Monday, January 26, 2009

Braai langnaweek

Dit was hierdie naweek braai naweek hier in Australië. Dis mos tradisioneel die gebruik om oor die Australia Day langnaweek die' dinge te doen wat vir die Aussies naby aan die hart lê:
braaivleis en krieket. Hulle doen dit nou wel so bietjie op die 'kul' manier deur net die gas-skakelaar te draai en nie soos ons 'experts' wat dit op 'n kole vuur doen nie. Dan is daar ook natuurlik die see, branderplank-ry en in die son lê om hulself en hul velle gaar te kry. Daar word regoor die land feeste gehou om die voorreg te vier om hier te kan bly. Meer as 13000 mense lê die eed af om hul burgerskap sertifikate te kry (waaronder die bekende sanger en liedjieskrywer Leo Sayer - wat 'When I need you' geskryf het) en in Sydney hawe hou hulle 'n veerboot resies waaraan honderde bote deelneem.

Ons het die naweek maar 'n tjoppie op die braaier gegooi en die naweek hoofsaaklik by die see deurgebring. Vandag op die publieke vakansiedag is ons reeds vroeg by 'n strand gewees wat ons nog nie voorheen besoek het nie: Apex Park, by Mona Vale strand. Dit is deel van die Aquatic Reserve in daardie omgewing. Ons het besluit om vroeg al bietjie ontbyt daar te gaan maak en die dag net rustig te verkeer...weg van die skares.

Hier is die 'manne' besig om die eiers en spek te braai.



Die dag was aanvanklik 'heerlik bewolk', en ons het vroeg al ons parkeerkaartjies gekoop en in die motors opgesit. Daar is hier mos sulke omies wat al die strande patrolleer en heftige boetes uitskryf as jy nie betaal nie. Dit kos gemiddeld $4 per uur vir parkering...en 'n dag se parkering is MAKLIK $16 (dis nou soos om meer as R100 te betaal). Hier is 'n foto van so 'n omie wat ek van agter bekruip het.


Ek het later vir hom gesê: G'day. Happy Australia Day. En dit was vir hom genoeg om dadelik te weet ek is van Suid Afrika... Hoe uniek is ons nie!

Soos ek gesê het...branderry is vir die Aussies baie belangrik en hulle begin hulle kinders al leer balanseer op 'n branderplank terwyl hulle nog in die doeke is....

Hierdie dogtertjie het op die strand langs ons gesit en toe die branderplank kom 'uittoets'.

Natuurlik is daar DUISENDE lewensredders met hulle rooi en geel swempette oral by die strande aan diens en hulle ry gedurig met hulle quad-bikes heen en weer om te kyk of daar nie miskien iemand is wat hulle uit die water kan red nie. Vandag was die grootste gevalle egter sonbrand.

Ek moes my net vandag inhou om nie my Australië vlag T-hemp aan te trek nie, want gewoonlik weet almal dan ek is van oorsee. Maar vandag sou ek maar net een van vele gewees het, want die Australiese vlag was oor alles en nog wat gedrapeer: motor antennas, motor kattebakke, huis vensters, vlag hoede, vlag swembroeke, as mantels en selfs op supermark stootwaentjies. Hulle het selfs Aussie vlae op hul getatoëer!











Nog 'n paar interessant gebeure rondom sport hierdie naweek was:
Op hierdie oomblik reën dit saggies buite hier waar ons bly. Ons is tog te dankbaar van hierdie afgelope week was die temperature 40 grade en hoër. Dit het kompleet soos in Beaufort Wes in die somer buite gevoel.

Lekker week vir julle verder.

5 comments:

  1. Dis altyd interessant om van julle wedervaringe te lees. Hoe lank is julle al "down under"!

    ReplyDelete
  2. Hello Nina, ons is nou al 615 dae hier in Sydney. Ons het 24 Mei 2007 hier aangeland. Ek het my familie laas in Desember 2006 gesien.

    ReplyDelete
  3. lol, nou watse strooi is dit die met die gas braai ... ;-)

    ReplyDelete
  4. Sjoe... Jou familie Desember 2006 laas gesien... Nee wat jong ek dink nie ek sal kan oorleef nie al is Aus ook nou hoe lekker...

    My man probeer my al vir baie lank oorreed maar ek kan myself net nie insien om so stoksie alleen sonder familie daar te wees nie.

    ReplyDelete
  5. Ek sien julle is nou regte Australiers. Julle braai al tot met gas. Lol!

    Ek braai nog maar op my kole Weber hier in Abu Dhabi. :)

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings