Kyk, as daar nou een ding is waarmee jy gaan sukkel as jy hier in Australië is, dan is dit om nie in 'n smulpaap te verander nie. As gevolg van die groot verskeidenheid nasies wat oor die jare hierdie land hulle nuwe tuiste kom maak het en hulle eie kos en kultuur saamgebring het, kan mens die wonderlikste verskeidenheid eksotiese kosse by die supermarkte te koop kry. Ek het gerugte "gehoor" dat mans sowat 5 kg en vrouens sowat 10 kg gewig optel wanneer jy hier in die land van Kokanje kom woon. Of dit waar is sou ek myself nou nie oor wou uitspreek nie....maar ek het nogal agtergekom dat die "vogtigheid" in die lug hier in Sydney jou broeke laat krimp ;-)
Dis die eienaardigste verskynsel.
Van al die baie kosse wat ek nou al uitgeprobeer het is daar beslis so 'n paar gunstelinge op my lys van smul-plesiere.
Vandag wil ek julle bietjie vertel hoe om lekker Aussie biefstuk en karamel uie voor te berei. Maar voor ek dit doen, hier volg so 'n paar van my gunsteling gunstelinge hier in Oz...
- Die lekkerste Australiese lekker : Die smaaklikste vluweelsagte Danish Feta kaas wat mens oor die supermark toonbanke hier kan koop. Jy het nog nooit so iets in jou lewe beleef nie. Ek was altyd net gewoond aan daardie harde Feta kaas, maar hierdie is iets uit 'n ander wêreld.
- Australiese Raisin Toast of "Fruit Loaf" brood...amper soos hot cross buns, maar so groot soos 'n brood. As jy die dik snye so bietjie opwarm in 'n broodrooster word daardie rosyntjies darem lekker hoor. Dit herinner my sommer aan my dae by Tukkies waar ek elke dag vir my 'n Chelsea bun by die bakkery gekoop het en op die gras rondgelê het.
- Die DONER Kebab by die Turkse winkels. Dit bestaan uit 'n Libanese pita brood gevul met heerlike skaapvleis direk van 'n skaapboud afgesny.
- SUBWAY se "Italian BMT" Footlong Sub op 'n Italiaanse kaasbroodjie met ekstra Gerkins en Olywe en 'n soet-uie sous.
- Om 'n soet Kiwivrug in die helfte te sny en sommer met 'n teelepel uit te eet.
- Om saam met my kinders 'n helderrooi waatlemoen te eet.
- Jy kry die lekkerste geurigste Chai tee met kaneel, gemmer en naeltjies hier. Lipton maak dit en ek kan dit nie weerstaan nie.
Ek drink nogsteeds Rooibos tee. Ons Suid Afrikaanse Rooibostee kry jy in meeste supermarkte hier, en dis nogsteeds die lekkerste tee wat jy kry.
Soos belowe: "Aussie" biefstuk en karamel uie (As jy dit in Suid Afrika maak is dit BOERE BIESTUK EN KARAMEL UIE)
Jy begin deur vir jou so 'n lekker 3 cm DIK stuk "RUMP steak" by die slaghuis of Woolies te koop.
Ek het sommer ons Pineware braaipan gebruik om die uie en die vleis te braai. Gooi bietjie olie in die pan en strooi omtrent 2 knippies sout oor die uie. Dit sal die uie se sappe laat uitkom en help dat dit nie so maklik brand nie. Sit die Pineware so op 4.
Roer die uie aanhoudend met 'n spaan. Gooi so 2 opgehoopte teelepels lekker klam bruinsuiker by die uie.
Dit sal karameliseer en die uie sal later so half deurskynend word.
Teen hierdie tyd is die "steak" al lekker getrek.
Gooi nou suurlemoenpeper oor die vleis. Ek is mal oor hierdie spesery. Ek eet dit soms sommer so uit my hand - baie lekker.
Die volgende stap is om vars knoffel oor die biefstuk te smeer. Hier by ons kry mens sulke buisies vars knoffel wat mens in die yskas kan hou en soos wat jy nodig het kan uitdruk soos 'n tandepastebuisie.
Braai nou die biefstuk so 4 minute aan elke kant op 'n warm plaat en skep dan van die gekarameliseerde uie op die vleis sodat dit die uie smaak kan kry.
Ons verkies ons "rump" biefstuk so bietjie nader aan lewendig as aan dood.
Maak nou vir jou 'n lekker slaai deur tamaties, tuinslaai en Danish feta in die slaai te sny. Breek so 'n tros lekker kraakvars sultana druiwe in die slaai en sny ook so 5 Gerkins fyn in die slaai in. Gooi so 'n teelepel suiker oor en 'n "dash" suurlemoensap. Meng so 3 keer. Moenie die tamaties te fyn sny nie, anders het jy net 'n klomp sap aan die onderkant van die bak.
Nuttig die steak saam met die karamel uie, die knoffelbrood, die Griekse slaai wat jy nou net geprakseer het en 'n lekker glasie sjerrie.
Lekker eet.
Jou blog is great!! Ek kan wag vir elke dag wat jy 'n nuwe ervaring opsit nie. Groete.
ReplyDelete