Saturday, April 05, 2008

Aanhouer wen, en weer probeer is die beste geweer

Julle onthou seker dat ek so 'n wyle gelede gegaan het vir my motor leerlinglisensie se aapraaisel ("monkey puzzle") toets. Dit was so begin Februarie. Ek het daardie oggend sommer 'n afspraak gemaak vir 'n bestuurstoets op 26 Februarie. Dis mos wanneer een van daai streng Omies van die RTA weer SY beurt kry om 'n monkey-puzzle te sit en invul terwyl jy self sit en bloed sweet agter die stuurwiel. Wel, dinge verloop nou nie altyd volgens plan nie en soms gooi die lewe weer so 'n paar Jakkalsdraaie met jou agter in die dog-box. Dan moet jy maar net die stang vasbyt en deurdruk.

As mens mos op 'n tydelike VISA hier in Australië aanland kry jy die vergunning om met jou Suid Afrikaanse bestuurderslisensie op die paaie hier in New South Wales (NSW) te kan rondry. Hulle loop maar die risiko met jou op die pad, want hulle weet g'n stuk of jy nie dalk jou lisensie in 'n "Lucky Packet" gekry het en of jy dit "wettiglik" by 'n Suid Afrikaanse regeringsamptenaar gekoop het nie... Maar sodra jy PR kry moet jy soos al die nuwe immigrante deur die beesdip gaan.

Lank lank gelede op 4 Januarie 1991 toe ek nog nat agter die ore was, het ek die K53 bestuurstoets by die Waltloo toetssentrum in Pretoria afgelê. Ek was baie ingnome met myself, want dit het beteken ek kon met my skedonk van 'n 1100cc VW Golf gaan klasdraf by Tukkies, sonder om van iemand anders afhanklik te wees vir 'n "lift". Tot op daardie stadium het ek nog bus gery. Wel, nou baie jare later, in 'n land wat my soms baie herrinner aan die Ou Transvaal, staan ek toe WEER voor dieselfde beproewing-wat op 'n stadium gevoel het of dit net nie wil einde se kant toe staan nie. Maar dit is laaaang storie maats....en daarvan gaan ek vir julle nou 'n bietjie vertel.

Sien, vroeg in die oggend van 26 Februarie 2008, die dag van die bestuurstoets, is ek mos gestewel en gespoor vir die belangrike dag. Alles is vooraf sorgvuldig reggesit: paspoort, afspraak papiertjie, Suid Afrikaanse bestuurderslisensie, bewys van woonadres...nie baie om te onthou nie, so sou mens mos reken. Selfs die kar is gewas vir die groot afspraak... Gelukkig is dit 'n Saterdag oggend en dus het ek nie nodig gehad om verlof te neem by die werk nie. My vrou moet saam met my ry, want jy moet iemand met jou saamneem wat kan terugbestuur indien jy nie die paal haal nie. Daar word selfs fotos geneem....BEFORE AND AFTER jy weet. Hierdie is darem 'n geskiedkundige dag! Die rit na die RTA (Roads and Traffic Authority) neem sowat 30 minute: almal is in die kar behalwe die hond, want pa gaan mos vir sy 2e bestuurstoets. By die RTA aangekom kom ek egter met 'n skok agter dat ek net my SA bestuurderslisensie by my het!!! Dit kan nie wees nie! Met al die geharwar by die huis, asook die fotosessie, het ek mooitjies die res van die papiere by die huis op die tafel gelos. Vir wie moet ek kwaad wees - net myself.

So 'n lam gevoel van selfverwyt, hulpeloosheid en ongeloof begin hier van my kop deursyfer soos koue water wat op 'n rypwit dag hier by jou kraag in afgegooi word... Daar is eenvoudig nie genoeg tyd om weer terug te ry en die res van die dokumente en paspoort te gaan haal nie. Vroulief besluit toe om maar terug te jaag huis toe terwyl ek myself aan die toetsbeamptes gaan vertoon - wil ten minste hê hulle moet sien ek was nie laat vir die afspraak nie. Dalk is daar 'n kans dat ek bietjie later die dag die toets kan doen? Dalk is daar 'n kansellasie. 'n Mens se brein werk mos oortyd met planne beraam. Kort-kort bel ek om by my seun te hoor waar mamma nou al trek en ek sien in my geestesoorg hoe sy soos 'n James Bond meisie deur die verkeer vleg om hierdie belangrike dokumente betyds aan die "spesiale agent" op die gevegsfront te kan oorhandig. Maar helaas...dit was nie bedoel om te wees nie. Hulle kon nie langer wag nie en daar was ook nie nog 'n ander afspraak beskikbaar later in die dag nie. Dus moes ek maar net mooitjies WEER 'n ander afspraak maak - die vroegste wat ek kon kry is 26 Maart ('n hele maand later). En hierdie keer op 'n weeksoggend! So is ek en die Pa-ondersteuners maar druipstert terug huis toe.

Les nommer 1 : MOENIE DIE HELFTE VAN JOU DOKUMENTE BY DIE HUIS VERGEET NIE! Nog beter - los dit sommer in jou kar se paneelkissie, dan WEET JY dat jy dit nie gaan vergeet nie.

...dis 'n maand later. Hoofstuk 2. Dis vandag 26 Maart en hier's ek weer, hier's ek weer met my paspoort voor hul deur. Dis 9h00 Woensdagoggend en ek en vroulief sit in die RTA se wagkamer vir my beurt om aan te breek. Die senuwees knaag. Matriek eindeksamen was 'n vulletjie. Teen 9h15 teken ek die beampte se toetspapiere. By die kar gekom laat hy my heel eerste die flikkerligte en briekligte toets. Tip: Maak seker jou kar is vol petrol, die bande is reg gepomp en al die ligte werk. Ek het van 'n ander Suid Afrikaner gehoor hoe sy flikkers nie wou werk op die dag van die toets nie omdat hulle die naweek gaan "off-road" het en die ligte natgeword het toe hy die onderstel skoongespuit het - sy toets het sommer net daar geëindig, want sonder flikkers klim daai Omie nie eens in jou kar nie. Wel, ons is toe daar weg op die "Roete van Vader Kloete". Voor elke afdraai en verkeerssirkel gee hy my rustig opdragte en ek gehoorsaam dit tot op die letter. Ek moes 'n parallel parkering doen, 'n 3-punt draai en 'n "kerb" parkering langs die pad. Hulle wil sien of jy lank genoeg voor die tyd jou flikkerligte aansit, in jou spieëltjies kyk, oral waar jou kar van rigting of posisie verander oor jou skouer kyk (baie belangrik) om te sien of daar nie iemand in jou blindekol is nie. Glo my maar - jy gebruik nie net jou spieëltjies nie - hulle VERWAG van jou om oral oor jou skouer te kyk na jou kar se blindekolle. Met 'n 3-punt draai moet jy elke keer as jy vorentjoe of agtertoe gaan beweeg oor beide van jou skouers kyk. Wel, met die 3-punt draai, parallel parkering en meeste van die maneuvers het dit sommer klopdisselboom gegaan. Ek het vooraf reeds van al die fynere puntjies kennis geneem. Dit is byvoorbeeld belangrik dat jy by 'n verkeerssirkel die regte baan kies VOORDAT jy die sirkel binnegaan. Wanneer jy links gaan draai, gebruik jy die linkerkanste baan en sit jou linkerkantste flikkerlig aan. Wanneer jy reguit gaan of gaan regs draai, gebruik jy die regterkanste baan en jy sit vooraf jou regterkanste flikkerlig aan. Net voordat jy uit die sirkel beweeg, kyk jy oor jou linkerkanste skouer terwyl jy jou linker flikkerlig gebruik om aan te dui dat jy nou die sirkel gaan verlaat. Enige tyd wat jy van die binnebaan na die buitebaan van die sirkel kruis, MOET jy oor jou skouer kyk en jy moet ook met jou flikker aandui dat jy die sirkel verlaat. As jy 'n U-draai by die sirkel gaan doen moet jy die regterkanste baan (wat na die binneste baan van die sirkel lei) gebruik as jy die sirkel binnegaan en wanneer jy die sirkel weer verlaat oppad terug van waar jy gekom het, dan moet jy jou linker flikker gebruik om aan te dui jy gaan die buitebaan kruis en maak ook seker dat jy oor jou skouer kyk sodat jy nie in iemand vasry wat gedink het jy gaan in die sirkel bly en die sirkel van jou linkerkant binnekom nie. Dit is nie veronderstel om te gebeur dat iemand so teen jou sal vasry nie, want mens moet ALTYD vir mense wat die sirkel regs van jou binnekom toegee.

Wel, na so 'n ruk waar ek herwaarts en derwaarts gestuur is deur die beampte navigeer hy my toe weer terug na die toetssentrum in Castle Hill (dis by 18 Anella Ave, hier is dit op die kaart).
Sien, op hierdie stadium, was ek nog vol vertroue dat ek geen probleem sal hê om die lisensie te kan kry nie. Ek het regtig gedink ek het "foutloos" bestuur, oral gekyk waar ek moes kyk, al die maneuvers seepglad uitgevoer, my flikkerligte gebruik. Nooit rukkerig gery of die kar laat vrek of spin nie. Want sien, ek het mos oor die afgelope 17 jaar genoeg tyd gehad om te "oefen" het ek gereken. Om teen 'n built weg te trek was nou al vir my kinderspeletjies. Les nommer 2: Hy wat reken dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Vol "smiles" gaan sit ek toe daar en wag vir die uitslag. Die toetskaart bestaan uit 25 plekke waar jy beoordeel word op jou 6 areas: Spoedbeheer, Posisie op die pad en by kruisings, Besluitneming, Gevaar/"Hazard" waarnemingsvaardighede en jou Reaksie op daardie moontlike gevare asook Voertuigbeheer/"Control". Kyk, ek weet nou nie presies hoe hy daardie punte optel nie, maar jy moet ten minste 90 hê om die toets te slaag! Daai beampte het my stertvere lelik uitgepluk. In 'n rustige stem het hy my meegedeel dat ek in feitlik al die ander plekke volpunte het, maar dat hy op al die 25 plekke vir my moes punte aftrek omdat beide my hande nie op die stuurwiel wat terwyl ek by die kruisings gestaan en wag het nie en ek nie die korrekte stuurmetode gebruik het nie. Jy weet, mens sit mos so maklik met jou een hand op die rathefboom tewyl jy wag vir 'n verkeerslig om oor te slaan... Daarbenewens, vertel hy my, dat mens ook dadelik punte verloor wanneer jou hande kruis op die stuurwiel, jy die stuurwiel van die binnekant af vat, of as jou hande op een plek op die stuurwiel albei bymekaar is. Mense, ek weet nie van julle nie, maar dit is nogal so bietjie moeilik om na 17 jaar se bestuur sommer dadelik oor te slaan na 'n ander stuurwiel-draai-tegniek. Mens leer mos allerhande gewoontetjies met die jare aan en die stuurwiel deurvoer tegniek wat ek baie jare geleer het, rafel mos maar so oor die jare uit...ek moet bieg. Hy het ook verwys na die "hand-over-hand" stuurtegniek, maar ek kon nog nie regtig daai kloutjie by die oor kry nie. Hier word ALMAL wat vir die bestuurstoets gaan oor dieselfde kam geskeer en moet deur dieselfde hekkie om uiteindelik 'n wettige padgebruiker te wees. Sodra mens mos Permanente verblyfreg kry het jy net 'n paar maande (so 3 maande) om te gaan vir jou leerling kennis toets en daarna jou bestuurstoets.

Wat TOE gebeur het, het my selfvertroue so ietwat van 'n dippie laat vang. Hy het aan my 'n brief oorhandig wat my effektief STROOP van die reg om sonder 'n baby-sitter te bestuur op enige pad in New South Wales.

Die vergunning om met jou Suid Afrikaanse lisensie te bestuur in NSW was nou dus op 'n einde, en ek moes van nou af met sulke groot GEEL - L tekens DUIDELIK voor en agter op my kar rondry...wat 'n skok. Mens mag ook nie vinniger as 80 km/h ry nie - selfs nie eens op die snelweg nie!! Gelukkig het my vrou teen hierdie tyd darem al haar bestuurderslisensie gekry, andersins was ons nou regtig geskroef. Anders as wat mense reeds genoem het, word daar NIE 'n gaatjie in jou Suid Afrikaanse lisensie geknip nie. Maar indien ek alleen in die kar met net my SA lisensie gevang sou word kon ek in groot moeilikheid gekom het. Dis soos om effektief sonder 'n lisensie rond te ry. Vergeet maar van die feit dat ek nou reeds 11 maande sonder enige insident op die paaie rondgery het, of die tegniese puntjie dat ek ek al 17 jaar 'n lisensie het...nee, hier is almal gelyk. En dit beteken die VOORREG om met my eie kar te kan rondry is op 'n einde. Hier is die einste "L - plate". Hy het sommer vir my 8 daarvan gegee - net vir ingeval ek 6 verloor.


Daar word 'n foto van jou geneem en, nadat jy $20 betaal het, kry jy 'n groen lisensie met jou foto, handtekening en woonadres op, saam met nog ander belangrike nommers en datums. Hulle reik sommer net daar vir jou die leerlinglisensie kaartjie uit. G'n gewag soos in Suid Afrika nie.

Maar so gou laat ek my nie van 'n perd afgooi nie. Net daar maak ek toe sommer vir my NOG 'n afspraak vir die volgende bestuurderslisensie probeerslag. Die meisie agter die toonbank sê vir my dat dit omtrent net so maklik is om 'n afspraak op 'n Saterdag te kry as om die Lotto te wen. Toe vra ek maar weer vir 'n ander dag. Gewoonlik wag mens 'n maand of 2 maande vir 'n volgende afspraak, maar blykbaar is daar 'n kansellasie en ek kan die 4de April een kry...8h30 in die oggend - net 'n week later! Ek is natuurlik baie bly, want in hierdie vernederde toestand kan 'n man mos nie te lank wil bly nie. Kan nie alleen gaan petrol ingooi nie, Woolies toe ry nie, na die see toe ry nie, fliek toe ry nie, of selfs werk toe ry nie. Stert tussen die bene en met 'n gekwesde ego is ek toe maar weer daar weg.

Gelukkig vir my ry ek bus en trein werk toe - anders was ek regtig in die pekel. Hierdie keer wou ek dubbel en dwars seker maak ek doen alles reg die volgende keer en het dadelik vir my by 'n bestuurskool 'n afspraak gemaak: Gelukkig kon hulle vir my die aand net voor die toets uithelp. Die ou van die bestuurskool se naam is Alan, en hy het my die Donderdag voor die toets deur 'n proeflopie geneem en presies vir my gesê wat ek verkeerd doen. Hy is al 20 jaar in die bedryf en hier is sy besigheidskaartjie:

Hy vertel my dat hy baie Suid Afrikaners deesdae vir lesse neem. Dit het my $60 gekos vir 'n les van sowat 'n uur. Mens moet oppas dat jy nêrens oor wit strepe aan die kant van die pad ry as jy draai nie. In 50 km/h areas moet jy nie vinniger as so 45 km/h ry nie, in 60 km/h areas nie vinniger as 55 km/h nie. As jy met net 1 km/h oor die spoedbeperking gaan druip jy. As jy 2 keer nie jou flikkers gebruik nie of as jy 2 keer nie oor jou skouer kyk as jy bane verwissel nie druip jy ook. Moet ook nie eers jou spieeltjie wil verstel as jy die parallel parkering doen nie - selfs vir dit trek hulle punte af. Maar die belangrikste...die oomblik as jy klaar die ratte verwissel het - bring jou hand terug na die stuurwiel. Beide jou hande moet heeltyd op die stuurwiel wees behalwe as jy rate verwissel of die flikkers gebruik.

In hierdie week het ek besef watter voorreg dit is om 'n bestuurderslisensie te hê. 'n Mens voel nogal geknou as so iets jou tref en jy wil-wil kort kort dink dat jy dalk nooit weer jou lisensie gaan hê nie, want wat as elke toetsbeampte iets anders raaksien om jou op te druip! Elke keer is dit 1-2 maande se wag (of 'n week as jy baie gelukkig is) en jy het dus net 1 probeerslag elke 2 maande - teen daardie tyd kan jy nie eens meer onthou wat jy die vorige keer verkeerd gedoen het nie. Glo my, jou selfvertroue vang nogal ietwat van 'n dip - want skielik begin jy om te wonder of die manier wat jy elk van die aksies uitvoer dan nou reg of verkeerd is. Hou jy die stuurwiel NOU reg vas, kyk mens nou weer VOOR jy die flikker gebruik oor jou skouer, of is dit nou weer NADAT jy flikker? Dan begin mens om oor al die aksies te dink - met die gevolg dat dit nie meer natuurlik kom nie: en siedaar - jy bestuur weer soos 'n APPY. Skielik laat vrek jy die kar as jy wegtrek want jy wil seker maak jy hou die stuurwiel reg vas. Jy laat die kar hoog op-"REF" as jy begin spoed verminder, want jy wil seker maak dat jy in die regte rat is teen die tyd dat jy die kruising bereik. En jy mag ook nie vir te lank die koppelaar inhou nie, want dan laat jy die kar "free" en hulle trek punte af omdat jy nie in ten volle beheer van die kar is wanneer die kar uit rat is nie. Nou laat jy die kar omtrent dood-vrek-verstik by elke verkeerslig, want jy wil die kar tog net nie te vroeg uit rat uit haal nie. Jy kyk jouself amper duiselig heen-en-weer oor jou skouer om seker te maak dat jy al die kyke kyk wat gekyk moet word, sodat jy SKOON vergeet om jou flikkerligte te gebruik. Jy verander van 'n bestuurder vol selfvertroue in 'n "recipe for disaster" - alles binne 'n week - alles omdat jy nou die stuurwiel moet klou of jou lewe daarvan afhang en jouself nie meer renjaer moet hou nie.

Ag man, om 'n lang storie kort te maak. Vrydagoggend was ons al 7h30 daar by die RTA vir die 8h30 afspraak. Ek het spesiaal later gewerk die weeksaande om hierdie oggend later te kon inkom. So teen 8h30 was ek weer op my pos met die senuwees wat knaag. My vrou het egter so baie mense opgekommandeer wat aan my gedink het in hul gebede dat ek nie anders kon as om kalm te wees nie. Hierdie keer was ek egter reg in die middel van die tyd waar die 60 km/h zones verander na "School Zones" en mens net 40 km/h mag ry. Die toetsbeampte het my seker deur 5 sulke "zones" gevat. Daar was selfs 'n plek waar ek 25 km/h moes ry. Het jy al geprobeer om 25 km/h te ry...baie karre kan amper nie eens so laag meet nie! Maar ek het toe maar so aangekruie. Ek sou WRAGTIG nie hierdie keer druip nie!! Nie as ek dit kon verhelp nie. Terug by die toetssentrum het die Oom sy sommetjies gaan maak en met die wonderlike nuus vorendag gekom: "It's a PASS". Ek het daai stuurwiel so geklou dat ek hierdie keer nie eens een fout in die "C" (Control) kolom gehad het nie - waar ek laas omtrent al 25 verkeerd gehad het.

Ek het hierdie keer die presiese roete wat die toetsbeampte my op geneem het met my Garmin GPS opgeneem sodat julle dit kan volg op die kaart as julle wou. My raad aan julle is om elke aanwysing wat die beampte gee op sy eie te hanteer. Vergeet van die dele wat jy reeds afgelê het en ook hoeveel dele nog oorbly en hanteer elke deeltjie van die pad op 'n slag - dan is die taak minder intimiderend.


View Larger Map

Weereens het hulle 'n foto geneem - maar hierdie keer was dit nie weer 'n "op-die-tande-kners-want-ek-is-nou-so-vrek-teleurgesteld glimlag" nie, maar hierdie keer kon ek daai beampte omtrent soen.

Waar die leerlinglisensie groen en die Provisional lisensie rooi is, is die "FULL" lisensie geel. Ek het die foto, die handtekening en die persoonlike inligting soos die adres verwyder:

Wanneer mens die lisensiekaartjie so bietjie draai, dan verskyn daar hologramme van die Australiese wapenskild oor jou foto en 'n kaart van NSW in die middel:

Hierdie lisensie kos $142 en is geldig vir 5 jaar, wanneer mens weer moet gaan vir 'n oogtoets.
Omdat ek meer as 3 jaar al 'n Suid Afrikaanse lisensie gehad het, het ek 'n onbeperke lisensie gekry, maar as jy nie jou SA lisensie kan wys nie, kry jy 'n P-lisensie.

Nou ja - maar uiteindelik het ek nou 'n vol lisensie en nou kan dinge weer na normaal terugkeer.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings