is in die binneland waar die Afrikaanse kultuur en musiek ge-vier (ge-celebrate) is?  Indien daar geen eerste-generasie musiekante ge-trek het nie...wat het hul kinders (die 2e generasie voortrekkers) aangespoor om in Afrikaans te begin sing?  Nou wonder ek maar net - gaan ons Afrikaanse musiek hier in Australië voortleef?  Hoekom nie?  Wat is dan nou anders?  Gaan daar Afrikaanse Aussie kinders wees wat oor 10 jaar 'n paar Afrikaanse CDs hier uitgee?  Dit is seker maar 'n vergesogte droom. Of nie.

    Van wat ek nou al gesien het, het die Aussies nou nie juis 'n kultuur waarop jy jou vinger kan druk nie.  Hulle is eerder 'n mengelmoes van baie kulture wat almal te bang is om die hok te skud en met hart en siel of met woord en daad hulle eie kultuur uit te bou en te bevorder.  Maar tog is hier onbevange vryheid.  Die Aussies verwelkom nuwe kulture (mits dit hulle nie te veel an terroriste laat dink nie).  Want hierdie vryheid is een van die redes waarom so baie mense oor die jare hierheen gestroom het met sakke vol hoop en drome onder hulle arms.  Om hulle eie kultuur in vryheid te beoefen.

    Ek beskou dit as 'n helse voorreg om my eie taal hier te kan praat.  Ek praat dit hard en ek praat dit suiwer ook in die winkelsentrums, dis vir my 'n mooi taal. Maar net so mooi is Engels - my ander (nie tweede, nie) taal (waarin ek net so goed wil kan praat om myself suiwer uit te kan druk, nie net met die volstrekte allernodigste minimum woordeskat om oor die weg te kom nie, maar as 'n alternatiewe taal wat ek soos 'n swaard reg en met presisie kan gebruik.  Hoekom moet ek my net tot Engels beperk?  Ek voel hier geensins in my Engelse woordgebruik gestrem nie.  Die Aussies mag dalk Engels praat, maar hulle kan dit verseker nie spel nie...ek is bereid om enige tyd die mense wat saam met my Engels Tweede taal in Matriek by Juffrou Buchner gehad het teen die deursnee Aussie in 'n opstel skryf kompetisie te plaas...en hulle sal met die meeste spelfoute wen!  Ons het ook "Merchant of Venice" en "Romeo and Juliet" van oom Wikkelspies gehad. Hulle spreek nie eens al die Engelse lettergrepe uit nie - hoe kan jy dan vir hulle sê daar pas ekstra letter in sommige woorde in.  Ons Afrikaanses kan trots wees op ons Engels.  Ek help gereel my baas reg as hy "Longtitude" of "Longitiude" spel in plaas van "Longitude" of "Maintance" in plaas van "Maintenance".  En hy is 'n gebore Aussie.

    Nou hoekom dink en dan nou so oor al hierdie goeters?  Sommer.  Omdat ons Vrydagaand so 'n lekker tyd gehad het by Kurt Darren se optrede hier in Castle Hill se RSL klub.  Kurt en Arno Jordaan het vir ons klomp uitgewekenes kom kuier op besoek aan springhaasland.  Die byeenkoms het heel stemmig begin, met almal wat lyk of hulle 'n tipiese sangvertoning kom bywoon, maar op die ou einde was bykans die hele verhoog vol jongmense en ouer mense wat saam met Loslappie gedans het.  Sommige het selfs op die stoele gestaan en dans. Heelwat van ons het ons vrouens gegryp en agter en voor in die RSL se saal ge-sokkiejol en geskoffel.  Toe besef ek net.  Daar is seker baie mense van Suid Amerika en Spanje wat net so sou voel as daar 'n Spanjaard of Portugese sanger hier sa kom sing.  Hulle sal onbevange saam dans! Daar is net iets in die Afrikaanse kultuur wat ons anders maak.  Ons is 'n raserige spul, vol lewenslus.  Die Aussies het hier maar so 'n tweedehandse disco-kultuur wat van die weste oorgewaai het as hul idee van plesier aanvaar.  Hoeveel ryker is ons nie!

    Kyk bietjie na hierdie (ek moet erken bra swak kwaliteit) video van Kurt Darren en die klomp op die verhoog.


    Ek het ook so 'n uittreksel van Arno Jordaan se "Daar is Engele" liedjie afgeneem.



    Nou wonder ek mos net hoekom kan ons nie ook Afrikaanse sangers hier voortbring nie....miskien omdat hulle nie gaan dink dat hulle beroemd kan word in Afrikaans in Australië nie.  Vir die res van die wêreld lyk Engelse Aussie kunstenaars maar net soos mini VSA "lookalikes" amper soos wat mens baie Elvis nabootsers kry. Die Aussies se kultuur lê nie in hul taal nie.  Maar ons (en baie ander nasionaliteite in Australië se kultuur wel).  Dit maak ons uniek.  Net soos wat die Franse baie romanties klink as hul Engels praat of die Italianers se taal die wese van Klassieke liedjies verteenwoordig, hoekom kan Afrikaans nie ook so iets aan die Engelssprekende mense bied nie. Net soos wat Spaanse danse, Italiaanse operasangers, Franse romantici, of selfs Turkse "belly dancing" iets geword het vir die wêreld om te waardeer en te bewonder, so is daar verseker iets van ons warmte wat ons aan hulle kan bied.

    Iets soos Blackie Swart se musiek of die Klipwerf Orkes se boeremusiek.

    Ons wonder soms of ons die regte besluit geneem het om alles so weg te gooi... Maar het die vele voorsate wat na Suid Afrika getrek het eeue gelede nie maar ook so gevoel nie?  Ek dink terug aan die dae wat ons altyd op staproetes saam met vriende om die kampvuur gesit het en dwarsdeur die nag Afrikaanse liedjies gesit en sing het nie. Jaco, IP, Brenlie en Hennie, Lizelle en die res...ons onthou daardie dae.
    Maar 'n mens kan nie meel maal met water wat reeds onderdeur die brug is nie.





    Onhou julle nog die liedjies wat ons gesing het...hierdie musiek van Jacques de Coning

    Sunday, July 11, 2010

    Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour

    Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour (blog skakel)

    Dit is die middel van die winter in Sydney.  Buite val die reën en mens kan nie juis baie doen in die buitelug nie.  Ons het nou net lekker kaneelpannekoek geëet met botterkaramelsous wat ek self aanmekaargeslaan het.  Net gisteraand het ons teruggekom van 'n heerlike week-lange vakansiebreuk aan die noordkus van New South Wales.  Loukie (ons hond) kon nie saamkom nie en het by vriende van ons gebly hierdie week. Ons het vanoggend bietjie by Fagan Park met hom gaan stap, maar dit het later sagkens begin reën en dit het my laat dink aan die lekker pannekoek (Crepe) met Butterscotch sous wat ek by die Butter Factory in Bellingen geëet het.

    Op hierdie soet noot...ons het vir die middel winter vakansie afgesuiker na Woolgoolga.  Dit is 'n piepklein dorpie net noord van Coffs Harbour.  Ons het daar vakansie akkommodasie gehuur wat soos in REG op die see uitgekyk het. Woolgoolga het 'n pragtige strand met ongerepte natuurskoon langs die kus af.  Dolfyne en walvisse baljaar in die silwer see en die son glinster op die golwe tot in die verte.  Die melkweg skitter in die nag want mens is letterlik 'n halwe duisend kilometer weg van Sydney in die suide en amper net soveel vanaf Brisbane in die noorde.  Aan die oostekant strek die stille see so ver as wat jou oog kan sien met die Solitary Eilande op die horison.  Na die weste is lowergroen grasvelde, piesangplantasies en berge met subtropiese reënwoude.

    Die see se temperatuur was 'n heel gemaklike 19 grade en ons het saam met die kinders (darem bygesê met 'n wetsuit) in die branders baljaar. Ons het hierdie week darem ook bietjie gesnorkel, maar as gevolg van die bewolkte weer en winderigheid langs die see was die water maar troebel.  Maar ons het nou nie juis toegelaat dat dit ons afskrik nie.  Ons het ook ons vier fietse op die fiets-rak saamgeneem.  Ons familie kuiergas het vir hom 'n bergfiets gehuur by Woodseys Wheels.   Daar is dwarsdeur die dorpie en langs die lagoon en die see 'n heerlike fietspaadjie wat oor die rivier met houtbruggies verbind is.  Dit is 'n heerlike aktiwiteit om saam met 'n mens se familie te doen op vakansie.  Ons het langs die kus ook by 'n hele paar strande ingeloer soos: by Emerald Beach, Moonie Beach, Port Macquarie, Anna Bay en Nelson Bay by Port Stephens naby Newcastle.  Heelwat van hierdie strande is binne in natuurreservate waar die kangaroes in hul natuurlike omgewing vry rondloop...ook sommer tussen die erwe.  Die Moonie Strand reservaat by Emerald Beach is so 'n voorbeeld.  Daar is pragtige kranse langs die see wat men nogal aan fotos van Skotland of Ierland laat dink.

    Eendag het ons die binneland verken en toe met die pas teen die berge op gery tot by Dorrigo Nasionale park waar ons deur die reënwoude gestap het en die panoramiese uitsigte bewonder het vanaf die Skywalk by Dorrigo (wat so terloops, heeltemal gratis is).  By een van die klein dorpies, het ons ingeloer by die Old Butter Factory, waar ons oggend-tee (morning tea) genuttig het.  Daar is ook 'n kunsgalery en 'n plek wat allerhande snuisterye en gedoentes van leer verkwansel.  Ons ry baiemaal ver uit ons pad uit "op ekspedisie", sommer net om nuwe plekke te ontdek...want die eindpunt is nooit die bestemming nie: op vakansie is die reis na jou bestemming die belangrikste, en nie hoe gou jy daar kom nie. 

    Elke aand by die woonstel het ons saam gekuier, op die strand gaan stap of sommer net saam met die kinders op die fietse gery.  My seun was veral in sy noppies omdat ons in die aande tot laat gesit en Monopoly speel het.  Nou wil hy het heeltyd Monopoly speel.

    Ons het dit baie geniet.  Oppad terug het ons besluit om 'n draai te ry en Fisherman's Bay en Anna Bay net noord van Newcastle te gaan besoek.  Dis 'n pragtige omgewing...en ook so naby aan Sydney.  Ons het die sonsondergang daar bewonder en toe teruggekeer huis toe.   Daar was 'n walvis en 'n hele skool dolfyne wat daar in die branders baljaar het. 

    Ek het vir julle ons fotos opgelaai.  Julle kan dit hieronder kyk of by die web albums.



    By Emerald Beach het ek die volgende verliefde paartjie afgeneem.

    Kontak my gerus...

    Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

    Die mees populêre inskrywings