Saturday, August 30, 2008

it's fine, it's clear, you are here, your homesickness will not last

Ons het vandag bietjie by Centennial Park gaan fietsry, toe het ek die volgende paar fotos geneem:






Ek loop toe die volgende gedig raak op 'n plaat met inskripsie op die grond naby een van die plekke ter ere van immigrante:



This freedom - we sometimes find it here,
fragile, in a wild land we did not understand
full of nations of a kind before we came and more to come
still we grow to love
must learn to forgive ourselves
making stranger into friend

our steps much lighter now
and more gentle on the ground

the past a message in trees and waves,
and in your palm your history mingles with the earth

and from the mouths of the wise ones
custodians sing a Law of living
that writes us
yields its path

and gives us message of repair that says:
'it's fine,
it's clear
you are here
your homesickness will not last
you're home within us,
clear path to sweet water:
all spirits be spoken for.'

Adam Aitken
2001

Thursday, August 28, 2008

...jou diepste, verste spore loop ook dood.


Die titel kom uit die liedjie "Vermiste Mense".

Iets wat ek dink mense nie aldag besef nie, is dat daar dinge is wat mens net eenvoudig nie vir ander kan beskryf as hulle dit nie vir hulself deurmaak nie. Een van hierdie dinge is die feit dat al die jare se spore wat mens getrap het in jou land van herkoms, al die verbintenisse wat mens gehad het, alles wat mens beteken het vir wie ook al agtergebly het - en dis die hartverskeurendste gevoel wat ek julle kan van vertel - is dat al daai spore soos deur die branders op die strand...uiteindelik weggespoel word....totdat daar niks meer oorbly nie...

Dis die keuse - en sy implikasie.

As daar een vraag is waarmee mens op 'n gereelde basis met jouself oor worstel, dan is dit die vraagstuk : Is ek besig om vooruit te gaan in die lewe of agteruit? Waaraan meet mens dit? Watter maatstaf gebruik mens om te bepaal of mens beter of slegter daaraan toe is? Ek is seker daar is baie ander wat ook wonder oor besluite in hul lewe. 'n Mens mag droom oor 'n beter lewe. Maar, wat is 'n beter lewe? Is 'n ewig toenemende bankbalans (wat byhou by inflasie) die antwoord? Is dit daardie spoghuis waaraan mense so hard afbetaal? Sê nou maar net jy het BAIE geld, wel dan sal jy weldra iemand kry wat nog meer het as jy...en spoedig agterkom maar skielik is daar dinge wat jy nou kan bekostig en voor jy jou kan kry het jy ALWEER nie genoeg nie. Daar sal net nooit genoeg wees nie. Daai gat is net te diep om toegestop te kry. Sal mens ooit genoeg beleggings hê? Ons almal werk hard elke dag. Ons makeer die pas. Ons kan bly in 'n huis, lekker eet, samesyn van vriende geniet en af en toe iewers heen weggaan. Ons reken ons is bevoorreg. Ons kan ons kinders, die volgende generasie, geleenthede gee. Nie te veel dat hulle houtgerus kan word nie, maar genoeg om te maak dat hulle die toekoms met hoop en drome kan aanpak. Die verlede is verby - sal nooit weer aan ons teruggegee word nie. Ons pas nou aan by 'n nuwe wentelbaan.

'n Mens is mos geneig om te meet of jy vooruit gaan aan dit wat jy nou kan bekostig, teenoor wat jy eers kon bekostig. Maar tog kan mens finansieel vooruitgaan en in jou hart doodsongelukkig wees. Dan kan mens ook jou vooruitgang meet aan die groei in jou familielewe. Is ons as familie nou nader aan mekaar of verder van mekaar af? Is ons gelukkiger mense? Is ons nou mense wat meer verantwoordelikheid neem vir ons eie lewe, ons eie huis en die skoonhou daarvan. En of ons bestaan volhoubaar is of nie. Mens kan dit seker ook meet aan hoe gelukkig jou kinders is. Dat hulle nou onbevange en sorgvry kan kinders wees is beslis. My seun stap nou al self alleen winkel toe, my kinders stap alleen skooltoe en terug. Hulle is versot op hierdie vryheid - ons ook. Dit kos egter 'n prys.

Dat ek nou harder werk is ook natuulik 'n feit. Hier verdien mens jou brood en botter. Ek werk nie langer ure nie, maar hier word meer water uit 'n klip getap in die ure wat mens werk. 'n Mens verstaan nou dat 'n samelewing met gelyke kanse ook impliseer dat jy op 'n gelyke vlak met baie ander meeding. Ek het teen hierdie tyd tog begin insien dat ek tog in 'n groot mate in 'n "bevoorregte posisie" in Afrika was as gevolg van beter kennis en goeie opleiding as baie ander. In die land van die blindes, is die eenoog koning sê hulle mos. Die skeidsmuur tussen arm en ryk is dus groter as hier. Dit kom mens nou agter. Net soos 'n baie lae persentasie vakante huurhuise impliseer dat daar 'n groot aanvraag na huur eiendomme hier in Sydney is, impliseer 'n baie lae werloosheidsyfer natuurlik ook dat daar 'n groot aanvraag na werke is tussen werkers. Dit maak natuurlik dat mense wat baie hoog betaal was in Suid Afrika hier as 'n heel normale ou gereken word.

Nog iets wat ek sien is dat die hoogmoedige streek van baie Suid Afrikaners hierso so 'n bietjie van 'n knou toegedien word, alhoewel hulle steeds hard werk om dit te handhaaf. Ons klomp is mos baie gesteld op watse werk ons doen, watse kar ons ry of watse huis ons in bly - o, hoe het die helde geval! In daardie opsig word mens 'n beter mens. Meer nederig - sien nie meer neer op mense wat trein of bus ry nie en van "publieke vervoer moet/wil gebruik maak nie".

Waaraan meet jy jouself? Wat bepaal of jy jou doel bereik? Wat is die regte doel om te hê?
Wel, ek weet verseker een van my doeleindes is om 'n meer liefdevolle en geduldige man en pa te wees...maar om dit te wees is nie altyd so maklik nie. Nog iets waaraan ek my altyd troos is Jesus se woorde: "Pasop vir die liefde vir geld, want 'n mens se lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie." "'n Mens se lewe is meer as kos en jou liggaam meer as die klere wat jy dra." Maar 'n mens besef ook dat armoede niks help nie - geen kind of vrou wil 'n pa of man hê wat net nooit by die huis is omdat hy al sy wakker ure hom afsloof om genoeg te maak om net liggaam en gees aanmekaar te kan hou nie. Hoe verskil mens dan van 'n slaaf? Of selfs 'n gevangene wat net genoeg kry om van te lewe en darem in die aande vrygelaat word om huis toe te kan kom nie. Nou is my doelwit om goed te wees in wat ek doen, want "iemand wat vaardig is in sy werk sal voor konings staan - hy hoef nie voor geringes te staan nie". En: "Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet, maar die oorversadiging van die ryke laat hom wakker lê in die nag."

Maar te midde van al hierdie geswoeg smag mens tog na meer... Mens wil ook nie aan die einde van jou lewe kom en net terugkyk op 'n opeenvolging van kantoorwerk nie. Nou loop 'n mens die pad, op soek na die antwoorde op jou eie soektogte. En jy "dink en jy dink aan die soeter wyn teen die groter dors".

Monday, August 25, 2008

"Barnyard Teater op die water"

Toe ons nog in Suid Afrika was, het ons gereeld na musiek en kabaret gaan luister by Barnyard Teater, Centurion Teater, Carnival City, die Staatsteater of waar ook al ons as vriendekring so bietjie kultuur in ons lywe kon kry. Ons was getroue ondersteuners van die kunstenaars. Wel, ons hou steeds daarvan, maar nou doen ons dit net so 'n bietjie anders. Hier is dit die gewoonte om alles en nog wat op water te doen. Plekke soos Rhythmboat Cruises wat 'n Ferry besit reël gereeld musiek "Shows" onder verskillende temas op hierdie Veerbote. Dit is nie baie verskillend van die "Barnyard Teater" tipe vertonings nie - dit word net op die water in die hawe gehou en dis gewoonlik so 4 ure lank (en op 'n bietjie van 'n kleiner skaal). Dit sluit dan onder andere 'n buffet ete, nagereg, 'n kunstenaar/s vertoning in sowel as gehoor deelname op maniere soos 'n dans-les of selfs samesang. Ons was verlede jaar op die Latyns Amerikaanse tema "Cruise". Julle sal die storie seker nog onthou...die aand toe ons mos huistoe gestap het na middernag...

In elk geval, hierdie jaar was weer net so lekker. Maar hierdie keer was dit vir 'n ABBA Tribute Show van die Groep "FABBA"...hehe. Julle weet mos ek is (al het ek bykans die hele ABBA geskiedenis uitgemis omdat ek gebore is toe hulle op die top van gewildheid was). Nou ja...ek het dus geen spesiale nostalgie aan hulle as groep nie, omdat ek toe nog in my doeke rondgeloop het, dus spruit my genot van hulle musiek uitsluitlik omdat dit vir my mooi is en omdat ek beindruk is met die feit dat hulle musiek so lank na daai tyd steeds deur mense geluister word en hulle so baie treffers geskryf het.

In elk geval, ek wou my en my vrou (wat onlangs verjaar het) bietjie bederf en besluit toe om vir ons plek te bespreek vir die Sondagmiddag ABBA show en buffet ete op die 4 uur-lange Ferry rit in die mooiste hawe ter wêreld. En wat dan nou ook beter om dit te geniet met jou vriende en geliefde. Soos julle op die kaart sal kan sien vaar die Ferry tydens die vaart eers 'n ent in die rigting van die see in die Port Jackson hawe en dan weer met die Parramatta rivier op. Dit is werklik heerlik om met die wind in jou hare die geur van vars seesproei in jou longe in te asem. Dit is werklik 'n "treat" om so af en toe op 'n Ferry te ry. Jy kry die beste uitsigte van Sydney se wolkekrabbers en die talle klein eilandjies in die hawe op die rivier. Daar is selfs deesdae kampgeriewe op Kaketoe eiland, waar mens "regtig naby" aan die see kan oornag...maar dis iets vir 'n ander dag.

Nou ja, so stap ons toe deur Darling hawe en gaan stiptelik 11h45 aan boord. Die Ferry lyk, soos baie ander wat julle ook op die fotos sal kan sien, soos vierkantige tweeverdieping huise wat op die see rondvaar - hier is selfs een wat "Starship Sydney" genoem word. Sommige is geheel en al van glas, soos die een wat ek afgeneem het waar daar Sondag 'n trouonthaal op gehou is.

Saam met ons op die Veerboot was doodgewone Sydney mense. Hierdie is iets wat elke Sydney-inwoner later as 'n uitstappie begin doen. Almal het gekom vir 'n "trippie down memory lane" en ek kon sien dat die lede van die groep FABBA die show net soveel geniet het as ons. Hulle was so op 'n manier aangetrek soos Agnetha-Benny-Bjorn en Anni-Frid (of Frida soos sy beter bekend is). Soos 'n tipiese Barnyard gehoor het die mense hul verbeelding gebruik om die oop gaatjies in te vul in hul verbeelding waar die kunstenaars se kostuums aan die beeld van die ware ABBA kortgekom het. Mens kon sien 'n hele paar toeskouers het hulself kinderlik geniet en sommige het selfs saam met die groep elke beweging nagedoen. Sommer net vir die pret, want die "performers" het nou nie regtig soos ABBA gelyk of naastenby so goed soos hulle gesing nie, maar almal het geweet dis nie regtig die idee nie - die idee is om net die middag te geniet saam met die mense by jou en om op die golwe te ry terwyl jy 'n lekker middagete geniet.






Hier is ook so 'n paar videos uittreksels:

video


video

Op die fotos sal julle ook sien dat die sendingskip, die Doulos, nou ook hier in Sydney vasgemeer staan en mens kan vir begeleide toere deur die skip gaan. Nou ja....geniet die "soveelste" fotos van die operahuis, die hawebrug en die ferries...

Na die tyd het ek hierdie inskrywings op die gedenkmuur ter gedagtenis aan al die Aussie immigrante gesien:


Dit verwys na die intense verlange wat deel is van elke immigrant se lewe - almal wat die skeidingsbesluit geneem het om alles ter verlaat - vir 'n splinternuwe lewe. Mens sien in baie parke sulke gedenkborde. Ek sal eendag bietjie die in Centennial Park ook vir julle afneem.

Wednesday, August 20, 2008

Vir my vrou

Hierdie volgende liedjie van Nianell is vir my baie mooi en ek sit dit hier spesiaal vir die heel kosbaarste persoon in my hele lewe - my liefling vrou Tania.

Sal jy onthou...

Ek weet jou hart is weereens stil vanaand.
Jy lê hier langs my, maar jy's vêr.
Miskien as ek aan jou skouer raak,
sal ek kan voel wat jou seermaak.

Hoekom vertel jy my nie wat jou pla.
Wil jy regtig als self dra?
Kan jy nie sien jou hartseer sluit my uit?
Ek wil so graag daar vir jou wees.

Refrein:
As die wêreld donker raak en alles rondom jou verdwyn.
As jou more nie wil kom nie en jou son nie meer wil skyn,
sal jy onthou ek is hier om jou vas te hou.
Sal jy onthou,
ek bly altyd lief vir jou....

Ek wonder soms wie in jou lewe was,
wie het jou lag en pyn gedeel.
As ek kon weet sou ek dalk verstaan,
wat in jou stil gemoed aangaan...

Herhaal refrein..

(deur Nianell)

Monday, August 18, 2008

Die koue houvas van die winter

Die donker kom van buite en syfer deur die ruite
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur...Koos du Plessis

Dit wat julle hier bo sien is ons nuwe huis se kaggeltjie. Ons het nie meer 'n gaspunt in die huis nie, en nou stook ek die vuur elke aand sodat ons om 'n lieflike vuurtjie in die sitkamer kan sit en warm word. Dit is 'n besonder koue winter hier in Sydney. Dit was volgens die nuus op TV vandag die koudste dag in Augustus hier in 3 jaar. Dis nou ons tweede winter hier in Australië, en hierdie een is by verre die koudste. As iemand wat van die Hoëveld kom is ons gewoond aan ryp op die gras, en ek het vir die laaste paar dae wraggieswaar ryp op die gras gesien hier in Sydney. Dis is sommige oggende maar swaar om jouself uit die bed te sleep en vroeg genoeg by die busstop te gaan wag. As 'n mens hier in die Hills bly en jy vang 'n bietjie later bus, kan dit tot 45 minute langer neem om by die werk te kom soos wat al die mense van die Hills tegerlykertyd in hulle karre spring om by die werk te kom - nou probeer ek die stormloop mis.

Na meer as 'n jaar van harde werk kom mens ook teen die tyd agter dat die pas hier in Sydney nie verslap nie. Jaar in en jaar uit, oggend vir oggend soos flukse miere is dieselfde medereisigers elke oggend getrou op hul pos. Mens kry kry later sulke "Deja-vu" terugflitse as jy in die oggende by die stasie staan. Dae, weke, maande en jare word soos die voue in 'n deegmengsel teruggevou op mekaar sodat dit sommige oggende voel of jy sommer nog netnou nog daar gestaan en wag het vir die trein en nou staan jy alweer daar. My werkgewer het vandag vir my gewys dat my take nou al tot April volgende jaar beplan is...

Mens gaan in 'n soort van 'n winterslaap, dit voel sommige dae of jy eers na so 20 minute by die werk regtig ontdooi is en as jy in die middae by die huis kom is dit alreeds donker. Hier in Sydney maak die winter 'n groot verskil aan die aantal daglig ure aan die einde van die dag. Met die daglig besparing ingereken het jy in die somer meer as drie meer daglig ure aan die einde van die dag. Maar stadig maar seker begin die vrolike seisoen naderkruip. Mens sien deesdae al die sonsondergang terwyl mens terugry huistoe. Hier en daar is daar 'n boom wat oorgretig is vir die lente om aan te breek en vol van die lentebloeisels sit. Elke oggend en aand as ek by hierdie bome verbyloop ruik ek die heerlike soet geur van hierdie bloeisels.

Hier kan julle dit van naderby sien...(kliek op die fotos vir vergrotings)
'n belofte dat die somer wel weer aan die kom is....

Ons het nie die afgelope ruk juis rondgerits nie, dus het ek maar weinig fotos om te wys, maar ons sal wel weer baie lekker dinge doen en mooi plekke gaan besoek as dit eers bietjie warmer word. Gaan loop sommer so bietjie deur ons straat met Google Street View, wat mens nou toelaat om so te sê in elke straat in Australië "rond te gaan stap".

Hier kan julle sien hoe dit by die busstop naby my huis lyk. Gebruik die muis met die linkerkantste knoppie op die foto om dit te draai en kliek op die wit pyltjies om die pad te volg...


Gaan stap gerus rond op Google Maps en kyk hoe lyk Oz van naderby. Al die strate wat blou is as jy Street View kies is beskikbaar in 3D.

Waar ons nou bly is daar vir 'n verandering 'n grasperk. Soos dit 'n man betaam loop ek dus nou weer so af en toe agter 'n grassnyer aan - en ek moet sê, dit laat mens sommer weer tuis voel - soos wat ek altyd gevoel het toe ek my eie huis se gras gesny het. Nooit gedink ek sou eendag sulke aangename gedagtes aan die grassnyery koppel nie - my grassnyer was nog 'n geskenk van my skoonma toe ons in 2000 in ons huis in Wierdapark ingetrek het!

Nog 'n verandering in my lewe is dat ek af en toe nou by die Gym uitkom...maar op die oomblik is dit meer AF as TOE, want die aande is maar baie koud hier. Ek het by Fitness First aangesluit en was nou al 'n hele paar keer daar en ondervind dit maar betreklik dieselfde as gyms in Suid Afrika. Daar is oorgenoeg oefenmasjiene en daar is in die aande nogal baie mense wat oefen - selfs al is dit winter. Aan die voorkant van die saal vol stapmasjiene, trapmeule en fietse is daar 'n ry enorme LCD TV skerms waarna jy kan kyk terwyl jy oefen. Jy hoef eenvoudig jou iPod se oorfone by die proppie langs die masjiene in te druk en dan kan jy die klank vir al die TVs ook kry. Van die programme wat elke middag hier op is, en waarvan die Aussies net nie genoeg kan kry nie, is die hoeveelste heruitsending van M.A.S.H. asook die immergewilde FRIENDS.

Die afgelope 2 weke hou ons die Olympiese Spele fyn dop, en die Aussies het besonder goed gedoen as 'n klein landjie van 21 miljoen mense. In besonder die swemmers. Ek is glad nie verbaas hieroor nie, siende dat daar so baie swemfasiliteite hier is en die kinders van kleins af aangemoedig word om aan swem deel te neem. Julle kan die medalje toekennings hier gaan beskou.

Meer nuus het ek nie nou vir julle nie...

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings