Tuesday, October 28, 2008

Eienaardige bome rondom Sydney

In ons wedervaringe rondom staproetes en parke in die Sydney omgewing het ons al op heelparty snaakse en indrukwekkende bome afgekom. Sommige van hierdie bome is al donkiejare hier. Party is dalk al geplant toe Goewerneur Philip die eerste nedersetting hier begin het in Sydney. Die lewensjare van bome kan eeue wees, maar min van ons sal ooit weet regtig hoe oud hulle kan word in hierdie kort ou lewetjie van ons, want hulle kan ons almal oorleef.

Die volgende boom het ek by McCarrs Creek afgeneem. Dit lyk omtrent of die' boom dubbel seker wil maak hy word nie ontwortel nie.

Sommige bloekombome lyk of hulle aboriginal tekeninge op het, maar dit is eintlik insekte wat die bas wegvreet. Wie sê daar is nie so iets soos Graffiti in die diereryk nie. Ek het die boom op die Scribbly Gum roete naby Jervis Bay afgeneem.

Ander bome weer lyk of hulle met hulle voete op die rotse geanker staan. Die volgende boom het ek by Bobbin Head afgeneem.

Die volgende boom word 'n "Elephant foot tree" genoem en lyk amper soos die voet van 'n Olifant. Die boom staan in die "Royal Botanical Gardens".

Net so 'n entjie van die botaniese tuine, nader aan The Domain, waar daar gereeld groot opelug simfoniekonserte gehou word, staan die volgende statige boom oor die eeue al mense en betrag.




Hier volg nog 'n baie ou boom wat staan in die botaniese tuine.

Ons het eendag, op ons reise deur Sydney, op hierdie eienaardige boom naby Manly afgekom.


Dit lyk ampertjies asof die boom onderstebo geplant is, want hy het talle wortelagtige uitgroeisels in die lug. Mens kry dieselfde soort bome by Watsons Bay.

Dan dink ek hoe baie keer ons met bome vergelyk word in die bybel...goeie bome wat vrugte dra en bome wat nie vrugte dra nie. Bome wat verdor en bome wat floreer.

"Dit gaan goed met die mens...wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak." Psalm 1:2-3

"Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.
Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God.
Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. "
Psalm 92:13-15


"om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,
die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder. "
Jesaja 61:3


"Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My (Jesus) bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand." Johannes 15:5-6


"Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi." Lukas 3:9

En dan natuurlik vir die toekoms...

"Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie...
Daar sal geen kind sterf wat maar 'n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is...
My volk sal so oud word soos 'n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet." Jesaja 65:17-22

Bome is vol beloftes...hang net af hoe jy na hulle kyk.

1 comment:

  1. Ek lees al vir 'n rukkie hier, maar moet nou net eers iets se ;-)
    Die foto's wat jy neem is regtig stunning en bome het iets magical aan hulle. Ek is mal oor groot ou bome, veral kremetarte.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings