Sunday, November 02, 2008

Sokkiejol in Sydney

Nou ja, so kom nog 'n naweek op sy einde. Hier in Sydney waardeer ons die lekker rus saam met ons familie en kuiers saam vriende so baie elke naweek, want in die week is dit skouer aan die wiel sit, want mens werk hard vir jou brood en botter.

Vrydag was 'n snikhete dag...die kwik het tot 'n hete 36 grade celcius hier in Sydney gestyg...darem net bly ek was in 'n lugverkoelde kantoor.

Saterdagaand was dit toe mos die Sokkiejol wat deur die Sydney Reformed Church gereël is, waarvan ek reeds voorheen geskryf het. Weet nie presies hoeveel Suid Afrikaanse mense daar was nie, maar daar was baie. Indien enigiemand, wat weet hoeveel, hier lees...laat gerus 'n "comment" en vertel ons. Al wat ek gehoor het is dat die kaartjies reeds uitverkoop was en baie ongelukkige laatslapers dit nie kon bywoon nie.

Dit het geloop tussen 19h00 en middernag en vroegaand het die nuwe geslag jong seuns al by die braaivleisvuur gestaan en lekker boerewors gebraai wat almal saam met 'n worsbroodjie geëet het. Met "regte boerewors", nie hierdie funny Aussie wors waarvan geen mens die inhoud kan uitmaak of in jou lyf kan kry nie.

Ons het heelwat ou bekendes gesien, maar ook bekende gesigte van mense wat ons nie ken nie....ek het iemand gesien saam met wie ek al meer as 'n jaar trein-ry elke dag, sonder om te weet dat die persoon ook Afrikaans is...ons lyk mos so baie soos Aussies mens kan nie die verskil sien nie. Toe hoor ek daardie persoon is familie van iemand anders wat ons al 'n rukkie ken...so is ons almal op een of ander manier verbind.

In elk geval...verskoon die swak kwaliteit videos, maar dit was maar bra donker in die saal. Ek het so 2 uittreksels van die sokkie afgeneem, waar tipiese Afrikaanse sokkie musiek gespeel is, van Meisie Meisie, Living next door to Alice, Osbraai op Kromdraai tot Waterloo van ABBA en Liefling van Ge Korsten. Die dansbaan was so vol, dit het amper gevoel of mens parkeerplek soek by die stampkarretjies van die Pretoria skou.





Baie pa's het ook met hul dogtertjies gedans, en seuns met hul ma's. Ons was van die bittereinders en het die beste gebruik gemaak van elke liedjie...want mens weet nie wanneer jy weer so 'n geleentheid gaan raakloop nie. Vanoggend het ek wakkergeword met my eie bene vir iemand anders s'n omgeruil....iemand wat in 'n fietsongeluk was...





In elk geval, dit was baie lekker.....nogmaals dank aan die feeskommitee. Ons laaste sokkie was nog die een by die Rooihuiskraal feesterrein wat ons buurman Andre' gereël het. Wens jy was hier.

Hier is so 'n paar sonsondergang fotos wat ek Vrydagaand hier in Castle Hill geneem het. Dit was toe half agt in die aand.




Groete...en lekker week vir julle almal !


No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings