(Hier is die skakel na die pitkos.blogspot.com inskrywing)
Wonder julle soms wat het van al die mense geword wat hier na hierdie land doer onder verhuis het? Waar hulle nou bly en leef en werk.
Wanneer mens daaraan begin dink om in 'n ander land 'n heenkome te gaan soek, besef jy met 'n skok: Jy het nie 'n vaagste benul in watter voorstad om te gaan woon in hierdie nuwe onbekende land nie! Tot op daardie stadium kon jy darem onthou in watter land stede soos Sydney en Brisbane is. Jy het dit dalk tot nog toe nie nodig geag om regtig op te lees oor die verskillende voorstede in daardie stede nie. Maar jy het omtrent alles van jou eie stad geweet. Vraagstukke soos presies waar elke voorstad in jou dorp of stad is, het vir jou as tweede natuur gekom: jy het dan nog altyd geweet Garsfontein en Menlyn is in Pretoria en Sandton en Roodepoort is in Johannesburg. Jy het geweet waar jy sal kan bekostig om te kan bly en of daar goeie skole in verskillende voorstede is. Jy het ook soort van geweet waar die meeste Afrikaanse mense gebly het en waar meer Engelse mense was (nie dat dit nou meer regtig saakmaak nie).
Soms kry ek versoeke van lesers om vir hulle 'n vrae te beantwoord soos:
- Watter voorstede in Australië is soortgelyk aan voorstede in Pretoria ?
- Watter voorstede is bekostigbaar ?
- Waar bly die Suid Afrikaners?
- Wat is die lewenskoste in verskillende voorstede?
- Hoeveel kos dit om 'n huis te koop of te huur in voorstede?
- Waar bly die ryk mense en waar bly die arm mense?
Ek is nou nie juis 'n bekwame soeker na huurhuise nie. Ek los gewoonlik daardie ingewikkelde werk vir die deskundige op daardie gebied: my vrou. Dan bepaal ek my maar by die ander deel van trek: om die treklorrie te dryf en die bokse te dra. Maar mettertyd, soos wat mens se wortels weer dieper en dieper groei en jy al hoe meer verknog raak aan die bekendheid in die omgewing, dan begin mens weer daardie intuisie opbou oor waar om te bly.
Ek het onlangs van 'n leser genaamd Erika die volgende vraag gekry:
" Wil graag weet of jy vir ons kan skryf oor eiendomme, huispryse - in watter voorstede van Sydney voel die meeste Suid Afrikaners "tuis" ? Ook jou gevoel oor huispryse in die algemeen.
Groetnis
Erika "
Erika, ek het nie jou vraag vergeet nie. Ek het besluit om bietjie doelgerig navorsing te gaan doen omtrent jou vraag: Waar is die oud Suid Afrikaners nou in Australië? Watter voorstede het hulle gekies? Bly hulle naby mekaar of is hulle in die verstrooiing? Hoe wyd verspreid bly hulle? Is daar spesifieke voorstede wat hulle bo die ander verkies? Is daar "wetenskaplike data" wat dalk vir ons kan aandui of daar 'n mate van kieskeurigheid heers onder die oud-Suid-Afrikaners rakende die voorstede wat hulle gaan bly het. Kan mens dit wiskundig op 'n kaart aandui? Wel, wat ek gevind het, het my verbaas...
Ek het ook al baiemaal gewonder...waarheen het al my oud landsgenote verwyn ? Eens op 'n tyd was hulle deel van die Suid Afrikaanse samelewing. Hulle het somtyds saam met ons op die trappe by Verwoerdburgstad gesit en luister vir Steve as hy daar 'n opelug optrede gehou het. Ek het dalk by baie van hulle verbygeloop in die Menlyn winkelsentrum of dalk by die Tygervallei sentrum in Bellville wanneer ons daar in die Kaap vir my familie gaan kuier het. Hulle kinders was saam met myne in die skool, of ons was dalk bure. Maar waar is hulle nou? Het hulle maar net soos visse in 'n nuwe dam tussen derduisende ander vermeng geraak? Hulle unieke identiteit verloor? Of het hulle soos klein groepies trekvoëls, wilde eende of ganse in groepies bymekaar gaan bly nadat hulle derduisende myle vêr oor die see vir hul winter migrasie vertrek het? Wie weet. Het hulle spoorloos verdwyn ? Is daar "eg Suid Afrikaanse" voorstede in Australië? Of is hulle maar eweredig versprei oor die land, net soos die gemiddelde bevolking?
Daar is 'n paar spreekwoorde in Afrikaans wat die betekenis dra van iets of iemand wat net WEG is:
om soos 'n groot speld te verdwyn
om jouself uit die voete te maak
om sak en pak te vertrek
om tussen neus en ore te verdwyn
om uit die almanak weg te loop
om die laaste sien te hê van die blikkantien
om met die noordeson te verdwyn
om skoonveld of stilveld te wees
om nooit weer iemand se stof te sien nie
om met stille trom te vertrek
niemand weet waar hulle verseil geraak het nie
om tussen vinger en duim weg te raak
om te verkas
hulle het om so te sê - voete gekry
Wanneer jy nie weet waar hulle opgeëindig het nie, is dit amper asof hulle vir jou oorlede is - hulle is soos wind-sade versprei oor die wêreld.
Nou ja, waar gaan soek mens as jy sulke data wil uitvind? Wel, wanneer mens "skape" wil tel, dan doen jy dit op twee maniere:
- Jy tel hulle wanneer hulle by die kraal se hek inkom : die Doane
- Jy tel hulle wanneer hulle klaar in die kamp is : die Statistiek buro se 5 jaarlikse sensus
- Waar bly die meeste Suid Afrikaners - wat sal bepaal hoe geredelik mens by georganiseerde Suid Afrikaanse aktiwiteite sal kan wees soos musiekoptredes en selfs gemeentes wat normaalweg baie van getalle afhang
- In watter voorstede is die hoogste konsentrasie van oud Suid Afrikaners per vierkante kilometer leef - wat sal bepaal hoe groot jou kanse is om met ander kontak te maak in jou dag tot dag aktiwiteite
- Watter voorstede maak oud Suid Afrikaners die grootse persentasie van die bevolking uit - wat in 'n mate sal bepaal in hoe gereëld jy nog Afrikaans sal praat of hoeveel Suid Afrikaanse kinders saam met jou kroos in die skool sal wees.
- Watter persentasie van die totale aantal oud SUID AFRIKANERS (in elke staat van Australië) in elke voorstad bly - wat 'n aanduiding gee of sekere voorstede meer gesog is as ander voorstede vir ons as Suid Afrikaners, aangesien 'n groot persentasie van ons daar wil bly.
- In hoe 'n mate daar 'n groter persentasie van oud Suid Afrikaners as die persentasie van die algemene bevolking in sekere voordetede woon. Dit wil sê: meer as wat statisties normaal is - wat aandui of daar sekere voorstede is wat uitsluitlik deur Suid Afrikaners verkies word. Ek noem dit die kieskeurigheid en druk dit wiskundig uit as = (% Suid Afrikaners uit al die Suid Afrikaners in die staat) / (% mense in voorstad uit al die mense in die staat)
Die Place of Enumeration Profile vir New South Wales (NSW) bestaan uit 'n versameling van 593 dokumente, gedoen op 'n PER POSKODE basis. Daar is byvoorbeeld 4646 voorstede in totaal in New South Wales en daar is vir sowat 4450 van hulle sensus data. Dit beteken dat die gemiddelde aantal voorstede met dieselfde poskode dus omtrent = 7.5 voorstede per poskode.
Die "Place of Enumeration Profile" dokumente kan vrylik afgelaai word as ZIP files wat elk 'n Excel spreadsheet bevat. Indien mens byvoorbeeld die een vir die opsomming van NSW aflaai, kan mens op "Sheet" P 09 sien uit watter bevolkingsgroepe die totaal van
6 585 733 mense in die staat bestaan.
Die totale aantal Suid Afrikaners wat in die sensus van 2006 getel is en gesê het dat hulle land van afkoms Suid Afrika is, is 32 829 mense. Dit beteken dat die gemiddelde persentasie van ons oor die hele staat van New South Wales = 0.498 %.
Indien ons nasie dus goed "ge-mingle" het met die algemene bevolking soos visse in 'n dam, dan sou mens verwag dat een uit elke 200 mense regoor die staat van Suid Afrika af kom. Maar - dit is egter nie die geval nie!!! Soos ek nog vir julle gaan uitwys is daar voorstede in New South Wales waar daar een uit elke 8.5 mense bly wat oud Suid Afrikaners is (11.7 % van die hele voorstad). Dit het my nuuskierigheid nog verder geprikkel het om uit te vind presies in watter voorstede ons ou klomp so saamkoek. Waar kruip die Suid Afrikaners oop en bloot weg ("hiding in plain sight").
Op "Sheet" P 10 van die spreadsheet kan mens die aantal Suid Afrikaners sien wat oor die jare na NSW verhuis het:
Jaar = Aantal
Voor 1991 = 13,972
1991-1995 = 2,757
1996 - 2000 = 7,332
2001 = 1,938
2002 = 1,435
2003 = 1,282
2004 = 1,313
2005 = 1,170
2006 = 766
Nie gesê wanneer = 862
Vir elk van die 593 voorstede is daar so 'n Excel spreadsheet leêr, wat die presiese herkoms en samestelling van elk van die poskodes aandui onder die volgende lande van herkoms:
Australia
Bosnia and Herzegovina
Canada
China (excl. SARs and Taiwan Province)(b)
Croatia
Egypt
Fiji
Former Yugoslav Republic of Macedonia (FYROM)
Germany
Greece
Hong Kong (SAR of China)(b)
India
Indonesia
Iraq
Ireland
Italy
Japan
Korea, Republic of (South)
Lebanon
Malaysia
Malta
Netherlands
New Zealand
Papua New Guinea
Philippines
Poland
Singapore
South Africa
South Eastern Europe, nfd(c)
Sri Lanka
Thailand
Turkey
United Kingdom(d)
United States of America
Viet Nam
Born elsewhere(e)
Country of birth not stated
Overseas visitors
- Om outomaties al die voorstad data in Australië waarvoor daar statistiek is as "ZIP files" af te laai
- Om die "ZIP files" te "uncompress" na Excel
- Om die Excel data vanuit die verskillende Excel "Sheets" te myn.
- Die data net vir New South Wales het meer as 738 Meg beloop.
- Om totale vir die hele staat uit te werk en vir elke voorstad die volgende inligting te versamel sodat die voorstede gesorteer kan word volgens verskillende velde soos:
- Die Totale bevolking vanuit Australië en ander lande van herkoms in elke voorstad
- Die persentasie wat elke voorstad se bevolking uitmaak van die staat se bevolking (wat aandui hoe populêr daardie voorstad is onder die algemene bevolking)
- Die aantral oud Suid Afrikaners wat in daardie voorstad bly
- Die persentasie wat oud Suid Afrikaners uitmaak van die bevolking van daardie voorstad (die kans om hulle onder die algemene bevolking daar te kry)
- Die persentrasie van die staat se totale aantal oud Suid Afrikaners wat spesifiek in hierdie voorstad bly - m.a.w. hoe populêr daardie voorstad is onder die oud Suid Afrikaanse bevolking
- Hoeveel Suid Afrikaners bly in die voorstad wat eers na Januarie 2001 daar kom woon het - om 'n idee te kry van watter voorstad is in die laaste dekade die keuse van Suid Afrikaners gewees
- Die konsentrasie oud Suid Afrikaners in daardie voorstad per vierkante kilometer (die Suid Afrikaanse bevolkingsdigtheid) - om 'n idee te kan kry van die nabyheid waarin hulle in verskillende voorstede aan mekaar bly
- Die mate waarin die persentasie van die Suid Afrikaners wat daardie voostad gekies het groter is as die persentasie van die algemene bevolking wat daardie voorstad gekies het - 'n aanduiding van die kieskeurigheid onder ons om daar te bly (<1 beteken ons verkies dit nie en >1 beteken ons verkies dit om daar te bly)
- Die mediaan van die bevolking se ouderdom in daardie voorstad.
(Die mediaan verskil van die gemiddeld in die sin dat die mediaan die waarde is wat presies in die middel van die data reeks lê en daar net so veel mense is met ouderdomme bo en onder die mediaan. Dit kan verduidelik word met die volgende voordeeld:
Gestel daar is 10 mense in 'n ry met ouderdomme gesorteer van klein na groot:
10, 12, 18, 21, 22, 23, 25, 26, 90
Dan is die gemiddeld: 247 / 9 = 27.44
En die mediaan: 22
Die gemiddeld word dus buite proporsie beinvloed deur die baie hoë ouderdom van slegs een persoon in die reeks en kan veroorsaak dat dit 'n verkeerde prentjie van die ouderdomme gee waarvan 88% onder die gemiddeld lê. Dit is daarom dat sensus data eerder van mediane gebruik maak omdat 'n paar persone wat 'n buitensporige hoë inkomste kry nie die verkeerde indruk skep dat 'n arm voorstad eintlik welgesteld is nie.) - Mediaan van die bevolking se maandelikse inkomste per huishouding
- Die mediaan van die weeklikse huur in daardie voorstad
- Die mediaan van die maandelikse huur in daardie voorstad
- Die mediaan van die maandeikse huisverband terugbetaling in daardie voorstad
- Die totale maandeliks inkomste van 'n huishouding minus die maandelikse huur (Sodat julle 'n idee kan kry van wat mense in daardie voorstede oor het nadat hulle hul huur betaal het)
- Die totale maandelikse inkomste van 'n huishouding minus die maandelikse huisverband
- Die persentasie van die bevolking in daardie voorstad wat nog op skool is (sodat julle 'n idee kan kry of 'n voorstad hoofsaaklik uit families met kinders bestaan of uit ouer persone waar die kinders reeds uit die skool is)
2006 NSW By Total
2006 NSW By Index
Die heel boonste ry dui die opskrifte aan en die tweede ry dui die totale aan vir die staat NSW.
Alle voorstede se name is in die spreadsheet, en omdat die data per poskode beskikbaar is beteken dit dat daar voorstede in die lys is met presies dieselfde data omdat hulle onder dieselfde poskode val. Julle sal dus sien dat daar 'n "Suburbs" kolom is - dit dui aan hoeveel voorstede in 'n groep van voorstede val wat almal dieselde sensusdata het. Vir NSW sal dit dus beteken dat "ST IVES" en "ST IVES CHASE" onder dieselfde sensus data sorteer en die totaal van 2005 ex-Suid Afrikaners dus bereken is deur die aantal oud Suid Afrikaners bymekaar te tel in hierdie twee voorstede en NIE TWEE DUISEND EN VYF IN BEIDE VAN DIE voorstede nie. So hou asseblief dit in gedagte - hulle is oor twee voorstede versprei.
Daar is baie maniere om 'n idee te kry van waar die meeste van ons bly.
- Indien ons kyk na die voorstede waar die meeste Suid Afrikaners (SAs) bly, deur die data te sorteer in afnemende volgorde van totale Suid Afrikaners, dan kry die groter voorstede (of die poskodes wat baie voorstede bevat) 'n onregverdige voordeel omdat daar eenvoudig baie mense bly
- Wanneer mens weer na die digtheid van Suid Afrikaners per vierkante kilometer kyk, dan word voorstede waar in elk geval 'n hoë digtheid mense bly, uitgelig al is daardie voorstede nie so populêr onder ons mense nie.
- Kyk mens net na voorstede waar die persentasie SAs uit die totale bevolking hoog is, dan kan dit gebeur dat voorstede met min mense 'n hoë persentasie dra, alhoewel dit eintlik maar min SAs bevat
- Dis waarom ek dink dat die % van die SAs uit die totale aantal SAs in die staat 'n goeie aanduiding vir ons gee waar die meeste van ons wil bly. In die volgende tabel kan julle die voorstede in NSW met die hoogste persentasie SAs (uit ons totaal) sien (Dis in die voorlaaste kolom aangedui). Die kieskeurigheids indeks (die faktor waarmee meer SAs die voorstad kies as die algemene bevolking) word in die laaste kolom aangedui.
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Die St Ives omgewing is dus verreweg die meeste populêr onder ons mense en dis dan ook waar meer as 6% van al die SAs heen verhuis. Die area word 23 keer eerder verkies deur oud Suid Afrikaners as deur die algemene bevolking.
Ek het toe besluit dit is belangrik om hierdie getalle op 'n kaart te kan voorstel om 'n beter idee te kan kry van hoeveel van ons oud landgenote in elke voorstad woonagtig is in NSW.
Soos julle kan sien is daar heelwat voorstede sonder enige "erkende" oud Suid Afrikaners, 'n hele 798 het geen oud Suid Afrikaners in hulle nie, en 2217 voorstede het minder as 20 Suid Afrikaners. Dit beteken dat daar in 2217 uit die 4450 (50 % persent van die voorstede in NSW wat getel is) minder as 20 Suid Afrikaners woon! (Noem die getal maar ons penetrasie in die bevolking in). Weereens is ons nie so wydverspreid nie, maar eerder gekonsentreerd en dus baie kieskeurig oor waar ons bly.
Ek het toe 'n Google Map geskep wat al die voorstede in NSW aandui met 50 of meer oud Suid Afrikaners wat daar bly. (Die wat 50 en meer SAs bevat is 1169 voorstede / 4450 = 26 % van die voorstede)
Hier is die skakel na die kaart gesorteer volgens totale :
2006 NSW By Total
Hier kan julle sien waar oral daar meer as 300 Suid Afrikaners bly deur na die rooi vlaggies te kyk. Baiemaal verteenwoordig 'n hele klomp voorstede 'n enkele poskode se statistiek, maar ek het dit as aparte vlaggies op die kaart aangedui. 'n Groot klomp SAs bly in die suid ooste, die noord weste, die omgewing nader aan Campbeltown in die suide asook die Central Coast. Hierdie kaart wys egter nie 'n volle prentjie nie, want in die suide blyk dit dat daar heelwat Suid Afrikaners bly, maar hulle bevolkingsdigtheid is laag en die persentasie wat hulle van die algemene bevolking uitmaak is nie baie hoog nie - die area het eenvoudig 'n baie groot deel van die bevolking wat daar bly en die enkele poskode se SA data is oor 'n groot hoeveelheid voorstede verdeel.
Daarom moet 'n mens eerder na die kieskeurigheids indeks kyk, want dit wys vir ons waar is die groepering van SAs hoog in vergelyking met die algemene bevolking.
Die kaart waarna ek verwys is gesorteer volgens die kieskeurigheids indeks :
2006 NSW BY Index Julle kan uit zoom op die kaarte om meer van NSW te sien of in zoom om na spesifieke voorstede te kyk.
Weereens word slegs voorstede met 50 en meer SAs aangedui asook waar die kieskeurigheids indeks gelyk is aan 1 en meer.
Voorstede waar die indeks bo 3.5 is, is in Rooi aangedui
Voorstede waar die indeks tussen 1.5 en 3.5 lê is in Groen aangedui
Voorstede waar die indeks tussen 1 en 1.5 lê is in Blou aangedui
Skielik kan mens 'n duidelike patroon agterkom. Die suid ooste dui 'n merkbare groepering SAs asook die noord weste. Die suide en rondom Campbeltown het heeltemal weggeval en daar is feitlik geen groot persentasies SAs in die omgewing suid van die Parramatta rivier nie. Die Central Coast het ook uit die rooi verdwyn.
As julle na 'n spreadsheet wil kyk wat slegs die rooi/mees populêre voorstede in NSW bevat, hier is 2006 NSW Top Gesorteer volgens Index.
Indien jy meer wil weet oor daardie voorstad kliek net op die reëndruppel:
Indien julle op die Map skakel kliek neem dit julle na die Google map van daardie voorstad.
Daar is ook 'n skakel na die oorspronklike 2006 Sensus Excel data indien jy dieper wil delf.
Daar is ook 'n skakel na die gedetailleerde voorstad profiele by Domain.com.au
Of, julle kan op die realestate.com.au skakel kliek om vir huur eiendomme te soek in daardie spesifieke voorstad.
Vanuit die kaart kan julle sien dat die voorstede met die meeste Suid Afrikaners in hoofsaaklik drie groeperings op die kaart voorkom:
'n Merkbare hoeveelheid Suid Afrikaners het gaan vestig in die suid-ooste van Sydney nader aan die bekende Bondi strand. Die bevolkingsdigtheid hier is baie hoog en dit is ook van die oudste woonbuurte in Sydney. Die voorstede wat met rooi vlaggies aangedui is met 300 en meer SAs, het ook van die hoogste Suid Afrikaanse bevolkingsdigthede in die hele Australië.
Hier is 'n tabel met 'n uittreksel van die oostelike voorstede met die hoogste kieskeurigheids indeks vir Suid Afrikaners asook die hoogste bevolkingsdigthede.
|
Wanneer mens al die voorstede in die HELE LAND sorteer volgens die hoogste konsentrasies Suid Afrikaners per vierkante kilometer, dan is dit ook hierdie voorstede wat ook die heel hoogste konsentrasies per vierkante kilometer in die HELE Australië huisves.
Wanneer ons nou ons blik verskuif na die Noorde en Noord Weste van Sydney, is dit juis waarnatoe die visier van die meeste nuwe Suid Afrikaanse boorlinge nou verskuif het.
Wanneer ek die noord en westelike voorstede met die hoogste kieskeurigheids indeks uitsoek, kry ons die volgende:
|
Hier sien ons dat St Ives se kieskeurigheids indeks 23.41 keer hoër is as die algemene bevolking syne. Hierdie is 'n baie baie populêre voorstad vir Suid Afrikaners!!
'n hele 2005 oud Suid Afrikaners bly daar.
6.14 % van alle Suid Afrikaners in NSW bly in St Ives. Daar is selfs 'n verwysing na die baie Suid Afrikaners in hierdie voorstad op Wikipedia !
en verder maak oud Suid Afrikaners 'n hele 11.77 % val alle persone in daardie voorstad uit. Dit beteken een uit elke 8.5 mense in daardie voorstad is 'n oud Suid Afrikaner en in elke negende huis bly oud Suid Afrikaners. Ek het al gehoor hulle sê Aussies kla dat hulle kinders 'n Suid Afrikaanse aksent optel by die baie Suid Afrikaanse kinders in die skole daar in St Ives.
Die volgende noordwestelike Sydney voorstad wat ook 'n hoë kieskeurigheids indeks het is Cherrybrook met 'n indeks van 5 keer die gemiddeld van die res van die bevolking !
Dit is dus nie vreemd dat sommige mense hierdie voorstad al Kersiefontein noem nie. Ons kinders is ook in hierdie omgewing op skool. Daar is 'n baie goeie publieke skool Cherrybrook Technology High School met amper 2000 kinders.
Wanneer ons 'n vergelyk trek tussen die suid oostelike voorstede en die noord westelike voorstede sien mens dat:
- Die suid oostelike voorstede baie minder kinders van skoolgaande ouderdom bevat as die in die noord weste
- Die suid ooste se ouderdom jonger is as in die noord weste
- Dat, alhoewel die noord weste baie Suid Afrikaners huisves, die SA geografiese bevolkingsdigtheid in die suid ooste baie hoër is as in die noorde en die mense daar in die ooste baie nader aanmekaar moet leef.
Nuwe voorstede waarheen die SAs vinnig besig is om te versprei is CASTLE HILL, DURAL, GLENHAVEN, KENTHURST, BEROWRA, ANANGROVE, ROUSE HILL, KELLYVILLE, KELLYVILLE RIDGE, BEAUMONT HILLS, STANHOPE GARDENS, PARKLEA, QUAKERS HILL, BAULKHAM HILLS, BELLA VISTA, GLENWOOD, PENNANT HILLS.
Hierdie inligting is alles bekom deur slegs die inligting betreffende oud Suid Afrikaners vanuit die sensusdata van 2006 te onttrek. Daar sal later in die jaar meer op datum inligting beskikbaar wees. Soek gerus op die kaarte deur aan die linkerkant onder die "Next" skakel te kliek om te sien waar oral daar Suid Afrikaners wegkruip - want hulle deerweek die Australiese samelewing.
Ek sal in komende aflewerings oor die voorstede in die res van die land skryf.
Ek sal julle terugvoer waardeer.
As julle graag hierdie blog inskrywing vir julle vriende wil epos, kliek op die koevertjie aan die onderkant van die blog, of kliek hierso.
No comments:
Post a Comment
Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.
Note: Only a member of this blog may post a comment.