Sunday, December 09, 2012

Om Sydney stad op rollers te neem

(Skakel na hierdie inskrywing op die blog)

Wat as ek vir jou sou vertel dat hier in ons geweste is 'n skaatsbaan so groot soos 'n stad.  Om die waarheid te sê...net so groot soos jy dit wil hê.  Alhoewel daar ook ysskaats bane hier in Sydney is, is hierdie 'n rolskaatsbaan.  Amper soos mens by Margate altyd gekry het, maar net 'n buitelug een - 'n massiewe groot skaatsbaan onder die sterrehemel.

Met die warm someraande wat nou naderkruip is dit 'n ideale geleentheid om vir jou 'n paar rollemskaatse aan te skaf en bietjie oefening te kom kry hier in Sydney, want elke Woensdagaand in die hartjie van die middestad hier in Sydney neem enigiets van 10 to 100 bittereinder skaatsers die stad op horings op hul skaatse.  Die groep bestaan al 20 jaar en skaats elke Woensdagaand verskillende roetes deur die stad.  Hul ouderdomme wissel van die twintigs tot in die sestigs, en daar is mense van allerlei beroepe en lande.  Die skaatsers begin so 9 uur in die aand saamdrom op die trappe van die "Land Titles Offices" aan die regterkantste boonste hoek van Hyde Park.


Die Sydney Bladers se offisiële webtuiste is by www.sydneybladers.com waar julle meer inligting kan kry.

Julle kan die groep wat reeds meer as 600 lede het se Facebook bladsy gaan besoek by hierdie skakel.
Hierdie jaar se "Chrissie skate" fotos is by hierdie skakel

Die volgende fotos het iemand Woensdag geneem.  Dit was die jaarlikse skaats aand met 'n Kersfees tema, wat gewoonlik so aan die begin van Desember plaasvind.  Dit is amper soos 'n stapklub, maar net op rolskaatse.  Ek het Woensdagaand saam met hulle gaan skaats en hulle het my dadelik welkom laat voel.  Dit het gevoel of ek 'n nuwe speelding ontdek het, want dit was die eerste keer wat ek Sydney stad op hierdie manier in die aand leer ken het.  Watter beter manier om 'n stad se hoekies en draaie te leer ken as om dit saam met 'n klomp mense wat jonk van gees is te doen.

Kyk of julle die "Rustige Swerwer" rollerblader met sy Madiba hemp aan tussen die mense in die volgende fotos kan vind....












Omdat die eerste Woensdagaand van elke maand spesiaal ingestel is om mense uit te nooi wat nog nooit in die aande in Sydney geskaats het nie, word daar dan altyd 'n vasgestelde roete geskaats.  (Maar die laaste Woensdag is Mission Skate aand waar daar tot 25 kilometer so ver as die lughawe geskaats word).  Ons begin naby Hyde Park en die groep skaats dan deur die park se plaveisel verby die fonteine in Hyde Park.  Daar word op die sypaadjies en arkades langs die strate geskaats al langs Pitt street tot by Martin Place waar daar op die oomblik 'n tamaai kersfeesboom opgerig is.  Hier is daar toe eers fotos geneem vir die vale om hierdie groot jaarlikse gebeurtenis te onthou.  Vandaar het ons met George street se sypaadjies langs geskaats tot by Circular Quay en die Sydney Operahuis.  Wie kan sê dat hulle al om die Operahuis geskaats het op rollemskaatse?  Dit was heerlike oopgetrekte weer vir 'n skaats in die stad.  Daar was 'n groot plesierskip by die internasionale passasiers-terminaal vasgemeer en ons het verby dit geskaats deur "The Rocks" in die rigting van die Hawebrug.  Dis ongelooflik hoe baie gladde skaatsplekke daar hier is.  Onder die Hawe Brug is daar eers weer fotos geneem.  Op die video wat ek julle nog later sal wys sal julle moontlik die honderde vlermuise of "flying foxes" sien wat in die aande bo teen die hawebrug swerm.

Hierna is ons om die "Wharf"s by Dawes Point waar daar fantastiese rolskaatsplekke is soos julle kan sien op hierdie satelliet fotos.  Hierna het ons koers gekies Darling Hawe toe waar daar heerlike fietspaaie is vir rollerblading en toe is ons terug deur die stad verby die Sydney tower tot by Hyde Park.  Ons het seker eers so 22h00 begin skaats omdat ons vir almal gewag het, maar die plan is om 21h00 te begin skaats omdat die strate dan nie meer so baie motors in het nie (alhoewel ons nie juis op die strate skaats nie maar op die fietspaaie).  Ons was seker weer so 23h50 terug by die beginpunt.

Hier is 'n Google Kaart van die roete wat ons geskaats het:


Kyk na Sydney Bladers Chrissy Skate 05/12/2012 9:45pm op 'n groter kaart

Die totale afstand was: 11.81 km
Total tyd: 1:56:15

Gemiddelde skaats spoed: 8.14 km/h
Maksimum spoed: 35.26 km/h
Gemiddelde pas: 7.37 min/km
Maksimum hoogte: 92 m
Minimum hoogte: 12 m
Hoogte geklim: 358 m
Max grade: 33 %
Min grade: -28 %
Opgeneem: 05/12/2012 9:45pm


Hieronder is die hoogte profiel vir die wat belangstel.





Dit is heerlike oefening om die minste te sê - en mens ontmoet soveel nuwe mense. Daar was mense van Brasilie, Tjeggo Slowakye, Amerika, Portugal en vele meer.  Die feit dat mens 'n Suid Afrikaanse aksent het veroorsaak natuurlik ook baie belangstelling.


Ek het hier en daar video geneem, maar verskoon tog asseblief die kwaliteit, want my kamera se sluiterspoed is nie so vinnig in die aande nie en dit maak dat die video sulke liggie strepe maak wanneer jy vinnig op jou rollerblades beweeg en daar is nie regtig 'n manier om te kompenseer daarvoor nie.

Hier is die skakel na die video op YouTube.  Dit is sowat 15 minute lank en begin in Martin Place, wys hoe ons langs George street af skaats tot by Circular Quay.  Julle sal rondom en onder die Operahuis sien, dan langs die Rocks waar die plesierboot gestaan het, onder die Sydney Hawebrug deur, enn al die pad tot by Darling Hawe, vanwaar ons terug is na Hyde Park.




1 comment:

  1. Nou dis waar die kabouters van pole uithang - hulle leef hier in Australia - maak sin - dis 'n great plek

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings