Saturday, December 08, 2007

Ons avonture in New Zealand : Vanaf Haast na Hokitika

Donderdag 29 November 2007

Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.

Ons het vandag vroeg in die pad geval. Daar was 'n groterige afstand om af te lê en ons wou so gou as moontlik in die pad kom. Normaalweg sou ek eers so 'n entjie langs die strand gaan stap het om die sonsopkoms te bewonder...maar dis mos die weste en die son kom nie hier op nie.

Die daaglikse roetine is om die gasbottel van die 'lorrie' toe te draai, die kragpunt te ontkoppel, die grys water (dis nou die skottelgoedwater) uit te tap en natuurlik ook die drein kapsule leeg te maak. Daarna was on op ons pad. Die eerste dorpie wat ons deur is, was Fox Glacier. Behalwe vir 'n paar kafees, 'n e-pos en internet diens en 'n kroeg of twee was die doropie maar hoofsaaklik ingestel op toeriste. Oraloor word helikopter vlugte bemark om die berge en gletsers van bo af te gaan beskou. Daar was ook 'n afdraai na die Matheson meer, 'n mens moet so 'n entjie stap en jy is daar. Ons het egter maar besluit om verder te ry...alreeds ons weeklikse kwota mere, watervalle en riviere gesien. Die volgende plek was Franz Joseph Glacier. Oppad het ons oor die Waiho rivier gery wat letterlik soos melk gelyk het so wit was dit. Die klippe was rooi geroes...dalk is daar baie yster in hierdie klippe? Daar is bittermin plantegroei in hierdie riviere.


Voordat ons by Hokitika gekom het, het ons by 'n klein kafeetjie langs die pad gestop om bietjie kos te koop om liggaam en siel aanmekaar te hou. Die plek se naam is 'The Bushmans's Cafe & Bar'. Ek het eers gedink dit verwys dalk na die boesmans in die Kalahari omdat die Suid Afrikaanse vlag heel prominent daar gehys is saam met ander lande se vlae. As mens nou al ooit 'n negosiewinkeltjie gekry het wat elke bietjie dollar uit 'n honger toeris wil tap, dan is dit daardie ou plekkie. Elke denkbare handgemaakte stuk wat gered is van die ashoop en weer opgedollie is sal jy daar kry. Daar is selfs 'n 'museum' van ou goed waardeur jy kan gaan loop nadat jy betaal het...en jy word streng gewaarsku om nie hul 'pavement specials' af te neem met video kamera nie...seker om nie die 'misterie' te verloor nie. Daar is allerhande soorte bos-kos te koop - selfs Possum Pie, wat blykbaar van Possum vleis gemaak is (onthou julle nog die Possum nagapie dierasies van die Koala Park...). Net oorkan die straat van 'The bushman's cafe' is nog 'n kafeetjie: 'Possum Delights', wat vir my aandui dat Possums dalk hier nogal ieetwat van 'n pes is - hoekom anders sal daar die gerugte wees dat hulle verorber kan word?

In Hokitika aangekom is seker die mees opvallende eienskap hulle kloktoring in die middel van die dorp se 'roundabout'. Ons het by die karavaanpark net so entjie noord van die dorp aan die linkerkant ingeboek. Hierdie plek is na my mening een van die bes toegeruste parke van al die wat ons teëgekom het hier. Ek het vannaand vir ons lekker skaaptjoppies op die BBQ gebraai en was vannaand bederf met 'n baie mooi sonsondergang oor die see.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings