Saturday, March 29, 2008

Ons "hoinkie" Loukie is nou reg soos 'n roer

Hier in Oz word honde soos kinders behandel. Jy kan nie sommer 'n hond by iemand koop en klaar nie. ALLE troeteldiere ("Companion animals") wat gebore is sedert 1 Julie 1999 moet volgens die "Companion Animals Act 1998" geregistreer word by die NSW Companion Animal Register. ALLE honde en katte wat as troeteldiere gehou word MOET ge-"microchip" en geregistreer wees. Die mikroskyfie wat ingeplant word bevat 'n 15 syfer nommer wat jou hond uniek identifiseer op die diere register. Wanneer jy 'n hond (of 'n kat) koop by 'n "Pet-shop" is die hond reeds ge-microchip, maar nog nie lewenslank geregistreer op jou naam nie - dit moet jy binne 6 maande laat doen. Voordat jy die hond uit die winkel kan neem, moet jy egter eers jou naam en woonadres (selfs e-pos) gee sodat hulle die hond se naam, honderas, geboortedatum, geslag, kleur en woonadres aanlyn oor die internet kan instuur na die "NSW Companion Animal Register". Enige gesteelde of rondloper honde wat dan gevind word, kan direk met die eienaar gekoppel word en terugbesorg word - hulle weet dus wie is verantwoordelik. 'n Troeteldier is 'n lewenslange verbintenis.

Daar is 'n $550 boete vir eienaars wat nie hulle diere laat "microchip" en registreer nie. ($2200 vir verbode of gevaarlike honderasse)
Voordat 'n hond wat by die stadsraad se hondeskuiling ingeneem is, mag slegs aan die eienaar oorhandig word nadat dit geregistreer en ge-"chip" is.

Dit kos $100 vir die lewenslange registrasie van 'n hond wat nog nie reggemaak is nie, en $35 vir 'n hond wat wel ge-steriliseer is.

Alle eienaars moet binne 14 dae nadat hulle verhuis het, die hond se besonderhede by die diereregister laat opdateer. Dit moet ook gedoen word indien die hond tot sterwe kom. Jy moet hulle binne 3 dae laat weet indien die hond weggeraak het. Die diereregister weet dus presies hoeveel honde (en hoeveel ongesteriliseerde honde) in elke woonbuurt in Australië woon.

Loukie is toe Dinsdag by die Veearts se spreekkamers ge-steriliseer. Dit kos $185. Tesame met dit het ons ook betaal vir die "Rapid recovery plan", wat help dat die hond vinniger bykom na narkose, dit kos $80. Daarbenewens het die veearts sommer 3 van die hond se babatande getrek ($15 per tand). Totaal $290. Na die operasie reik hulle aan jou 'n Sterilisasie sertifikaat uit wat jy aan die Diereregister vertoon sodat jy net $35 in plaas van $100 betaal vir registrasie.

Elke hond het ook 'n volledige immunisasie kaart wat opgedateer word net soos jou kinders s'n. Ons hond het nou al 9 "stickers" op sy inentingskaart vir siektes soos: Distemper, Hepatitis, Parvovirus, Parainfluenza, Bordetella Bronchiseptica, Leptospirosis, Coronavirus en Heartworm.

Nogal heel toevallig het my vrou ook uitgevind dat ons veearts oorspronklik van Kwazulu Natal in Suid Afrika af kom. Sy naam is Dr. Markus Mander (46 Windsor Road, Kellyville, NSW, Tel 02 9629 5288).

Friday, March 28, 2008

Smul saam met my aan die heerlikste biefstuk met karamel uie

Kyk, as daar nou een ding is waarmee jy gaan sukkel as jy hier in Australië is, dan is dit om nie in 'n smulpaap te verander nie. As gevolg van die groot verskeidenheid nasies wat oor die jare hierdie land hulle nuwe tuiste kom maak het en hulle eie kos en kultuur saamgebring het, kan mens die wonderlikste verskeidenheid eksotiese kosse by die supermarkte te koop kry. Ek het gerugte "gehoor" dat mans sowat 5 kg en vrouens sowat 10 kg gewig optel wanneer jy hier in die land van Kokanje kom woon. Of dit waar is sou ek myself nou nie oor wou uitspreek nie....maar ek het nogal agtergekom dat die "vogtigheid" in die lug hier in Sydney jou broeke laat krimp ;-)
Dis die eienaardigste verskynsel.

Van al die baie kosse wat ek nou al uitgeprobeer het is daar beslis so 'n paar gunstelinge op my lys van smul-plesiere.

Vandag wil ek julle bietjie vertel hoe om lekker Aussie biefstuk en karamel uie voor te berei. Maar voor ek dit doen, hier volg so 'n paar van my gunsteling gunstelinge hier in Oz...

  • Die lekkerste Australiese lekker : Die smaaklikste vluweelsagte Danish Feta kaas wat mens oor die supermark toonbanke hier kan koop. Jy het nog nooit so iets in jou lewe beleef nie. Ek was altyd net gewoond aan daardie harde Feta kaas, maar hierdie is iets uit 'n ander wêreld.
  • Australiese Raisin Toast of "Fruit Loaf" brood...amper soos hot cross buns, maar so groot soos 'n brood. As jy die dik snye so bietjie opwarm in 'n broodrooster word daardie rosyntjies darem lekker hoor. Dit herinner my sommer aan my dae by Tukkies waar ek elke dag vir my 'n Chelsea bun by die bakkery gekoop het en op die gras rondgelê het.
  • Die DONER Kebab by die Turkse winkels. Dit bestaan uit 'n Libanese pita brood gevul met heerlike skaapvleis direk van 'n skaapboud afgesny.
  • SUBWAY se "Italian BMT" Footlong Sub op 'n Italiaanse kaasbroodjie met ekstra Gerkins en Olywe en 'n soet-uie sous.
  • Om 'n soet Kiwivrug in die helfte te sny en sommer met 'n teelepel uit te eet.
  • Om saam met my kinders 'n helderrooi waatlemoen te eet.
  • Jy kry die lekkerste geurigste Chai tee met kaneel, gemmer en naeltjies hier. Lipton maak dit en ek kan dit nie weerstaan nie.




Ek drink nogsteeds Rooibos tee. Ons Suid Afrikaanse Rooibostee kry jy in meeste supermarkte hier, en dis nogsteeds die lekkerste tee wat jy kry.


Dan is daar natuurlik lekker Flat White koffie. En dan natuurlik ook die koffie wat ons vriendin vir ons met haar koffie masjien maak as ons by hulle kuier.

Dan is daar natuulik die lekker Ryde Burger met pynappel en 'n egte maalvleis "patty" wat ek so dan en wan by "The Anatolian" Kafee in West Ryde vir middagete eet. Hier is 'n foto van die kafee waar ek nou al 'n "regular" is.


Soos belowe: "Aussie" biefstuk en karamel uie (As jy dit in Suid Afrika maak is dit BOERE BIESTUK EN KARAMEL UIE)

Jy begin deur vir jou so 'n lekker 3 cm DIK stuk "RUMP steak" by die slaghuis of Woolies te koop.
Daarna meng jy Balsamiese Asyn saam met rooiwyn (of Sjerrie as dit al is wat jy drink) in 'n bak en laat die biefstuk daarin week terwyl jy die uie voorberei.

Die asyn en die wyn maak die "steak" sommer lekker sag. As jy dit lank daarin laat lê word die vleis so sag dat jy die "steak" selfs op 'n hamburger kan eet...mens noem dit 'n Aussie Steakburger.

Hierna kerf jy so 6 middelslag uie op. 'n Maklike manier is om die punte af te sny en dan die buitenste laag deur te sny - al die buitenste blare dop dan sommer maklik af. Gebruik die scuba-uie-kerf-tegniek, wat ek voorheen gedemonstreer het, sodat jou oë nie traan nie.

Ek het sommer ons Pineware braaipan gebruik om die uie en die vleis te braai. Gooi bietjie olie in die pan en strooi omtrent 2 knippies sout oor die uie. Dit sal die uie se sappe laat uitkom en help dat dit nie so maklik brand nie. Sit die Pineware so op 4.

Roer die uie aanhoudend met 'n spaan. Gooi so 2 opgehoopte teelepels lekker klam bruinsuiker by die uie.


Dit sal karameliseer en die uie sal later so half deurskynend word.

Skep die uie uit die pan voordat dit ENIGSINS begin brand. Ek verstaan nooit waarom mense die uie so moet "offer" dat dit aanbrand in die pan nie!

Teen hierdie tyd is die "steak" al lekker getrek.

Gooi nou suurlemoenpeper oor die vleis. Ek is mal oor hierdie spesery. Ek eet dit soms sommer so uit my hand - baie lekker.


Die volgende stap is om vars knoffel oor die biefstuk te smeer. Hier by ons kry mens sulke buisies vars knoffel wat mens in die yskas kan hou en soos wat jy nodig het kan uitdruk soos 'n tandepastebuisie.

Smeer dit oor die "steaks". Net die regte medisyne vir verkoues. ;-)

Braai nou die biefstuk so 4 minute aan elke kant op 'n warm plaat en skep dan van die gekarameliseerde uie op die vleis sodat dit die uie smaak kan kry.

Teen hierdie tyd het die uie so 'n heerlike karamel smaak.

Ons verkies ons "rump" biefstuk so bietjie nader aan lewendig as aan dood.

Kry vir jou nou so 'n ou knoffel of kruie broodjie wat jy sommer in die oond warm maak totdat die botte begin smelt.

Maak nou vir jou 'n lekker slaai deur tamaties, tuinslaai en Danish feta in die slaai te sny. Breek so 'n tros lekker kraakvars sultana druiwe in die slaai en sny ook so 5 Gerkins fyn in die slaai in. Gooi so 'n teelepel suiker oor en 'n "dash" suurlemoensap. Meng so 3 keer. Moenie die tamaties te fyn sny nie, anders het jy net 'n klomp sap aan die onderkant van die bak.


Nuttig die steak saam met die karamel uie, die knoffelbrood, die Griekse slaai wat jy nou net geprakseer het en 'n lekker glasie sjerrie.

Lekker eet.

Tuesday, March 18, 2008

Vandag het dit maar sukkel sukkel gegaan om by die werk te kom

Moenie dink Sydney het nie probleme met verkeersknope nie. Vandag het die Paw-Paw lekker die fan getref vir die mense wat in die Noord-weste van Sydney bly. Soos die slagare van 'n kettingroker is die paaie in Sydney heeltemal te smal vir die hoeveelheid verkeer wat elke dag daardeur wil beur werk toe. Veral hier van die Hills se rigting af waar die naaste trein-stasie Pennant Hills is en die 2 bane in twee rigtings grootliks ontoereikend is vir die hoeveelheid motors wat in die oggende hier verby kom. Gelukkik ry ek bus en trein, so my eie bloeddruk word nie regstreeks daardeur opgestoot nie, maar dit is nogsteeds 'n feit soos 'n koei dat as ek 15 minute later by die huis loop busstop toe, dit my reisplanne met tot 45 minute kan omvergooi. Dit is asof almal wat leef en beef hier so net na 07h25 in die pad val. 'n Geringe "smash" soos hulle dit hier noem, is genoeg om mens se tydskedule lelik in die wiele te ry.

Soos vanoggend die geval was toe 'n busbestuurder van Epping mos soos elke dag besluit om gou 'n ou koffietjie te drink by 'n hoekkafeetjie daar in Epping. Sy het doodluiters haar bus daar staan gemaak voor haar skof en toe sy terugkom by haar bus...was die' hele 13 ton bus skoonveld, ja, jy het reg gehoor...dit het tussen neus en ore verdwyn...tussen vinger en duim weggeraak. Maar tot haar groot konsternasie lê die bus toe met sy agterstewe op die hoof spoorlyn waar daar elke 15 minute 'n trein verbykom. Soos ek kon aflei uit die nuusberigte was die tannie nogal ontsteld en het so 'n paar knope uit haar mond laat los. Nie koffie nie, maar suikerwater was wat sy toe nodig gehad het. Volgens beriggewing was dit die remme wat onklaar geraak het. Een ou het nog vertel hoe hy so teen 06h55 rustig aan sy ontbyt gesit en smul het toe hy hierdie bus met 'n wil van sy eie by hom verby sien kom het. Die bus het nogal om die "roundabout" gery en toe deur die heining in die dieptes na benede gestort het. Van die omstanders wou selfs gaan help, maar daar was geen insittendes in die bus te vinde nie...

Wat my natuurlik terugbring by my eie penarie. Soos gewoonlik sit ek so 7h25 toe al op die 631 Bus oppad Pennant Hills stasie toe. Ek sit gewoonlik voor in die bus naby die busbestuurder, wat my nou al ewe "buddy" noem, sodat ek die uitsendings oor sy radio beter kan beluister. Die verkeer was besonder bedruk vanoggend en ek hoor toe oor die tweerigting radio dat daar 'n bus op die spoorlyn lê en dat ALLE, ja ALLE treine tussen Hornsby en Eastwood opgeskort is totdat hulle die bus van die treinspore kan verwyder. So ry ek toe maar die 4.5 km tot by Pennant Hills stasie waar ek net weer in my spore omdraai en die eerste bus moet terugneem huistoe. By die huis gekom was my vrou reeds oppad om die kinders skool toe te neem. Die meeste paaie in Castle Hill het teen hierdie tyd al gelyk soos by die Kaapse Parade met karre wat lyk of hulle parkeerplek soek. Uiteindelik is ons toe van die skool af na my werk toe met die kar in die "verstopte" are van die voorstede tot by West Ryde...dankie tog ek werk nie in die stad nie, want die snelweg lyk soos een groot begrafnisstoet. Twee en 'n halwe ure na ek by die huis weg is kom ek toe uiteindelik by die werk aan - 'n rit wat my normaalweg net 40 minute neem.

Vannaand hoor ek ons kry hier (oor 9 jaar eers) ons eie "Gautrein" wat blykbaar elke 5 minute 'n rekenaar beheerde trein kapsule gaan hê wat die rit tussen die Hills en die stad met 45 minute gaan verkort...sal maar sien of die beloftes gaan realiseer en of dit soos vorige kere gaan "ontspoor".

Sunday, March 16, 2008

Ons dag by die Bosvuur brigade

Ons is vandag na 'n Pa en seun dag by Westleigh brandweerstasie. Dit is vir die seuns deur Thornleigh Baptiste kerk se Jesus Kingdom kinderbediening gereël.

Daar gekom het ons eers bietjie saam met die seuns sokker teen mekaar gespeel - sommer net om die ys te breek. Glo my - dis deur honderde sulke ontmoetings by die skole, by die werk, by die lokale kerk wat mens deel van die gemeenskap word. Daarna het ons toe bietjie van die tradisionele Aussie worsbroodjies geëet. Ek kon nog nie die smaak van hierdie worsies klassifiseer nie - slaan my nog dronk hoekom hulle nie eerder tradisionele boerewors maak nie : hier is dan ook maalvleis. Dit was lekker om op hierdie manier die pa's te ontmoet. Mens kom gou agter dat ons maar net dieselfde is. Ek het nog nie vandat ons hier in Aus is onwelkom of uitgeskuif gevoel nie - as mens van jou kant af iets doen, is hulle harte oop.

Die "New South Wales Rural Fire Service" bestaan geheel en al uit vrywilligers uit die publiek wat op bystand is om te gaan help as daar bosvure uitbreek. Anders as die permanent-bemande "groot" brandweerstasies spits hulle hulself toe op huis en bosbrande en nie op motorongelukke nie. Twee van die vrywilligers het ons vandag touwys gemaak oor hoe om die brandweerwa en die brandslange op te koppel en te gebruik. Eintlik meer vir die seuns.

Gaan kyk gerus na vandag se foto album in groot fotos. Ek het vir julle volop kommentaar bygevoeg.

Die seuns is in 2 spanne opgedeel en moes toe kyk wie kon eerste die brandslange koppel om die ander span te kan natspuit. Dit was omtrent 'n konsternasie van die eerste water.

Die seuns het alles geleer van "vure blus" tot brandweerwa volmaak met water.

As die volgende fotos te vinnig wissel, click net op "Pause" en skuif die fotos dan aan deur op die pyltjies te kliek.



Ek het vir julle ook so 'n kort videotjie geneem waar julle die brandweer se radio kan hoor in die agtergrond.

video

Friday, March 14, 2008

Jy bekyk jou wêreld nou uit ander oë en lewe jou lewe nou tot op die droesem van jou bottel

Dis moeilik om aan iemand anders te verduidelik wat in jou binnekant gebeur en hoe mens verander as jy eendag 'n nuwe skoon bladsy oorslaan en aan 'n nuwe hoofstuk van jou en jou gesin se lewe begin skryf. Die ink wat jy gebruik is daaglikse toewyding, vroeg opstaan, die sleur van roetine en geduld om al die nuwe hoekies en lyntjies van jou nuwe verhaal neer te pen. Jy dip jou pen in die pot van moed en jou bladsye vul jy met liefde en harde werk.

Maar hoe anders kan jy dan nou vir iemand anders laat weet hoe dit voel hier in die vreemde as jy nie probeer nie. Een ding is seker, 'n feit soos 'n koei: dit is dat jy nie meer dieselfde mens is wat jy was nie. Jou familie en vriende, waarvan jy jou sagkuns en onwillig moes losskeur, sal jou ook nie meer heeltemal as dieselfde mens herken nie. Bietjie vir bietjie, druppel vir druppel is mens besig om in 'n ander mens te verander. Om daarteen te skop sal jou net frustrasie meebring, en dus is dit beter om jou aan hierdie veranderingsproses oor te gee.

Die veranderings steek hul kop uit in klein alledaagse dingetjies soos hoe jy teen mense optree. Waar mens byvoorbeeld gewoond was om sommer met almal wat jy op 'n bus of trein teëkom te wil gesels of te groet en jy dit aanvanklik nie kan verstaan hoe die mense dit regkry om elke dag soos skepe in die nag by mekaar verby te kan loop of direk langs mekaar te kan sit op die trein sonder om enige kommunikasie uit te ruil, menslike interaksie te hê of selfs oogkontak te maak nie, begin jy nou stadig maar seker toegee aan 'n ongeskrewe reël om nie ander se persoonlike spasie te betree nie. Na meer as 9 maande luister jy jou iPod, lees die treinkoerantjie of staar by die venster uit. As daar 'n tannie voor jou van die trein afklim met 'n moerawiese reis-tas, help jy beleefd. Jy leer ook van geduldig wag dat 'n stroom mense eers van die trein moet afklim voor jy indruk en 'n plek gaan soek om te sit. Jy leer dat mense nie sommer 'n "president" skep en jouself "gentleman" hou om vir elke meisie op te staan op die trein of bus nie. Nee, lykmy hier sit mens en die staande mense neem outomaties die oopgaande sitplekke in. Vir 'n ouer mens staan jy wel op, maar dis asof die mense hier dit nie as 'n reg toeëien dat mens dit vir hulle moet doen nie - amper asof hulle dit hier belangriker beskou om mekaar as hul gelykes te behandel. Maar, enige daad van onverwagse opoffering word met groot waardering aanvaar. Dis amper....so asof die mense hier baie meer skugter en skaam is. Ek verstaan nou ook hoe publieke vervoer 'n gevoel van vereenselwiging met die lot van die man op die straat, die "common man" in 'n mens se lewe wakker maak. Voor 'n mens jouself kan kry, begin jy jouself sien as 'n "doodgewone Aussie". Reeds vergete is die tyd in 'n mens se lewe wat jy deel was van 'n "hoër" klas van die samelewing wat met duur "huurkoop" motors in die oggende en middae verby die rye en rye swart mense gery het wat vir hul taxis staan en wag. Hier is dit nie so nie. Ooglopend hoogsbetaalde professionele mense wat werk by banke en IT maatskappye, met ID tags, skootrekenaars met allerhande aandelegrafieke en uitgevat in snyerspakke staan ewe gemaklik in die middae tussen konstruksiewerkers in vuil stowwerige klere en wag vir die trein of die bus. Skoolkinders wemel by die stasie, gesels luidrugtig. Selfs mense wat normaalweg uitgeskuif word na die rant van die samelewing, gestremdes, gebreklikes, vele down sindroom mense ry gereeld saam met my bus oppad na hul werke om iewers hul plekkie in die son vol te staan. 'n Mens se oë verander. Jy hou sommer gougou op om mense "op te som". Jy sien almal as gelyk... Tog vreemd, want hier in Sydney, waar huispryse ongelooflik duur is bestaan daar verseker 'n baie groot gaping tussen die' wat 'n huis kan bekostig en die' wat maar net daarvan kan droom.

Gister toe ons met die hond gaan stap kom ons 'n baie vriendelike vrou en haar ma teë in die park saam met haar seuntjie wat nuuskierig ons hond wil streel. Hier kan immigrante mekaar op 'n afstand eien. Almal van ons het boekdele in gemeen. Jy herken daardie warm, verwelkomende uitreik. Die gemeenskaplike heimwee ervaring, die verlange na familie wat jy wil vul met 'n hart wat altyd tog te gewillig is om nuwe mense te leer ken. Sy vra ewe vriendelik van waar is ons. Hulle is van Iran af. Sou dit nooit kon sê nie. Kon net sowel 'n Griekse of Turkse vrou gewees het. En ons ken mense uit elkeen van daardie kategorieë. Ons is van Suid Afrika. Ons gesels sommer gougou oor allerhande gemeenskaplike ervarings. Ons stem saam dat hier in Sydney sommer baie verskillende kulture saam is. Soms voel dit regtig asof "standaard" Aussies besig is om in die minderheid te word hier, want oral waar jy kom ontmoet mens net mense van ander nasies. Iets dring ongelooflik helder tot mens deur...hoe dieselfde ons is.

My blik op die lewe was gans te versper. Ek het voorheen "OORSEE" gesien as 'n totaal onbekende wêreld waar mense van gans verskillende en uiteenlopende nasies woel en dit tog nooit sou kon regkry om in vrede saam te leef nie. Ek het myself gesien as 'n Afrikaner, as deel van 'n klein groepie Afrikaanse mense....nou sien ek myself net as 'n mens, maar wel een wat ook Afrikaans kan praat. Voorheen was ek 'n inwoner van Suid Afrika, nou is ek 'n inwoner van 'n groter plek...die aarde. Mens se blik op die wêreld verbreed. Wanneer jy vasgevang voel in omstandighede buite jou beheer en jou ou wêreldjie so klein word dat dit later net uit 4 mure bestaan, vergeet mens nogal dat jy steeds 'n keuse het oor jou eie toekoms. Wel...jy het. Dit is nie dat jy nie 'n keuse het nie....die vraag is, is jy bereid om met die gevolge van jou keuses saam te leef? Die goeie en minder goeie implikasies van die keuse. Keuses het nie altyd net aangename uitkomstes nie - mens pluk per slot van sake nie rose sonder dat 'n paar dorings jou hier en daar haak nie. Een so 'n doring is die hoë lewenskoste hier in Sydney, asook die bykans onbekostigbaarheid van huise. Kos is duur, behuising is duur, en mens leer om vrede te maak daarmee. Mens werk hard hier. Aussies is alles behalwe lui. Jy sal moet uithaal om by te kan hou, want hulle ken van hard werk. En hier is mens natuurlik maar net nog een van BAIE hoopvolle aankomelinge. Ek werk byvoorbeeld saam met 'n Chinees. Sy naam is Bing Wong. 'n Skaam ou, baie vriendelik, hardwerkend. Met 'n baie gebroke engels, maar met 'n hele paar jare meer programmerings ondervinding as ek en met 'n baie skerp verstand. Jy hoef iets net so effens te verduidelik en hy verstaan wat hy bedoel. Hy is nou al 3 jaar hier en sy vrou het een en 'n halwe jaar voor hom na Oz toe gekom om werk te kom soek. Hy het behalwe sy gesin ook nie ander familie hier nie. Dus deel ons 'n gemeenskaplike ervaring in daardie opsig.

Teen so 10 maande hier, en weg van die persoon wie ek was, begin baie van die dinge wat ek uit Afrika onthou soos deur troebel water te vervaag in my geheue. Lank vergete is die vrees en onveiligheid wat ek ervaar het. Ek kan eerlikwaar sê ek slaap hier soos 'n baba - word bitter min wakker in die nag. Mens kyk nie meer oor jou skouer nie, jy voel veilig, al moet jy ook in pikdonkerte stap om jou asblikke uit te vat. Hier geniet jy net die aandluggie, die geluid van die voëls en die gesuis van die wind. Die pyn van verlange word minder - dink ek - omdat jy al hoe meer van jou ou lewe begin vergeet. Soms is dit soos om terug te dink aan karakters in 'n fliek wat jy gesien het - wat was nou weer daai persoon se naam? Stadig maar seker, net soos mens jou klasmaats op skool vergeet begin mense se name en gesigte in jou kop "opgemix" raak. Ons het nou seker al die dinge wat ons in Suid Afrika gehad het en 'n paar ander : 'n kredietkaart, water & ligte, telefone, selfone, mediese fonds kaarte, aktiwiteite by die kerk, skool, werk, kinders wat swemlesse neem, balletklasse vir Popsie en oplaai en aflaai van Seuna by sy maatjies. Ek het al selfs hierdie week my eerste verhoging gekry van 11.1 %. My vrou het een en 'n halwe dag per week begin werk by 'n dokterspreekkamer en die kinders ry nou selfs sommige dae self met die bus skool toe (sluit die huis en loop alleen busstop toe - en hulle is nou so 7 en 9 jaar oud). Sondag gaan ek en my seun na 'n Pa en seun dag by die brandweer. My vrou het reeds lankal haar gunsteling Aussie sepie: "Home & Away" en ek verkies weer Border Security. Ons het 'n hond wat al deel is van ons gesin en reeds laankal ge-"house train" is. Ons het 'n Posbus by die poskantoor en 'n Biblioteekkaart. Ek ken nou al die plekke van die verskillende kruideniersware by die Woolies en het reeds my gereëlde "Newsagent" waar ek my Prepaid selfoon lugtyd koop, by die haarkapster gesels ons alreeds dik stukke en by my werk lag ek al ewe lekker saam met die manne se sêgoed en deel ook my eie. Ek is al 'n hele rukkie nie meer die "foreigner" nie, want daar is alreeds nuwe ouens (een van China en een van Brazilië) wat daardie posisie vol. Ek moet nou weer die ander leer hoe ons produkte werk en hulle kom vra selfs vir my as hulle hulp nodig het. Ek is nou al regtig gewoond aan hoe dinge hier werk. As ek nou aan 'n TV advertensie dink, kan ek alreeds nie meer onthou of ek dit nog in Suid Afrika gesien het, en of dit 'n Aussie TV advertensie is nie. ...ek hoef selfs nie meer te sê waarheen ek oppad is as ek op die bus klim nie, want die ouens ken my al.

Die volgende liedjie wat in 1972 deur Johnny Nash geskryf is beskryf nogal hoe mens voel:

I can see clearly now the rain has gone
I can see all obstacles in my way
Gone are the dark clouds that had me blind
It's going to be a bright, bright sunshiny day

I think I can make it now the pain has gone
And all of the bad feelings have disappeared
Here is the rainbow I've been praying for
It's gonna be a bright, bright sunshiny day

Look all around there's nothing but blue skies
Look straight ahead nothing but blue skies

I think I can make it now the pain has gone
And all of the bad feelings have disappeared
I can see clearly now the rain has gone
It's gonna be a bright, bright
Sunshiny day


...moenie na Oz toe kom en dink jy gaan nie verander nie. As jy hier is, is jy deel van 'n heel ander land se waardes, se ekonomie, se ongeskrewe reëls en manier van dinge doen, se manier van praat en se manier van dink.

Dit voel vir my nou al glad nie meer vreemd om die busbestuurder te groet met "G'day mate" en "Thanx mate" nie. So af en toe is dit selfs "No worries"...

'n Mens se verstand raak meer OOP vir ander mense en ons verskille, maar soos wat jou oë oopgaan sien jy ons is almal maar dieselfde. Dit mag miskien kras klink...maar Oz laat my weer my geloof in mense herwin.

Dis verbasend hoeveel meer jy jou gesin waardeer. Hier is mens se gesondheid vir jou goud werd, want jy besef dat dit net jou "elke-dag-se-opstaan-en-gaan-werk" wat hierdie lewe moontlik maak. En sonder gesondheid is dit onmoontlik. Daarby het ek nou al oor die afgelope 10 maande (teen 2 km per dag) al 600 km per voet afgelê...van die huis na die busstop, van die bus na die trein, van die trein na die werk. Dan waardeer mens ook kniee wat gesond is om trappe te kan klim, oë om te kan programmeer en hande om te kan werk. 'n Programmeerder tik gemiddeld so 'n miljoen sleutels in 'n jaar - glo my maar (het dit al self gemeet). Ons gesin en vriende geniet die vryheid om te kan gaan stap in woude, klowe en langs riviere ook baie en gryp elke geleentheid aan om 'n kuiertjie en 'n "outing" in te kry.

Op 'n heel ander noot...ons het vannaand bietjie by "The Outback Steakhouse" gaan uit-eet en gekuier. Die kos was uitstaande lekker. Hier is die rekening vir 'n familie van 2 volwassenes en 2 kinders:

Mens moet jou nuwe lewe LEEF, die bottels leeg drink en nie bietjies bietjie Suid Afrika oesjaar 2006 laat oorstaan in jou bottels nie.

Monday, March 10, 2008

Hier kriek die krieke dat die byle huil

Net om julle so 'n klein voorsmakie te gee van hoe dit op 'n someraand hier in Sydney buite in jou tuin klink as die cecadas en krieke die tuin behoorlik op horings neem. Die kabaal word eerste afgeskop deur die Cecadas wat soos wafferse insek lugdrukbore aangaan. Soos wat hulle dan later gaan inkruip vir die nag neem die krieke oor met hul eie weergawe van "Eine Kleine Nachtmusik" Genadiglik raak die herrie darem later stil soos die koel aandwindjie sy kleed oor die aarde trek en 'n doodse stilte oor die heuwels neerdaal.

video


video

Sunday, March 09, 2008

As ek moeg word vir die lewe in die stad...gee my die wandelpad

Ons het vandag bietjie gaan stap by die "Crosslands Reserve" by Berowra Waters wat net so 19 km van ons af is (naby Hornsby). Dit is hier om presies te wees.

Ons het saam met klomp van ons vriende en hulle kinders gaan stap en daarna 'n lekker braaivleis gehou met 'n hoop vuurmaakhout wat hulle daar gratis vir mens voorsien. Dit was 'n wonderlike lekker dag, die weer was perfek en die geselskap uit die boonste rakke.

Hier is so 'n paar van my beste fotos vandag:

'n Baie besondere varing...

Een van baie spinnekoppe...

Hierdie spinnekop se onderlyf is omtrent so groot soos 'n selfoon SIM kaart.

'n Baie mooi waterval



'n Voël in die park waar ons gebraai het.



Julle kan ook die groter "slideshow gaan kyk"

En hier is die dag se fotos...






Of die album.

Saturday, March 08, 2008

Die Sydney-aners gaan piekniek en braai op 30 Maart by Bobbin Head

Kyk...hierdie geleentheid moet julle nie mis nie. Uiteindelik het die Suid Afrikaners 'n braai en piekniek! Dit vind vanaf so 11h30 op Sondag 30 Maart by Bobbin Head in die Ku-ring-gai Chase Nasionale Park plaas. Daar is 'n Piekniek area met BBQ fasiliteite, toilette, drinkwater, telefoon en selfs rolstoel fasiliteite. Die presiese posisie van die plek is hier op Google se kaart. As jy in Cherrybrook bly is dit so 20.2 km se ry. Toegangskoste is $11 vir 'n voertuig dag pas.
Die naaste treinstasie aan die plek is egter Mt. Colah wat so 7km se ry van die plek is.

Daar is ook 'n hele paar staproetes van die plek af.
Birrawanna Track
Gibberagong Track
Sphinx Track and Warrimoo Track

Volgens die website is die plek van 10AM tot 4PM oop.

Tentatief lyk dit op die Weervoorspelling of die kans vir reen daardie dag laag is.

Vir almal wat belang stel om te gaan...reply gerus by hierdie SAAustralia bladsy sodat die mense 'n idee kan kry hoeveel mense gaan. Hou ook die NSW Events bladsy dop.

Sien julle daar.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings