Saturday, January 24, 2009

Die morestond het goud in die MOND

Dis nou "Sydney Festival" tyd, wanneer die hele Sydney in een groot kunstefees verander. Daar is selfs 30 klaviere oral in Sydney stad neergesit sodat wie ook al wil kan sit en speel vir wie ook al wil luister.



Soms doen ons mos sulke lawwe dinge, jy weet, soos om 03h25 (ja, jy het reg gelees, vyf en twintig oor drie) in die oggend op te staan om saam met duisende ander mense na die sonsopkoms op die strand te gaan kyk. Dis nou wat ons vanoggend gedoen het. Ons het al twintig oor vier gery om plek te kon kry op die strand by Clifton Gardens naby Manly. Toe ons so 04h50 daar kom was daar alreeds meer as honderd puntsmanne op hul pos om die toevloei van verkeer te reguleer met helder stokkies wat gloei in die donker. Omtrent die hele grasperk by Clifton Pleasure Grounds was toe omtrent al vol motors geparkeer. Van ons vriende wat saam met ons gekom het, moes 700 meter voor die ingang parkeer om parkeerplek te kry. Daar was BAIE mense, duisende, maar ek het nie juis kon tel nie. Weet net hulle het tot oral op die "jetty" gestaan om 'n kyk en luister plek te kon kry. Sommige mense het op kanoe's aangeroei gekom om soos Jesus van ouds op die skuite te sit en luister na die koormusiek. Die Dawn Chorus het bestaan uit die Sydney Philharmonia koor wat opgetree het en musiek gesing het wat blykbaar spesiaal (amper soos in die fliek August Rush) vir die okkasie gekomponeer is. Dit was 'n gratis vertoning en oral was daar families met of hondjies of kinders.

Ons was, soos meeste mense, al voor sonopkoms daar en het vir ons en ons vriende plek op die sand uitgesoek. Ons kon die strelende, stadige ritmiese herhaling van die golwe op die strand hoor terwyl daar 'n gesellige gekuier van almal om ons op die strand was.



Terwyl die musiekstemme die opkomende son verwelkom het, het duisende mense stil gesit en luister en na elke lied luide applous gelewer. Die uitvoering het aangehou tot so half sewe,



Die sonsopkoms was, met die baie wolke in die lug, natuurlik asemrowend. Ek weet nie wanneer laas ek so baie families gesien het wat so vroeg in die oggend gelyktydig na koormusiek gesit en luister het, en na die opkomende son gekyk het nie - nog nooit.



Hier is 'n slideshow van die fotos.

1 comment:

  1. Ek hoop nie jy gee om nie maar ek het jou blog gelink op my lys. SA Expat Blogs. Laat weet my as jy wil hê ek moet dit afhaal. Dit is in elk geval gratis advertering vir jou blog.

    Groete

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings