Tuesday, October 28, 2008

Eienaardige bome rondom Sydney

In ons wedervaringe rondom staproetes en parke in die Sydney omgewing het ons al op heelparty snaakse en indrukwekkende bome afgekom. Sommige van hierdie bome is al donkiejare hier. Party is dalk al geplant toe Goewerneur Philip die eerste nedersetting hier begin het in Sydney. Die lewensjare van bome kan eeue wees, maar min van ons sal ooit weet regtig hoe oud hulle kan word in hierdie kort ou lewetjie van ons, want hulle kan ons almal oorleef.

Die volgende boom het ek by McCarrs Creek afgeneem. Dit lyk omtrent of die' boom dubbel seker wil maak hy word nie ontwortel nie.

Sommige bloekombome lyk of hulle aboriginal tekeninge op het, maar dit is eintlik insekte wat die bas wegvreet. Wie sê daar is nie so iets soos Graffiti in die diereryk nie. Ek het die boom op die Scribbly Gum roete naby Jervis Bay afgeneem.

Ander bome weer lyk of hulle met hulle voete op die rotse geanker staan. Die volgende boom het ek by Bobbin Head afgeneem.

Die volgende boom word 'n "Elephant foot tree" genoem en lyk amper soos die voet van 'n Olifant. Die boom staan in die "Royal Botanical Gardens".

Net so 'n entjie van die botaniese tuine, nader aan The Domain, waar daar gereeld groot opelug simfoniekonserte gehou word, staan die volgende statige boom oor die eeue al mense en betrag.




Hier volg nog 'n baie ou boom wat staan in die botaniese tuine.

Ons het eendag, op ons reise deur Sydney, op hierdie eienaardige boom naby Manly afgekom.


Dit lyk ampertjies asof die boom onderstebo geplant is, want hy het talle wortelagtige uitgroeisels in die lug. Mens kry dieselfde soort bome by Watsons Bay.

Dan dink ek hoe baie keer ons met bome vergelyk word in die bybel...goeie bome wat vrugte dra en bome wat nie vrugte dra nie. Bome wat verdor en bome wat floreer.

"Dit gaan goed met die mens...wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak." Psalm 1:2-3

"Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.
Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God.
Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. "
Psalm 92:13-15


"om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,
die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder. "
Jesaja 61:3


"Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My (Jesus) bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand." Johannes 15:5-6


"Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi." Lukas 3:9

En dan natuurlik vir die toekoms...

"Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie...
Daar sal geen kind sterf wat maar 'n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is...
My volk sal so oud word soos 'n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet." Jesaja 65:17-22

Bome is vol beloftes...hang net af hoe jy na hulle kyk.

Sunday, October 26, 2008

McCarrs Creek

Hier rondom Sydney is daar sommer 'n magdom plekke om te gaan piekniek hou as jy die dag lus kry om bietjie weg te kom op 'n Sondag middag. Een so 'n plek wat ons onlangs ontdek het is McCarrs Creek. Dit is net so 'n katspoegie weg van West Head en ook deel van die Ku-ring-gai natuurreservaat. Dit is geleë naby Scotland Island in die sout rivierloop wat tussen Palm Beach en West Head inloop. Natuulik is dit ook langs 'n Soutwater woud (Mangrove Forest) en baie van die seilbootjies waarmee mense op die see gaan seil word hier by McCarrs Creek gestoor.

Daar is heerlike sitplek onder koeltebome, plek vir vistermanne en mens kan ook met 'n kajak op die rivierloop gaan roei.


Die water is ongelooflik helder en mens sien nêrens rommel ronddryf nie.




Hier is 'n kaart van die omgewing. Mens kom daar uit deur met Pittwater road vanaf die Mona Vale pad te ry op McCarrs Creek rd.

View Larger Map

Dit laat my nogal dink aan die liedjie wat John Williamson oor die "Creek" geskryf het waar Aussies so lekker visvang.

Oath To Australia
(John Williamson)

Hoist up the kangaroo, red Ochre, Uluru
Golden wattle, and blue-gum green
Under a blue sky surrounded by oceans
Where rain on the inland is gold

God bless our rivers
May we always catch fish in the creek
I promise to return
All the love that you give to me

(Narration)
I believe in the ancient spirit of the great South Land (Terra Australis)
Her health is my responsibility
And her fruits will be mine only in return for my caring

God bless our coastline
May we always catch fish on the beach
I promise to return
All the love that you give to me


Bo kan julle die "Golden Wattle" blommetjies sien waaroor hy in die liedjie sing. Daar was so 'n boom in my ouerhuis in Suid Afrika se tuin.

Indien julle belang stel om na enige "Creek" in Australië te soek, gaan kyk by hierdie webtuiste, wat 21026 sulke "creeks" op 'n databasis het vir Australië.

Saturday, October 25, 2008

St. George's Basin

Goeiemore al die mense. Man, ek sê vir julle, hier is heelwat staproetes om te verken by die Booderee Nasionale Park in Jervis Baai. Daar is ook 3 oornag kampplekke waar mens in 'n tent kan gaan kamp en sommer regte vuurmaakhout kan gebruik. Inteendeel, by party van die oornagkampe hier voorsien hulle sommer stapels hout, soos in die volgende foto gesien kan word.

In die agtergrond kan julle die brandblusser kas sien.

Die volgende foto is op een van die staproetes geneem.


Om my huidige blogs oor Jervis Bay af te sluit, wil ek net so bietjie vir julle die omgewing wys waar ons gebly het.

Ons het in 'n huis by Sanctuary Point, regs langs St. George's Basin gebly. Dit is 'n baie mooi omgewing en baie rustig. 'n Paradys in die kleine, met 'n magdom voëllewe. Ek het die volgende Eastern Rosella voor in die tuin afgeneem. (Ek is egter nie seker of dit nie dalk 'n ander familie Rosella is nie). Maar wees verseker dat dit 'n soort papegaai is.

Die onderste Rosella lyk egter vir my meer soos 'n Crimson Rosella, terwyl die groen in die boonste een in die foto hieronder my laat dink dat dit weer 'n Eastern Rosella is.

Soms is dit moeilik om te kan onderskei tussen die verskillende Australiese inheemse voëlsoorte hier. Die "Crimson Rosella", die "Eastern Rosella" en die "Rainbow Lorikeet" lyk baie na mekaar as jy net na die verskeidenheid kleure kyk, maar sodra jy hulle van naderby beskou kom jy agter dat hulle reënboogkleure op heel verskillende plekke sit. Ek het die volgende foto van die Reenboog Lorikeet in die agterplaas geneem toe ons net hier aangekom het in Oz, dit was nog by ons vriende se huis langs wie ons nou bly.


Hier is 'n webblad waar mens mooi kan onderskei tussen die mees bekende van Australië se verskillende soorte voëls.

By die plek waar ons gebly het moes mens met so 'n steil voetpaadjie afloop to by die meer wat deur die see gevoed word deur baie nou ingange vanaf die see. Dus is die water souterig en kom daar baie skulpe langs die meer voor.


View Larger Map





Baie voëls soos Pelikane en eende kom ook hier voor.


So 'n paar mooi blomme wat ek hier afgeneem het.




En dan natuurlik, om die kersie op die koek te plaas: Hier is so 'n paar sonsopkoms fotos wat ek oor die meer afgeneem het.




Tuesday, October 21, 2008

Dolfyne kyk in Jervis Baai...en laasjaar in New Zealand

Ons vriende van SA wou baie graag dolfyne sien. Ons besluit toe om op een van daai Dolfyn besigtigings toere te gaan daar by Jervis Baai. Soms sien mens walvisse ook in die baai. Wel, die week wat ons daar was het ons beide dolfyne en walvisse gesien. Ons kon nie vir beter gevra het nie. Hier is so 'n paar fotos van die twee en 'n half uur lange veerbootrit...

Die plek waarby ons dit bespreek het was www.dolphinwatch.com.au.



In die volgende foto kan julle die ligtoring by "Point Perpendicular" sien.

Na so 'n soektog van omtrent 2 uur het ons toe op 'n groep dolfyne afgekom waar hulle in die water baljaar het.

Volgens die toerleier oorleef 100% van die klein dolfyntjies wat hier in Jervis Baai gebore word, omdat daar geen natuurlike vyande die baai binnekom om die dolfyntjies te bedreig nie.

Hulle het nie naby aan die veerboot geswem nie, maar hulle afstand gehou.



Ek het die volgende twee kort videos van die dolfyne afgeneem in Jervis Baai.






Toe ons egter laasjaar 26 November 2007 by Milford Sound was, het ons 'n hele skool dolfyne sommer van baie naby gesien, want seker so 12 van hulle het direk onder die veerboot se boeg vir etlike kilometers lank geswem. Hier is die boot waarmee ons was...

Ek het laasjaar nie 'n video daarvan vir julle opgelaai nie, dus hier volg nou splinernuwe beeldmateriaal, nog nooit op die Internet gewys nie. Dit wys hoe naby die dolfyne aan die veerboot geswem het. Hulle is darem sulke grasieuse diere.


Monday, October 20, 2008

Snorkel by die Murrays se strand

Ek gaan nou vir julle 'n geheim vertel....maar...sjjjjt...moet dit vir niemand vertel nie...ons wil nie hê die hele wêreld moet van die plekkie uitvind nie. Dit is die mees ongerepte stukkie paradys wat ek nog tegeëgekom het so naby aan Sydney. Ek het vir een van die local Scuba toer operateurs gevra waar die beste plekke is om te gaan snorkel rondom Jervis bay. Toe vertel hy my...hoogs vertroulik...dat daar 'n strand is, nie vêr in die Booderee Nasionale Park in nie, genaamd Murray se strand ("Murray's Beach"). Hy sê toe mos vir my hy het al selfs seekatte daar gesien...net so sê hy! Njannies kgopela. Ek sê toe vir hom: Ons hou dit net so tussen ons hoor....en hy antwoord toe:hy het my nie gesien nie. ;-)

En so het ek toe die toeriste kaart gefynkam op soek na Murray's Beach. Die Murrays is mos familie van my jy weet. Ons loop 'n lang pad. Ek dog toe so by myself....dalk is daar weggesteekte skatte by hierdie verlate strand... Dalk is daar oesters met pêrels in? Aha! Daar is hy op die kaart. Ek fluister toe vir my vrou...more vroeg staan ons op, kry ons snorkels en duikbrille...en dan gaan duik ons net daar waar die X op die kaart is. Dalk vind ons nog die skat van Kaptein Murray?!

Hierso is die presiese GPS posisie van die plek....en onthou...jy het dit nie by my gekry nie!

Dalk onthou julle nog my post van in Februarie 2007, waar ek al die scuba plekke rondom Sydney gelys het....wel, noudat ons hier is word daardie droom so stukkie vir stukkie waar. Ek is besig om stelselmatig nou al die plekke te ontdek waar ons kan snorkel om mooi seelewe te sien.
En eendag...wie weet...die Groot Koraalrif naby Cairns!!!

Ons was vroeg die oggend daar by die strand. Mens stap so 'n entjie met 'n voetpad om die see te bereik. Die see was kalm en die water blou.


Oral op die rotse groei sulke rubberagtige geel-groen seegras.
Daar groei selfs grasgroen mos op die rotse. Maar die water is kristalhelder. Ek sê jou, dis soos om êrens op 'n eiland te wees. Die eiland is Australië.

Die plek is natuulik nie sonder gevare nie....ek het jou werklikwaar een dooie bloublasie op die strand sien lê....

Oral tussen die gleufies en gapings in die rotse was daar 'n menigte klein rooi koraaldiertjies wat deur die laagwater ontbloot was.

Ek het hierdie vir julle afgeneem....



Daar is ook seesterre...

...en nog seediertjies tussen lewende seeslakkies in skulpe...

See-krappe. Rooies en swartes. Omtrent so 30 cm groot

En natuurlik baie seeplante en onderwater gras.

Nou ja, ons het opge-"kit" met ons snorkel en spesiale onderwater duikbrille.

En toe het ek die see ingevaar. Mens dryf nogal lekker op die water met 'n wetsuit moet ek sê. Jy hoef nie te skop om bo te bly nie. Jy dryf soos 'n rubberprop op die water...en so lê jy en beskou die wonderwêreld wat onder jou oopvou soos jy al hoe dieper rondom die rotse die see indryf. Ek het egter net gagaan tot waar ek kon sien hoe die seebodem skielik onder my begin verdwyn die dieptes in...want dis mos waar die groot visse hul ontbyt kom kry.

Wat mens rondom hierdie strand se rotse sien is...
'n magdom "sea urchins" met honderde swart stekelrige penne...honderde sê ek vir jou

As jy ooit deur een van hierdie gesteek word...hier is die behandeling.

Ek het die volgende "Sea Urchin" skulp opgetel onder die water.


Dan was daar ook nog baie Kelp asook groen seegras wat amper soos 'n onderwater grasperk lyk wat lanklaas gesny is.

Daar was baie koraaldiertjies wat toemaak wanneer jy met iets daaraan raak. En ook visse...baie baie visse, sommer so 25 of meer wat op een slag hier rondom en onder jou swem. En nie sommer klein visse nie, sulke 30-40 cm visse. Daar was sulke helder oranje visse en rooi visse (kyk verskoon my beskrywings, maar op die oomblik het ek nog nie wetenskaplike name vir oranje of rooi visse nie).

Ek het so af en toe afgeduik om nog 'n nader beskouing te kry van sommige van die dieper goeters. Dis nogal soos 'n droomwêreld - kyk ek weet hoe lyk die riwwe by Sodwana, sover het ek nog nie weer iets so mooi gesien soos daar nie, maar vir my was hierdie belewenis heeltemal goed genoeg...en gratis.

Die "cherry" op die koek was natuurlik toe ek so aan die Westekant van de rotse kom, nadat ek al vir baie lank net so op die oppervlak gelê het, met net my eie asemhaling as geselskap....het daar reg voor my, so 2 meter weg, 'n meter lang (give and take 'n paar centimeters ;-) onbekende haaisoort geswem. Ek het tot dusver nog nie so 'n haai gesien nie, maar ek het geweet dis 'n haai as ek na die vinne gekyk het. Maar dit het 'n heel ander soort kop gehad, met 'n kleinerige bek. Ek kon vir jou die kop presies uitken, maar wat dit was het ek nie geweet nie.

Ek wou eers agterna swem, wens ek het, maar die volgende gedagte wat by my opgekom het, was dat daar moontlik meer van hulle kon wees, en ek nie geweet het watter soort seediere hierdie tipe haai se dieet uitgemaak het nie, want as robbe, of seeleeus, of selfs pikkewyne daaronder geklassifiseer het, dan wou ek (wat met my kaal voete en pikswart wetsuit aan, nogal baie soos 'n rob kon lyk) nie daardie dag aan die onderkant van die voedselketting beland nie.

Daarom het ek toe maar ge-retereer, omgedraai en in die teenoorgestelde rigting gespartel. Met so baie "sea urchins" met vlymskerp penne, was ek ook maar baie versigtig om net by die naaste rotse uit die water te klim. Dus het ek maar kalm-erig teruggedryf rondom die rotse tot by die anderkant. Tog was dit 'n baie groot belewenis.

Nadat ek terug was in Sydney, het ek vir die ouens by die werk vertel van die' haai met sy eienaardige kop. Hulle het eers gedink dit kon dalk 'n Wobbygong haai wees, maar na verdere ondersoek was ek oortuig dat ek my eerste PJ gesien het. Dis nou wat die duikers hier in Oz 'n Port Jackson Haai noem. Sydney hawe is mos Port Jackson. Dus was dit 'n baie algemene en skadelose haai wat ek gesien het. Hierdie foto van 'n ander website is PRESIES wat ek gesien het...maar ek het nie hierdie foto geneem nie.

Agter die haai kan julle sommer die "sea urchins" sien. Die haai se kop lyk amper soos die van 'n bulldog s'n.

Gaan lees gerus meer oor die Port Jackson Haai. Hulle beweeg in die somermaande af Jervis Bay toe en lê dan daar hul eiers, wat in spesiale leeragtige omhulsels genaamd 'n "shark pod" aan die bodem vasgeanker word. Hier is 'n Port Jackson haai eier se pod.


Gelukkig vir my leef hulle hoofsaaklik van krappe...

Hulle wetenskaplike naam is Heterodontus portusjacksoni.

Gaan lees ook oor ander haaisoorte hier in Australië.

Hier is 'n skulp wat ek gekry het...



Die strand is reg aan die onderpunt van die Booderee Nasionale Park, naby die ingang van Jervis Baai. Ingangskoste is $10 vir 48 uur.

Na verdere ondersoek het ek uitgevind, dat die Aussie regering amperties hierdie klein stukkie paradys omskep het in 'n Kernkragreaktor voor 1971, maar genadiglik is die planne laat vaar...en al wat nou daar is, is 'n parkeerterrein en toilette - gelukkig is daai planne laat vaar.

Net om julle 'n idee te gee van hoe dit voel om so agter een van hierdie Port Jackson haaie in Jervis Bay te swem, hier is 2 videos wat ek op die internet opgespoor het van hulle by Jervis Baai. Hierdie is presies hoe dit lyk daar.





Ek gaan aan die regterkant van hierdie blog 'n lys opbou van al die plekke waar ek al gesnorkel het en wat ek gesien het. Ai....nou kort ek net 'n onderwater kamera!

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings