Sunday, December 02, 2007

Ons avonture in New Zealand : Ons kry ons VISA in Auckland en besoek plekke noord van Auckland

Woensdag 21 November 2007
Vandag was die dag wat ons moes inry na die Australiese missie by die Auckland waterfront om ons PR 136 VISAs in ons paspoorte te laat inplak. Dit is per slot van sake die hoof rede waarom ons op hierdie 'duur' vakansie moes gaan uit Australië uit.

Julle kan die kaart vir vandag se fotos hier kry.
Of die skyfievertoning kyk.

Ons is so net na 9 die oggend weg by ons motel. Die pad in stad toe is nogal besig in die oggende...ok maar presies dieselfde as tussen Pretoria en Johannesburg in die oggende. Gelukkig het ons die Navman gehad en ons het darem nie verdwaal nie. Die Aussie missie se kantore is in die PriceWaterhouseCoopers gebou se 7de verdieping, 188 Quay street, direk by die waterfront. Julle kan die presiese posisie by hierdie foto kry. Daar is 'n groot parkeerterrein en mens loop direk in die ingangsportaal in. Jy kies die kantore waar jy wil heengaan op 'n groot bord, en dit dui dan vir jou aan watter een van die hysbakke om te neem om tot by die regte vloer te gaan. Daar aangekom moes ons soos een van ten minste 31 persone wat toe alreeds daar gesit en wag het 'n kaartjie neem en in die ry gaan sit. Elke kort kort gaan daar 'n 'beeper' af wat die volgende nommer aandui op 'n bord. Dit was nog so 20 nommers voordat ons aan die beurt sou kom. Daar was nog net 120 minute oor...dit het beteken hulle moes ten minste elke 6 minute een persoon help sodat ons betyds klaar sou wees. Ons was nogal benoud, want die kantore is op Woensdae net tot 12h00 die middag oop en ons kon net vandag dit kom doen het omdat ons reeds vir more vliegkaartjies bespreek het na ChristChurch. Om die volgende dag weer in te kom stad toe sou ons dit fyn moes sny omdat ons alreeds 11h30 moes in-check vir die vlug.

Saam met ons was daar Chinese, Hollanders, heelwat Maoris asook 'n Zimbabwiër wat vir ons vertel het dat hy op 'n short stay business visa in Oz is en gereeld hierheen vlieg om dit te kom hernu. Uiteindelik was dit ons beurt. Ons het eenvoudig ons paspoorte vir die vrou gegee en sy het agter in 'n kantoor verdwyn. Ek het nogal bietjie ge-stres...Wat as hulle dit nie vandag kon doen nie? Wat as ons vandag ons paspoorte moes ingee en dit weer more kom haal? Wat as die inligting nog nie deurgestuur is van Sydney af nie? Ek het op my selfoon my Gmail gelees en daar was 'n e-pos van die immigrasie departement af: 'Visa Granted' het dit gesê! Hulle moes dus eers wag dat ons bevestig het dat ons uit die land is voor hulle dit goedgekeur het. Hierdie was mos 'n offshore VISA en mag dus nie goedgekeur word terwyl jy nog in Australië is nie.

Gelukkig was ons vrese ongegrond! Na sowat 2 minute kom die vrou terug met ons VISAs klaar in die paspoorte. "Congratulations", sê sy, "you are now permanent residents!" Ek was nogal beindruk. Sonder dat ons eers moes kla, dinge oor en oor herhaal, heen en weer gestuur word, of selfs allerhande papiere en dinge moes saambring (behalwe die enkele brief waarop die 'Case nommer' staan). As mens eens op 'n tyd aan Afrika diens gewoond was, dan is dit asof alles daarna net makliker en makliker word. Immigrasie is die bult, waarna alles moontlik net afdraande is. Op elke plek word jy dan verbaas met hoeveel beter die diens is in hierdie geweste...

Toe ons daar klaar was, was dit asof ons op die wolke loop. Ons het nou permanente verblyfreg in Australië!! Hoe hard het ons nie hieraan gewerk nie. Dit was die beloning van meer as 'n jaar se moeite. Uiteindelik is daar 'n plek waar ons tot ruste kon kom. Iewers waar ons wettiglik kon bly so lank as wat ons wou. Dit het gevoel of ons 'n baie kosbare skat gevind het. Iets wat baie mense na soek, maar net 'n handjie vol beskore is. Wat 'n voorreg! Ons het met reg baie dankbaar gevoel. Dit is nie iets om ligtelik op te neem nie. Sonder dit sou ons altyd soos tydelike bywoners voel, maar nou kan ons wettiglik aanspraak maak op meeste van die voorregte van burgers van Oz.

Ons is toe daar weg na die waterkant, het by 'n restaurant met die naam "Imperial" 'n lekker ontbyt gaan eet en het daarna die pad noord van Auckland gevat om bietjie na die strande te gaan kyk. Hier kry mens nogal iets soos "Shell Ultra Cities" wat mens in Suid Afrika kry, maar wat ek nog nie in Oz gesien het nie. Sommer gou by een gestop en brandstof ingegooi...hier doen mens dit ook self, en dit begin nou al soos tweede natuur voel, vergete is die dae toe die pompjoggie dit moes doen omdat ons "pleps" nie vertrou kon word om dit self te doen nie...wel, hier kan die mense ook vertrou word om dit self te doen. Ons het toe hier en daar by die mooi strande aangedoen noord van Auckland, en toe so 100km of so verder noord gery voor ons teruggedraai het huistoe. Iets wat mens agterkom van NZ, is dat daar selfs op die mees verafgeleë paaie nogsteeds posbusse langs paaie te sien is.

Hier kan mens feitlik 'n brief by enige plek in die land afgelewer kry by jou hek, gee nie om waar jy bly nie, want die Rural Postal Service sal sorg dat dit afgelewer word.

Toe ons vanaand terugry huis toe het my dogtertjie begin kla sy voel nie lekker nie. Sy wou die laaste paar dae nie regtig eet nie. Sy was nogal warm en toe ons terugkom by die huis was haar koors baie hoog. Ons het gou by die naaste apteek aangedoen en koors medisyne gekry, maar omdat ons nie die kans wou vat dat ons dalk in die nag hospitaal toe moes jaag nie, het ons toe sommer by die publieke kliniek aangedoen. Jy betaal daar NZ$21 vir 'n konsultasie en sien een van die baie midde oosterse dokters wat lykmy hier werk. Die mediese dienste lyk maar baie skraps, maar ons het die dokters wat ons gehelp het baie geduldig en toegewyd ervaar. Teen hierdie tyd was my dogter se koors reeds 39 grade. Ons was nogal baie bekommerd, want hier sit ons op die verste uithoek van die aarde, ken g'n kind of kraai nie, en ons het 'n kind wat baie siek is. Die dokter het medisyne voorgeskryf, ons aangeraai om haar 'n stort te gee en te monitor. Dit was blykbaar keel infeksie. So deur die nag het ons haar weer medisyne gegee omdat haar koors nog nie gebreek was nie, maar die volgende dag was sy baie beter en die koors was weg.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings