Saturday, December 08, 2007

Ons avonture in New Zealand : Ons besoek aan Milford Sound

Maandag 26 November 2007
Omdat ek nie graag die pad na Milford Sound met die kampeer-'van' wou ry nie, het ons gister vir ons 'n 'Coach & Cruise' bespreek waar iemand ons met sy bus na Milford Sound (waar daar diep Fjords uitgekerf is deur gletsers, en wat nou deur seewater gevul is) geneem het en dit 'n bootrit vir die hele familie ingesluit het. Ons het reeds so 7h45 op die bussie geklim. Die busbestuurder se naam was Merv, en hy was baie vriendelik en het regtig uit sy pad gegaan om die dag onvergeetlik te maak. Omdat dit net ons gesin en 'n paartjie van Indië af was (ek dink hulle was op hul 'honeymoon'), het Merv feitlik oral langs die pad vir ons gestop sodat ons kon fotos neem. Vandag was seker die hoogtepunt van ons avontuur op die Suid eiland van New Zealand. Ons het die mooiste weerkaatsings van die sneeubedekte berge in die water van die rivier gesien.


Daar was woude, wat vir my kompleet soos die woude in 'Lord of the Rings' gelyk het. Op die plekke langs die pad waar ons gestop het kon ons deur woudpaadjies gaan stap waar daar ongelooflike digte woud is met bome en grond wat geheel en al met mos bedek is.

Milford Sound kry gemiddeld 7-9 meter reënval per jaar!! Dit is nou seker die beste tyd om die plek te besoek omdat die reën so bietjie opgeklaar het. Merv het gesê dat hierdie week die eerste week in 6 maande is wat die busse toegelaat is om te stop langs die roete as gevolg van die gevaar van sneeustortings. Die roete word dwarsdeur die jaar oopgehou en daar word beheerde sneeustorings uitgevoer met dinamiet om die gevare van groter sneeustorings ('avalanches') te voorkom.

Op die 'red boat' boot van 'Encounter' cruises waarop ons in die Fjords of 'Sounds' ('n kleiner Fjord van so 60 meter diep) het die bemanning ons alles van die omgewing vertel. In die wintermaande is die loodregte pieke wat so uit die diep water uittroon bedek met sneeu wat teen die rante afstort. Oral is daar watervalle teen die loodregte wande. Die kaptein het die boot reg onder deur die watervalle geneem en dan kon die mense op die boot met reënjasse onder die water gaan staan wat dan op die boot gestort het. Dit is nou somer hier, maar glo vir my...dit was yskoud op die boot. Dit het gevoel of ons in die middel van die winter êrens op 'n boot ter see was. Dit het nogal komies gelyk...sommige van die bemanning wat op die toer kommentaar gelewer het, het met kort hempies in die ysige misreën voor op die boot gestaan terwyl al die passasiers met dik wintersjasse en serpe gestaan en luister het. Toe ons oppad terug was, het daar 'n hele skool dolfyne voor die boeg van die boot kom speel en ons kon beleef hoe hulle van naderby lyk in die oop see. Hulle het vir 'n hele paar kilometers so onder en langs die boot gespeel.

Die see wat mens hier kry is die Tasman see, tussen Australië en New Zealand. Daar was ook pelsrobbe op die rotse langs die loodregte kranse. Daar was toebroodjies en lekker warm koffie op die boot en ons het dit sommer baie geniet. Oppad terug het ons by 'n hele paar plekke gestop waar die ongesmelte wit sneeu nog langs die pad gelê het. In my lewe van 35 jaar het ek nog nooit aan regte sneeu geraak nie! Ek het dit nog net altyd op fotos, op die TV nuus of op die berge van ver af gesien. Ek het al wel aan wit hael geraak, maar nog nooit aan vars sneeu nie. Vandag het ek die kans gekry om dit vir die eerste keer te beleef, want ons kon op die afgestorte sneeu langs die pad loop en die tekstuur daarvan voel.


Die lug was nogal nie so koud soos wat ek dit voorgestel het nie. Die sneeu neem baie lank om te smelt en teen die tyd wat dit weer begin winter word, dan is daar nog baie sneeu van die vorige winter oor. Ons het ook 'n Kea 'papegaai' gesien wat hier in die koue bergtoestande leef. Toe ons vannaand terug is in Te Anau en 'n lekker bord kookkos by die eetplek op die dorp eet, het ek ook vir die eerste keer in my lewe 'Pavlova' geëet. Dit is mos soos Australië se nasionale poeding amper soos wat malva poeding dit in Suid Afrika is. Baie lekker, amper iets soos 'n kruising tussen skuimpies en 'Lemon Meringe' tert.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings