Sunday, April 25, 2010

Die mense op my pad : Deel 2

Terwyl ek nou hierdie naweek so bietjie meer tyd het om te blog, dink ek, moet ek julle verder vertel van die mense wat ek elke dag van my lewe oppad werk toe en terug huis toe raakloop. 

Soms is die treine ook maar vir onverklaarbare redes stampvol...dit gee die term: "Die verkeer is druk op die trein", 'n heel ander betekenis. Dieselfde mense wat so 'n onsigbare veilige area tussen hulself en ander hou, word daardie oggende genoodsaak om hul liefde vir hul medemens tot op 'n hoër vlak te neem wanneer ons almal styf teen mekaar ge-"squeeze" word soos sardientjies.  Teen die tyd wat my trein dan by Eastwoord of West Ryde uitkom mis 'n hele paar mense hul trein...nie omdat hulle laat is vir die trein nie, maar omdat die mense wat dan alreeds in die trein is nie snoesiger onder mekaar se arms kan inwurm om vir hulle ook plek te maak nie...die trein se deure sluit dan mooitjies net weer sonder dat enige nuwe passasiers kon opklim.  Ons glimlag dan maar net vir mekaar en aanvaar dat dit die uitsondering en nie die reël is nie.  Teen die tyd dat ek by die stasie kom wat ek moet afklim, dan kanaliseer ek die inkomende mense verby my sodat ek in die teenoorgestelde stroom weer kan uitkom by die deur soos wat die menselywe verby my glip.  Nodeloos om te sê...die mense op die trein leer ken mekaar soms van baie naby.  Ek het ook al baiemaal op die trein geklim waar daar heelwat oop sitplekke is en waar ek dan die enigste een is wat by my stasie afklim....ek vermoed al die ander passasiers was dan op die vorige trein.

Toe ek nou die dag op die stasie by Epping staan en wag om oor te klim op die tweede trein besef ek weereens hoe bekend mense kan lyk - met goeie rede.  Week in en week uit staan mens mos maar op dieselfde plek en wag.  Dan, wanneer die vlag-man in sy oranje kleur uniform verbykom knik ek mos maar beleefd.  Later van tyd, wanneer jy sien dat dit 'n vriendelike vlag-man kan wees, waag jy 'n glimlag of 'n kopknik.  En hy knik terug.  Na weke of so wat hy jou dan elke oggend op dieselfde plek hom sien groet, dink ek begin jy al so 'n bekende gesig vir die ou raak, hy verwag later die groet en groet terug.  Jy word dan soos 'n "regular" vir hom.  Later waag jy 'n aanmerking oor hoe besig die treine is of jy glimlag net en begin 'n geselsie aanknoop.  Mense sien mos nie altyd die vlag-man raak nie, hy is dan deel van die stasie?!  Die spesifieke vlag-man by Epping stasie het egter vir my vreeslik bekend gelyk....so amper asof ek hom behoort te ken. Hy het 'n donker gelaatskleur en ek het aan sy gesig gewonder of hy nie van Maleisië af kom nie. Nie lank nadat ek met hom begin praatjies aanknoop het nie, lei hy toe af dat ek van Suid Afrika af moet wees (Wonder hoe?).  En met die' besef kom ek toe agter dat hy van dieslefde kontinent as ek kom.  Hy vertel my dat hy al so 25 jaar gelede Sydney toe gekom het van Zimbabwe af.  Hy werk al jare op die stasies.  Hy sê vir my ek moet sien hoe besig dit soms op Town Hall stasie kan wees want hy het baie jare daar ook gewerk.  Sy pa bly nou nog daar in Zim en hy gaan kuier so af en toe.  Sy naam is Ian.  Hy sê hy het gedink ek moet van Suid Afrika af wees.  Ek moes seker geweet het dat iemand wat my naam: "Heinrich" so goed kan uitspreek van onse mense moet wees.  Nou as ek hom sien noem hy my op die naam en ek groet die vlagman op Epping stasie weer op sy naam, want nou is ons nie meer vreemdes nie. 

Een ou wat nou al bykans 3 jaar lank elke dag saam met my die trein tot in West Ryde haal is Stephen.  Hy is 'n jong ongetroude programmeerder wat by Koorong werk.  Kooring is 'n Christelike Boekwinkel met takke regoor die land.  Hy is 'n stillerige ou met donker krulhare.  Beide van ons moet op Epping stasie oorklim op 'n ander trein.  Ons vra mekaar gereëld hoe gaan dit.  Hy is ook in Thornleigh Baptist en help met die lering van die jong kinders daar op Sondae.  Oor die afgelope paar jaar het ons mekaar al goed leer ken.  Hy is ook 'n vrywilliger by die NSW Rural Fire Service.  Ek en my seun het eenkeer by hul brandweerstasie in Westleigh gaan inloer soos ek in 'n vorige blog van vertel het
Hy vertel my gereëld hoe hulle "fire-drills" doen.  Nou onlangs met die baie reën moes hulle baie mense se huise se kelders en motorhuise help leegpomp of bome gaan verwyser wat afgeval het.

Nog 'n vrou wat ek baiemaal raakloop by die stasie in West Ryde is Julie.  Sy is 'n kort Koreaanse vrou met dimpels as sy glimlag.  Soos my gewoonte is glimlag ek mos maar vir mense wat met my oogkontak maak en groet beleefd in eg Afrikaanse tradisie.  Na 'n hele paar maande van hierdie gegroetery vra ek haar eendag of sy daar naby werk.  Sy vertel my toe dat sy sommige dae van die week daar by 'n donkterspraktyk uithelp.  Interessant genoeg hoor ek toe dat sy ook in Castle Hill bly en toevallig net 'n paar huise van ons af.  Haar kinders was ook in dieselfde skool as my kinders.  Sy groet nou nog altyd baie vriendelik.  Ek onthou haar naam en noem haar op die naam as ek haar groet.  Sy kan bykans nie eens Engels praat nie en ek dink dit sou haar normaalweg afskrik om sommer met enigiemand te gesels, maar ek is mos eiewys en anners...

Tussen die stasie en sy kafee staan die taxibestuurders teen hul taxis en gesels met mekaar.  Hulle laai mense op daar by die stasie.  Dis baie interessant dat daar so baie midde oosterse mense is wat taxi bestuur - die een groot rede is omdat hulle ambagte en professionele werke moes afterlaat om hier te kom taxi bestuur omdat hulle nie so goed Engels magtig is nie. Nog 'n stereotipe wat mens baie in Australië sien.

Ek steek die pad oor en teen hierdie tyd kom daar (indien my trein op tyd was) gewoonlik 'n spierwit Sjnese vrou verbygestap in die teenoorgestelde rigting.  Haar man laai haar altyd by West Ryde Marketplace (net so 'n honderd meter verder af) en dan stap sy stasie toe.  Sy het altyd wit handskoene aan met 'n ronde punthoed op.  Ek dink sy moet 'n baie sensitiewe vel hê wat maak dat sy nie te veel son kan kry nie want haar gesig is altyd spierwit ge-"paint" en haar kop altyd bedek.

Op die hoek is 'n straatkafee.  Ek koop soms daar vir my twee sappige bloedrooi appels vir teetyd.  Ek kan sien die eienaar is baie trots op die feit dat sy groente en vrugte baie vars is.  Hy pak dit elke oggend netjies en sorgvuldig op die rakke uit.  Ek sien hom elke dag as ek daar verbystap. 

Meeste van die tyd stap ek egter deur West Ryde Marketplace om vir my middagete te koop en 'n koffie te drink.  Die man met die draagbare stofsuier op sy rug is teen hierdie tyd al besig om die teëls skoon te suig, maar hy is meestal maar stroef.

By die winkel se ingang is 'n slaghuis waar die Mrs. Balls Blatjan, Ouma Beskuit en Cross & Blackwell Majonnaise oral op die toonbanke rondstaan saam met Ina Paarman se souse.  Daar hang ook biltong oral aan hakies rond.  Ek skat hulle het seker een of ander Suif Afrikaanse kontakte of hulle hou eenvoudig van ons souse.  Die mense agter die toonbank is al van vroeg af besig om die vleise in die vertoonglas uit te pak.

Hierna stap ek gewoonlik in Woolies in om middagete te koop.  Soms koop ek van die lekker geblikte Heinz sop, soms koop ek 'n slaai of blikkies vis of iets, 'n yogurt en 'n Royal Gala appel of twee.  By die betaalpunt hoef mens gelukkig nie in rye te staan nie, jy "swipe" dit sommer self oor die laser by die "self-checkout" punt.  Dis mos hier waar ek vir Jenny ontmoet het.  Ek weer nie of julle al die sepie "Home and Away" gekyk het nie, maar sy laat my geweldig dink aan Irene (die vrou met die rooikop wat by die Diner werk).  Sy is 'n ouerige vrou met kort donker swart hare.  Ek sien haar bykans elke dag daar en groet vriendelik met 'n glimlag en sy groet terug.  Sy hou toesig by die selfhelp-betaalpunte en help mense as hul vashaak.  Na 'n paar weke van sien begin sy my toe met "Have a good day...Luv" groet, en sy laat my voel asof ek haar familie is want sy wil weet hoe dit gaan.  Ek sê toe ek weet nie eens wat is haar naam nie alhoewel ek haar elke dag sien - en voel of ek haar al lankal moet ken.  Sy sê toe haar naam is Jenny...haar man is al 5 jaar gelede oorlede en sy bly nou alleen hier in Sydney nadat sy baie lank in die Central Coast in 'n klein voorstad Blacksmith daar naby "The Entrance" gebly het.  Haar kinders is al almal uit die huis uit (omtrent so oud soos ek).  Sy sê sy het 'n seun in Amerika, en nog 'n seun en twee dogters in die Central Coast.  Daardie oggend vertel sy my ook baie trots en met 'n glinster in haar oë dat sy die naweek haar vier kleinkinders ge-"babysit" het en dit baie lekker was.  Ek vertel haar ook van my eie familie.  Sy groet my nou altyd vriendelik as ek by die betaalpunt is en vra hoe dit met my familie gaan.  Ons gesels dan so 'n kort versie oor wat ek of sy die naweek gedoen het en dan heet sy my 'n lekker dag toe met: "Have a good day Luv".

Hierna koop ek gewoonlik vir my 'n lekker ou koffietjie by die Gloria Jeans koffie-"shop" in die winkelsentrum op die hoek.  Ek hoe nie eens meer te sê wat ek soek nie, ek vra net "The usual" en hulle weet dit beteken 'n Large Irish Nut Creme koffie.  Die bestuurder van die koffieshop se naam is 'n Aussie met 'n baie sterk Australiaanse aksent genaamd Darryl.  Hy is 'n effens stil ou van, ek skat so 45 jaar oud.  Sy seun werk ook soms in die winkel in die oggende.  Hy gee soms Barista koffiemaak lesings by die TAFE college en dan kry ek hom by die stasie oppad in stad toe as ek van die trein afklim.  Soms kry ek hom waar hy by die treinstasie se trappe afkom as ek opgaan.  By die koffiewinkel hoor hy gereëld van my snorkel en kamp ekspedisies.  Hy spreek my naam nou al goed uit. Ek vertel hom van al die Wobbegongs en  Electric Rays wat ek op my avonture teëgekom het.  Hy is altyd bekommerd dat ek nie deur 'n haai gebyt moet word nie. Hy maak soms grappies en wil weet of ek nogsteeds vir die Blou Bulle skree.  Ek sê natuurlik, ek het mos daar grootgeword en vertel hom van Pretoria.  Soms wil hy weet of ek nie na die sokkerwêreldbeker gaan kyk nie.  Jy sien hom behendig die koffiemeulens dryf en die geure ingooi.  Soms drink ek nie koffie nie en stap net verby, maar groet altyd vir Darryl deur net my hand op te lig as ek daar verbystap...en hy wuif terug, amper soos 'n saluut in die weermag. 
Die ander vrou wat by die koffieshop werk is Estelle.  'n Korterige krulkopvrou met 'n sagte rustige stem.  Sy wil altyd weet hoe gaan dit nog met my vrou en kinders, geniet hulle darem nog die skool.  Ek vertel haar byvoorbeeld as ek en die kinders gaan ysskaats het of die naweek weer by een of ander park of piekniekplek was.  Sy volg belangstellend en vertel weer wat hulle gedoen het.  Sy vra graag uit oor Suid Afrika.  Soms vra sy hoe dit gaan by my werk en ek moet soms sê dit gaan maar dol.  Nog 'n meisie waat daar werk is Mia, 'n klein en kort vroutjie met donker hare.  Sy praat nie baie nie, glimlag net skaam.
Soms, wanneer ek die vroeër trein gehaal het, gaan sit ek en drink eers my koffie rustig klaar en lees een van die koerante wat daar rondlê.  As ek klaar is staan ek op en groet vir Darryl hulle.  "See you next time", se hy.

Daarna stap ek verby die West Ryde Hotel.  Daar is 'n ou Oom wat byna elke oggend met die "blower" die blare en stof op die sypaadjie voor die hotel wegblaas, die vensters skoonmaak en die deure oopsluit.  Wanneer ek aangestap kom, sit hy eers sy masjien af en wag dat ek verbygestap het.  Gewoonlik maak hy nie oogkontak nie/ Nou het ek hom al begin groet.  Na baie maande glimlag hy nou en groet terug.  Eendag sal ek nog sy storie hoor.

Nog iemand wat ek gereeld gesien het was die vrou by die Anatolian straatkafee in Victoria road, waarvan ek al 'n vorige keer geskryf het. Sy weet ook dat die Ryde Burger my "the regular" is.  Dit is 'n familiebesigheid en hulle maak die lekkerste hamburgers.

Ek besef nou dat daar so baie mense is wat ek nooit sou ontmoet as ek nie met die bus en die trein werktoe gery het nie...

2 comments:

  1. Ek het hierdie 2 laaste inskrywings van jou baie geniet. Jy beskryf dit nes dit is. Ekself dink nou aan al die mense in my omgewing wat ek ook so op 'n daaglikse basis mee skouer skuur.

    ReplyDelete
  2. Ek het hierdie 2 laaste inskrywings van jou baie geniet. Jy beskryf dit nes dit is. Ekself dink nou aan al die mense in my omgewing wat ek ook so op 'n daaglikse basis mee skouer skuur.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings