Thursday, July 17, 2008

Vat jou goed en trek Ferreira

Julle het seker al begin wonder wat van die Rustige Swerwer geword het, siende dat ek so skaars geword het soos mieliepap in Australië. Wel, ek sit nou weer hier in 'n ander huis en tik hierdie blog. Na 'n jaar se bly in ons ou "cosy" huisie, het ons uiteindelik in 'n meer permanente huurhuis in Castle Hill ingetrek. Ons soek nou al 'n geruime tyd (ten minste 3 maande) na nuwe akkommodasie, omdat ons 'n voëltjie hoor fluit het dat die eienaar van die huis waarin ons was van plan was om die huis in die mark te sit. Die rentekoerse knyp hom seker te veel. Dis nie maklik om hier in Oz 'n huis te huur te kry nie, want die huurders sak soos vlieë toe op die plekke en dan staan jy maar soos kiepie en wag jou beurt af. Jy moet ook eers gekeur word, en die agentskap omtrent alles van jou salariskontrak, maande se bankstate en amper 'n getuigskrif by jou skoolhoof kry...

Wel, ons was baie gelukkig, ons vriende sien toe mos die ander dag dat hulle bure besig is om uit te trek. Sonder om gras onder hul voete te laat groei gaan vis hulle toe uit of die eienaar die plek weer gaan verhuur - Jip! Hy wil dit weer verhuur. So kom dit toe dat my vrou die dag met die boer (hy is 'n Skot van Bowral se omgewing wat met 'n Chinees getroud is en nou buite die stad op 'n plaas boer) bietjie gaan onderhandel oor die prys oor 'n koppie tee. So kom dit toe nou dat ons die hele kaboedel voornemende huurders 'n rat voor die oë draai en sommer direk gaan pellie-pellie met die eienaar. Hy was juis hard aan die werskaf by die huis om die haelskade van laasjaar te herstel, toe hy uitgenooi word om daardie aand saam met 'n hele klomp van ons Suid Afrikaners 'n lekker egte Afrikaanse braai by te woon met mieliepap, skaaptjops en lekker Rump steak met suurlemoenpeper. En het ons nou vir jou daardie aand gekuier. Oor alles en nog wat gesels. Hy bied toe sommer aan dat ons klomp op groot maat by hom kan vleis bestel, dan sal hy dit vir ons van sy plaas af laat bring - nadat hy dit by die slaghuis laat opsny het. So kom dit toe nou al dat hy my aanspreek op my bynaam as ons oor die telefoon gesels. Saterdag oggend het ons by die agentskap vir 3 jaar 'n kontrak gaan teken het op die huis. Die wonderlikste is dat die huis stapafstand van die skool is asook op die busroete is.

Hier in Oz trek 'n mens deur 'n paar van jou beste "mates" te kry om jou te kom help trek. Ons het 'n 10 ton trok en 2 manne gehuur teen $150 per uur en saam met 3 Suid-Afrikaanse "maters" het ons binne 2 ure 'n 3 slaapkamer huis uitgedra, op 'n trok gelaai, en weer ingedra...my spiere is nou nog moeg. Gelukkig DV is dit nou die laaste trek vir 'n paar jaar - dit is swaar op 'n mens se beursie en op jou lyf. Terwyl ons getrek het was die kinders omtrent uit hul velle uit - want ons trek mos nou REG langs ons jarelange vriende in - ons is nou letterlik BURE, 11000 km weg van waar ons begin het voor enige van ons 4 nog getroud was. Ek dink die Italianers (soos hulle vir my geklink het...of dalk Portugese het hulle seker verwonder aan die lawaaierige spul wat so luidrugtig trek) Na die tyd het ons natuurlik weer 'n ou vleisie op die vuur gegooi - hoe dan anders.

Verwysende na die liedjie "Vat jou goed en trek, Ferreira"...In Anton Prinsloo se boek lees ek vandag wat die herkoms was van die liedjie...dit kom uit "Die Boervrou" van 1926:
"Mev. Annie Molonie was die skryfster van die liedjie 'Vat jou goed en trek Ferreira'. Sy was die moeder van 20 kinders en was die eerste vrou wat saans by feestelikhede in Johannesburg klavier gespeel het. Toe sy in Suid Afrika aangekom het, was sy tuis by 'n ryk boer in die distrik: Somerset-Oos, 'n mnr. Van Aardt.

Langsaan Van Aardt het 'n Ferreira gewoon met die bynaam Hoepelbeen (omdat sy een been korter as die ander was). Van Aardt het Ferreira se plaas vir kontant gekoop, maar kon hom nie beweeg om die plaas te verlaat nie. Dit was later die grap van die buurt en 'n verleentheid vir die nuwe eienaar.

Toe het Annie Molonie en Ada van Aardt (die dogter van die ryk boer) 'n plan gemaak:
Ada het die woorde van 'Vat jou goed en trek, Ferreira' geskryf, en mev. Malonie het dit getoonset. Toe nooi hulle die hele buurt na 'n dans - en Ferreira was ook daar.
Mev. Malonie het die liedjie gesing, en naderhand het almal saamgesing, wel wetende waarop dit sinspeel.

Hoepelbeen Ferreira was woedend en het die dans verlaat. Die volgende dag was daar net stofwolke soos Ferreira besig was om op te pak - gedwing om van die plaas wat hy reeds verkoop het, pad te gee deur die' einste liedjie waarin sy naam verewig is."

Nou ja, soos julle teen hierdie tyd al agtergekom het...is ons Internet ook al gekoppel. Ek het nou "Cable". Dit werk deur 'n antennadraad tot by jou huis.

Verder werk ek steeds hard...ek moet, want huur is nie perdekoop nie. Nou is ek moeg, dis nou 23h21 en ek wil gaan inkruip...

5 comments:

  1. Rustige Swerwer,
    ja nee gewonder wat van julle geword het. Ons is amper in dieselfde bootjie as julle ook nou 'n jaar in Aus. Hernu toe ook die huurkontrak maar vir nog 'n jaar aangesien ons residence nog nie deur is nie, hulle het by my man se werk 'n issue gehad om al die manne se kwalifikasies te kan vergelyk met hulle aussie standaarde (lang storie). Wel kry toe die nuwe kontrak en daar gaan die weeklikse huur sommer met 18% op, verregaande. Dan dink mens ook om eerder daai geld op jou huis te wil betaal en nie die aussies wat twee en meer properties het te verryk nie, seker lelik van ons ne?

    My sus hulle is mos in Albany nou so 6 maande gister bel sy my in trane, hulle het by haar huis ingebreek. Ons vermoed dis tieners wat verveeld was in die skoolvakansie. Nie lekker nie, ek praat vanoggend met haar, die kinders het nie deurgeslaap nie.

    Wel van ons kant af hier in WA, wens ons julle al sterkte toe in die nuwe huis en hoop julle is gelukkig daar, bly om te hoor dat dit goed gaan met julle en dat julle sulke wonderlike vriende het, dis baie om voor dankbaar te wees. Hoe het loukie sy nuwe omgewing aanvaar?

    ReplyDelete
  2. Danke vir jou kommentaar. Ja nee, as mens dit so uitwerk het ons huur met 28% gestyg (maar ek moet sê...die nuwe huis is amper 2 keer so groot). Dit gaan mens enigiets van $2400 tot $3800 per maand kos om huis te koop...dit beteken dit kos amper 2 keer soveel per maand om te koop as om te huur. Daai probleem moet ek nog 'n antwoord voor kry.

    Loukie het baie goed aangepas. Hy het nou 'n lekker agterwef om in rond te hardloop - is omtrent uit sy vel. Aanvanklik was hy bietjie bang vir die trappe, maar nou is hy OK.

    Sterkte met julle PR.

    ReplyDelete
  3. Hi,

    Bly julle is gelukkig in die nuwe huis ... en reg langs julle vriende! Nice!

    Sit bietjie 'n foto of twee op van julle nuwe woning.

    Ons vlieg Januarie Brisbane toe, uiteindelik!

    Groete,
    Linda

    ReplyDelete
  4. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete
  5. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings