Tuesday, February 10, 2009

Hoe vlug 'n mens voor 'n muur van vuur wat teen die spoed van 'n goederetrein oppad is na jou huis?

Hoe vlug 'n mens voor 'n skrikwekkende muur van vuur wat teen die spoed van 'n goederetrein oppad is na jou huis? Dieselfde vuur wat net minute gelede nog op die horison was....

Die onstellende spoed waarteen die muur van vlamme hele dorpe in Victoria verswelg het, is waarskynlik die rede waarom meer as 181 mense tot op hierdie stadium oorlede is in die ergste bosbrande in Australië se geskiedenis. Groot getalle mense is binne in hul huise en selfs in hul motors doodgebrand omdat hulle eenvoudig nie vinnig genoeg kon vlug voor hierdie vlammehel nie. Families van tot 6 is op een slag dood in hul motors. Heeltemal onkant betrap.




Daar is steeds vure wat woed. 'n Gebied van meer as 3500 vierkante kilometer is tot kole verbrand, meer as 770 woonhuise is vernietig : 770 families het alles verloor en na ramings kan tot meer as 250 mense uiteindelik gesterf het.

Hier is 'n kaart van die gebied wat geraak is.

Gaan lees bietjie hierdie persoon se storie van oorlewing.

Daar is vele sulke stories - wat nogal 'n aanduiding is van die omvang van hierdie mense-slagting. In sommige dorpe soos Kinglake is feitlik die hele dorp en omgewing uitgewis (550 huise). Hierdie mense het niks oor nie. Hulle kan nie eens wys wie hulle is nie - alle vorms van dokumentasie of selfs geld moes agtergelaat word - hulle het NET met hule lewens daarvan afgekom...maar vele het nie. In die geskarrel om te vlug is baie deur takke en bome wat omgeval het vasgekeer en motors het in die rook en vlamme van die pad af gery en ongelukke gemaak.

Lees ook hierdie berig in Melbourne se koerant The Age.

In al die koerante is dit die hoofberig.
Dit is veroorsaak deur 'n sameloop van baie warm klimaat en moontlik brandstigting.
Hierdie tragedie kom op dieselfde tyd wat daar ook vloede in Queensland is.

Kyk bietjie na die volgende foto video, let veral op die ysingswekkende muur van vlamme:


Hier is nog 'n video:


Indien dit wel veroorsaak was deur brandstigting...hoe leef daardie persoon met hom saam, met iets wat die eerste minister Kevin Rudd as Massamoord bestempel?



Mense in Australië kan aanlyn kredietkaart donasies maak aan onder andere die Salvos (Salvation Army) se 'Appeal' vir die Victoria Bosbrande. Die geld gaan die mense in die krisis help om hul lewens vanuit die as te herbou. Inligting oor hoe om by te dra kan ook by die Rooikruis se webtuiste verkry word. Daar word reeds berig dat daar hulp instroom van regoor Australië - die land se mense se reaksie op die hulpoproepe was sover oorweldigend!

1 comment:

  1. Dit is verskriklik. Ek hoor hulle vermoed van die vure was aspris gestig. Ek hoop hulle vang daai bliksems.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings