Saturday, December 08, 2007

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Omarama af na Queenstown

Saterdag 24 November 2007
Ons het vanoggend eers so na 10h30 in die pad geval. Ons bestemming was Queenstown, wat nie so ver was nie en ons het die pad rustig gevat en die natuurskoon bewonder. Oppad na Queenstown wissel die veld langs die pad van bruingroen na grasgroen en op plekke is daar sulke plate klein geel blommetjies wat die veld versier. Op baie plekke tref jy skape aan. Hulle staan in sulke groot hoeveelhede op die groen weiding dat dit jou soms herinner aan die trosse bosluise rondom 'n weggooibrak se ore.


Mens kan sien dat die New Zealand se boere elke greintjie van hulle plase benut en mens sien gereëld trekkers op die lande besig om tamaai heuwels om te ploeg vir aangeplante weiding. Daar is ook oral wilgerbome langs hierdie pad, asook ander bome wat soos groen populiere lyk. Daar is die mooiste valleie gevul met bome en met riviere wat daardeur loop. Daar is ook baie 'Kersfees' bome soos ek dit noem. Bome wat soos dennebome in vorm lyk, maar waarvan die blare anders lyk omdat dit nie naalde is nie (alhoewel daar ook is met naalde).

Een van die dorpies waardeur ons was se naam is Tarras waar daar onder andere 'n koffiewinkel is. Daarna is ons verby 'Lake Dunstan'. In Cromwell was daar sulke tamaai groot voostellings van plaasvrugte soos appels en pere en so ent daarvandaan het ons by 'n padstal aangedoen waar ons die lekkerste neute, vrugte en sjokolade lekkers gekoop het. Daar is ook 'n baie goed versorgde groot roostuin net langsaan dit.


Daarna is ons al langs die Kwarau rivier langs waar daar eens op 'n tyd goudsoekers was. Daar is ook 'n hidroëlektriese skema in die rivier. Die water in hierdie rivier is so 'n melkerige ligblou kleur. Uiteindelik kom mens by die dorpie Queenstown uit in die berge. Dit lyk kompleet soos Heidi se berge iewers in Switserland. Selfs die houthuise is oral in dieselfde boustyl gebou. Ek is seker hierdie plekkie word in die wintermaande oorval met mense wat hier wil kom ski. Toe ons daar aankom het ons heel eerste in 'n baie beknopte karavaanpark ingeboek. Dit is geleë in die hartjie van die dorpie Queenstown. Mens kom dadelik agter dat die hoof industrie van hierdie plekkie sekerlik toerisme moet wees. Oral waar ons gegaan het was daar net Europese toeriste van onder andere Duitsland. Ek moet sê, ons het heel tuis gevoel tussen so baie mense wat ook verskillende variasies van die Europese tale gepraat het. Vir hulle het ons seker maar net soos Hollanders geklink. Ons het besluit om met die Gondola (kabelkarretjie) hoog op te gaan teen een van die berge. Oral langs die rit is daar net 'kersfeesbome' waar jy kyk.


Bo op die berg was allerhande aktiwiteite waaraan die toeriste kon deelneem. Soos onder andere die Luge (klein kaskarretjies), waarmee my vrou en seun tog te lekker so 'n entjie langs paadjies (amper soos in 'n 'bobslee') afgery het. Mens kan baie ver sien oor die hele area van bo teen die berg af. Die Wakatipu meer strek dan so ver as wat die oog kan sien. Daar was ook ander aktiwiteite soos bungi spronge, maar ons het nie dit gedoen nie. Toe ons daar klaar was, het ons bietjie deur die dorpie gaan stap en uiteindelik vir ons by Subway vir ons aandete gekoop. As mens aandete eet is dit natuurlik nog helder lig, want hier sak die son eers amper 9 uur die aand. By Subway het daar 'n ou gewerk wat van Brazilië af is, hy was nuuskierig om te weet van waar ons is, omdat ons vir hom so 'Dutch' klink.

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Hier is 'n panorama van Queenstown.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings