Sunday, October 19, 2008

Onthou om jou belasting opgawe in te dien

Aan al die Aussie Suid Afrikaners....onthou om julle belastingopgawe voor die 31 ste Oktober se afsnydatum in te dien...Julle kan 'n Tax Pack by julle naaste Nuusagent kry of dit aanlyn doen. Dit is nou vir die belastingjaar van 30 Junie 2007 tot 31 Julie 2008.
Jy benodig as 'n minimum:

  • Jou belasting nommer
  • Jou PAYG betaling opsomming wat jy by jou werkgewer kry
  • 'n bewys dat jy privaat medies het (dan kan jy vrystelling van die "medicare levy surcharge" eis)
  • Bankstate van al die rente wat jy op spaargeld verdien het (jy kry mos kwartaalliks state wat dit aandui)
  • Kwitansies vir werksverwante aankope soos 'n laptop.
  • Indien julle nog op 'n 457 Visa is, of vir 'n gedeelte van die belastingjaar was, kan julle aansoek doen vir vrystelling van die Medicare Levy vir daardie tydperk, omdat julle nie op Medicare was nie. Die aansoekvorm kan by die medicare site verkry word en saam met gewaarmerkte kopiee van jou paspoort en VISA bladsye ingedien word.

Die Scribbly Gum met die natuur se graffiti

Ons het by Chinaman's beach hier by Jervis Baai bietjie op die rotse rondgeloop en na die baie seelewe op die rotse gekyk. Hier is so twee fotos.


Naby die Chinaman se strand, is daar 'n uur lange staproete wat die "Scribbly Gum" roete genoem word. 'n Scribbly Gum (Eucalyptus haemastoma) is 'n soort Eucalyptus boom met 'n klomp "scribbles" op sy bas. Dit is die natuur se weergawe van Graffiti. Dit word veroorsaak deur 'n klein grys mot se larwas. Die mot boor 'n gaatjie deur die scribbly gum se bas wanneer dit nog die boom bedek en lê sy eiers onder die bas. Wanneer die mot se eiers dan uitbroei, dien die bas as beskerming en die larwas eet hul "graffiti" oral oor die boom onder die bas. Wanneer die eucalyptus boom dan sy bas verloor omdat die stam rek en groei, dan bly hierdie vreemde gekrap/"scribbles" op die bas agter, wat vir ons lyk soos insek graffiti.

Hier kan julle so 'n scribbly gum sien.

Die roete is maar redelik droog, maar daar is heelwat blomme en plante om te besigtig. Hier kan julle so 'n paar vygies sien.




Die volgende foto het ek geneem van die swaardgras wat oral langs die roete gevind kan word. Dit lyk baie soos die swaardgras wat ek in Suid Afrika gesien het. Die volgende rooi en geel blommetjies van so 2 cm groot groet op hierdie swaardgras.

Kyk bietjie mooi na die volgende foto, want mens kyk dis maklik mis....ek het dit inderdaad reggekry om 'n foto van 'n skoenlapper te neem. Hulle sit mos amper nooit lank genoeg stil vir mens om 'n foto van hulle te neem nie. Die skoenlapper in die foto is die "Sword-grass Brown" Swaardgras vlinder (Tisiphone abeona albifascia). Gaan kyk ook na ander Australiese vlinders by die Victoria Museum wat verantwoordelik is om rekord te hou van alle moontlike diere spesies in Australië. Mens kan ook die vlinders wat jy afneem daar identifiseer.

Hier is 'n artikel wat verduidelik waar die skoenlapper sy kolle kry.

Hier is 'n foto van 'n paar insekte wat baljaar op 'n blommetjie.


Ek is seker as jy al in die Drakensberge gaan stap het sal jy die volgende plant herken...dit vervuil mos oral. Dan, wanneer dit uitdroog vorm dit sulke onooglike bruin varingagtige bosse wat jou bene krap as jy daarby verbystap. Hulle is hier ook.

Saturday, October 18, 2008

Jervis Baai

As 'n mens op Google Maps gaan soek na Jervis Bay, is dit interessant om uit te vind dat dit in die ACT (Australian Capital Territory) se grondgebied val, en nie soos verwag in New South Wales nie. Die rede daarvoor is omdat Jervis Bay in werklikheid aan die Commonwealth van Australië behoort en nie aan NSW nie. Dit is in 1915 deur die Commonwealth regering wat in Canberra gesetel is van NSW gekoop en dit word sederdien as deel van die ACT volgens die ACT wette bestuur. Al die state in Australië het mos hul eie regerings (NSW se regering is byvoorbeeld gesetel in Sydney), maar die federale regering is gesetel in Canberra vanwaar hulle die Australiese Statebond ("Commonwealth") bestuur. Onthou...Australië is mos nog nie 'n republiek nie...ons is 'n statebond, en val nog onder die Koningin van Engeland, Koningin Elizabeth II, wat ook bekend staan as "Queen of Australia". Hier kan julle sien watter lande nog onder die koningin val. Dit is dan ook waarom so baie natuurlike erfenisse en selfs militêre instellings "Royal" as voorvoegsel het.

Jervis Baai het sy naam gekry van Admiraal John Jervis in 1791 en is ook die plek waar die Australiese Koninklike Vloot (Australian Royal Navy) se Vlootopleidingskollege geleë is. Dit is hier in die Booderee Nasionale Park by die vlootbasis HMAS Cresswell waar die Australiese vlootoffisiere opgelei word. Dit is vernoem na 'n luitenant Sir William Rooke Cresswell (1852-1933) wat beskou word as "die vader van die Australiese vloot" omdat hy dit help stig het. HMAS beteken "Her Majesty's Australian Ship". Booderee beteken "Bay of Plenty". Julle kan dus sien dat hierdie omgewing baie belangrik is op beide militêre gebied. Die omgewing is ook 'n marine bewaringsgebied en huisves 'n rykdom van seelewe.

Ek het vroeër vanjaar in Junie bietjie fotos van Jervis Baai hier op my blog geplaas toe ons die eerste keer hier was.

Hier is 'n paar fotos wat ek by Chinaman's Beach geneem het in die "baai van oorvloed". Dit is reg langs Hyams beach.

Die hele gebied rondom Jervis baai van so 16 km by 10 km is 'n marine natuurbewaringsgebied met snorkelplekke waar jy 'n oorvloed visse kan sien. Dit is ook die plek waar baie visse (insluitende kleiner haaie wat van klein seediere leef) kom in die somermaande om te kom eiers lê. Daar is ook baie dolfyne omdat hulle geen natuurlike vyande daar het nie.


Hulle beroem hulle natuurlik op die feit dat Jervis Bay (spesifiek Hyams beach waar ek hierdie fotos geneem het) in die Guinness Book of World records is vir die wêreld se witste stande. Mens kan met die White Sands walk langs die strand afstap...onthou net om jou sonbrille te bring.

Hier is 'n paar fotos wat ek geneem het van "haar majesteit se Australiese skip" (HMAS), besig om die vlootoffisiere deur hul passies te sit.


Foto by Chinaman's Strand. Op baie plekke sal mens sommer so langs die strand 'n bankie sien waar jy en jou vroutjie oor die see kan sit en uitstaar.

Die volgende foto het ek met my kamera se flits in die strand se toilette afgeneem. Gelukkig het ek die kalant wat in die donkerte geskuil het raakgesien. Hy is omtrent so 8 cm met pote en al. Ek het hom net so gelos. Ek is seker iemand gaan 'n "groot surprise" kry as hy daardie toiletrol so 'n spin gaan gee....hehe.

Thursday, October 16, 2008

Oppad met die Prinse Hoofweg en die Suidelike Snelweg

Ons was mos die naweek bietjie Jervis Baai toe. Julle onthou seker dat ons al 'n vorige maal daar was. Hierdie keer het ons egter bietjie by Sanctuary Point, direk langs die binnelandse meer St. George's Basin tuis gegaan. Ons het hierdie keer egter nie met die Hume Hoofweg en deur die Suidelike Hooglande gery nie, maar ek het besluit om hierdie keer eerder die Suidelike Snelweg ("Southern Freeway") oftewel die N1 te neem om te sien of dit nie vinniger ry nie. Die rit het ons so net by die 3 ure geneem. Hier is die roete wat ons gevolg het. Mens moet net onthou om vanaf Silverwater Rd, die New Illawarra Rd te neem, want die GPS is geneig om mens altyd via die stad te probeer lei. Daarna volg mens net die Prinse Hoofweg tot dit later die N1 word. Die pad systap onder andere vir Wollongong en 'n klomp van die kleiner kusdorpies soos Shellharbour en Kiama. Die pad verleen asemrowende uitsigte langs die kus en by Gerringong (wat volgens oorlewering "'n gevaarlike plek" beteken) draai die pad na die groen binneland toe en gaan deur die baie mooi dorpie Berry en daarna Nowra, voordat jy by Jervis Baai uitkom.

Die volgende fotos het ek naby Gerringong langs die New South Wales Princes Highway afgeneem. Hier kan julle die kaart en die street view sien.

Soos julle kan sien is die omgewing pragtig groen.

Ek dink ons moet gerus eendag hier 'n draai kom maak.



Omdat ek van mooi dinge, en veral blomme hou, het ek die volgende twee fotos daar geneem.

Hier is een met die see in die agtergrond.

Die pad Berry toe is besaai met mooi groen gras en plaashuise. Soos julle kan sien is hier min van die alombekende bloekombome.


Oppad het die Southern Freeway (Die N1) deur die klein dorpie Berry geloop. Ek moet sê, ek hou nogal van Berry. Ons het daar gestop vir verversings en die mense op straat het baie vriendelik en ontspanne voorgekom - heel anders as in die stad. In die IGA (amper soos Shoprite) het ek sommer met iemand 'n geselsie aangeknoop en vra toe vir haar hoe gereëld hulle Sydney toe ry. Sy sê toe: Wel, omtrent net op verjaarsdae en spesiale geleenthede. (Snaaks hoe mens steeds vir 'n "outing" na die groot stad toe wil kom).

Ons het uitgesien na ons naweek, en ons was gestewel en gespoor, of dalk moet ek sê: "ge-snorkel en ge-masker", want sien, ons was van plan om bietjie in die marine parke in die see by Jervis Baai te gaan snorkel.

Tuesday, October 14, 2008

Julle weet mos wat is hittete

Julle weet mos wat is hit-te-te. Dis nou naelskraap (soos op 'n swartbord) of amper soos as jy op jou g.. ek bedoel agterstewe se velle deurskuur in 'n toets -

Wel, dis hoe ek vandag voel. Vandag WEET ek hoekom ek trein ry!

Mellow, dis hoe ek die afgelope week was. Was mos op verlof. En het ons dit nie geniet nie. My bloeddruk was skoon laag. Maar weë jou as jy dink dit sal vir altyd aanhou...want sien, vanoggend reën dit toe mos weer in Sydney. En as dit reën; wel, dan dink mense mos hulle ry in stampkarretjies by die skou...

Ek het ons kuiergaste by die lughawe gaan aflaai en toe ewe doodluiters teruggery werk toe, nog heel in die vakansie gevoel. Mooitjies na Sylvia (dis nou die GPS) se stem geluister terwyl sy my deur 'n haas onbekende roete terug deur die stad begelei het tot by my werk. Dis mos toe dat die popo amper die fan tref.

Gelukkig was ek nie in 'n bui om op een of ander persoon se kar se stert te ry nie, en dus was my volgafstand gelukkig reg vir hierdie reënerige dag....want toe ek my weer kon kry, toe sien ek net dominoes voor my soos wat die drie motors reg voor my in die sopnat Lane Cove straat in 'n kettingbotsing met mekaar te make kry. Daar was bitter bitter min kans om aan enigiets anders te dink as om my voet plat te trap op die rempedaal - ek het nie gedink ek sou enigsins op die afdraande van 'n seepgladde nat pad betyds kon stop nie en het reeds in my geestesoog gesien hoe my ou splinternuwe karretjie soos 'n gekreukelde roesyntjie van voor lyk. Kyk, ek het al 'n paar keer vinnig probeer stop in die reën met karre wat ek voorheen besit het, en al daardie kere het ek klaaglik misluk. As die wiele mos eers vashaak, dan gly die kar sommer etlike meters verder op die nat pad. Een van daardie tjorre was 'n 1967 Beetle. As so 'n karretjie eers so 'n effense snif van nat teer kry, dan tol hy sommer so lekker in die rondte.

Maar hierdie keer was dit anders. Soos wat ek die pedaal so amper deur die vloer trap, hoor ek net hoe vibreer die ABS remme hier onder my soos wat die skywe en dromme so haak-en-steek los en gryp aan die nat pad. Dit klink amper soos die geraas van klinkende metaal, en ek dog toe amper iemand gooi my met iets wat op die dak te lande kom.

Ek was skoon uit die veld geslaan toe ek sien dat ek 'n hele halwe meter van die kar voor my tot stilstand gekom het. Toe die ou uitklim om na die skade te kyk kon hy dit amper nie glo dat ek betyds kon stop nie, want hy het die kar voor hom se agterstewe skoon in die lug op gery soos 'n trekklavier. Ook die heel voorste kar was lelik beskadig. 'n Driedubbele kettingbotsing reg voor my op 'n sopnat pad was nou nie juis die manier wat ek die vakansie wou eindig nie. Ek was skoon dankbaar verskrik toe ek uiteindelik by die werk uitkom. Weet jy hoe bly is ek nou ek het ABS remme aan die kar....daar sou net geen manier gewees het wat ek betyds sou kon stop as die kar dit nie gehad het nie - want ek kon kompleet voel hoe dit telkens laat los om te verhoed dat die bande op die pad begin gly.

Dis wat ek bedoel met HITTETE. Dis wat mens dankbaarheid noem.

Friday, October 10, 2008

Great North Walk

Goeiemore almal

Ons het bietjie vir ons vriende uit SA gaan wys hoe lyk die Groot Stap Noorde toe (The "Great North Walk"). Dit is 'n 250 km lange staproete wat oor 'n tydperk van 21 dae gestap kan word vanaf Sydney na Newcastle. Dit kan as vele korter staproetes gestap word en dit bevat dele van die mooiste natuurskoon in New South Wales. Daar is ook oornagkampterreine langs die roete. Die "Department of Lands" is verantwoordelik vir die staproetes. Mens kan 'n brosjure bestel wat al die dele daarvan uiteensit. Ek het op 'n uitstekende site afgekom waar allerlei stappers hulle GPS Tracks oplaai. Dan kan mens die profiel van die roetes sien asook die presiese GPS Waypoints van al die beste plekke langs die roetes. Dit is by www.wikiloc.com. Een van die gebruikers daarop het nogal baie dele van die Great North Walk gestap. Mens kan dan ook die Tracks aflaai en dit as 'n GPX leêr op jou navigasie GPS oplaai.

Hier is nog so 'n paar fotos wat ek langs die roete geneem het. Julle sal onthou ons het op 'n vorige geleentheid reeds daar gaan stap.







Daar is baie voëlsoorte, onder andere die Kookaburra.



Ons het ook langs die pad op 'n Eastern Water Dragon afgekom. Hy het in die middel van die paadjie gelê en bak in die son, ons mooi uitgekyk en toe na die waterkant afgesit. Dit lyk baie soos 'n likkewaan.




Bathurst 1000

Hierdie naweek is die Bathurst 1000 V8 Supercars motorren. Dit word elke jaar in 'n klein plattelandse dorpie (naby Orange) in NSW gehou. Julle kan volledige dekking daarvan sien op Channel 7 (indien julle natuulik in Oz bly). Volg die resultate by hulle webtuiste.


View Larger Map

Bo kan julle die Mt. Panorama resiesbaan sien, wat gedurende die res van die jaar 'n "scenic" roete naby die dorp is. So naby aan die natuur is die plek gebou dat daar laas jaar selfs 'n kangaroe op die resiesbaan was.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings