Sunday, October 25, 2009

Erens in die Groot Karoo...

Ek ly nog so bietjie aan "Jet-lag" (of noem 'n mens dit vlug-vertraging) na 'n hele maand se kuier in Suid Afrika.  Dit is seker ook die rede dat ek reeds vieruur vanoggend groot-oog wakker gelê het in ons bed.  Toe staan ek maar op en maak die beste van 'n wonderlike dag wat voorlê...  En hoe dan anders as om op ons stoep na die voëls te sit en luister na die natuur se stem en my hart se gevoelens.

Dit was 'n lekker kuier.  Ek is baie lief vir my familie.  Dit was so lekker om hulle weer te sien in lewende lywe, om hulle in die oë te kyk, om hulle 'n drukkie te gee.

Ons is Vrydagaand 25 September hier weg en het Vrydagaand 23 Oktober weer hier geland.  Ons het via Singapoer gevlieg.  Die hele "trippie" met die vliegtuig, insluitende die wagtye en konneksievlugte was so 24 uur lank.  Suid Afrika is hartseer-vêr van Australië af !! Aartappel-moeder vêr...  Die jaar se spaar was die moeite werd.

Dit was weer lekker om:

  • om saam met familie te kon kuier en sommer oor nonsens te gesels
  • mense in die winkels te hoor Afrikaans praat
  • telke male houtvuur braaivleis te hou
  • Afrikaanse musiek CDs op die rakke te sien
  • Huisgenoot te lees
  • Wimpy se ontbyt te eet en koffie te drink
  • Spur toe te gaan
  • Nuwe Afrikaanse musiekante in die winkelsentrums te sien optree
  • Jellietots, Pro-nutro en biltong blare te koop
  • Ou vriende te sien
  • By my ouers in die Karoo te kon kuier
  • Om by die Hartfees in Beaufort Wes na Lize Beekman se optrede te kon wees
  • om op 'n Karoo plaas Karoo skaaptjops en tuisgemaakte roomys met arbeikonfyt te kon eet
Ons het gekuier in Centurion en selfs gaan kuier en ysskaats in Montana, het ook besoek afgelê naby Kranspoort in Mpumalanga en toe na Beaufort Wes in die Karoo toe.

Hier is die braaivleisvuur by Antie Plaas hulle se plek "Kulula" in Kranspoort.





Ons het te lekker gekuier, en selfs 'n nuwe sêding geleer om in Aus te gebruik - I LAUGH ME DEAD ! (Dit beteken : Ek lag my dood, vir die mense wat nou nie Boere Ingels verstaan nie...)

Ons het by George in die tuinroete geland en toe deur die Outeniqua berge, die Klein Karoo, Meiringspoort in die Swartberge en tot in die Groot Karoo.

Die Outeniqua berge.



'n Foto in die Klein Karoo


Op die N12 deur Meiringspoort in die Swartberge




Oppad na Beaufort Wes in die Groot Karoo



Reënwolke in die Karoo





Met ons aankoms in die Karoo het 'n heerlike bui reën uitgesak. Ek het die volgende foto daar in Beaufort Wes geneem by my Pa se huis geneem.   Ons het die Saterdag by die Gamka Oos Kerksaal na Lize Beekman se optrede gaan kyk.  Sy het meer as 12 liedjies gesing.
 


Ek het 'n boer sien dans in die Karoo
(Lize Beekman)

Sit 'n bietjie langs my
Ek het ver gery op ‘n nuwe pad vir die eerste keer
êrens in die Groot Karoo
Dit was die langste tyd van byna niks,
Maar die kortste pad na waar ek wou wees
Ek het verlang na die see
Dit was ‘n groot verdwaal op ‘n reguit pad
Ek het noord en suid in die veld verlê
Maar na ‘n prentjie op ‘n plaaspad
Was ek seker ek ruik die reën

Ek het ‘n boer sien dans in die karoo
Met sy hoed in die hand – dakloos in die water van bo
Ek het ‘n boer sien dans in die karoo
Hy sê: “ons noem dit hier Genadewater, meisiekind
Hierdie reën – hierdie water bly ‘n seën”

Ek het stilgestaan op ‘n nuwe plek vir die eerste keer
êrens in die Groot Karoo
Dit was die mooiste plek van byna niks
Op ‘n plaas met die naam Berlin
Toe die hemel die aarde seën
Dit was soos huistoe kom op ‘n reguit pad
Ek en ‘n vreemdeling met die hoed in die hand
‘n prentjie op ‘n plaaspad
die stof, die dans en die reën

Ek het ‘n boer sien dans in die karoo
Met sy hoed in die hand – dakloos in die water van bo
Ek het ‘n boer sien dans in die karoo
Hy sê: “ons noem dit hier Genadewater, meisiekind
Hierdie reën – hierdie water bly ‘n seën”





Gaan kry gerus vir julle Lize se liedjies by Rhythmonline:
Die CD "Iemand het gesê" met 'n Sonneblom uit Bethlehem op
Die CD "Draadkar oor die see"
Die CD "Lullabies"
Die CD "Cake" met Soutmansland se kenwysie op

Hier is 'n foto van my ma se lekker kos...gegeurde hoender eenpotgereg, gegeurde rys, groenboontjies met aartappels, soetpatas met malvalekkers, pampoenkoekies, en lekker Kaapse wyn, waarna ons Malvapoeding met vla en vrugtekoek geëet het...en byna elke aand met familie gekuier.



Hier is 'n moewiese kriek op 'n kaktus in die Karoo.



En 'n by op 'n vygie.

 

In my ma se tuin groei hierdie vygies beter as die gras.

 

'n Lekker pot Aarbeikonfyt of stroop wat spesiaal vir ons op 'n Karooplaas gemaak is.

 

'n paar "Ladybirds" in 'n roostuin op die Karooplaas.

 

 Die mense was baie gasvry...dankie nogmaals aan: Andrew en Linda

Nou is ons terug in Sydney.

Vandag voel vir my amper soos die eerste dag van 'n nuwe begin.  Op 'n manier voel dit of ek ons lewe hier nou met beide hande kan beetpak.  My hart is gerus.  Ek voel ek hoort hier...

1 comment:

  1. Bly julle het die maand geniet by die huis. Welkom terug in Sydney.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings