Tuesday, February 02, 2010

Weer Suidkus toe

"Die man wat al die dae lekker kos kry, eet nooit lekker nie; en die man wat heeljaar vakansie hou, het geen een rusdag nie". Dit was een van die spreekwoorde van C.J Langenhoven.

'n Mens waardeer mos 'n welverdiende ruskansie wanneer jy hard gewerk het. So 'n breuk van die daaglikse roetine doen 'n mens nogal goed. Dit is altyd lekker om iets het om na uit te sien. Dit hou jou tenk vol en gee jou moed om deur te druk wanneer die stres by die werk te veel word en jou laaste vakansie doer vêr in die verskiet lê. Soms voel dit so min as mens dink jy het net 20 dae verlof in 'n jaar - dit beteken omtrent net so een week se vol vakansie en 15 langnaweke deur die jaar. Mens moet dit maar so gelykop spasieer sodat jy kort-kort 'n blaaskans kan vat.  Daar is nog so baie plekke in Australië om te verken...so min verlof.  Ek en my vrou droom al klaar daarvan hoe ons nog eendag om die "eiland" gaan toer, dalk op 'n Harley, dalk in 'n kampeer-"kombi".

Ons doen dit nou maar op die "tent-en-trailer" metode....die juppies dink mos hulle moet eers 'n 4x4 kry voordat hulle kan gaan kamp, en as hulle dan eers die ding koop moet hulle so hard werk om die paaiemente te kan byhou dat hulle nog minder kan wegbreek. Ons doen dit sommer met ons kar.  Ons het laasjaar reeds al beplan aan ons kampvakansie by Suid Durras by die suidkus (naby Batemans Baai).

Oppad na Batemans Baai het ons by ons gewone plek gestop en "Die wêreld se lekkerste pasteie" gekoop (soos ek voorheen oor geskryf het).  Daarna het ons by die uitkykpunt net voor mens deur die kronkelpad afdaal na Nowra gestop en ons pasteie gaan geiet terwyl ons die uitsig geniet.  Ek het hierdie foto daar geneem.



Hierdie keer het ons dit saam met vriende gaan doen, want hoe meer siele hoe meer vreugde. So het ons twee families reg langs mekaar "laer getrek"...



Ons het hierdie keer 'n "en-suite" badkamer bespreek.  Dan het jy jou eie toilet, wasbak en stort.  Laaskeer moes ons nog wanneer die nood druk maar in die middernagtelike ure die tent se zip aftrek en oor die gruisklippertjies met ons kaalvoete sukkel tot in die middel van die kamp by die "ablusieblokke".  Hierdie keer het ons dit in "style" gedoen. Van al die minder plesierige dinge van kamp is die ver loop tot by die toilet in die nag een van die minder lekker dinge...teen die tyd dat jy terug is by jou tent kan jy amper nie meer slaap nie.  Die eerste aand het ons die mooiste sterrehemel gesien wat ons seker nog ooit gesien het, want by Durras is bykans geen stadsliggies naby nie en als was pikdonker op die strand, met net die glimmende golwe in die voorgrond.

Markus het my gehelp met die braaiery in die aand en ons het gesorg dat ons ten minste 3 keer braaivleis hou.


As ek sê dat ek elke dag gesnorkel het oordryf ek nie, sommige dae was dit selfs twee keer.  Ek het eendag self twee kilometer gestap om te gaan snorkel op 'n plek.  Batemans Baai is ook deel van 'n "Marine Sanctuary" of Marine Heiligdom en mens kan dit duidelik sien, want visse wat rondom Sydney maar doodgewone grootte is, is in hierdie geweste baie groot.

Ek was hierdie keer baie gelukkig om twee keer af te kom op 'n rog of "ray" wat ek nog nie voorheen gesien het nie.  Die een se lyf was omtrent so 50 cm in deursnee en die een wat ek hieronder afgeneem het was so 40 cm.  Dit het, anders as 'n sand rog nie 'n pylvormige stert nie, maar dieselfde stert as 'n haai (net soos die "shovelnose ray" wat ek so 'n rukkie gelede afgeneem het.  Ek kon sowat 'n meter van die vis af kom en ons het vir 'n kort oomblik in tyd mekaar goed in die oog gehou voordat dit grasieus weggeswem het.  Markus het langs my gesnorkel toe ek die een hieronder afgeneem het.

Ek het lank gesoek om uit te vind wat dit is, maar uiteindelik bepaal wat die rog se naam is:
'n Fiddler ray / Banjo haai (Trygonorrhina fasciata)
(Hier is nog 'n foto op 'n ander website)

(Kliek op die fotos om te vergroot)
Dit was die mooiste rog wat ek tot nou toe gesien het. Ek het aanvanklik gedink dit moet 'n soort haai wees ondat die vis se ster heeltemal anders lyk as wat ek gewoond was.  Ek het een by die suidelike punt van Suid Durras gesien, en die tweede een by Gorilla Bay.  Hierdie ray is deel van die familie Rhinobatidae wat Kitaarvisse genoem word omdat dit 'n stert soos 'n haai het, maar met 'n plat lyf.




Toe ons by North Head gesnorkel het, het ek afgekom op 'n Southern Eagle Ray (Myliobatis australis).  Dit het 'n baie lang stert gehad (in teenstelling met die kort benerige stert van die ander) en het stadig verby my geswem gekom.  Hier is 'n foto van een wat iemand anders naby Wattamolla geneem het (naby waar ons ook al gaan stap het).

Ek het heelwat "Sand Rays" gesien hierdie keer, op een plek by Suid Durras het ek sommer meer as 12 getel wat onder die sand teen die rotse gelê en wegkruip het.  Hulle is baie volop in die vlak sandbanke naby die strand.

Ek het hieridie keer nog 'n ray gesien wat amper geen stert gehad het nie, maar meer gelyk het soos 'n ovaalvormige valletjies tafeldoek.  Dit is die eerste keer wat ek so iets teegekom het en het aanvanklik nie geweet wat dit is nie. Dit het deur die water beweeg deur met sy hele lyf golwende bewegings te maak.  Ek het een by Suid Durras sowel as by Gorilla Bay gesien - ek het nou net toe ek op die Internet gesoek het vir fotos gesien dit was 'n "Coffin Ray" of "Electric numbfish" (Hypnos monopterygium).  Ek het by Suid Durras dit 'n geruime tyd gelê en dophou so 5 meter onder my, dit was net so om en by 30 meter van die strand af by die rotse.  Dit het so onskadelik gelyk, maar kan mens blykbaar 'n gevaarlike elektriese skok geeHier is 'n video van een in die water.

Daar is 'n magdom visse by Guerill Bay, ek het onder andere 'n pers "Threebar Porcupine fish" (Dicotylichthys punctulatus) daar gesien. Hier is 'n foto op 'n ander webtuiste.


Een soort vis wat daar baie is, is die "Footballer" of Stripey (Microcanthus strigatus)
Hier is 'n foto wat ek van dit geneem het.




Hier is 'n foto wat ek by Guerilla Baai geneem het, dit is net suid van Batemans Bay en is 'n uitstekende plek vir snorkel omdat dit 'n baie beskutte baai het.


Ag man, daar is nog baie ander soorte visse, regte visse, hul ma en hul pa is visse, en ek het nou nie soos die toeriste in die Krugerwildtuin fotos van almal van hulle geneem soos van die rooibokke en bobejane nie.

Soos julle kan sien het ek vir my 'n boek gekoop om al die visse wat ek raakloop te kan identifiseer.  Dit is Graham J. Edgar se boek "Australian Marine Life" (Second Edition) ISBN 9781877069482.  Daar is oor die 1400 spesies plante en vissoorte in die boek.

Verder het ons lekker ge-"bodyboard" in die uitstekende branderry strand van Durras...hier is 'n agter-die-skerms video waar ek bodyboard ry...



Een oggend het ons vroeg opgestaan (soos wat ons gewoonte is) om na die sonsopkoms te kyk.


Die verskillende teksture in die sand in die volgende foto was aan die linkerkant deur die reën van die vorige aand gemaak asook die gety aan die regterkant.



Hier onder is die ligtoring by Kiama oppad na Wollongong.

 
Die vorige foto is natuurlik van die "blowhole" by Kiama geneem.

Nou ja, so het die kort vakansietjie ook op 'n einde gekom, maar dit was ten volle waardeer.

1 comment:

  1. Hi Julle

    Ons probeer weer. Ons moet nou vra : "Waar kry julle tyd om te werk, dit lyk asof julle maar altyd oppie jol is?". Dit is werklik mooi daar waar julle was. Dit laat ons dink aan die tyd wat ons saam met julle daar in OZ jaar voor verlede jaar (2008)by julle deurgebring het. Geniet verder.......

    Groete van die RSA OosKus (Hibiscus Coast)

    2xK

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings