Saturday, December 08, 2012

'n Oomblik in tyd kan soms die hele verloop van jou geskiedenis verander

(Skakel na hierdie inskrywing)


Woensdag 5 Desember 2012 was 'n besondere mylpaal in ons lewens.  Ons kom nou al 'n vêr pad sedert on die eerste keer op die Australiese kontinent voet aan wal gesit het.  Hierdie besondere mylpaal waarvan ek praat is natuurlik die Australiese Burgerskap Toets wat ons Woensdagmiddag in Parramatta by die "Australian Department of Immigration and Citizenship" (DIAC) geskryf het.  

Hoe belangrik is drie maande in 'n leeftyd?  Dit was net sowat 0.7 % (bietjie meer as 'n halwe persent) van ons lewens, maar dit het verrykende gevolge vir ons toekoms asook ons hele nageslag ingehou...  Want binne drie maande vandat ek daardie Januarie in 2007 my CV vir 'n maatskappy hier in Sydney gestuur het, was ons pens en pootjies in 'n nuwe land.  Ha ha, my vrou sê mos ek oordryf altyd so 'n bietjie, maar neem dit maar met 'n knippie sout. 

Nooit eens gedroom van oorsee gaan vakansie hou op daardie stadium nie, my hele lewe in Pretoria grootgeword en gewoon, maar binne 'n tyd van drie maande was ons hier in Sydney.  Van die aangesig van die aarde af verdwyn...dis seker wat die inkomstediens in Pretoria dink wat met ons gebeur het, want ons het met 'n enkelkaartjie hiernatoe gevlieg en een van die dae word ons hier burgers.  Wat eens net 'n plan was, word nou 'n werklikheid.

Net soos baie immigrante in vorige eeue Amerika, Australië en regoor die wêreld in die nastrewe van geluk en 'n beter toekoms aan wal gegaan het, net so word ons een van die dae trotse burgers van hierdie land.

Burgerskap is nie 'n kleinigheid nie.  Mens gaan bly en werk nie sommer net goedsmoeds in 'n ander land nie.  'n Mens kan nie eens landsgrense oorsteek soos jy wil nie.  Miljoene mense smag elke dag om te kan ontsnap uit hul omstandighede, maar helaas kan hulle nie net vlug uit hul omstandighede nie, en word soos ingehoktes gevange gehou in sommige lande.  

Dit is 'n groot voorreg om 'n nuwe land se burger te kan word. Dit is nou nie juis maklik om tot op die' punt te kan kom nie, maar waar daar 'n wil is is daar 'n weg

Selfs in Paulus se tyd was dit as 'n baie groot voorreg beskou om 'n Romeinse Burger genoem te kan word.  Dit is 'n feit wat op 'n keer selfs Paulus se lewe gered het:

HANDELINGE 21:39
Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”


HANDELINGE 22:29
Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.


HANDELINGE 23:25-29
Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?
Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.
Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord Paulus.
Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.” En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.”
Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.



Watter groter voorreg het ons nie as dit nie:

FILIPPENSE 3:20
Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.


Mens gaan deur baie emosies en het vele ervarings langs die pad, maar uiteindelik as jy terugkyk kan jy sien alles was sover die moeite werd.

Die hoof aktiwiteit by die afspraak wat mens by die departement het is natuulik nie die toets nie, maar eerder die nagaan van al jou verskeie ID dokumente om jou sodiende op die Australiese Departement van Binnelandse sake se rekords oor te plaas as 'n WARE BURGER van die nuwe land.  Daar word na geboortesertifikate, huweliksertifikate, paspoorte, bestuurderslisensies, Medicare kaarte en bewyse van verblyf gekyk om te verifieer dat jy wel aan al die vereistes voldoen en jy nie op een of ander manier die VISA proses omseil het en nou sommer kortpad wil kies na Burgerskap nie.  

Daar word ook 'n verdere soektog deur die Federale Polisie gedoen om te verseker dat jy nie in die laaste paar jaar 'n kriminele rekord opgebou het nie.  Indien mens dalk meer as 365 dae in die buiteland was (gelukkig nie op my van toepassing nie), dan moet daar ook 'n oorsese kriminele rekord soektog gedoen word.
Ek het nie heeltemal geweet wat om te verwag in die toets nie, behalwe vir die feit dat al die 20 "monkeypuzzle" vrae in dietoets sou kom uit die PDF dokument wat ek reeds vooraf deurgelees het en ook vanuit die videos oor Burgerskap wat op Youtube beskikbaar is.
Dit alles handel oor jou regte en voorregte as 'n nuwe Australiese burger asook hoe die Australiese regeringstelsel werk.

Aan die hand van die volgende belofte wat mens by 'n burgerskap seremonie gaan aflê...

From this time forward, under God,

I pledge my loyalty to Australia and its people,

whose democratic beliefs I share,

whose rights and liberties I respect, and

whose laws I will uphold and obey


word daar aan jou verduidelik wat dit beteken:
- Wie is Australië se mense
- Watter demokratiese beginsels dit is wat ek ook in glo
- Watter regte en vryhede die fondament vorm van die leefstyl hier in Australië
- Watter wette die land se vryheid op berus

Mens kry 45 minute om die toets te voltooi.  Ek stres gewoonlik oor enige toets. Dit kom seker van skooldae af, maar ek het verniet gestres, want die toets was toe glad nie so moeilik nie en ek het dit met rasse skrede geslaag...iets wat julle ook sou kon doen.

Ek dink dit het nie eens 5 minute geneem nie.  Nou gaan ons laat weet word wanneer ons na Baulkham Hills Stadsraad toe moet gaan vir die Offsiele seremonie waar die belofte afgeleê gaan word.

Ten minste "pledge" ek nie my "allegiance" aan 'n koning of koningin nie, maar aan die Australiese mense wat so deel geword het van my lewe oor die laaste amper 6 jaar: die mense wat ek elke dag groet op die bus, die mense by my kinders se skool, die mense wat saam met my by die werk is en saam skouer aan die wiel sit elke dag...al die mense wat saam met my glo aan 'n vrye, veilige en gelukkige toekoms vir ons en ons kinders.

'n Land waar meer as 1 uit elke 4 mense net soos ek van êrens oor die see af gekom het om hier 'n nuwe plekkie in die son vir onsself uit te kerf. 

Net soos mens net "anders voel" wanneer jy uiteindelik jou permanente VISA gekry het om vir altyd hier te kan bly en jou hele toekoms nie in die hande van iemand anders lê nie, net so, voel mens effens meer tuis wanneer jy deur die formaliteite is en jy weet: jy is nou oor die perd se rug, die koeël is nou deur die kerk - jy is nou so Aussie soos Jan Rap en sy Maat.

Die voorregte wat ons nou bykry is die volgende:
- Ons kan nou ons stemreg uitoefen in verkiesings
- Ons kan (indien ons sou wou) in die Australiese Weermag, Lugmag of vloot gaan werk of by staatsdepartemente soos Medicare, Centrelink of die inkomstediens.
- Ons kan staan as kandidate om verkies te word vir die parlement
- Ons kan 'n Aussie Paspoort kry en het nie meer papierwerk nodig (soos 'n resident return visa) as ons buite die land wil reis nie
- Ons kan ons kinders wat oorsee gebore is as "True Blue" Aussie burgers registreer met dieselfde regte as die wat hier gebore is.
- Ons kan op Australiese ambassades se knoppie druk vir hulp oorsee
- Ons kinders kan met baie goedkoop lenings vanaf die regering by universiteite gaan studeer en eers begin terugbetaal as hulle meer as 'n sekere hoeveelheid verdien in hul werk

Ons kry ook verantwoordelikhede by:
- Ons moet die wet gehoorsaam (en niemand wat burgerskap het kan op "diplomatic indemnity" aanspraak maak omdat hy van 'n ander land is nie)
- Ons moetr registreer in verkiesings
- Ons MOET stem in verkiesings of 'n boete betaal
- Ons moet Australië verdedig as daar 'n oorlog sou uitbreek
- Ons moet op 'n jurie dien in 'n hofsaak as ons opgeroep word daartoe


2 comments:

  1. Wat 'n groot mylpaal is dit nie!!! Ons het die 12de November ons toets gedoen, en dit was 'n baie emosionele oomblik toe ek op die rekenaar sien dat ek my toets geslaag het. Nou wag ons ook op ons brief wat ons uitnooi na die seremonie toe. Geniet julle groot dag!!

    ReplyDelete
  2. Baie geluk ... dit is nog 'n rukkie voor ons daar is, maar ek is baie bly vir julle (Ani - ook vir julle). Ek wil fotos sien oor die seremonie!!!!

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings