Monday, October 26, 2009

Vier Vrouens in Daisy se Lewe

Van Swerwer se Daisy…

Ons het soos my Swerwer met julle gedeel het so pas van ‘n wonderlike vakansie af teruggekom. Dit was sommer baie lekker om tussen al ons geliefdes te wees. Daar is mos niks lekkerder as om tussen jou eie bloed familie te wees nie, die mense by wie jy jouself kan wees. As mens hier in die verte sit, besef jy gou hoe ongelooflik kosbaar familie is, jy voel letterlik hoeveel dikker bloed as water is.

Jy sien, die ding met my familie werk so. Hulle vou jou behoorlik toe in hulle liefde, jy kan nie anders as om te weet dat hulle lief is vir jou nie. Hulle liefde borrel sommer net oor.

Daisy se ma…

Vat nou maar my ma, as sy jou vashou, is dit of haar liefde om jou vou soos ‘n knus kombersie. Sy druk jou met alles in haar, want sy glo jy is die wonderlikste “babes” op die aarde, dis mos net ‘n ma wat jou so onvoorwaardelik kan lief hê en druk. As sy my vashou, gee dit my sommer baie moed vir die lewe. Dan verstaan ek ook beter van wat die Bybel ons leer….”die liefde oorwin alles”! Dis so lekker. By my ma is daar nie van moed opgee nie, familie staan bymekaar. Sy is ‘n sterk vrou, sy is die mooiste vrou. Maar kyk, my ma vat nie nonsens nie, maar as daar een ding is wat ek by haar geleer het, is dit hoe om lief te hê. Dankie mamma!

Daisy se sussie…

Dan dink ek ook aan my sussie. Sy is die mees spesiaalste sussie. Dit is net so “maklik” om in haar teenwoordigheid te wees. Dis is net so “maklik” om haar lief te hê. Sy is ongekompliseerd, eerlik en opreg. By my sussie kan ek net “WEES”, ek sê dit weer, dis hoegenaamd geen inspanning om in haar teenwoordigheid te wees nie. Ek noem dit haar gawe. Dis asof ek altyd in my mees ontspanne psige is as ek by haar is. Ek weet nie hoe om dit rerig te beskryf nie. Ek hoef haar nie te vermaak nie, ek is vir haar van nature snaaks. Sy kan so lekker skaterlag vir my, saam het ons sommer baie pret. As ek by haar is wil ek soos Mr Bean maak, daai selfvondane kyk vir die wêreld gee, grinnik en sê: wê pê…dis tog MY sussie daai. My sussie is seker een van die sterkste vroue wat ek ken. Sy moes al in baie moeilike omstandighede kop bo water hou, maar sy doen dit altyd met grasie, met ‘n regop en fier houding. Sy is terselfdertyd vroulik, warm en sagmoedig. Ek is so lief vir haar en sy vir my. Ek sal een prentjie van die vakansie altyd saam met my dra, waar ek knus langs haar op die bed gelê het, nadat ons natuurlik lekker die Sarie of Rapport gelees het, en in mekaar se oë kon kyk en weet ONS IS SUSTERS!

Daisy se Antie…

Een sin: My Antie Plaas is vrek snaaks. “I laugh me dead”. Kyk, by haar is ek eenvoudig uitbundig stuitig. Ons vat elke situasie en verrek en verdraai en begiggel hom. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy is baie kreatief en baie lief vir haar kinders. Sy is my liefste Antie.

Daisy se skoonma…

Ek beledig haar eintlik om haar my skoonma te noem. Want sy is dit nie. Sy is seker die mens wat die hardste kan werk, wat haarself die meeste opoffer vir ander en dit met ‘n groot “smile” doen. Sy maak die heel lekkerste melktert in die hele wêreld. Sy het by die Vader die gawe van gasvryheid ontvang. Dis vir haar die heel lekkerste lekker om vir haar kinders ‘n lekker bord kos voor te berei. Sy is ‘n baie goeie ouma vir my kinders, niks is vir haar te veel moeite nie. Sy het 'n juweel van 'n man vir my grootgemaak. Dankie mamma.

Ten slotte, hierdie is die vier vrouens wat in my lewe ‘n groot impak gemaak het, by wie ek iets geleer het, wat van my ‘n beter mens VIR die samelewing gemaak het. Viva!!

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings