Monday, January 04, 2010

So 'n brokkie nuus uit hierdie geweste

So ja... die slag is gelewer en die feesseisoen is op 'n einde. Dit was 'n baie aangename afgelope twee langnaweke hier in Sydney. Ek het nie verlof gehad nie en was steeds volstoom aan die werk so tussen die vakansiedae deur. Tog het mense 'n gevoel gekry van die vakansie. Alles kom so pop 'n manier tot ruste en dis heerlik as die busse in die oggend nie in die verkeer vassit nie, dan kom mens sommer 'n halfuur gouer by die stasie. Daar het heerlike reën geval gedurende so 'n paar dae van die vakansie, wat die wêreld lekker afgekoel het. Hier in Sydney bêre jy nooit heeltemal jou komberse nie, want sommige aande is nog heerlik koel, maar in die dae sweet jy jou broekspype nat.

Vrydag het ons nuwejaar by die Lane Cove Natuurreservaat saam met vriende. Dit is heerlik daar. Ons het twee roeibote gehuur en so 'n uur met die rivier op geroei en toe sommer op die water gaan piekniek hou nadat ons die bote met die tou aanmekaar vasgebind het. Ons het lekker Hans worsbroodjies geëet en vleskoffie gedrink en ure lank gesit en kuier terwyl ons net so rondgedobber het. Dit het met tye so bietjie gereën, nou nie dat dit ons juis gepla het nie. Dit verg nogal koordinasie om met twee spane 'n skuit in die regte rigting te stuur en ons het meeste van die tyd sulke esdraaie op die rivier uitgevoer en kort kort amper in die takke langs die rivier beland.

Saterdag is ons laatmiddag Freshwater Beach toe. Ek het vir my klein "Body Glove" bodyboard fins gekry. Hulle is heelwat kleiner as scuba fins, en maak mens se enkels nie so moeg nie. Ek moes dit net gaan uitprobeer. Hier ry ons gereëld eers so na 15h00 see toe, want as jy eers daar is, kan jy maklik nog tot na 20h00 in die see swem. Dit vat mens net so 40 minute, dan is jou tone in die see. Die hele familie het nou al wetsuits en almal neem deel aan die snorkel en branderry. Ek was Saterdag besonder gelukkig om twee interessante visse onder die water te sien. Ek het weereens die Wobbegong gesien, maar hierdie keer het ek nie so groot geskrik soos laas nie...die goed eet mos nie mense nie.
Hier is 'n foto van 'n ander webblad:
Die ou lyk geweldig skrikwekkend as jy hom die eerste keer sien, maar is nie agressief nie. Mense is ook nie op sy spyskaart nie. Hy lê hoofsaaklik en wag vir kleiner visse en vang hulle dan soos 'n groot brulpadda vanuit sy gekamoefleurde posisie. Hier is nog 'n paar ander haai en rog ("ray") spesies wat mens hier rond kry.

Daar was heelwat klein wit jong sand "rays", hulle lê die hele seebodem vol. Dan het ons ook nog 'n rog gesien wat ek nog nie vorheen gesien het nie, naamlik die "Eastern shovelnose ray". Hy lyk baie soos die sand rog, maar het meer van 'n diamantvormige voorkoms. Ek moes nogal soek om 'n foto te kry wat presies lyk soos die een wat ek gesien het, maar hier is dit:
Ek het aanvanklik gedink dis een of ander soort haai, maar dit blyk dat die rog en haai familie baie ooreenkomste het. Hier is nog 'n foto:

Nog 'n baie handige blad wat mens kan help om die visse te identifiseer is hierdie een by OzAnimals is nogal ok.

Sondag het ons net ge-"chill" by die huis. Daar het heelwat druppels geval en ons het Sondag by die huis gespandeer. My Mario sleepwa is nou goed waterdig gemaak, want ons een van die dae weer kamp by Batemans Baai, suid Durras om presies te wees en ons sien baie uit daarna. Dis mos in 'n "Marine Sanctuary", so dit beloof om baie mooi seelewe fotos op te lewer.

Vandag was ek maar besig by die werk, maar ek het vanoggend 'n baie besonderse ervaring gehad... 'n Chinese Sydney busbestuurder het uit sy eie vir my vir 'n koppie koffie gekoop. Ek lieg nou nie. Daar was net so drie mense op die bus. Hierdie ou was baie vriendelik...hy het feitlik al die passasiers met die hand gegroet en voorspoedige nuwejaar toegewens. Hy was duidelik nuut, want hy het nie mooi geweet hoe om die masjientjie te bewerk nie en my toe sommer ook net 2 dollar ge-"charge" omdat hy nie die $3.20 knoppie kon kry nie... Ek sê toe maar dankie en gaan sit. Ek sit en boeklees in die oggende, op die oomblik is dit "Programming Microsoft Linq". Ek sit toe nog so met my een been oor die ander gekruis...toe vat hy die roundabout met so 'n vaart dat ek amper skoon van my bankie afval. Toe weet ek die ou is nuut, vandag kom ek gou by die stasie... By die stasie afgeklim koop ek vir my 'n weeklikse kaartjie. Die prys het nou opgegaan van $27 na $29 per week. Hier sien ek nou mos kom die busbestuurder aan...hy wil weet of hy my kan "stick" vir 'n koffie, want ek is sy eerste "customer" vir die dag. En daar koop hy toe sommer by Ester vir my 'n lekker koffie. Dis mos die naam van die Koreaanse meisie by die koffieshop. Sy vra my gereëld uit oor Suid Afrika. Die busbestuurder is van China. Hy wil toe weet waar is Suid Afrika. Ek sê toe maar dat dit aan die suidpunt van Afrika is. Ester vra of hulle ook nuwejaar vier, ja sê hy, maar eintlik vier hulle dit op 14 Februarie...Ester sê, O, op Valenteinsdag. Hy sê ja. Hy sê sy naam is "Ba", dit beteken glo die golwe van die see. Ek sê toe maar baai vir hulle, want hier kom my trein. Dit was nou 'n interessante bederf.

2 comments:

  1. Hi Rustige Swerwer,

    Ja, net soos julle, het ons ook maar die groot keuse gemaak (al was dit ook hoe hartseer)en woon nou amper 6 jaar hier in Aus. Op daardie stadium was ek reeds 46 jaar oud en het die 'afsny' ouderdom amper 'n krisis vir ons veroorsaak. Gelukkig was die tekort aan onderwysers daardie jaar baie hoog en kon ek met spesiale toestemming my visa kry.

    Ons wil baie graag hê dat die Suid Afrikaners weer bymekaar moet kom (van oral oor die wêreld) en het ek en my seun 'n Internet Radio begin. Ons wil die geleentheid vir mense gee om 'audio' boodskappies te stuur en sommer net weer lekker oor alles te kan gesels.

    Ek wil jou graag 'n groot guns vra: (eintlik twee):
    Sal jy asseblief so gaaf wees om ons webadres op jou blog te publiseer? Dit is http://impalaradio.org
    En dan wil ons graag toestemming hê om jou blog se link op impalaradio.org te plaas.

    Groete.
    Cris

    ReplyDelete
  2. Ek kan nie glo julle woon al so lank daar nie. Ek volg jou blog so aan en af al sedert die begin. Lang storie kort - ons land 3 April in jou tuisstad vir 'n 2 weke vakansie vir die nodige stempels vir ons permanent residence visa specs. Tans soek ek en my man werk in NSW en Queensland. Dis maar 'n gedoente so oor die net. Mense wil mens mos maar van aangesig tot aangesig 'interview'. Ons gaan toevallig oa ook by skoolvriende van my man in julle buurt kuier (Yvette). Jy gee my altyd moed dat daar "'n lewe aan die anderkant is!" Groete Juanita

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings