Thursday, June 04, 2009

Kom ek vertel julle so bietjie van my dag. Die afgelope tyd reën dit nogal baie hier. Maar dis nie 'n ysige reën nie, nee, soms is dit heel aangenaam. Dis wat ek hou van die Sydney. Dit word nooit ysig koud nie. Sommige oggende dan is dit nog pikdonker wanneer ek opstaan. Dan sous dit buite. Soms lê ek nog so 'n bietjie en luister na die geluid van die reën... en dan sleep ek myself stort toe. Want nog 'n nuwe dag het begin.

Vanoggend was dit weer 'n sprokieswêreld van mis hier in Sydney. Sommige vliegtuie is met 'n paar uur vertraag as gevolg van die digte mis. Baiekeer as die mis so dig word, dan het selfs die busbestuurders 'n moeilike tyd om te sien of daar mense by die bushaltes sit wanneer dit ry.

Hier is 'n paar fotos wat ek vanoggend op my stappie busstop toe geneem het van die mis.



Ek het nou 'n vrouebusbestuurder. Sy is baie puntenerig oor die regte kleingeld. Moenie sommer dink jy kan met 'n $10 noot betaal vir die $3.20 kaartjie nie...

Ook by Pennant Hills stasie het daar 'n digte mis oor die spore gehang. Amper 'n misterieuse prentjie. Jy sien net mis...en dan ewe skielik verskyn daar 'n trein uit die mis....amper soos in 'n droom.

Dit was 'n produktiewe dag by die werk. Het twee baie hardnekkige foute uit ons stelsel se ingewande uitgesnuffel. Middagete was ons na die hotel op die hoek in West Ryde geneem vir 'n lekker ete, sommer net om dankie te sê vir ons harde werk. Ek het sommer sirloin steak en tjips bestel. Mmmm, was sappig. Het oor die State of Origin rugby gesels, oor goedkoop vliegkaartjies, wanneer laas ons ons onderskeie families in Brazilië, China en Suid Afrika gesien het. Oor party se ski-trips in Oz, oor ons onlangse produkvrystelling. Daarna, terug by die kantoor het ek bietjie my baas se vrou met 'n wiskunde vraag gehelp....sy swot nou statistiek en algebra... 'n Lekker koffetjie gehad en verder gewerk tot 16h45. Toe is ek op die trein terug.

Ek het vannaand gym toe gegaan, so bietjie sweet uitgewerk en toe die bus teruggevat huistoe.

Die bus laai my in die aand so amper 'n kilometer van die huis af, af. Dan stap ek in die donker en ruikd ei aandlug van teen daai tyd al gevul is met die reuk van vuurmaakhout in kaggels. Dit ruik amper soos 'n dorpie in die Knysnabos...

By die huis het die pannekoekdeeg al klaar gestaan en ek het vir ons pannekoek gebak en daarna lekker kaneelpannekoeke en maalvleispannekoeke geëet.

1 comment:

  1. Oooee Ons sal wat wil gee vir 'n bietjie reen. en selfs 'n lekker storm met weerlig en so aan.

    nice kiekkies.

    Geniet die winter en reentjies.

    Groete

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings