Sunday, November 15, 2009

Clovelly Strand

Vandag was 'n heerlike warm somesdag in Sydney.  Ons het gisteraand al besluit dat ons vandag see toe sou gaan om weer bietjie te gaan snorkel of swem in die see.  Alhoewel daar 'n vars windjie gewaai het, is Clovelly heel beskut en kan mens steeds die dag op die strand geniet.  Dus, was Clovelly die aangewese plek om te gaan.  Vanaf die Hills is dit net sowat 42 km se ry deur die paar tonnels in die stad, verby Randwick waar die groot perderenbaan is.

Ek het vandag 'n lekker verassing gekry toe ek op 'n seekat van so om en by 40 cm afgekom het.  Die meneer het in die vlak water net sowat 20 meter van die strand af gelê en homself skaars gemaak.  'n Seekat kan nes 'n trapsuutjie mos van kleur verander.  Hier is 'n paar fotos van die kalant.  Dit lyk vir my soos die "Common Sydney Octopus" en hy is nie giftig soos die "blue-ringed octopus" nie.  Maar belsuit maar self op hierdie bladsy soos watter Australiese seekat dit vir julle lyk.




 

 
Die seekat het sulke ronde pypies langs sy kop wat seker vir asemhaling gebruik word.





Hier is 'n kort video wat ek van die seekat geneem het.  Ek was omtrent so 50 cm van hom af.



Omdat Clovelly so 'n beskutte snorkel plek is, is daar gewoonlik heelwat soorte vissies, soos hierdie skool vissies wat ek afgeneem het. Kliek gerus op die fotos om dit te vergroot.  Die kleure van die visse is baie helder, omdat die sigbaarheid so goed was.  Die sigbaarheid hier by Clovelly is altyd vir my baie beter as by ander strande soos Freshwater waar ek al gesnorkel het,

 


















Al hierdie visse het so 40 cm van my af die alge van die rotse af geëet.  Ek hou veral van die volgende foto.  Dit was omtrent 'n ge-wemel van visse.



 





Hier is 'n kort video van die Clovelly Bluey omreing deur 'n swetterjoel gestreepte visse:



En so 'n paar fotos van die Blue Groper / Clovelly Bluey.







Ek hou altyd van die baie verskillende waterplante.  Daar is so baie detail en fyn verskille tussen die waterplante: sommige lyk soos bruin watte, terwyl ander jou weer herinner aan groen seesponse.
 


Daar is ook sulke neon-blou blaartjies aan sommige plantjies, en dit lyk kompleet asof hulle gloei.




En dan is daar weer ander seediertjies wat soos kaktusse lyk:



Hier is 'n vissie wat hom as 'n stokkie vermom het.



Dit was 'n heerlike dag by die strand, ons eerste keer sedert ons weer terug is in Sydney.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings