Saturday, April 26, 2008

Saterdag by die strand

Na 2 weke se onophoudelike reën, was dit Saterdag 'n heerlike sonskyn dag. Dus het ons besluit om bietjie te gaan kyk hoe lyk Dee Why strand net noord van Curl Curl. Die hoofstraat van Dee Why word hoeka "The Strand" genoem. Ons het die fietse op die fietsrak gelaai en ek het my Rollerblades saamgevat, want ek het op Google Earth gesien daar is heerlike paadjies langs die strand waar ons kon gaan ry as 'n gesin. Ek het ook vir ons 'n termofles saamgevat vir 'n lekker koffietjie so net voor sononder.

Hier is vir julle 'n paar videos van wat ons daar gesien en gehoor het...


video

Mens kan van die hoofstraat al die pad met die paadjies ry tot by die strand.

video

Daar het 'n heerlike gesellige atmosfeer geheers. Plek plek het mense saam met hul kinders op die gras gesit. Op een plek het 2 meisies vir mekaar 'n baseball heen en weer gegooi en met bofbalhandskoene gevang. Ou mense het saam met hul kleinkinders gestap. Een verliefde paartjie het mekaar in die see ingedra en met water natgegooi. Mense het in die herfs-son gelê en bak op die sand.

Hier is vir julle ook bietjie fotos van die dag...


Hier is die GROTER SKYFIEVERTONING.

Ek wens ek kon julle laat ervaar wat mens sien, hoor, ruik en proe hoe dit hier is. Nou doen ek dit maar op soveel as moontlik verskillende media. Ons het vir ons by een van die straatkafees langs die "boardwalk" van die strand lekker vars vis en tjips gekoop en sommer net daar geëet terwyl ons vir die see gesit en kyk het. Dit was 'n betreklik windstil dag, maar tog kon ons die vars soutreuk van die seesproei inasem.

Ek het ook vir julle 'n kort video van 'n swart kraai geneem. Hulle is baiemaal ook in die bome by ons huis en klink soms kompleet soos kinders wat huil.


video

Daarna is ons na Pearl Beach, waar uittreksels van die gewilde sepie Home & Away ook geskiet word. Ons het verby Whale Beach gery, vanwaar mens op West Head kyk waaroor ek al voorheen geskryf het hier en hier van die paradys by die see. Die Barrenjoey Head en West head kyk direk op mekaar. Van West Head af kan mens weer die vuurtoring sien wat ek Saterdag afgeneem het.

Mens kan ook tussen die plantegroei langs die strand gaan stap tot by die strandmeer aan die ander kant van die "eiland". Die paadjie lei teen die koppie op tot by die vuurtoring. Die kinders het teen die duine afgegly en ons het net na sononder teruggery huistoe.

Friday, April 25, 2008

Is dit die moeite werd om alles te los en Australië toe te kom?

Hallo julle almal. Dankie dat julle my blog lees. Ek hoop dat ek op my ou klein manier die besluit in jul lewe oor Australië makliker kan maak. Julle sal my seker nie glo as ek vir julle sou vertel hoeveel mense my kontak omdat hulle voor dieselfde besluit te staan kom as wat ek moes maak so twee jaar gelede nie. Net sedert Desember verlede jaar (2007) het ten minste 26 mense my al gekontak om uit te vind oor die lewe hier in Oz. Vandat ek my blog begin het is daar al 86 mense wat dit of dat wou weet oor Australië. In sommige weke het tot 3 nuwe mense my gekontak omdat hulle in dieselfde bootjie sit en nie weet of hulle moet uitklim en maar op die water begin loop nie. En dit is maar net die mense wat ek deur die blog ontmoet. Dan is daar nog heelparty wat my kontak wat eens op 'n tyd saam met my op skool was, saam op Universiteit was, of saam in 'n selgroep was. Ek weet ook van ten minste 4 gesinne van nefies en niggies of nader familie wat ook in die proses is.

Almal worstel met dieselfde vraag: Was dit die moeite werd om te emigreer?

Ek kan onomwonde sê: Dit was beslis.

Julle mag nie met al my redes en oortuigings saamstem nie, maar dit is dan ook waaroor hierdie blog se titel gaan: Vat alles met 'n knippie sout. Kliek op daai "X" in die regterkanste hoek as jy nie saamstem nie. Maar, ek probeer om eerlik en uit my hart uit te skryf net soos ek voel omdat daar so baie is wat my al oor hierdie saak geraadpleeg het. Ek is nie 'n ekspert nie, ek skryf maar net wat ek sien en waarneem.

  • Eerstens, vir die eerste keer het ek weer hoop vir ons kinders se toekoms. Ek het regtigwaar bekommerd begin raak in Suid Afrika oor wat van hulle gaan word as hulle, (wat oor nie so lank nie, tieners gaan wees) eendag die skool verlaat. Ons sou nooit in Suid Afrika privaat skoolonderrig vir hulle kon gee nie, dit was eenvoudig te duur. Tog is dit amper 'n noodsaaklikheid in SA. Die skole soos Cornwall Hill was ons kinders nie beskore nie. Maar tog was die skool waarin hulle sou moes wees, Bakenkop Laerskool en Swartkop Hoërskool baie goeie skole met toegewyde onderwysers. Maar oral kon mens alreeds die krake sien verskyn in die onderwysstelsel. Al hoe minder geld is beskikbaar gestel vir die Model C skole en die skoolgelde het al hoe duurder en duurder begin word en die skole het al hoe meer noustrop begin trek. Die powere bevondsing van skole en die patetiese salarisse wat goeie toegewyde onderwysers betaal is, het gemaak dat al hoe minder mense onderwys as hul beroepe gekies het en die grootskaalse tekort aan opgeleide Wiskunde en Wetenskap onderwysers het my regtig bekommerd gemaak. Ek meen, toe ek in Standard nege was, moes ons ook meeste van die jaar sonder 'n Wetenskap onnie klaarkom omdat hulle toentertyd al so skaars was - wat nog te sê in die "nuwe Suid Afrika". Dit is 'n skande hoe onbelangrik die mense met die belangrikste bydra aan die toekoms van 'n land geag word. Hulle word net gesien as "resources" van wie die salarisse maar deur die bank bevries kan word. Ek het myself die vraag gevra: Sê maar nou net my kinders doen uitstekend op skool, kry altyd volpunte en werk hard. Wat is die kans dat hulle ooit 'n beurs sou kon kry soos ek? (ek kan net noem dat ek al my voorgraadse en nagraadse Ingenieursstudies studies verniet gekry het...met komplimente van Krygkor en Telkom - nogmaals dankie). Selfs al sou ek vir hulle studies betaal, wat is die kans dat hulle ooit op 'n gelyke vlak in die werksmark behandel sou word, selfs al sou hulle 5 keer so hard werk en 10 keer slimmer is as hulle swart (on)ewekniee. (Ek oordryf net om die punt te maak). Hulle, wat nie eens weet van die verlede nie, sou vir die res van hulle lewe boet vir iets waarvan hulle nie eens geweet het nie. Wat nog te sê van die idee dat my 18 jarige kinders blootgestel sou moes word aan die geweld by die kampusse saam met mense met bitter min of geen respek vir gesag of selfs die lewens van mense nie.
    Toe ek op Universiteit was was dit al 'n gevaarlike plek vir 'n meisie by die Jool met sy baie dronk immorele studente, wat nog te sê 'n klomp wat glo hulle kan maak NET wat hulle wil omdat hulle kwansuis voorheen benadeel was en nou verwag dat alles in die lewe in hul skoot moet val - "kry my tog jammer, ARME EK" is hul hele lewensuitkyk. Nee wat, ek kom myself net glad nie indink hoe daar vir hulle meer 'n toekoms in Suid Afrika kon wees nie. Ek moes eenvoudig, ter wille van hulle, my eie gemak in die sak steek en uit my gemaksone klim.
  • Beide my twee liefling kinders is nou hier in Castle Hill in 'n publieke laerskool ingeskryf. Die onderwysers is toegewyd en die skool is na my eie mening net so goed soos skole soos "Cornwall Hill" (of wat hulle ook al hulle al daardie POSH skole in SA noem ). Ons betaal nie skoolgeld nie en meeste van die skooluitstappies word hoofsaaklik deur die skole bevonds. As mens nie permanente verblyfreg in NSW het nie, moet jy $4500 per kind per jaar opdok vir die voorreg om jou kinders in 'n staatskool te plaas ($9000 => R5625 per maand vir 2 kinders) . Dit is dus nie goedkoop skoolopleiding wat jy verniet kry nie. Wat die klasgroottes betref word kinders in Kindy (Gr 0) beperk to onder 20 per klas, en in year 1 tot onder 25. Vanaf Year 2 en op is die klas getalle selde groter as 30 kinders per klas. Jy word verplig om jou kinders in 'n skool te plaas in die area waar jy bly - skole word dus ook nie oorlaai nie en daar word deeglik begroot vir elke kind. Die akademiese standaard is baie hoog. Kinders begin alreeds in hul eerste skooljaar lees en daar is baie klem op vakke soos Wiskunde en Wetenskap, maar ook geskiedenis. My 9 jarige seun kan al "speeches" gee oor die eerste vloot skepe wat hier in Sydney aangekom het en hulle gaan ook op uitstappies na plekke waar Captain Cook hier aangeland het in Oz. Kinders word hanteer volgens hul ouderdom. My seun het volgens sy ouderdomsgroep laasjaar in Year 3 begin (waar hy in SA in Graad 2 was). Hy is nou in Year 4, en my dogter in Year 1. Die skool het spesiaal vir my dogter by "Reading Recovery" ingeskryf. Reading Recovery is 'n gespesialiseerde intensiewe leesprogram wat deur 'n professionele persoon aangebied word. Sy gaan sit elke dag een tot een met ons kind vir 30 minute en bied hierdie gespesialiseerde leesprogram vir haar aan, om haar te help opvang met haar lees en taal vermoëns. Omdat hierdie gespesialiseerde leesprogram die skool baie geld uit die sak jaag (ons as ouers betaal nie 'n sent nie), word dit baie selektief aan kinders vanaf year 1 aangebied. Hulle pak dus die bul by die horings so gou as moontlik. Dan is daar ook 'n ander program genaamd "ESL", "English as a second language", wat vir al die kinders waar Engels nie hulle huistaal is nie, aangebied word. Afhangend van jou kind se Engelse vermoëns word jou kind 1 tot 2 maal per week "English support" aangebied. Dis ongelooflik hoeveel moeite hulle hier met die kinders doen. Dis na my mening wêreldklas onderrig wat ek hulle nie in Suid Afrika kon bied nie - en dis ingesluit by ons belasting.
  • Daarbenewens doen beide my kinders nou swem en my dogtertjie doen ook ballet - sonder om die bank te breek, want dit is nie buitensporig duur nie.
  • Ons bly nou in 'n eerstewêreld land. Hier is tegnologiese vooruitgang. Infrastruktuur verbeter. Hulle praat van gratis Internet in die CBD van Sydney. Ek het nooit besef wat 'n land kan bereik as dinge in stand gehou en heeltyd verbeter word nie - in plaas van om dit maar net tot niet te laat gaan omdat jy te lui of te dom of te gulsig is om die geld te spandeer op die landsburgers wat jou in bewind geplaas het nie. Moenie toelaat dat die sogenaamde 3e wêreld julle tot hul vlak aftrek nie - dis net 'n verskoning vir luiheid en 'n bedelaar mentaliteit.
  • En glo my, die Aussie mense is nie skaam om te werk of te studeer nie. Mense werk hard, al is sommige ook 'n "battler", maar elkeen kry sy "fair go" op 'n beter toekoms. Al kom jy ook van oorsee.
  • Daar is nie minder as 39 Universiteite in Australie:
    Australian Catholic University [ACU]
    Australian National University [ANU]
    Bond University [Bond]
    Central Queensland University [CQU]
    Charles Darwin University [CDU]
    Charles Sturt University [CSU]
    Curtin University of Technology [CURTIN]
    Deakin University [Deakin]
    Edith Cowan University [ECU]
    Flinders University [FLINDERS]
    Griffith University [GRIFFITH]
    James Cook University [JCU]
    La Trobe University [LA TROBE]
    Macquarie University [MACQUARIE]
    Monash University [MONASH]
    Murdoch University [MURDOCH]
    Queensland University of Technology [QUT]
    RMIT University [RMIT]
    Southern Cross University [SCU]
    Swinburne University of Technology [SWINBURNE]
    University of Adelaide [ADELAIDE]
    University of Ballarat [BALLARAT]
    University of Canberra [CANBERRA]
    University of Melbourne [MELBOURNE]
    University of New England [UNE]
    University of New South Wales [UNSW]
    University of Newcastle [NEWCASTLE]
    University of Notre Dame Australia - The [UNDA]
    University of Queensland [QUEENSLAND]
    University of South Australia [UniSA]
    University of Southern Queensland [USQ]
    University of Sydney [SYDNEY]
    University of Tasmania [TASMANIA]
    University of Technology Sydney [UTS]
    University of the Sunshine Coast [USC]
    University of Western Australia [UWA]
    University of Western Sydney [UWS]
    University of Wollongong [UOW]
    Victoria University [VU]

    Met ander woorde: daar is volop geleenthede vir kinders om na skool te gaan leer aan respektabele instellings. Dit sluit nie eens al die baie colleges en privaat instansies in nie!

    Watter hoop is daar vir die klein groepie Universiteite in SA, waar die infrastruktuur reeds gebuk gaan aan 'n horde woedende studente wat "demand" om alles op 'n skinkbord te kry. Soos deur voetganger sprinkane word die bietjie wat daar oor is nou ook kaalgestroop. Moenie dink daar sal nuwes gebou word nie, nee, die bestaandes word eerder oorlaai en dan ook onder-bevonds, want onderwys is mos nie prioriteit nie en hoekom sal mens nou hard werk as jy kan steel?
  • Ten spyte van die feit dat sommige paaie in Oz (veral in die outback en op sommige paaie wat baie gebruik word) ook maar gehawend raak, word daar ten minste hier onderhoudswerk gedoen op dit en word jy nie oorgelewer aan gehawende paaie nie. Die padsterfes in Oz is orde groottes laer as in Suid Afrika. My beskeie mening is omdat daar nog 'n respek vir lewe is hier en die wetstoepassing streng is. Ek is nou nog soms verbaas as ek sien hoe getrou mense hier by die spoedbeperkings en padreëls hou. Mens voel werklikwaar veiliger op die pad.
  • Publieke vervoer is wonderlik. Jy klim net op die trein waarvan daar elke 15 minute een is en binne 'n japtrap is jy naby jou werk.
  • Ek was regtigwaar nog nie by enige staatsinstansie hier waar die diens swak is nie. Mense is trots op hul werk en volg die reëls tot op die letter. Diens is meeste van die tyd flink en professioneel. Om van 'n onbetroubare en onbekwame staatsamptenaar iets in SA te verwag kan mens teen die mure uitdryf - want hulle gee eenvoudig nie om nie. Wel, goeie nuus - al daardie dae van wag vir my motorlisensie hernuwe, swak diens by die binnelandse sake en patetiese onbeholpenheid as jy op die telefoon gehelp moet word is nou iets van die verlede. Dit is net "smooth sailing".
  • Ons ken werklikwaar nie kragonderbrekings hier nie. Hier is 'n paar "power companies" om van te kies en te keur en die koste van elektrisiteit en selfs gastoevoer tot by jou huis is nie so duur nie. Wat 'n vreugde as dinge net werk.
  • Ons familie doen nou al 'n jaar lank ons eie wasgoed, was ons eie vloere, ek stryk my eie klere en ons suig ons eie stof uit ons matte, ons maak ons eie beddens op, vat ons eie vullis uit en pak ons eie skottelgoed in en uit ons skottelgoedwasser, ons hang ons eie klere op die draad en pak ons eie klere in ons kas, ons tel ons eie handdoeke op agter ons en ons krap ons eie borde uit in ons asblik - en ek kan werklikwaar sê - dit doen ons goed, want ons is nou vir die eerste keer 'n normale familie. Ons het nie meer goedkoop arbeid wat in ons huis werk of in ons tuin werk nie. Goedkoop slawearbeid is iets van die verlede. En as mens iets soek....raai net waar kry jy dit: net waar jy dit neergesit het!
  • Omdat mens genoodsaak is om so op mekaar te steun, besef jy jou vrou is 'n baie kosbare geskenk, en mens leer om mekaar weer te waardeer. Jy bly nie lank kwaad vir mekaar nie en jy probeer om mekaar sagkens te behandel, want nog so iemand wat by jou pas is so skaars soos pêrels. Ek kan regtig eerlikwaar sê dat ons nou 'n hegter familie as in Suid Afrika is. Ons besef weer wat die belangrikste in die lewe is en eet elke aand saam aan die tafel. Ons vra mekaar uit oor ons dag en praat met ons kinders oor hul skooldag. Waar ons beide in SA moes werk, werk my vrou hier net een dag van die week....en ok net omdat ons wil spaar om eendag in SA te kom kuier.
  • Ons gaan stap baiemaal saam met die hond om die blok of in een van die BAIE parke hier, of selfs in die woud net so entjie af in die straat. Selfs tot na 10 uur in die aand het ek al saam met my dogtertjie in die koel aandluggie gestap. Soms gaan ek saam met Markus na die sokkerveld hier naby en dan skop ons vir mekaar bal of speel krieket. Ek "rollerblade" saam met my kinders hier voor die huis en hulle ry op hul skopfietse. Baiemaal laai ons die fietse op die fietsrak en ry sommer na een van die baie parke soos Centennial of Olympic Park en dan gaan ry ons daar fiets op 'n Sondag middag. Daar is ook baie bos staproetes net 'n hanetreetjie van ons af. Ons het al 'n paar keer sommer met 'n pieknieksak op die rug en 'n koffiefles saam met ons vriende so 'n staproetetjie gedoen deur die baie Eucalyptus woude hier rond. Daar is ook baie ander dinge om te doen, soos om op die strand te gaan baljaar tot 20h30 in die aand (in die somer). Die mense in Sydney doen baie meer buitelug dinge saam met hul families. Daar is heelwat open-air markte, opelug konserte, opelug flieks in die parke. Daar is 'n hele klomp waterparke wat onder dak is waar jy saam met die kinders kan gaan baljaar of selfs 'n kinderpartytjie hou. Meeste dinge is gratis en word goed versorg. Ons het nou onlangs 'n adventure partytjie gehou saam met 'n klomp aussie maatjies en heerlik saam met die kinders deur die woudpaadjies gaan stap en daarna het die kinders tog te lekker "rotten egg"/vrot-eier gespeel. Die rustige familielewe doen ons werklikwaar goed. Ek was in Suid Afrika party dae so gestres dat ek net my kinders se koppe wou afbyt as hulle net iets verkeerd doen - nou is ek weer normaal. Die lewe is lekker.
  • Wat my werk betref werk ek hard. Die mense hier verdien hul brood. Ek werk op baie interessante projekte en op die nuutste Microsoft C# tegnologie. Daar is so baie dinge wat my baas nog op my kerfstok het dat ek soos dit nou aangaan nooit sonder werk sal sit nie. Verveeld rondsit by die werk sal nie gebeur nie.
  • Die bankkostes hier is laag. Ek betaal $5 per maand vir onbeperkte transaksies. Net as ek by 'n ander bank se teller trek betaal ek meer. Die bank sien my nooit, want ek doen alles oor die Internet....selfs oorplasings na Suid Afrika, want hier voeg jy sommer oorsese begunstigdes by en plaas geld oor.
  • Kommunikasie kostes is goedkoop. Ek betaal huidiglik $100 vir: gratis lokale en nasionale oproepe vir so lank as wat my vrou wil praat, gratis oproepe na beide van ons selfone en alle ander Optus selfone. Dan kry ek daarby 20 Gig broadband ADSL2+ teen 3.5 Gbps. Ons selfone kos ons nie eens $30 per maand nie.
  • Alhoewel kos baie duur is hier, het ons nog nooit honger gely nie. Ons eet een keer per week wegneem etes en verder kry ons bykans alle produkte (of 'n plaasvervanger) wat ons in Suid Afrika gekoop het. Die groente en vrugte hier is van baie hoë kwaliteit en die melk word nie sommer suur die eerste dag nadat jy dit gekoop het nie. Ons hou ten minste een keer in 2 weke 'n braaivleis en ons eet gesond.
  • Ons praat nog net soveel Afrikaans hier as in Suid Afrika en in die dag praat ons Engels, ook net soos in Suid Afrika. Kan nou nie regtig sê ek mis ou Riaan Cruywagen se nuus nie, want hier is die nuus van baie hoë gehalte. Die beriggewing is goed en mense vat nie dinge as vanselfsprekend nie, maar maak 'n bohaai as hulle nie met iets saamstem nie.
  • Iets wat vir my weer baie lekker is, is die nasietrots wat ek hier ervaar. Aussies is vol hoop vir die toekoms en bewaar hul eie nalatenskap. Selfs oorlogsveterane van 63 jaar gelede word nog elke jaar vereer en elke maand met pensioen voor gesorg. Ins Suid Afrika was ek deel van 'n minderheid wat boggerol sê het in hoe sake staan. Hier is ek een van BAIE wat van regoor die wêreld gekom het vir 'n beter lewe. Hier is daar 'n regering wat darem aandag gee aan sy mense en hulle beste belange op die hals dra. Mens kom gou agter dat as jy jou kant bring, dan bring hulle hul kant. Byvoorbeeld...as die treine as gevolg van konstruksie nie loop nie, dan word daar gratis busdiens verskaf. As daar groot sportbyeenkomste of saamtrekke is, dan word daar busse verskaf wat mense van al die uithoeke van die stad aanry....selfs na die Grand Easter Show. Hoe lekker is dit tog nie om nie meer die sondebok te wees nie. Om nie meer vir alles die skuld te kry nie. Hier is ek een van die gewone mense. Nie beter as hulle nie, en ook nie slegter as hulle nie. Almal, ongeag van hul velkleur kry gelyke kanse. Die mense in Sydney is al jare gewoond aan die baie immigrante. Hulle sien hulle nie as 'n bedreiging nie, maar as 'n aanwins.
  • Daarby het ons land nou 'n jong nuutdenkende eerste minister. Hy spreek groot kwessies aan soos aardverwarming. Daar word voorsiening gemaak vir die toekoms - soos met 'n ontsoutingsaanleg wat nou in Sydney gebou word om vir die toekoms die stad minder kwesbaar te maak vir droogte. Al reën dit nou al die afgelope jaar asof dit nooit gaan op hou nie. Die Sydney Warramgamba dam is nou al meer as 65% vol.
  • Oor die gevoel van veiligheid kan ek net nie uitgepraat raak nie. Het ek al genoem ek kan nie uitgepraat raak daaroor nie? Wel, ek kan nie uitgepraat raak oor dit nie! Dis fantasties. Hoe wonderlik is dit om weer die vryheid van my kinderdae te kon terugkry! En om daarby dit ook aan my kinders te kan gee. Hier is ook misdaad in die "swakker" westelike gebiede. Meestal bende verwant of as gevolg van wraak tussen hulle. Daar is ook jongmense uit gebroke families wat "homeless" is. Daar is ook dwelms, en die doane asook die polisie veg ook daarteen. Maar van dit alles sien ons net op die TV. Hier is nie sprake van onbewaakte landsgrense nie, maar die doanepolisie hou alles wat in en uitkom in die land met valkoë dop en vang gereëld mense wat dwelms van Viëtnam, Maleisië, Suid Amerika en Thailand wil insmokkel. Jy kan dit nie vergelyk met die swak beheer wat op die grense van Suid Afrika plaasvind nie, wat nog te sê van die korrupsie by die lughawens se bagasie in Suid Afrika. Mense met 'n kriminele rekord sukkel ongelooflik om in die land in te kom - hulle pos gereeld mense op die eerste vlug terugvanwaar hulle gekom het (al wil hulle net vir 3 dae kom). (PS: kan dalk die rede wees waarom so min van SA se kabinet hier in Oz kom kuier)
  • Een groot rede waarom ek weg is uit Suid Afrika is omdat ek besef het dat beide die polisie en die regstelsel in Suid Afrika my en my familie nie sal kan beskerm teen die werklose moordadige jeugdige bendes wat op onskuldige mense toesak soos roofvoëls op hul prooi nie. Die polisie se hande is afgekap of hulle het self 'n vinger in die "pie". Ek kon nie aanhou om 'n private weermag (alias ADT en andere) ten duurste te huur om ons te probeer beskerm nie. Daar is GEEN, maar GEEN "edelheid" daarin om vir myself te sê ek bly in Suid Afrika ter will van my landsgenote, as ek in elk geval magteloos is om selfs my eie familie te kan beskerm om dan dalk nog soos 'n HOND vrek gemaak te word nadat ek dalk moes toekyk hoe my vrou voor my verkrag word ten aanskoue van 'n haatdraende spesie van die natuur wat genot daaruit put om mense te sien smeek vir hul lewe....net omdat hulle glo hulle kan doen net wat hul wil nie - hulle dag sal kom - daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande, waar hulle wurm nooit sterf en hul vuur nie uitgeblus word nie. Hieroor voel ek baie sterk. Hoekom moet ek in 'n Goddelose immorele land bly of so 'n regering met my swaarverdiende belastinggeld aanhou bevonds.
  • Mediese tegnologie hier in Oz is goed. Daar is ook swakker en beter hospitale. Mens moet maar nogsteeds privaat medies hê, maar dit nie te duur nie. Medicare, wat jy verniet kry betaal 'n groot deel aan jou terug.
  • Te midde van die wêreldwye resessie begin dit nou ook bietjie moeiliker hier in Oz gaan. Behalwe vir die feit dat ek nie sommer gou (of dalk enigsins) 'n huis sal kan bekostig nie, het die pryse van goedere nog nie juis baie gestyg hier nie. Die Australiese dollar styg nog deurentyd teenoor die Amerikaanse dollar en die ekonomie doen goed. Werkloosheid is baie laag. Daar is baie werksgeleenthede in my veld.
  • Ons het 'n paar baie goeie vriende. Mens besef die waarde van vrriedskap terdeë en jy probeer die ekstra myl loop vir jou vriende. Ons kyk na mekaar se kinders en ons help mekaar uit waar ons kan.
  • Behalwe vir die feit dat jy oor jou familie voel "WISH YOU WERE HERE", kom mens net elke keer tot dieselfde slotsom: ONS HET DIE REGTE BESLUIT GENEEM OM HIERNATOE TE KOM, al het dit ook bykans ALLES WAT ONS BESIT HET gekos om dit te kon verwesenlik was dit die moeite werd. Maar moenie dink dis maklik nie. In die eerste jaar verlang jy baie terug, soms wens jy jy kon net jou oë toemaak en jy is weer by jou familie. Vliegtuigkaartjies is duur. Dit sal vir ons byvoorbeeld goedkoper kos om 5 familielede hiernatoe te vlieg as vir ons 2 volwassenes en 2 kinders om in Suid Afrika te gaan kuier. En moenie dink jy kan sommer maklik gaan kuier nie, mens spaar lank vir 'n kaartjie. Al verdien jy dollars - alles kos ook dollars! Moenie hiernatoe kom as jy dink jy gaan vinnig ryk word nie! Jy kom hiernatoe as jy nie wil stadig arm word nie!
  • Mense - ek het SA liefgehad. Ek is steeds lief vir my taal. Maar SA behoort nie meer aan ons nie - die land is oorhandig, ons is die rug toegekeer, uitverkoop, heuning om die mond gesmeer en toe vir die wolwe gegooi.

Thursday, April 24, 2008

Hierso gaan dit nog goed

Hierdie is eintlik maar net 'n kort briefie om te sê: Dit gaan nog goed met ons.

Ek sien ek het al meer as 2 weke laas enigiets in besonder gehad om oor te skryf. Soms praat mens nie veel nie...jy luister net en jy neem waar. Amper soos 'n passasier op 'n trein. Jy sien hoe die lewe soos 'n toneel buite jou kompartement verbyflits. Kan julle glo, oor presies 'n maand is ons al 'n jaar hier in Australië. Tyd is 'n wonderlike ding - dit maak selfs die verste en mees onbekende plekke jou tuiste. Dit vat jou gevoel van vreemdelingskap en vervang dit met 'n gevoel dat jy nog altyd hier moes gewees het. Dit raak nou winter en soos in Koos du Plessis se liedjie Najaarsdroom "sterf" die somer en die herfsblare val.

Maar hier buite sterf die somer
en ek sien die blare val;
en iewers skyn die somerson
op die velde van Transvaal (Koos Dup)


Maar in Sydney se geval, verdrink die somer eerder, want ons het nou al vir die afgelope 12 dae bykans onophoudelike reën. Die kinders is by die huis, want dit is nog skoolvakansie, en more het ons 'n publieke vakansiedag om die dood van bykans 'n kwartmiljoen ANZAC (Australian and New Zealand Armed Corps) , te herdenk in die eerste wêreld oorlog - die eerste keer wat Suid Afrikaners saam met Aussies in 'n oorlog geveg het.

Maar niks verdryf die winterkoue beter as om Gloria Jeans Cafe vir jou 'n lekker koppie "Flat White" koffie te koop en lekker warm aangetrek te wees nie - gepantser teen die koue.

So...nie te veel nuus van hierdie kant af nie, behalwe dat ek so in my vrye tyd werk aan 'n punt-tot-punt roetebepalings aloritme vir navigasie sagteware vir my werk - baie interessant.

waar ons stil dae slyt, leef en droom
en swyend luister na die voetval van die tyd
teen skemeraand, as hoop weer fluister. (Koos Dup)


Hier is sommer 'n mooi foto van 'n klomp skulpe wat ek so rukkie terug by Cronulla strand afgeneem het.



Sunday, April 06, 2008

Die vistermanstorie

Nou die ander dag kry ons mos die lawwe bevlieging, siende dat ons mos nou by die see bly, om vir ons 'n visstok te koop om bietjie langs die see te gaan lyne en hoeke natmaak. Dit was nogal my vrou se idee. Haar oom het mos gereeld vir 'n visvang ekspedisie suidkus toe gegaan. Toe ons die laaste keer by die Suidkus in Suid Afrika was, het ons daar iemand ontmoet wat vir ons een van sy visse gegee het sodat ons dit vir ontbyt saam met lekker botter en suurlemoensous kon gaarmaak.


Kyk, wat ek nou van visvang weet is ontrent net dit wat ek op SURVIVOR gesien het - en dit was hoofsaaklik hoe om jou vislyne, hoeke en visstokke onder die water en tussen die rotse te verloor. Maar nou ja, wie nie waag nie wen nie. Hoe sal mens nou weet hoe dit voel om iets te doen as mens dit nie self probeer het nie?

So kom dit toe nou dat ek vir my 'n visstok en "tackle" by die viswinkel op die hoek gaan koop - saam met 'n hele sak bevrore prawns vir al die visse wat ek die volgende dag sou uittrek. Kyk, wat ek van visvang weet is omtrent net genoeg om nie die vishoeke deur my vingers te haak nie. Hoe dit ook al sy...die Sondagaand net voor die openbare vakansiedag wat ons hier gehad het op die Maandag, sit ek toe hier en vistermansknope oefen. En waar kry ek die inligting - net waar 'n respektabele IT ou dit moet kry....op die Internet met Google natuurlik. Dit help nogal as mens weet waar die sinker en die hoeke kom - en "Voor aan die lyn" is nou nie juis genoeg beskrywing om dit regtig te gaan doen nie. Ek besluit toe maar dat die sinker aan die punt moet kom en die hoek op 'n aparte "leader" lyn. Beide word dan aan 'n "swivel" vasgemaak wat help dat jou vislyn nie opwen nie. Hierdie gedoente noem mens 'n "rig". Ek het toe maar vir my so 3 of 4 hoek-swivel- en sinker kombinasies geprakseer en dit in my spiksplinternuwe visboks geprop - net reg vir die volgende dag se visvangsessie by die see. Ek het selfs 'n coolbox saamgeneem, want mens weet mos nie met watse knewels mens by die huis gaan aankom nie, en ek wil mos nie met warm vis by die huis aankom nie.

Intussen het vroulief solank die koffiefles en toebroodjies reggekry vir die volgende oggend se "piekniek" by die see. Want sien...die volgende more word daar baie vroeg opgestaan in hierdie familie wat normaalweg so bietjie sukkel om uit die bed op te staan. Ons het die wekker vir so 5 uur gestel, want teen 7 uur, wanneer die son sy skrefiesoë so oor die seewater uitsteek wou ons reeds by die viswaters wees.

Mens wil alles natuurlik wettiglik doen, so terwyl ek sit en vislyn "rigs" knoop met die "Trilene" knoop, om hoeke en sinkers aanmekaar te koppel, sit vroulief en doen navorsing oor waar mens kan registreer vir 'n vislisensie in NSW. Op die NSW Departement van Primere Industrieë se webtuiste van Vissery en Landbou kan mens alles lees oor die reëls wat betrekking het soutwater visvang.

Die eerste ding om te doen is om die Soutwater Visvanggids vir 2008 te bestudeer. Dit bevat 'n lys van al die soorte visse en wat die wettige beperkings is op die groottes van al die verskillende tipes vis. Mens kan alles lees oor die lisensiefooie as jy net wil visvang vir ontspanning. Dit kos $6 vir 'n 3 dag visvanglisensie, $12 vir 'n maand, $30 vir 'n jaar en $75 vir 'n drie jaar lisensie. Mens kan die lisensie sommer hier aanlyn met jou kredietkaart koop en dan die lisensie uitdruk op jou Printer. Sorg net dat jy die uitgedrukte lisensie by jou het....veral as jy WEL 'n vis uittrek...

Hier is 'n webtuiste wat al die soutwater visvangplekke naby Sydney aandui.

Dit was 'n baie aangename ontmoeting met die nuwe oggendson oor die see. Daar het niks wind gewaai nie en die warm strale van die opkomende son het sy vingers so deur mens se hare getrek.



Vol hoop en verwagting suiker ons toe af na Harbord strand, vol geloof en verwagting dat ons vandag gaan visse vang. Dit was 'n pragtige dag by die see. Ons het net Suid van Curl Curl strand plaas geneem (tussen Harbord en Curl Curl). Daar was reeds 2 vistermanne besig om hulle lyne nat te maak...of om aas vir die visse te voer, want ek het hulle niks visse sien uittrek nie. Ek het die ander vistermanne eers so gestaan en dophou en toe my eie "hand aan die ploeg geslaan".

Ek besluit toe ook maar om self so 'n paar prawns aan die lyn te kry en in te gooi. Skoonma in Suid Afrika het so ewe die vorige aand geskerts oor die telefoon en gesê ons moet miskien maar eerder die prawns gaarmaak dan sal ons ten minste bietjie seekos inkry. Maar so maklik laat ek nie myself afsit nie. Ons het sommer so op die rotse gestaan en ek het my eerste gooi gegooi. Maar helaas...geen sinker het soos 'n projektiel deur die lug getrek nie - die vislyn was nog om die hakie wat keer dit dit afrol - dit het eerder soos 'n slingervel gelyk. A-ha, nou sien ek hoe hierdie ding aanmekaarsteek...het ek by myself ge-prewel en die sinker met een fel "swoep" van my arm die diepsee ingeslinger. Bykans dadelik het dit gevoel of ek iets aan die lyn gehad. het. Naarstiglik het ek begin katrol....'n gevoel van opgewondenheid het in my begin opwel. Later het die katrol sommer so begin vluit, maar geen vis in sig nie. Toe ek my weer kon kry was ek in 'n worstelstryd met die rotse net so skuins onderkant my gewikkel...en nie een van ons twee (ek of die rots) wou bes gee nie. Ek het "geveg" om die eienaarskap van my hoeke en my sinker (waarnaan ek so hard gesit en knoop het), maar alles verniet. Die keer het die rotse gewen. Ek het toe maar soos 'n ou visterman my sakmes uitgepluk en die lyn afgesny om 'n ander een van my "rigs" aan die lyn te knoop. Weer het ek dit die dieptes in-geslinger, maar hierdie keer het ek so effe skeefgetrap in 'n holte in die rots en voor ek my kon kry het die prawn langs my op die grond gelê en verder ontdooi. Uiteindelik het ek die prawn weer aan die lyn gehad en weer probeer. Hierdie keer het ek die lyn so bietjie laat ronddryf in die water...maar hoe moet mens nou voel of daar 'n vis aan die lyn is as dit so slap is, toe trek ek dit maar weer in, maar toe haak dit weer vas...

Jy sien, ons het juis so vroeg gegaan omdat ons teen laagwater by die see wou wees. Die gety het teen hierdie tyd weer begin inkom en die golwe het so ietwat teen die rotse begin slaan sodat ek later so bietjie nat begin word het. Na nog so 'n paar visvoersessies en 4 "rigs" later het ek toe maar die aftog geblaas en besluit dit sal lekkerder wees om eerder 'n lekker koppie koffie langs die see op die strand te sit en geniet en ons toebroodjies te sit en eet.

Hierdie seevoëls het die petalje so op 'n afstand gesit en gadeslaan.


Iets wat my altyd opval van die NSW strande is hoe ongerep die plantegroei nog langs die strande is.
Ons het hier langs die gras gesit en kyk hoe tientalle mense met honde van elke vorm en soort vir hul stappie langs die strand gaan. Baie honde was nie eens aan 'n halsband aan nie en hardloop opgewonde saam met hulle base. Loukie was ook natuurlik saam op die visvangekspedisie.

Daar langs die strand kry mens dieselfde bome (wat soos kersfeesbome lyk) as wat ek al in Suid Afrikaanse tuine opgemerk het. Julle sal die volgende seker herken. Die bome maak sulke lang stringe.


Nog iets wat ek opgemerk het is die bome se besondere bas wat kompleet net soos koper lyk wat blink in die son.


Nou ja, die kinders het maar lekker saam met die hond baljaar op die strand en ons het so uur later teruggery huis toe om vir ons lekker ontbyt te gaan maak - sonder vis. Wel, ons weet nou ten minste hoe dit voel om by die viswaters te wees as die son opkom. En om te dink ek was so erg bekommerd of ek nie dalk 'n vis gaan vang wat nie die regte grootte is nie. Soms lag ek lekker vir myself en al my manewales. Nou sal ek maar vir my 'n "regte" vistermansvriend moet kry om my tou-wys, ek bedoel lyn-wys te maak.

Saturday, April 05, 2008

Aanhouer wen, en weer probeer is die beste geweer

Julle onthou seker dat ek so 'n wyle gelede gegaan het vir my motor leerlinglisensie se aapraaisel ("monkey puzzle") toets. Dit was so begin Februarie. Ek het daardie oggend sommer 'n afspraak gemaak vir 'n bestuurstoets op 26 Februarie. Dis mos wanneer een van daai streng Omies van die RTA weer SY beurt kry om 'n monkey-puzzle te sit en invul terwyl jy self sit en bloed sweet agter die stuurwiel. Wel, dinge verloop nou nie altyd volgens plan nie en soms gooi die lewe weer so 'n paar Jakkalsdraaie met jou agter in die dog-box. Dan moet jy maar net die stang vasbyt en deurdruk.

As mens mos op 'n tydelike VISA hier in Australië aanland kry jy die vergunning om met jou Suid Afrikaanse bestuurderslisensie op die paaie hier in New South Wales (NSW) te kan rondry. Hulle loop maar die risiko met jou op die pad, want hulle weet g'n stuk of jy nie dalk jou lisensie in 'n "Lucky Packet" gekry het en of jy dit "wettiglik" by 'n Suid Afrikaanse regeringsamptenaar gekoop het nie... Maar sodra jy PR kry moet jy soos al die nuwe immigrante deur die beesdip gaan.

Lank lank gelede op 4 Januarie 1991 toe ek nog nat agter die ore was, het ek die K53 bestuurstoets by die Waltloo toetssentrum in Pretoria afgelê. Ek was baie ingnome met myself, want dit het beteken ek kon met my skedonk van 'n 1100cc VW Golf gaan klasdraf by Tukkies, sonder om van iemand anders afhanklik te wees vir 'n "lift". Tot op daardie stadium het ek nog bus gery. Wel, nou baie jare later, in 'n land wat my soms baie herrinner aan die Ou Transvaal, staan ek toe WEER voor dieselfde beproewing-wat op 'n stadium gevoel het of dit net nie wil einde se kant toe staan nie. Maar dit is laaaang storie maats....en daarvan gaan ek vir julle nou 'n bietjie vertel.

Sien, vroeg in die oggend van 26 Februarie 2008, die dag van die bestuurstoets, is ek mos gestewel en gespoor vir die belangrike dag. Alles is vooraf sorgvuldig reggesit: paspoort, afspraak papiertjie, Suid Afrikaanse bestuurderslisensie, bewys van woonadres...nie baie om te onthou nie, so sou mens mos reken. Selfs die kar is gewas vir die groot afspraak... Gelukkig is dit 'n Saterdag oggend en dus het ek nie nodig gehad om verlof te neem by die werk nie. My vrou moet saam met my ry, want jy moet iemand met jou saamneem wat kan terugbestuur indien jy nie die paal haal nie. Daar word selfs fotos geneem....BEFORE AND AFTER jy weet. Hierdie is darem 'n geskiedkundige dag! Die rit na die RTA (Roads and Traffic Authority) neem sowat 30 minute: almal is in die kar behalwe die hond, want pa gaan mos vir sy 2e bestuurstoets. By die RTA aangekom kom ek egter met 'n skok agter dat ek net my SA bestuurderslisensie by my het!!! Dit kan nie wees nie! Met al die geharwar by die huis, asook die fotosessie, het ek mooitjies die res van die papiere by die huis op die tafel gelos. Vir wie moet ek kwaad wees - net myself.

So 'n lam gevoel van selfverwyt, hulpeloosheid en ongeloof begin hier van my kop deursyfer soos koue water wat op 'n rypwit dag hier by jou kraag in afgegooi word... Daar is eenvoudig nie genoeg tyd om weer terug te ry en die res van die dokumente en paspoort te gaan haal nie. Vroulief besluit toe om maar terug te jaag huis toe terwyl ek myself aan die toetsbeamptes gaan vertoon - wil ten minste hê hulle moet sien ek was nie laat vir die afspraak nie. Dalk is daar 'n kans dat ek bietjie later die dag die toets kan doen? Dalk is daar 'n kansellasie. 'n Mens se brein werk mos oortyd met planne beraam. Kort-kort bel ek om by my seun te hoor waar mamma nou al trek en ek sien in my geestesoorg hoe sy soos 'n James Bond meisie deur die verkeer vleg om hierdie belangrike dokumente betyds aan die "spesiale agent" op die gevegsfront te kan oorhandig. Maar helaas...dit was nie bedoel om te wees nie. Hulle kon nie langer wag nie en daar was ook nie nog 'n ander afspraak beskikbaar later in die dag nie. Dus moes ek maar net mooitjies WEER 'n ander afspraak maak - die vroegste wat ek kon kry is 26 Maart ('n hele maand later). En hierdie keer op 'n weeksoggend! So is ek en die Pa-ondersteuners maar druipstert terug huis toe.

Les nommer 1 : MOENIE DIE HELFTE VAN JOU DOKUMENTE BY DIE HUIS VERGEET NIE! Nog beter - los dit sommer in jou kar se paneelkissie, dan WEET JY dat jy dit nie gaan vergeet nie.

...dis 'n maand later. Hoofstuk 2. Dis vandag 26 Maart en hier's ek weer, hier's ek weer met my paspoort voor hul deur. Dis 9h00 Woensdagoggend en ek en vroulief sit in die RTA se wagkamer vir my beurt om aan te breek. Die senuwees knaag. Matriek eindeksamen was 'n vulletjie. Teen 9h15 teken ek die beampte se toetspapiere. By die kar gekom laat hy my heel eerste die flikkerligte en briekligte toets. Tip: Maak seker jou kar is vol petrol, die bande is reg gepomp en al die ligte werk. Ek het van 'n ander Suid Afrikaner gehoor hoe sy flikkers nie wou werk op die dag van die toets nie omdat hulle die naweek gaan "off-road" het en die ligte natgeword het toe hy die onderstel skoongespuit het - sy toets het sommer net daar geëindig, want sonder flikkers klim daai Omie nie eens in jou kar nie. Wel, ons is toe daar weg op die "Roete van Vader Kloete". Voor elke afdraai en verkeerssirkel gee hy my rustig opdragte en ek gehoorsaam dit tot op die letter. Ek moes 'n parallel parkering doen, 'n 3-punt draai en 'n "kerb" parkering langs die pad. Hulle wil sien of jy lank genoeg voor die tyd jou flikkerligte aansit, in jou spieëltjies kyk, oral waar jou kar van rigting of posisie verander oor jou skouer kyk (baie belangrik) om te sien of daar nie iemand in jou blindekol is nie. Glo my maar - jy gebruik nie net jou spieëltjies nie - hulle VERWAG van jou om oral oor jou skouer te kyk na jou kar se blindekolle. Met 'n 3-punt draai moet jy elke keer as jy vorentjoe of agtertoe gaan beweeg oor beide van jou skouers kyk. Wel, met die 3-punt draai, parallel parkering en meeste van die maneuvers het dit sommer klopdisselboom gegaan. Ek het vooraf reeds van al die fynere puntjies kennis geneem. Dit is byvoorbeeld belangrik dat jy by 'n verkeerssirkel die regte baan kies VOORDAT jy die sirkel binnegaan. Wanneer jy links gaan draai, gebruik jy die linkerkanste baan en sit jou linkerkantste flikkerlig aan. Wanneer jy reguit gaan of gaan regs draai, gebruik jy die regterkanste baan en jy sit vooraf jou regterkanste flikkerlig aan. Net voordat jy uit die sirkel beweeg, kyk jy oor jou linkerkanste skouer terwyl jy jou linker flikkerlig gebruik om aan te dui dat jy nou die sirkel gaan verlaat. Enige tyd wat jy van die binnebaan na die buitebaan van die sirkel kruis, MOET jy oor jou skouer kyk en jy moet ook met jou flikker aandui dat jy die sirkel verlaat. As jy 'n U-draai by die sirkel gaan doen moet jy die regterkanste baan (wat na die binneste baan van die sirkel lei) gebruik as jy die sirkel binnegaan en wanneer jy die sirkel weer verlaat oppad terug van waar jy gekom het, dan moet jy jou linker flikker gebruik om aan te dui jy gaan die buitebaan kruis en maak ook seker dat jy oor jou skouer kyk sodat jy nie in iemand vasry wat gedink het jy gaan in die sirkel bly en die sirkel van jou linkerkant binnekom nie. Dit is nie veronderstel om te gebeur dat iemand so teen jou sal vasry nie, want mens moet ALTYD vir mense wat die sirkel regs van jou binnekom toegee.

Wel, na so 'n ruk waar ek herwaarts en derwaarts gestuur is deur die beampte navigeer hy my toe weer terug na die toetssentrum in Castle Hill (dis by 18 Anella Ave, hier is dit op die kaart).
Sien, op hierdie stadium, was ek nog vol vertroue dat ek geen probleem sal hê om die lisensie te kan kry nie. Ek het regtig gedink ek het "foutloos" bestuur, oral gekyk waar ek moes kyk, al die maneuvers seepglad uitgevoer, my flikkerligte gebruik. Nooit rukkerig gery of die kar laat vrek of spin nie. Want sien, ek het mos oor die afgelope 17 jaar genoeg tyd gehad om te "oefen" het ek gereken. Om teen 'n built weg te trek was nou al vir my kinderspeletjies. Les nommer 2: Hy wat reken dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Vol "smiles" gaan sit ek toe daar en wag vir die uitslag. Die toetskaart bestaan uit 25 plekke waar jy beoordeel word op jou 6 areas: Spoedbeheer, Posisie op die pad en by kruisings, Besluitneming, Gevaar/"Hazard" waarnemingsvaardighede en jou Reaksie op daardie moontlike gevare asook Voertuigbeheer/"Control". Kyk, ek weet nou nie presies hoe hy daardie punte optel nie, maar jy moet ten minste 90 hê om die toets te slaag! Daai beampte het my stertvere lelik uitgepluk. In 'n rustige stem het hy my meegedeel dat ek in feitlik al die ander plekke volpunte het, maar dat hy op al die 25 plekke vir my moes punte aftrek omdat beide my hande nie op die stuurwiel wat terwyl ek by die kruisings gestaan en wag het nie en ek nie die korrekte stuurmetode gebruik het nie. Jy weet, mens sit mos so maklik met jou een hand op die rathefboom tewyl jy wag vir 'n verkeerslig om oor te slaan... Daarbenewens, vertel hy my, dat mens ook dadelik punte verloor wanneer jou hande kruis op die stuurwiel, jy die stuurwiel van die binnekant af vat, of as jou hande op een plek op die stuurwiel albei bymekaar is. Mense, ek weet nie van julle nie, maar dit is nogal so bietjie moeilik om na 17 jaar se bestuur sommer dadelik oor te slaan na 'n ander stuurwiel-draai-tegniek. Mens leer mos allerhande gewoontetjies met die jare aan en die stuurwiel deurvoer tegniek wat ek baie jare geleer het, rafel mos maar so oor die jare uit...ek moet bieg. Hy het ook verwys na die "hand-over-hand" stuurtegniek, maar ek kon nog nie regtig daai kloutjie by die oor kry nie. Hier word ALMAL wat vir die bestuurstoets gaan oor dieselfde kam geskeer en moet deur dieselfde hekkie om uiteindelik 'n wettige padgebruiker te wees. Sodra mens mos Permanente verblyfreg kry het jy net 'n paar maande (so 3 maande) om te gaan vir jou leerling kennis toets en daarna jou bestuurstoets.

Wat TOE gebeur het, het my selfvertroue so ietwat van 'n dippie laat vang. Hy het aan my 'n brief oorhandig wat my effektief STROOP van die reg om sonder 'n baby-sitter te bestuur op enige pad in New South Wales.

Die vergunning om met jou Suid Afrikaanse lisensie te bestuur in NSW was nou dus op 'n einde, en ek moes van nou af met sulke groot GEEL - L tekens DUIDELIK voor en agter op my kar rondry...wat 'n skok. Mens mag ook nie vinniger as 80 km/h ry nie - selfs nie eens op die snelweg nie!! Gelukkig het my vrou teen hierdie tyd darem al haar bestuurderslisensie gekry, andersins was ons nou regtig geskroef. Anders as wat mense reeds genoem het, word daar NIE 'n gaatjie in jou Suid Afrikaanse lisensie geknip nie. Maar indien ek alleen in die kar met net my SA lisensie gevang sou word kon ek in groot moeilikheid gekom het. Dis soos om effektief sonder 'n lisensie rond te ry. Vergeet maar van die feit dat ek nou reeds 11 maande sonder enige insident op die paaie rondgery het, of die tegniese puntjie dat ek ek al 17 jaar 'n lisensie het...nee, hier is almal gelyk. En dit beteken die VOORREG om met my eie kar te kan rondry is op 'n einde. Hier is die einste "L - plate". Hy het sommer vir my 8 daarvan gegee - net vir ingeval ek 6 verloor.


Daar word 'n foto van jou geneem en, nadat jy $20 betaal het, kry jy 'n groen lisensie met jou foto, handtekening en woonadres op, saam met nog ander belangrike nommers en datums. Hulle reik sommer net daar vir jou die leerlinglisensie kaartjie uit. G'n gewag soos in Suid Afrika nie.

Maar so gou laat ek my nie van 'n perd afgooi nie. Net daar maak ek toe sommer vir my NOG 'n afspraak vir die volgende bestuurderslisensie probeerslag. Die meisie agter die toonbank sê vir my dat dit omtrent net so maklik is om 'n afspraak op 'n Saterdag te kry as om die Lotto te wen. Toe vra ek maar weer vir 'n ander dag. Gewoonlik wag mens 'n maand of 2 maande vir 'n volgende afspraak, maar blykbaar is daar 'n kansellasie en ek kan die 4de April een kry...8h30 in die oggend - net 'n week later! Ek is natuurlik baie bly, want in hierdie vernederde toestand kan 'n man mos nie te lank wil bly nie. Kan nie alleen gaan petrol ingooi nie, Woolies toe ry nie, na die see toe ry nie, fliek toe ry nie, of selfs werk toe ry nie. Stert tussen die bene en met 'n gekwesde ego is ek toe maar weer daar weg.

Gelukkig vir my ry ek bus en trein werk toe - anders was ek regtig in die pekel. Hierdie keer wou ek dubbel en dwars seker maak ek doen alles reg die volgende keer en het dadelik vir my by 'n bestuurskool 'n afspraak gemaak: Gelukkig kon hulle vir my die aand net voor die toets uithelp. Die ou van die bestuurskool se naam is Alan, en hy het my die Donderdag voor die toets deur 'n proeflopie geneem en presies vir my gesê wat ek verkeerd doen. Hy is al 20 jaar in die bedryf en hier is sy besigheidskaartjie:

Hy vertel my dat hy baie Suid Afrikaners deesdae vir lesse neem. Dit het my $60 gekos vir 'n les van sowat 'n uur. Mens moet oppas dat jy nêrens oor wit strepe aan die kant van die pad ry as jy draai nie. In 50 km/h areas moet jy nie vinniger as so 45 km/h ry nie, in 60 km/h areas nie vinniger as 55 km/h nie. As jy met net 1 km/h oor die spoedbeperking gaan druip jy. As jy 2 keer nie jou flikkers gebruik nie of as jy 2 keer nie oor jou skouer kyk as jy bane verwissel nie druip jy ook. Moet ook nie eers jou spieeltjie wil verstel as jy die parallel parkering doen nie - selfs vir dit trek hulle punte af. Maar die belangrikste...die oomblik as jy klaar die ratte verwissel het - bring jou hand terug na die stuurwiel. Beide jou hande moet heeltyd op die stuurwiel wees behalwe as jy rate verwissel of die flikkers gebruik.

In hierdie week het ek besef watter voorreg dit is om 'n bestuurderslisensie te hê. 'n Mens voel nogal geknou as so iets jou tref en jy wil-wil kort kort dink dat jy dalk nooit weer jou lisensie gaan hê nie, want wat as elke toetsbeampte iets anders raaksien om jou op te druip! Elke keer is dit 1-2 maande se wag (of 'n week as jy baie gelukkig is) en jy het dus net 1 probeerslag elke 2 maande - teen daardie tyd kan jy nie eens meer onthou wat jy die vorige keer verkeerd gedoen het nie. Glo my, jou selfvertroue vang nogal ietwat van 'n dip - want skielik begin jy om te wonder of die manier wat jy elk van die aksies uitvoer dan nou reg of verkeerd is. Hou jy die stuurwiel NOU reg vas, kyk mens nou weer VOOR jy die flikker gebruik oor jou skouer, of is dit nou weer NADAT jy flikker? Dan begin mens om oor al die aksies te dink - met die gevolg dat dit nie meer natuurlik kom nie: en siedaar - jy bestuur weer soos 'n APPY. Skielik laat vrek jy die kar as jy wegtrek want jy wil seker maak jy hou die stuurwiel reg vas. Jy laat die kar hoog op-"REF" as jy begin spoed verminder, want jy wil seker maak dat jy in die regte rat is teen die tyd dat jy die kruising bereik. En jy mag ook nie vir te lank die koppelaar inhou nie, want dan laat jy die kar "free" en hulle trek punte af omdat jy nie in ten volle beheer van die kar is wanneer die kar uit rat is nie. Nou laat jy die kar omtrent dood-vrek-verstik by elke verkeerslig, want jy wil die kar tog net nie te vroeg uit rat uit haal nie. Jy kyk jouself amper duiselig heen-en-weer oor jou skouer om seker te maak dat jy al die kyke kyk wat gekyk moet word, sodat jy SKOON vergeet om jou flikkerligte te gebruik. Jy verander van 'n bestuurder vol selfvertroue in 'n "recipe for disaster" - alles binne 'n week - alles omdat jy nou die stuurwiel moet klou of jou lewe daarvan afhang en jouself nie meer renjaer moet hou nie.

Ag man, om 'n lang storie kort te maak. Vrydagoggend was ons al 7h30 daar by die RTA vir die 8h30 afspraak. Ek het spesiaal later gewerk die weeksaande om hierdie oggend later te kon inkom. So teen 8h30 was ek weer op my pos met die senuwees wat knaag. My vrou het egter so baie mense opgekommandeer wat aan my gedink het in hul gebede dat ek nie anders kon as om kalm te wees nie. Hierdie keer was ek egter reg in die middel van die tyd waar die 60 km/h zones verander na "School Zones" en mens net 40 km/h mag ry. Die toetsbeampte het my seker deur 5 sulke "zones" gevat. Daar was selfs 'n plek waar ek 25 km/h moes ry. Het jy al geprobeer om 25 km/h te ry...baie karre kan amper nie eens so laag meet nie! Maar ek het toe maar so aangekruie. Ek sou WRAGTIG nie hierdie keer druip nie!! Nie as ek dit kon verhelp nie. Terug by die toetssentrum het die Oom sy sommetjies gaan maak en met die wonderlike nuus vorendag gekom: "It's a PASS". Ek het daai stuurwiel so geklou dat ek hierdie keer nie eens een fout in die "C" (Control) kolom gehad het nie - waar ek laas omtrent al 25 verkeerd gehad het.

Ek het hierdie keer die presiese roete wat die toetsbeampte my op geneem het met my Garmin GPS opgeneem sodat julle dit kan volg op die kaart as julle wou. My raad aan julle is om elke aanwysing wat die beampte gee op sy eie te hanteer. Vergeet van die dele wat jy reeds afgelê het en ook hoeveel dele nog oorbly en hanteer elke deeltjie van die pad op 'n slag - dan is die taak minder intimiderend.


View Larger Map

Weereens het hulle 'n foto geneem - maar hierdie keer was dit nie weer 'n "op-die-tande-kners-want-ek-is-nou-so-vrek-teleurgesteld glimlag" nie, maar hierdie keer kon ek daai beampte omtrent soen.

Waar die leerlinglisensie groen en die Provisional lisensie rooi is, is die "FULL" lisensie geel. Ek het die foto, die handtekening en die persoonlike inligting soos die adres verwyder:

Wanneer mens die lisensiekaartjie so bietjie draai, dan verskyn daar hologramme van die Australiese wapenskild oor jou foto en 'n kaart van NSW in die middel:

Hierdie lisensie kos $142 en is geldig vir 5 jaar, wanneer mens weer moet gaan vir 'n oogtoets.
Omdat ek meer as 3 jaar al 'n Suid Afrikaanse lisensie gehad het, het ek 'n onbeperke lisensie gekry, maar as jy nie jou SA lisensie kan wys nie, kry jy 'n P-lisensie.

Nou ja - maar uiteindelik het ek nou 'n vol lisensie en nou kan dinge weer na normaal terugkeer.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings