Sunday, December 02, 2007

Ons avonture in New Zealand : Van Sydney na Auckland

Soos julle seker teen hierdie tyd al weet het ons na Australië toe gekom op 'n tydelike 457 VISA van 3 jaar. 'n Mens se verblyfvoorwaardes is dan gekoppel aan die maatskappy waarvoor jy werk. Indien jy vir een of ander rede nie meer vir hierdie maatskappy werk nie, moet jy 'n ander 'sponsor' kry...of jy moet sak en pak met jou ou kindertjies op die heup en jou ou vroutjie aan die hand terug. Wel, omdat die tyd aangebreek het dat die immigrasie departement 'n positiewe besluit moes neem om ons136 PR VISA toe te staan, het hulle ons per brief verwittig dat ons die land moes verlaat sodat ons met die permanente VISA in ons paspoorte weer die land kon binnekom. Hierdie keer moes ons op ons 'Incoming Passenger Card' andui dat ons status 'Migrating to Australia permanently' is. Die naaste en goedkoopste plek om heen te vlieg is natuurlik New Zealand (NZ), en dit was dan ook die bestemming wat ons vir onsself uitgekies het. 'n reis na Suid Afrika en terug sou ons vliegtuigkaartjies amper 3 keer soveel gekos het!

Nou ja (maats), kom ek vertel dan vir julle wat die afgelope 2 weke op ons New Zealandse avontuur met ons gebeur het. Ek het tonne fotos die afgelope 2 weke (3159 in totaal) van hierdie land geneem. Ek kan vir julle onomwonde sê: "Dis 'n pragtige land! Veral die Suid Eiland". 'n Paradys as jy 'n boer is (as jy my sou vra). Of dit 'n beter of swakker keuse as Oz is, moet elkeen maar vir homself besluit, want ons het nie vir daai rede daarheen gegaan nie en ons het doelbewus die groot stede en dorpe vermy omdat ons as eko-toeriste die natuurskoon wou gaan bewonder....

Die storie het so gegaan....

Sondag 18 November 2007
Opgewonde en met groot afwagting het ons vandag opgestaan om ons 'Air Emirates' vlug van Sydney Internasionaal na Auckland in New Zealand te vang. Ons vriendin laai ons by die lughawe af en dus is ons tasse reeds gister gepak en ons wag nou net om by die lughawe afgelaai te word. Ons vlug is 11h15 en ons moet al 9h15 by die lughawe wees. Dus ry ons net na 7 uur. Mens ry deur 'n totaal van 4 tonnels oppad lughawe toe: die Lane-Cove tonnel, die Harbour Tunnel onnderdeur die see, die Cross City Tunnel, en dan is daar nog so 'n tonnel net voor die lughawe. By die Internasionale vertreksaal aangekom, kom ons toe met 'n skok agter dat al die Emirates Air vlugte gekanselleer is as gevolg van digte mis oor Dubai. Wat doen ons nou? Ons het reeds vir die immigrasie departement laat weet dat ons uit die land gaan wees...

Nou ja, so staan ons toe maar saam met al die ander mense in die tou om ons vlug te herskeduleer vir die volgende dag. Gelukkig het hulle vir ons 2 Taxi 'vouchers' gegee: een vir terug huis toe en nog een vir terug lughawe toe die volgende dag, asook 'n meal voucher vir $60 omdat ons al so lank in die ry moes staan en wag het...alles op die onkoste van 'Emirates Air'.

Nadat ons eers 'n lekker Country ontbyt geëet het, is ons toe met al ons tasse na die Taxi rank om vir 'n slag te voel hoe dit voel om met 'n Sydney Taxi rondgekarwei te word. Jip...'n regte Taxi Rank, maar nie soos in Suid Afrika waar hordes minibussies om posisie veg nie, nee, hier word die Taxis een vir een aan passasiers toegeken en hulle wag hulle beurt af.

Die bestuurder is ooglopend vanaf die midde ooste en sy engels is maar skraps. Ons was in 'n japtrap by die huis, want sien, hy het al geleer hoe om te ry sodat hy seker nie boetekaartjies kry nie. Ons hoor hy het 'n paar taxis wat hy bedryf en hy neem voor om ons sommer die volgende dag by die huis te kom oplaai en lughawe toe te vat. Ons gee vir hom die 'voucher' wat die koste van sowat $84 dek van die lughawe tot in Cherrybrook...gelukkig het ons nie nodig gehad om dit te betaal nie!

Maandag 19 November 2007
Hier is ons weer oppad lughawe toe. Maar vandag ry ons in 'n taxi en word soos wafferse stralejakkers in 'n TAKSIE by die lughawe afgelaai. Die rit lughawe toe duur minder as 'n driekwartuur...en dit in spitstyd! Ons skiet in die "Bus lane" verby rye en rye karre wat geduldig sit en wag, net om weer aan die voorpunt voor die ander in te druk asof daar niks in die wêreld verkeerd is daarmee nie. Die taxibestuurder se bestuursstyl herinner ons nogal aan die minibus taxis in Suid Afrika wat al op die geel streep verby al die karre skiet en doodluiters weer voor indruk. Ek skat dis seker maar die oorlewingsdrang wat taxibestuurders wêreldwyd in gemeen het.

Gister was net die kleedrepetisie, vandag is dit die dag van die vertoning! Hierdie keer is ons kaartjies bespreek op 'Air New Zealand'...dus kan opondhoude in die midde ooste nie weer ons reisplanne omvergooi nie. Ons kry gou vir ons so NZ$600 om saam te neem by die bank (later het ek uitgevind dat dit bietjie te mins was vir al die uitgawes). Tjop-tjop is die bagasie ingeweeg en alles verloop ook vlot by doane. Die Aussie doane personeel maak grappies en is baie vriendelik. Ons is baie opgewonde oor die vlug en wag saam met baie ander in die vertreksaal. Een vrou vra of ons Suid Afrikaners is. Ja, sê ons trots...en daarby is ons oppad Auckland toe om ons permanente VISAs in ons paspoorte te laat sit. Sy bly blykbaar noord van Auckland.

Sommer gougou is ons op die vliegtuig. Ons vlieg in 'n Boeing 767/300. Die kajuitpersoneel is baie vriendelik. Hulle herinner my nogal aan 'n klomp hollanders...weet nie hoekom nie...dalk omdat hulle nie almal so opgetof is soos wat mens gewoond is nie. Na so 3 ure se vlieg land ons uitgerus in Auckland. Die man van die NZ doane wys my daarop dat my paspoort nog nie onderteken is nie...gedorie, die' paspoort is so nuut ek het dit nog nie eens agtergekom nie. Ons vertel hom dat ons hier in New Zealand is met vakansie en dat ons ook ons permanente VISAs in ons paspoorte gaan laat sit. 'n Mens het mos nie 'n VISA nodig om NZ te besoek nie...jy daag net hier op en vul op die besoekerskaartjie in dat jy aansoek doen op 'n permanente verblyfpermit...sommer net so...en dan kry jy 'n 3 maande verblyfpermit, sonder dat hulle eers nagegaan het of jy wel genoeg vondse het om hier te kan bly. Jy moet net die adres ken van jou hotel of motel waar jy gaan bly. Hy noem toe dat ons soveel keer kan kom as wat ons wil as ons eers die Australiese VISA het.

Toe ons daar klaar is, koop ek gou vir ons 'n Vodaphone selfoon SIMkaart. Jy sit dit net in jou foon, bel 777 en tik jou verkose PIN in. Binne 'n kwessie van 2 minute is jy op die lug met 'n NZ selfoonnommer. Selfs nie GPRS Internet werk dadelik. Die Internasional lughawe in Auckland is in Manukau City, 'n voorstad van Auckland. Die mense van APEX motorhuur kom laai ons op en neem ons na hulle perseel waar ons Mazda Familia vir ons wag. Ons laai die bagasie in en kry 'n Navman GPS om ons te help navigeer en is sommer gougou oppad na Manukau Motor lodge waar ons bespreek het vir 3 aande.

Ons hoof mikpunt in Auckland, wat op die noordeiland van NZ is, is om by die Australiese missie ons 136 VISAs in ons paspoorte te laat aanbring. Ons het die grootste deel van ons vakansie op die Suid-eiland bespreek omdat ons al die mooi plekke daar wil gaan besoek..nie die dorpe en stede nie.

Dit is vannand die tweede keer dat ons as volslae vreemdelinge in 'n vreemde land aankom. Een ding wat ek nogal opgemerk het...veral met die baie vreemder name as in Australië, is dat die kultuurskok of onbekendheid mens hier in NZ baie erger vang as in Oz. Mens voel baie meer UIT. Daar is ook ooglopend baie meer MAORIES in NZ as wat daar ABORIGINES in Oz is. Ek is nou reeds 6 maande in Oz en het seker al so 3 gesien.

Nog iets wat ek agtergekom het...die karre is VERSEKER baie ouer hier as in Oz. Sommige karre lyk of dit uitmekaarval en mens kom ook gou agter dat die wetstoepassing op die paaie hier minder streng is as in Oz. Jy sien ook meer mense die spoedperke oortree. Na 6 maande in Oz voel dit vir my as of die spoedbeperkings op die meeste paaie hier ten minste 10 km/h vinniger is as wat met veiligheid hier gery behoort te word. Ek verbaas myself nogal oor hoe vinnig die mense op hierdie paaie ry. Daar is egter iets bekends aan die manier wat die snelweë gebou is - dit herinner mens baie meer aan Suid Afrika se paaie omdat die snelweë soort van apart is van die woonbuurte en nie soos in Oz sommer dwarsdeur die voorstede loop nie. Die name van plekke is baie vreemd hier...soos Tekanini, Papakura, Papatoetoe en Rotorua. Mens besef dat jy nou op waarskynlik die mees verre plek is wat jy nog ooit in jou lewe was. Begrens met die Stille oseaan en veel verder suid as selfs Oz. Met 'daylight saving' is mens dan nog ook 11 ure voor Suid Afrika...amper halfpad om die aardbol!

Ek weet daar is egter baie mense wat NZ as 'n bestemming sien, en dit is waarom ek besluit het om al my fotos vir julle op te laai. Ek het ook die hele tyd wat ek in NZ rondgery en gestap het my Garmin Foretrex 101 aangeskakel gehad sodat dit elke 1 minuut 'n posisie gestoor het (amper soos wat Hansie en Grietjie die broodkrummeltjies gegooi het om te sien waar hulle oral geloop het). In die tyd wat ons hier was het ek oor die 5000 sulke posisies (met lengte- en breedtegrade asook hoogte gestoor). Vir die wat belangstel, het ek die volle avontuur se GPS punte vir julle op google maps gelaai.

Julle kan die fotos van die eerste dag by die picasa foto albums gaan beskou.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings