Sunday, February 27, 2011

Sydney somer genot

(Skakel na hierdie Pitkos Blog inskrywing)


Kyk, ons het hierdie somer darem vir jou al baie warm gekry hier in Sydney.  Daar was sulke hittegolwe hier dat die kraaie (Currawongs) na hul asems gesnak het...wat nog te sê gaap... 


Ons was dus nog nie baiemaal by die strand hierdie somer nie, ons het maar eerder by die huis weggekruip vir die hitte.  Wanneer mens dus nie uitgekook het nie, het ons uitgereën - maar ons kla nie, want ons hier in Sydney was ons darem die vloede, binnelandse tsunami's, orkane en siklone, brande en nou ook aarbewings gespaar.  So ons kan seker sê dinge gaan darem honkie-dorie.  


Die kinders is mos weer skool toe.  My seun is nou in die hoërskool en het klaar al sy eerste skool-kamp agter die rug.  Hulle klomp "eerstejaars" het daar naby Narrabeen langs die kus gaan kamp (al oor die 300 van hulle, seuns en dogters saam, maar nie in selfde kamers nie).  Hy het dit darem baie geniet - was amper soos veldskool.  Ek dink dis nogal 'n slim plan van hulle om dit so aan die begin van jou hoërskooljare te hou, sodat almal van hulle mekaar sommer lekker kan leer ken.  Die huiswerk in die aande word nou ook al baie meer.  
My dogter is nog in dieselfde laerskool en het ingekom vir die skool se T-ball spannetjie. (Dis amper soos baseball).  


Ek speel nogsteeds elke Woensdagaand vir 'n Aussie Volleyball span en geniet dit uitermate.  Ek speel nou al van laasjaar af.  Dit is regtig lekker om deel te kan voel van die Aussie leefwyse waar sport so deel is van hul lewens, nie net om te kyk nie, maar veral om deel te neem, 'to have a go' yourself.  Dit is die hoogtepunt van my week. Sommige weke speel ek ook vir die ander spanne as hulle nie genoeg spelers het nie.  Dit laat mens lekker voel om by 'n plek te wees waar almal jou naam begin ken.  Voor dit het ek dit seker laas in 1992 in my universiteitsdae gespeel.  As mens dan na die tyd terugry huistoe voel mens sommer verkwik en verfris, selfs al het ek lam en tam van die werk af gekom.  Dan luister ek gewoonlik na Today's Country (my heel gunsteling radiostasie) se top 20 countdown.  Gelukkig is dit nou in die aande ietwat koeler, want toe dit so warm was het ons gesweet as ons Volleyball speel hoor.


Omdat dit gister weer 'n lekker sonnige dag was, het ek besluit dis tyd om weer 'n keer bietjie te gaan snorkel by 'n plek waar ons nog nie voorheen was nie.  Ek het hier in Dural by die Scuba plek uitgevis waar daar lekker snorkelplekke is en is aangeraai dat "Camp Cove" naby Watsons Bay, die rotspoele naby Manly se Shelley Beach, of Botany Bay se Bare Island.


Ons besluit toe om Bare Island te gaan ontdek.  Om daar te kom neem mens eenvoudig die M2 al die hoofweg van die Hills af, onderdeur die Hawe Tonnel, die "Cross City" tonnel. oppad in die rigting van die Lughawe, en neem dan in die tonnel net voor die lughawe die Randwick-Bondi afrit.  Dit is die "Eastern Distributor".  Mens volg dan eenvoudig Anzac Parade al die pad tot waar dit doodloop teen Bare Island in La Perouse.  Die Fort op Bare Island is in 1885 tydens die Crimean oorlog gebou om Sydney teen aanvallers te beskerm (nes Klapperkop Fort in Pretoria). Die einste eiland het prominent opgedyk aan die einde van Mission Impossible 2 met sy talle tonnels.  Die omgewing hier rondom "Bare" Eiland is een van die beste Scuba duik plekke in New South Wales.  Maar die fort kan net via begeleide toere besoek word.  Die "Customs"/Doane toring monument uit die 19de eeu kan ook hier besoek word.


Daar is 'n heerlike strand en al langs die rotse tot by "Bare" eiland is daar vlak snorkelplekke oor die rotse aan die oostekant.



Ons het oor die houtbrug gestap en aan die westekant in die water ingegaan waarna ek en my seun saam onderdeur die brug gesnorkel het en is toe al langs die rotse langs in die strand se rigting. 



Die fort lyk nogal indukwekkend so op 'n afstand, maar die water des te meer aanloklik.



Die sigbaarheid aan hierdie kant van die brug was goed, maar die wind het nogal sterk gewaai en ons het toe besluit om eerder so 'n entjie terug te ry Clovelly toe om daar in die beskutte rotspoele te gaan snorkel. Parkering is gratis, behalwe vir 'n vrywillige donasie vir die nippers (lewensredder opleiding vir kinders.)

Die water by Clovelly was baie aangenaam en ons het sommer 'n magdom visse gesien, insluitende die bekende Blue Groper.  Ek het so 'n 7 minute video van die snorkel aanmekaar gelas.  Daar is onder andere "Pipefish" en 'n paar Eastern sand-rays/stingarees in die video.


Hier is 'n paar fotos van die Stingaree in Clovelly se rotspoel.













Die musiek is vanaf die musiek produksie van Matthys Maree "Afri-Spaans" en die sangeres is die Colombiaanse sangeres Marta Gomez. Julle kan 'n kopie van die CD as MP3 aflaai by CdBaby vir net $10.  Die liedjies was sy in die Spaanse taal in hierdie video se klankbaan sing is die bekende Victoria Baai van die geliefde Lucas Maree asook die liedjie "Soos Bloed" van Theuns Jordaan. Hoop julle geniet dit, want ons het dit verseker gister geniet.

Saturday, February 12, 2011

So 'n paar mooi plekke wat ons besoek het oor die afgelope paar maande


Hier is so 'n paar fotos wat ek so hier en daar geneem het die afgelope tyd.

Die volgende paar fotos is langs die Hawkesbury rivier geneem toe ons op 26 Januarie Australie dag vakansiedag gehad het.  Ons het "tinnies" gehuur en die rivier gaan verken.

 

Die Mosaic Jelly vis of die "Jelly blubber". Groot skole "Jelly Blubber" verskyn in somermaande in riviermondings aan die ooste van Australie. Die bruin kleur word deur simbiotiese alge in die liggaam veroorsaak. Daar was so baie van hierdie Jellies in die rivier dat ons hulle omtrent nie kon ontwyk met die boot nie - dit lyk amper soos 'n jellievis plaag.  Hulle het so 'n gloeiende oranje bruin kleur en 'n vierpuntige "ster" op hul rug.

 

Langs die rivier is subtropiese varings.



Die volgende klein miniatuur "Banded Soldier Crab" (Mictyrus longicarpus) word net 1.5 cm groot. Hy eet groot hoeveelhede sand en onttrek dan die alge daaruit vir kos.  Dit het 'n pragtige blou en pers kleur,



Hier is dit so 'n bietjie nader.  Meeste mense sal oor hierdie krappie loop sonder om hom eers raak te sien.



Hierdie (effens uit fokus) foto van 'n ruspe het ek after in ons tuin by die lemoenboom geneem.  Hy skiet sulke oranje voelers by sy kop uit as hy bedreig voel.



Ek het die volgende kewertjie op 'n boomstomp by die Crowdy Bay kampterrein afgeneem toe ons Desember daar gekamp het in die kamp naby Kylies Beach.



Van bo op die kruin van die berg daar naby is die mooiste uitkykpunt waar mens oor beide kante van die berg kan uitkyk.








Die volgende paar fotos by die waterval is in die "Deep Creek" reservaat langs die Wakehurst Parkway in Narrabeen geneem.











Ons is daarna na 'n korterige staproete langs die see naby Narrabeen by die Turimetta Head. Dit is net langs die Narrabeen Park Parade.





Naby die roete kan mens met 'n lang paadjie na die see afloop waar daar ook 'n baie goeie snorkelplek blyk te wees.














Wednesday, February 02, 2011

Sikloon Yasi

(Skakel na hierdie post by blogspot)

Asof Queensland nie al genoeg rampspoed beleef het nie!  'n Kategorie 5 tropiese sikloon met winde van 300 km/h is huidiglik besig om die noord Queensland kus te nader en sal oor so 4 ure (tussen 22h00 en 24h00 vanaand Australiese tyd - dus 11h00 en 13h00 Suid Afrikaanse tyd) die kus tussen Cairns en Townsville tref.  Die kusdorp wat die grootste spit sal afbyt sal Innesfail wees.

Julle kan by die ABC (Australian Broadcasting Corporation) lewendige BLOG deurentyd op hoogte gehou word van gebeure. Daar word kort kort videos en terugvoer opgelaai soos wat dit gebeur. Julle kan die nuus nou kyk by ABC.  Sien Queensland se weer by Weatherzone.

Saturday, January 15, 2011

Interaktiewe lugfotos met super fyn 2 cm resolusie van Brisbane

Die Aussie karterings maatskappy NearMap, het hierdie super fyn resolusie lugfotosfoto diens gratis beskikbaar gestel sodat die astronomiese vloedskade in Brisbane duidelik word. Die fotos is Donderdag geneem vanuit 'n Cessna vliegtuig en met behulp van 'n rekenaarprogram outomaties aanmekaar gelas.


View Large Map

Kliek op "View Large Map" om die vol grootte kaart te kan sien. Mens kan ook 'n datum voor die vloed kies om te sien hoe dit verander het. Daar is selfs 'n "MultiMap" fasiliteit wat jou 'n 3D uitsig oor Brisbane wys.

Sunday, January 02, 2011

'n Nuwe jaar breek aan...ons 4 de nuwejaar in Sydney

Dit is Vrydagaand 31 Desember 2010. 'n Heerlike hittige somerdag was agter die rug en ons is almal met kort somersklere oppad na Cremorne Point in Sydney.

Ons het besluit om hierdie jaar af te sluit deur na die vuurwerke in Sydney hawe te gaan kyk.  Die stadsraad het blykbaar $5 miljoen gespandeer om hierdie jaar se vuurwerke onvergeetlik te maak.  Ons het dit nog altyd oor die TV bekyk, maar wou hierdie jaar saam met die beraamde 200 000 mense in die stad die skouspel gaan ervaar.  Ons het tot by Bydown straat gery, waar on die motor geparkeer het en toe sowat 2.5 km gestap tot by die Cremorne Reserve.  Dit was 'n perfekte aand om in die stad te wees, want die lug was heeltemal oopgetrek en mens kon die suiderkruis duidelik in die aandlug sien.  'n bykans 200 grade panorama van die stad se liggies het rondom ons gelê.  Dit was asof al die veerbote en seilskepies in die hawe hulself goed wou posisioneer om die beste uitsig van die sowat 5 vuurwerk punte te kry.  Oral was families met kinders wat op kampstoele en in klein tentjies gesit en wag het op die ligvertoning.  Heelwat seilskepe wat soos krismisbome versier was het op en af deur die hawe geseil.

Ons was saam met vriende en het vir ons piekniekmandjies gepak en lekker gesit en gesels en kuier.  Die area waar ons was was 'n "Alcohol free zone" en hopelik was die enigste dronkies wat daar was die' wat reeds op 'n ander plek "opgevul" was.  By die Operahuis en hawebrug was daar natuulik 'n "musical" aan die gang, en die vuurwerke sou met musiek gesinchroniseer wees, wat ons ongelukkig nie kon hoor van waar ons sit nie, maar ons het dit op die TV opgeneem. Julle kan daarna kyk by hierdie skakel.

Die vuurwerke was natuurlik asemrowend, veral met die maanblanke see waarop die vuurwerke weerkaats het.

Ek het so 'n paar fotos geneem. My kamera was gestel op : manual focus (infinity), 1 sekonde shutter priority en 200 ISO. Hier is die fotos.




Ek bid julle 'n wonderlike jaar toe vol hoop en nuwe geleenthede.

Sunday, December 05, 2010

Blommeprag langs die Wattamolla staproete en ook rose in ons tuin

(Skakel na hierdie blog inskrywing)

So 'n rukkie gelede op Sondag 17 Oktober was ons lus om bietjie in die veld te gaan stap. Toe gaan boesoek ons die Wattamolla staproete in die Koninklike Nasionale Park net suid van Sydney saam met ons vriende.

Hierdie keer het ek sommer net lus gehad om julle die verskeidenheid fynbos hier langs die kus te wys. Daar is blomme met die fynste detail.

Hier is so 'n bietjie van die fotos wat ek geneem het.



Aan die einde is daar sommer ook so 'n paar van die rose wat ek in ons tamaai roostuin afgeneem het.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings