Sunday, July 11, 2010

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour (blog skakel)

Dit is die middel van die winter in Sydney.  Buite val die reën en mens kan nie juis baie doen in die buitelug nie.  Ons het nou net lekker kaneelpannekoek geëet met botterkaramelsous wat ek self aanmekaargeslaan het.  Net gisteraand het ons teruggekom van 'n heerlike week-lange vakansiebreuk aan die noordkus van New South Wales.  Loukie (ons hond) kon nie saamkom nie en het by vriende van ons gebly hierdie week. Ons het vanoggend bietjie by Fagan Park met hom gaan stap, maar dit het later sagkens begin reën en dit het my laat dink aan die lekker pannekoek (Crepe) met Butterscotch sous wat ek by die Butter Factory in Bellingen geëet het.

Op hierdie soet noot...ons het vir die middel winter vakansie afgesuiker na Woolgoolga.  Dit is 'n piepklein dorpie net noord van Coffs Harbour.  Ons het daar vakansie akkommodasie gehuur wat soos in REG op die see uitgekyk het. Woolgoolga het 'n pragtige strand met ongerepte natuurskoon langs die kus af.  Dolfyne en walvisse baljaar in die silwer see en die son glinster op die golwe tot in die verte.  Die melkweg skitter in die nag want mens is letterlik 'n halwe duisend kilometer weg van Sydney in die suide en amper net soveel vanaf Brisbane in die noorde.  Aan die oostekant strek die stille see so ver as wat jou oog kan sien met die Solitary Eilande op die horison.  Na die weste is lowergroen grasvelde, piesangplantasies en berge met subtropiese reënwoude.

Die see se temperatuur was 'n heel gemaklike 19 grade en ons het saam met die kinders (darem bygesê met 'n wetsuit) in die branders baljaar. Ons het hierdie week darem ook bietjie gesnorkel, maar as gevolg van die bewolkte weer en winderigheid langs die see was die water maar troebel.  Maar ons het nou nie juis toegelaat dat dit ons afskrik nie.  Ons het ook ons vier fietse op die fiets-rak saamgeneem.  Ons familie kuiergas het vir hom 'n bergfiets gehuur by Woodseys Wheels.   Daar is dwarsdeur die dorpie en langs die lagoon en die see 'n heerlike fietspaadjie wat oor die rivier met houtbruggies verbind is.  Dit is 'n heerlike aktiwiteit om saam met 'n mens se familie te doen op vakansie.  Ons het langs die kus ook by 'n hele paar strande ingeloer soos: by Emerald Beach, Moonie Beach, Port Macquarie, Anna Bay en Nelson Bay by Port Stephens naby Newcastle.  Heelwat van hierdie strande is binne in natuurreservate waar die kangaroes in hul natuurlike omgewing vry rondloop...ook sommer tussen die erwe.  Die Moonie Strand reservaat by Emerald Beach is so 'n voorbeeld.  Daar is pragtige kranse langs die see wat men nogal aan fotos van Skotland of Ierland laat dink.

Eendag het ons die binneland verken en toe met die pas teen die berge op gery tot by Dorrigo Nasionale park waar ons deur die reënwoude gestap het en die panoramiese uitsigte bewonder het vanaf die Skywalk by Dorrigo (wat so terloops, heeltemal gratis is).  By een van die klein dorpies, het ons ingeloer by die Old Butter Factory, waar ons oggend-tee (morning tea) genuttig het.  Daar is ook 'n kunsgalery en 'n plek wat allerhande snuisterye en gedoentes van leer verkwansel.  Ons ry baiemaal ver uit ons pad uit "op ekspedisie", sommer net om nuwe plekke te ontdek...want die eindpunt is nooit die bestemming nie: op vakansie is die reis na jou bestemming die belangrikste, en nie hoe gou jy daar kom nie. 

Elke aand by die woonstel het ons saam gekuier, op die strand gaan stap of sommer net saam met die kinders op die fietse gery.  My seun was veral in sy noppies omdat ons in die aande tot laat gesit en Monopoly speel het.  Nou wil hy het heeltyd Monopoly speel.

Ons het dit baie geniet.  Oppad terug het ons besluit om 'n draai te ry en Fisherman's Bay en Anna Bay net noord van Newcastle te gaan besoek.  Dis 'n pragtige omgewing...en ook so naby aan Sydney.  Ons het die sonsondergang daar bewonder en toe teruggekeer huis toe.   Daar was 'n walvis en 'n hele skool dolfyne wat daar in die branders baljaar het. 

Ek het vir julle ons fotos opgelaai.  Julle kan dit hieronder kyk of by die web albums.



By Emerald Beach het ek die volgende verliefde paartjie afgeneem.

3 comments:

  1. Ai dit lyk en klink te heerlik....

    ReplyDelete
  2. Hi Swerwer - Ek lees al vir baie lank jou blog! Het gehoop ek kan nou jou opinie vra aangesien ons nou baie amper in Sydney gaan aankom. Ons arriveer in Sydney in Oktober (my man) en November (ek en die kinders) hierdie jaar. Teen daai tyd het baie vd skole al inskrywings ontvang vir nuwe kinders.
    Ons hoop dat daar miskien so 5 skole is wat ons op 'n kortlys kan sit sodat ons dan in daai areas 'n blyplek kan soek.
    Sal jy so gaaf wees om vir my 'n opinie te gee oor die skool waar jou kinders tans is?
    Ons beoog om in Cherrybrook, St. Ives, Castle Hills en/of enige van daai areas te 'settle'. Die kinders sal in Januarie 8 en 5 wees.
    Sal jou terugvoer waardeer!

    ReplyDelete
  3. Hello Sonja

    Jy het nie gesê of julle op 'n Permanente Visa of 'n tydelike (457) Visa hiernatoe kom nie. Wat die skole betref maak dit nogal 'n groot verskil. Indien mens op 'n tydelike (3-4 jaar) werkspermit kom, moet mens eers $4500 betaal per kind voordat jy jou kind hier in enige publieke skool wil inskryf. Om die waarheid te sê: die skool wag eers om die bewys van betaling te kry vanaf die NSW Onderwys Departement voordat hulle voortgaan om die kinders in te skryf.
    Jy kan meer inligting hieroor kry by:
    http://www.schools.nsw.edu.au/gotoschool/enrolment/index.php

    (Kyk veral na "Out-of-area applications")

    Om uit te vind oor verskillende skole:
    http://www.schools.nsw.edu.au/news/announcements/yr2010/jan/myschoolwebsite/

    Baie tydelike Visa houers besluit dus om eerder hul kinders in private skole te plaas omdat dit soms goedkoper is. Die publieke skole hier is na my mening van baie goeie standaard, maar die vereiste is dat jy op 'n permanente Visa wel in die skool se "catchment area" val voordat jy jou kind kan inskryf. Mens moet dus eers 'n bewys van adres (soos 'n water en ligte rekening) kan wys voordat hulle jou kind inskryf.

    Jy kan die volgende webtuiste gebruik om skole op te spoor:
    http://www.schools.nsw.edu.au/schoolfind/locator/

    Daar is 'n hele paar publieke laerskole hier in die omtrek soos:
    Castle Hill Public School
    www.castlehill-p.schools.nsw.edu.au

    Excelsior Public School
    www.excelsior-p.schools.nsw.edu.au

    Oakhill Drive Public School
    www.oakhilldr-p.schools.nsw.edu.au

    Samuel Gilbert Public School
    www.samuelgilb-p.schools.nsw.edu.au

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings