Sunday, December 02, 2007

Oos, wes, tuis bes

Hoe lekker was dit nie om die Sydney kuslyn deur die videoskerm van die Airbus te sien, toe ons gisteraand teruggevlieg het van ChristChurch in New Zealand nie! In die ses maande wat ons nou al in Sydney woon, het ons nogal geheg geraak aan die stad en sy vriendelike mense. Iets het egter verander... Dit voel nou nogal of ons 'n plek gekry het waar ons behoort. Ek dink dit is seker sielkundig en het dalk baie uit te waai met die feit dat ons nou wettiglik hier MAG bly net so lank as wat ons wil. Dit is 'n ekstatiese gevoel wat mens kry as jy 'n groot mylpaal in jou lewe bereik. Dis soos as 'n droom bewaarheid word waaraan jy baie lank, baie hard voor gewerk, gehoop en gewag het. Net soos mens nooit vir iemand kan verduidelik hoe dit voel om jou land te verlaat en as 'n immigrant in 'n vreemde land te gaan bly nie, net die' wat ook deur die proses is saam met jou bly wees as jy uiteindelik daardie plakkertjie in jou paspoort het wat sê:


"Holders permitted to remain in Australia INDEFINITELY"

Toe ons gisteraand deur die Australiese doane gaan is ons begroet deur 'n effens ander gesindheid. Dis asof die doane beamptes jou nou behandel asof jy nou 'een van hulle' is. "Welcome back to Australia, mate!" Toe ons vir die man wat ons paspoorte nagegaan het by die aankoms vertel dat ons New Zealand toe is om ons permanente VISAs in ons paspoorte te laat aanbring, sê hy vir ons: "Getting your permanent residence is a wonderful feeling, isn't it? Welcome back, we hope you have a wonderful life in Australia...." Skielik is ons nie meer vreemdelinge nie, maar 'mates'. Vir ons is dit die begin van 'n hele nuwe toekoms wat vir ons oopgegaan het.

Laat my terugdink aan hoe mens voel as jy die heel eerste keer begin dink aan emigrasie, en jy dan met 'n skok agterkom hoe moeilik dit is om permanente verblyfreg in 'n ander land te kry....of ten minste in 'n land waar mens graag wil bly. Meeste eerstewêreld lande het dit baie moeilik gemaak vir mense om sommer net toe te stroom oor hulle grense. Aan die begin voel dit soos 'n onmoontlike droom. Dis dan net 'n idee in jou kop, sonder enige konkrete bewyse in die werklikheid dat jy dit ooit gaan regkry. Maar sonder baie DEURSETTINGSVERMOë en HOOP sal hierdie droom nie 'n werklikheid word nie! Dis egter 'n tweesnydende droom, want jy moet jou familie waarvoor jy lief is agter laat...en bereid wees om in 'n ander mens te verander om aan te pas by jou nuwe land.

Laat my nogal dink aan die verandering wat in mens se binneste plaasvind as jy in jou lewe daardie besluit neem om oor te stap na die land van die geloof in Jesus. 'n Land waar jou eie pogings en werke nie meer saak maak nie, waar jy die wette waardeur jy jou eie siel probeer red het agter gelaat het om voorts op iemand anders te vertrou. Aan die begin voel dit nogal so asof die vloer onder jou lewe uitgeval het en jy nou in die lug hang, want sien, daar is nou nie meer geestelike prestasies en 'dinge' waarop jy meer kan vertrou om te kan sê: "Ek is OK nie!" Jy leef ook nie meer volgens geskrewe wette nie, maar volgens die stem van 'n liefdevolle persoon in jou gedagtes...een wat slim genoeg is om jou by jou bestemming te kry, ongeag van die omstandighede waardeur jy moet gaan om daarby uit te kom. As jy foute maak, staan jy maar net weer op en skud die stof af, maar algaande word jy meer volwasse en besef jy dat die wêreld nie om jou draai nie, dat al die besluite wat jy neem gevolge het, en jy verstaan wat dit beteken om 'op genade te leef'.

Op die 'topic' van verblyfreg en burgerskap...goeie nuus: daar is 'n plek waar ons almal verblyfreg moet kry....

Efesiers 2 : 12,13
In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

Fillipense 3:20

Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings