Ons was vandag by die Karavaan en Kampeerskou by die Rose Hill Perderesiesbaan. Dis mos waar die perdewedrenne normaalweg plaasvind. Ons het egter bietjie gaan inloer watter soorte kampeer-kartoeters (gadgets) daar alles is. Ons het die meeste gehou van die kampeer-"slow cooker". Hier is vir julle 'n foto slideshow. Kliek daarop om dit te kyk in volgrootte. Ek het heelwat van die tente en kampeersleepwaens se pryse ook afgeneem.
Ons avonture in Australie
- Snorkel By Freshwater strand
- Snorkel by Terrigal strand
- Skaats manewales in Sydney stad
- Vivid Skaats in die stad 2016
- Opera huis "timelapse"
- Home
- Airport Mascot Skaats
- Belangrike Skakels
- Rollemskaats Roetes
- My gunsteling Podcasts/Potgooie
- South African History (Ons Lewende Geskiedenis)
- Snorkel Ekspedisies rondom New South Wales
- Ons snorkel die Groot Koraalrif van Australie
Deel PITKOS VIR DIE FYNPROEWER MET JOU VRIENDE...
e-pos Intekenaars
Saturday, April 24, 2010
Kampeer skou by Rose Hill Resiesbaan
Thursday, April 22, 2010
Die mense op my pad : Deel 1
Ek het reeds voordat ons Sydney toe gekom het besluit dat ek sover moontlik van publieke vervoer gebruik gaan maak. Toe ons nog in Centurion gebly het, het moes ons twee motors op die pad hou. Ons moes eenvoudig albei motors hê, want dis hoe dinge daar werk. Almal sê mos maar daar elke oggend die verkeer die stryd aan. Dit is iets wat jy nie regtig kan vermy nie.
Jy klim in jou motorhuis in jou kar en klim 'n paar meter van jou werk af uit die motor. So verander jy in 'n "car-seat" potato, want al oefening wat jy kry is om jou tas te dra. Jy het mos nie eens nodig om uit jou kar te klim om jou motor se bande te pomp of petrol in te gooi nie! Alles word vir jou gedoen... So, oppad werk toe sit jy dan mos maar en Jakaranda 94.5 en luister en kyk hoe die Minibus Taxis op die grondpad skouer aan die linkerkant verbyjaag en doer voor die mense van die pad af gaan indruk. Met 'n geween en 'n gekners van tande bereik jy dan 'n uur of so later jou werk na 'n stewige sit-sessie. Jou enigste geselskap is die ouens op die radio...met dieselfde radio advertensies wat elke dag omtrent op dieselfde tyd herhaal...selfs die musiekkeuse is tot in die fynste besonderhede vooruit beplan.
Hoe hemelsbreed verskil my lewe nie nou nie!! Hoe word 'n mens 'n Aussie? Hoe voel mens aan jou lyf wat dit beteken om 'n Sydney-haner te wees? Hoe word mens net soos die gewone mens op die straat? Wel, ek dink, nou na 2 jaar en 11 maande se treinryery op meer as 3000 trein en busritte, dat ek nou nogal weet hoe dit voel... Daar is net soveel meer mense wat jou pad kruis op publieke vervoer! Ek het al menige stories van al die mense wat met my paaie kruis elke dag oppad werk toe. Aanvanklik as mens op die treine en busse begin ry, lyk meeste mense maar stroef, maar soos wat die dae, weke en maande verbystap en jy dieselfde bekende gesigte elke dag op dieselfde plek raakloop, raak die vreemde gesigte later onmisbaar. Jy weet later PRESIES watter persone op watter stasies die trein vang. Mens begin selfs later agterkom wie sekere kledingstukke bo ander kledingstukke verkies, wie vir hulself in die oggende 'n koffietjie koop en wie in watter oggendkoerant belang stel. Wie daardie oggend haastig by die huis weg is en wie ontbyt gemis het.
By my stasie, Pennant Hills, is daar byvoorbeeld die volgende mense wat ek net van sien ken en wat elke dag so tussen 7h20 en 7h50 by die stasie teëkom:
Die pynlik netjiese Koreaanse/Japannese besigheidsman wat jy elke dag deur 'n ring kan trek. Hy dra elke dag 'n aktetas (ek dink hy werk seker by een of ander bank). Sommige dae is sy seun saam met hom. 'n Tipiese tiener wat aan die hoë standaarde van sy pa probeer voldoen.
Dan is daar die ouerige middeljarige vrou. Soms glimlag sy vriendelik, en ek glimlag terug. Ek sien haar elke dag op dieselfde plek staan. Sy lyk vir my so bietjie soos 'n sigeuner en sy dra sulke platterige hoëhakskoene. Eendag sal ek nog haar storie hoor.
Daar is 'n jong man wat vir my net soos die akteur Gerard Butler lyk (van The Ugly Truth). Soms is daar 'n vrou saam met hom. Ek dink sy is sy ma. Hulle praat een of ander midde oosterse taal. Wanneer hulle saam is gesels hulle land en sand en ek kan sien hy geniet haar geselskap. Ek sien hom elke oggend.
Daar is heelwat verskillende skoliere wat by die stasie opklim. Hulle trek gewoonlik in sulke groepe van 5 tot 10 bymekaar. Ek het al gesien hoe 'n hele klompie van hulle eers in deftige skoolklere elke oggend saam gesels. Jy sien later wie is die skames, wie is die voorbariges en "loud" tieners en wie het muisneste. Net so het ek nou al gesien hoe dieselfde tieners se balkies op hul baadjies al hoe meer word tot hulle die volgende jaar nie meer in skoolklere by die stasie op die trein klim nie. Van dieselfde groepie weet ek dat daar ten minste een musikant is, 'n ander een volg 'n ballet-loopbaan, terwyl 'n ander een (wat op skool altyd die meeste gepraat het) nou in die regte gaan swot het.
Ek het julle al 'n vorige keer van die Koreaanse meisie (Esther) vertel wat by die koffie-shoppie by die stasie werk. Wel, sy werk nou nie meer daar nie. Sy het my laas vertel dat sy ook by Hawkesbury in Castle Towers winkelsentrum werk, wek miskien loop ek haar weer raak.
Maar in haar plek werk daar nou 'n ander immigrant vroutjie. Sy vertel my dat sy in 'n high-rise woonstel naby Town Hall in die stad werk, dan kom sy elke dag met die trein tot by Pennant Hills so net na 5 uur in die oggend en hou die koffiewinkeltjie oop tot so voor 11 uur.
Soms kry ek vir Gordon by die stasie. Hy is ook in ons kerk (Thornleigh Baptist). Hy is seker so by die 50 jaar oud. 'n Skot. Sy ouers en familie is nog almal daar, maar hy het ook baie jare lank in Zimbabwe gebly, daarna in Suid Afrika en so in die 90's het hulle Sydney toe ge-emigreer. Ons gesels lekker. Hy het my kort na ons aankoms by die gemeente vir ontbyt genooi. As ek hom op die stasie of die trein kry is dit gewoonlik omdat hy later gaan werk het daardie dag. Hy werk by Virgin Atlantic. Groot kop by hulle - hy was juis deel van die samesprekings om die nuwe Melbourne na Suid Afrika roete op die been te kry. As hy jou eers begin stories vertel van sy lewe in Zimbabwe kan hy jou al die ins en outs van die Ian Smith regering en die toestand van Afrika verduidelik. Baie intelligente ou. Hy en sy vrou het nie kinders nie, maar dit is baie aangename mense. Soms kry ek hom en Michael op die trein. Michael is ook 'n ander ouerige half bles ou. As ek hom en Gordon saam op die trein kry, dan moet ek my omtrent van hulle geselskap losskeur en verskoning maak want ek moet nou afklim. Ek sien Michael baie oggende langs die pad...hy stap seker omtrent 3 kilometer stasie toe.
Soms as ek die 632 bus stasie toe neem sien ek vir Willem op die bus. Hy is 'n lang blondekop ou. Hy en sou vrou het 4 kinders. Hulle het jare gelede van Holland af hierheen gekom. Sy vriendelike krulkop vroutjie lei soms die aanbidding in die kerk. Hy sit alewig op sy Blackberry en tik.
Ek het tot laasjaar ook altyd die 632 bus geneem stasie toe, maar toe verander hulle die busroete en nou kom dit nie meer so gereëld to by die Oakhill Drive winkels nie. Dis mos nou waar ek altyd die bus gevang het. Ek het vir 'n baie lang tydperk die bus daar gekry.
Net oorkant die straat bly daar 'n Down Sindroom meisie wat elke liewe oggend saam met my op die bus geklim het. Wanneer ek ingedagte in die bus-huisie gesit het, dan sou sy besorgd my aandag trek deur my op die skouer te klop wanneer die bus oor die bult nader kom.
Dit was ook in daardie tyd wat Alan nog die bus bestuur het. Hy was nou vir jou 'n stiptelike busbestuurder! Elke oggend klokslag 7h00 het hy oor die bult gekom en voor 7h20 was ek by die stasie. Sommige oggende het ek met Alan gesit en gesels. Hy het sommer dadelik geweet dat ek 'n Suid Afrikaner was. Mens kan mos net jou mond oopmaak en dan is die kat uit die mou... Op hierdie roete was daar 'n hele paar gereëlde mense op die bus: 'n baie deftig uitgedosde vroutjie met hare wat soos pouvere staan het in County Drive ingeklim (ek dink haar name is Jade, sy is 'n vriendin van Bianca, wat ek nog later van sal vertel), 'n Koreaanse meisie met 'n poniestert het in John rd opgeklim, 'n entjie verder nog 'n Koreaanse student wat byna altyd met sulke groot swart oorfone oor sy ore gesit het. Hy het seker besluit dat hy nie speel as hy musiek luister nie - hy wil hoëtrou musiek luister. Ek weet nou dat hy ook regte swot - ek sien soms dat hy sulke dik "LAW" boeke ronddra. In Edward Bennet Dr. het daar 'n kort amper bles meganiese ingenieur opgeklim. Ek weet hy is 'n ingenieur want hy het altyd gesit en Ingenierswese boeke lees. Ek het altyd gedink hy is 'n proffessor, maar endag het ek agter hom gesit en 'n geselsie aangeknoop. Toe vertel hy my wat hy doen. Vir 'n baie lang tyd het hy saam met sy dogter by die busstop opgeklim. Sy was baie stylvol uitgevat, het seker onlangs begin werk in die rotteresies. As sy by die stasie geloop het het dit altyd vir my gelyk of sy nog nie die loop met hoëhakskoene nog so lekker onder die knie het nie. Ek het die ingenieur lanklaas gesien...ek ry nou 'n ander busroete. Hy vang die trein by Beecroft. Nadat Alan nie meer die 632 roete gery het nie, was dit nooit weer dieselfde nie. Soms was dit 20 minute laat en soms was dit alreeds verby wanneer ek 6h55 by die busstop aangekom het. Die 638 is na my mening baie meer betroubaar.
So met die busryery leer mens baie meer mense ken as op die treine. Ek dink dis omdat mens baie minder in mekaar se persoonlike ruimte is op die busse. Op die trein kyk almal mos maar net voor jou en probeer die ongemaklike situasie vermy. Maar met die bus, veral smiddae na werk, is almal baie meer ontspanne en dan knoop hulle ook baie meer geredelik 'n geselsie aan.
Soos die vour van Indië wat by Pennant Hills se Australia Post werk. Sy klim altyd aan Beecroft se kant af. Sy is al baie jare hier in Sydney, maar haar Engels is maar nog gebroke. Sy is altyd baie vriendelik en vra hoe dit nog gaan. Ek het al vir haar fotos van my familie gewys en sy stel baie belang. Sy het ook kinders. Soms sien ek haar oorkant die straat by die Biblioteek. Moenie vra hoe om haar naam uit te spreek nie, maar ek ken haar nou al amper 2 jaar.
Die mense wat smiddae so 17h20 die 638 bus ry is in die woorde van een van die "regulars" al amper 'n familie. As ons op die bus sit en gesels, dan is daar so 'n oor en weer geselsery. Almal lê 'n eiertjie in die geselskap. Daar is byvoorbeeld Francesca, haar oupa hulle het van Sicily (naby Italië) jare terug hierheen ge-emigreer. Toe ek haar gevra het waar dit is sê sy dit is die sokkerbal wat deur die "skoen" van Italië geskop word...Italië lyk mos soos 'n skoen op die kaart. Sy was die afgelope tyd maar skaars op die bus...so ek en die ander "familie" wonder nogal of sy OK is.
Woody is 'n konstruksiewerker by 'n boumaatskappy, hy het sulke rooi krulhare. As hy in die middae op die bus klim kan mens sien hierdie ou het vandag hard gewerk. Maar hy is 'n stil ou. Ek en hy klim by dieselfde busstop af. Hy bly so 'n paar honderd meter van my in die straat af.
Daar is nog 'n ou, maar ek ken nog nie sy naam nie. Hy groet my altyd beleefd. Hy is ook in konstruksie - ek dink hy is 'n padwerker aan die klere wat hy dra. Vrydae sê hy altyd: "Have a nice weekend buddy."
Ek het egter die afgelope jaar baie meer bevriend geword met 'n groepie baie gereëlde bus vriende: Sean, Bianca, Tina, Narina en dan is daar John, 'n skralerige, ouer ou met 'n redelike goeie wêreld kennis. Ek en hy en Francesca het een middag lank gesit en praat en ek het hulle van Suid Afrika vertel.
Sean is 'n goeie doodgewone ou. Sout van die aarde. Nadat ek hom vir baie lank saam met my op die bus gesien het, het ek het een middag net met hom begin gesels en nou is dit al etlike maande wat ek hom byna elke middag op die bus sien en dan gesels ons oor allerhande dinge van flieks tot rugby. Hy werk by TNT, dis 'n koeriermaatskappy wat pakkies verskeep. Hy sit amper elke dag 'n blokkiesraaisel of woordspeletjie en voltooi op die bus. As hy na woorde soek dan help die ander mense op die bus met voorstelle. Hy kan nou al vir 'n paar jaar nie meer motor bestuur nie want hy het 'n nie-kwaadaardige breingewas wat hom "seizures" gee en nou kan hy nie meer bestuur nie. Nou ry hy elke dag fiets werk toe nadat hy van die trein afgeklim het. Sy fiets stoor hy naby die werk. Hy werk in Concord naby Sydney Olympic Park en hy haal alreeds baie vroeg in die oggend die trein. Hy is al omtrent op die trein oppad werk toe 5h30, dan staan ek eers op. Hy is slim en het 'n baie wakker brein. Ek en hy is omtrent ewe oud - wat ek afgelei het aan die feit dat ons omtrent dieselfde TV programme van ons kinderdae onthou. Sy gunsteling tydverdryf op Vrydae is om sy skoene uit te skop en NRL (Rugby) op TV te kyk nadat hy sy wasgoed van die week in Dural Karavaanpark se "Coin"-wasmasjiene gewas het. Hy bly alleen. Maar hy besit sy eie huis-eenheid in die karavaanpark. Sy pa bly ook daar, en Sean is nie getroud nie. Hy kom van die Gold Coast in Queensland af, maar bly seker al 10 jaar in Sydney. Hy kan tog te lekker lag en vlymskerp grappies maak, en dan lag hy soos 'n kar wat net net nie wil "start" nie. Hy gesels ook in die middae met Bianca. Hulle gesels albei NRL (rugby). Sy ry ook in die middae op die bus. Sean bring sy NRL liga boek te voorskyn en dan noem hy die verskillende spanne se name op wat teen mekaar speel hierdie week. Rabbitohs, Bulldogs, West Tigers, Titans, Cronulla Sharks... en dan kies Bianca watter span sy dink gaan wen in elke kragmeting. Hy stem saam gee redes hoekom elke span gaan wen of nie wen nie. Dan maak hy merkies in die boek. Elkeen van ons het 'n merkie wat ons keuse onderskei. Hulle noem dit "Tip". Die een wat die meeste punte het aan die einde van die week koop dan vir die een wat die meeste reggeraai het 'n Pepsie. Soms, as ek van die trein af klim, dan staan hulle twee vir my by die busstop en wag met 'n pak slap tjips in die hand. Dan eet ons al drie sommer so saam uit die boks. Sean hou baie van Pepsi, en het elke middag 'n bottel in sy rugsak. Bianca is 'n langerige vrou met styl hare, sy weet omtrent net soveel van die rugby as Sean - en hy ken hulle omtrent op die punte van sy vingers...hy weet selfs wat elke speler se nommer is. Bianca werk as 'n IT "support" persoon by 'n hoërskool in Hornsby. Sy bly nog by haar ouers in Kenthurst. Sy was ook daar op laerskool en later in Normanhurst op hoërskool. Sy is in Sydney gebore. Donderdae loop sy 'n kursus by die TAFE college. Sy praat vinnig en haar gunsteling TV program is NCIS. Ons praat soms oor dit wat in die vorige episode gebeur het. Hier wys NCIS mos op Dinsdae aande en Vrydag aande. Ek vertel soms vir hulle wat ek doen by die werk (ek is mos in Satelliet Vehicle Tracking)...so nou is my bynaam Mr. McGee (as gevolg van die ou in NCIS wat altyd die posisie van die skelms op die kaart vanaf hulle selfoon opspoor). Hulle weet ook nou al dat ek Dinsdae en Donderdae na Fitness First Gym toe gaan...nou kan ek ook nie sommer net 'n gym-sessie "skip" nie, want dan herinner Bianca en Sean my:"Aren't you supposed to be at the gym today?" Dan gee ek maar my rede...en hulle lag net. Ek onthou nog baiemaal hoe ek hulle op die bus en by die stasie gesien het...net soos al die ander mense. Elke oggend en elke middag, vreemdes. By dieselfde plek op die trappe en by die busstop...totdat ek een dag net besluit het om myself voor te stel en hallo te sê. En van daar af was hulle nie meer vreemdes nie. Nou kom ek agter dat hulle werklikwaar soms besorgd is oor my as hulle my vir 'n paar dae nie gesien het nie. Dan wil hulle weet of ek op verlof was, of siek was of gym toe was. Net so was Sean nou die dag vir 'n hele ruk net weg. Ek en Bianca het gewonder waar hy was. Met sy terugkoms vind ons toe uit dat hy by die Physioterapeut was...het 'n fietsongeluk gehad en hy was op siekverlof. Ons was verlig. Net so is hulle ook besorgd dat ek my afklim busstop gaan mis, want ek het vir hulle vertel dat ek eenkeer vergeet het om die knoppie te druk toe ry die busbestuurder verby...toe eindig ek amper 5 kilometer verder op in Round Corner. Het toe maar daar gesit en wag vir my vroulief om my te kom oplaai. Nou het Bianca hulle al die gewoonte om sommer vir my die bus se knoppie te druk, net vir ingeval ek vergeet. As ek dan deur die dippie is en die bus sy weg teen die bult op begin maak, dan staan ek solank op en groet vir Sean, Bianca en Tina en die ander vriendelike padwerker ou op die bus. Die busbestuurder stop soms sommer vir my op die hoek, want dan het ek korter om te stap sê hy. Man, is dit nou vir my te snaaks, want as ek afgeklim het en verder aanstap sien ek net hoe die "family" op die bus vir my koebaai waai asof dit uit die mode gaan. Dit is amper snaaks...so in teenstelling met die ander stroewe bus-passasiers. As die bus al amper oor die bult trek waai hulle nog.
Tina is 'n ouerige vrou met grys hare, sy sit baiemaal in die middae so 'n uiltjie en knip en word dan kort-kort wakker as die bus vinnig stop of om 'n draai gaan. Daar was laas week 'n besorgdheid en 'n geredekawel oor watter bus en treinkaartjie ons sal moet koop met al die veranderings in die kaartjies van die busse en treine. Hulle was besorgd of my bestaande maandkaartjie nog gaan geldig wees na al die veranderings, Bianca het selfs vir ons uitgevind dat ons die nuwe MyMulti2 sal moet koop en ook vir ons uitgewerk hoeveel ons gaan spaar per week. Tina het so 'n sagte rustige stem.
Narina is nog 'n vrou wat ek gereeld op die bus sien. Sy is 'n "loud manicurist" (wat mense se naels doen). Ek dink sy moet Grieks of iets wees, ook so 5 of so jaar gelede hiernatoe ge-emigreer. By die busstop gesels sy kliphard met sigaret in een hand oor wat hulle die naweek gedoen het. Laas naweek was sy by 'n vriendin se kitchen-tea in die stad en sy het vir my met smaak vertel hoe hulle omtrent die hele Sydney se treine platgery het op soek na 'n trourok vir die een wat trou en wat alles by die ete was...en hoe moeg haar lyf nou is van die hele dag se gestappery en van al die ferry ritte. Sy lag sommer kliphard op die bus. Toe sy die eerste keer hoor ek is van Suid Afrika vertel sy my dat sy heelwat Suid Afrikaanse vriende het en wil dadelik weet of ek die' en die' ken...asof ek mos almal behoort te ken omdat ek ook van daar af kom. Ek wys vir haar fotos van my familie. Sy en haar man het nie kinders nie. Ons gesels lekker.
Dan is daar ook nog Darren, hy werk by 'n Volkswagen handelaar. Ek het hom nou onlangs op die einste bus hallo gesê. Ek het ook mos eers 'n Volkswagen Beetle gehad. Toe ek dit vir hom daarvan vertel was hy eers vuur en vlam. Kyk, hy weet baie van karre. Top Gear is net soos vir my een van sy gunsteling TV programme. Nou die dag gee hy sommer vir my 'n motortydskrif om te lees. Hy koop sommer so twee op 'n slag. Ek gesels met hom oor karre en oor al my kar-inkonk probleme met Volkswagen Beetles en 'n 1979 Volkswagen Golf op Universiteit.
My huidige busbestuurder ken ek ook al lank al. Ek het hom ontmoet toe ons net in Sydney aangekom het 3 jaar gelede. Hy het toe 'n ander busroete gery. Ek sien hom nog elke dag. Ek vra hom nou die dag hoe lank sy skof is...van 7 uur die oggend tot 7 uur die aand. En dit doen hy ook elke dag.
Al hierdie mense is nou al deel van my lewe...ek sien hulle elke liewe dag. Almal het 'n storie. So deel ons mekaar se lewens en kruis ons paaie. Ek begin al hoe meer WEET wat dit is om 'n gewone Aussie te wees. Hier is ons almal mos in dieselfde bootjie.
Daar is nog heelwat mense waarvan ek julle kan vertel...
Monday, February 15, 2010
Valentynsdag by die Ysskaatsbaan
Met die Vancouver 2010 Winter Olimpiese Spele wat hierdie naweek in Kanada afgeskop het, waag ek dit om 'n kort video van ons manewales op Valentynsdag by die ysskaatsbaan hier in die Hills vir julle op te laai.
Friday, February 05, 2010
Nasionale braai dag in Australië
Dalk weet almal dit nie, maar op 26 Januarie vier Aussies mos nasionale braai dag (Australia Day). Daar is selfs winkels wat meer advertensies oor BBQ/braaiers uitsaai so 'n rukkie voor die tyd. Dit is die dag wat Aussies alles wat hulle trots maak op hul land vier. Op hierdie dag word daar ook oral oor die land burgerskap inhuldiging seremonies gehou. Die afgelope paar jaar het ons gewoonlik koers gekies na een van die strande in die omgewing en dan 'n BREKKIE langs die see gehou en die son en die see geniet. Wel, hierdie jaar het ons besluit om bietjie te gaan ondersoek instel wat hierdie land se mense in die stad aanvang. Soos 'n klein peloton het ons toe opgeruk en die trein stad toe gevat. Gestewel en gespoor met sonbrandolie, baie bottels water en "sweeties" of "lollies" (soos hulle dit hier noem) is ons toe met die trein via die nuwe Chatswood lyn tot by Milsons Point. Ons het toe te voet deur Kirribilli gestap en van die noordekant af oor die Sydney hawebrug gestap om die tamaai veerbootresies onderdeur die brug gade te slaan.
Die stad se mense was in volle sterkte daar. Oral het mense met TUCKERBOXES of piekniek mandjies en rugsakke op die grasperke uitgespan. Ons het natuurlik oor die reling van die brug geleun en fotos van die spulletjie geneem.
Die' toekomstige Aussie het nie op haar laat wag nie. My kinders het hierdie jaar begin met hul vierde skooljaar in Oz. Daar is steeds 'n trotse patriotisme hier, sonder die kenmerkende politieke sametrekke wat mense verdeel, waaraan ons jare terug so aan gewoond moes raak.
Hier is vir julle 'n mooi POSKAART FOTO wat ek vir julle van die Operahuis geneem het...hier kan enigiemand met 'n kamera sulke fotos neem. Kliek gerus op die foto met jou muis se regterkantste knoppie, SAVE die foto en laat maak vir jou 'n poskaart by Express Foto...komaan "WISH YOU WERE HERE"
Tuesday, February 02, 2010
Weer Suidkus toe
'n Mens waardeer mos 'n welverdiende ruskansie wanneer jy hard gewerk het. So 'n breuk van die daaglikse roetine doen 'n mens nogal goed. Dit is altyd lekker om iets het om na uit te sien. Dit hou jou tenk vol en gee jou moed om deur te druk wanneer die stres by die werk te veel word en jou laaste vakansie doer vêr in die verskiet lê. Soms voel dit so min as mens dink jy het net 20 dae verlof in 'n jaar - dit beteken omtrent net so een week se vol vakansie en 15 langnaweke deur die jaar. Mens moet dit maar so gelykop spasieer sodat jy kort-kort 'n blaaskans kan vat. Daar is nog so baie plekke in Australië om te verken...so min verlof. Ek en my vrou droom al klaar daarvan hoe ons nog eendag om die "eiland" gaan toer, dalk op 'n Harley, dalk in 'n kampeer-"kombi".
Hierdie keer het ons dit saam met vriende gaan doen, want hoe meer siele hoe meer vreugde. So het ons twee families reg langs mekaar "laer getrek"...
As ek sê dat ek elke dag gesnorkel het oordryf ek nie, sommige dae was dit selfs twee keer. Ek het eendag self twee kilometer gestap om te gaan snorkel op 'n plek. Batemans Baai is ook deel van 'n "Marine Sanctuary" of Marine Heiligdom en mens kan dit duidelik sien, want visse wat rondom Sydney maar doodgewone grootte is, is in hierdie geweste baie groot.
Ek was hierdie keer baie gelukkig om twee keer af te kom op 'n rog of "ray" wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Die een se lyf was omtrent so 50 cm in deursnee en die een wat ek hieronder afgeneem het was so 40 cm. Dit het, anders as 'n sand rog nie 'n pylvormige stert nie, maar dieselfde stert as 'n haai (net soos die "shovelnose ray" wat ek so 'n rukkie gelede afgeneem het. Ek kon sowat 'n meter van die vis af kom en ons het vir 'n kort oomblik in tyd mekaar goed in die oog gehou voordat dit grasieus weggeswem het. Markus het langs my gesnorkel toe ek die een hieronder afgeneem het.
Ek het lank gesoek om uit te vind wat dit is, maar uiteindelik bepaal wat die rog se naam is:
'n Fiddler ray / Banjo haai (Trygonorrhina fasciata)
(Hier is nog 'n foto op 'n ander website)
Toe ons by North Head gesnorkel het, het ek afgekom op 'n Southern Eagle Ray (Myliobatis australis). Dit het 'n baie lang stert gehad (in teenstelling met die kort benerige stert van die ander) en het stadig verby my geswem gekom. Hier is 'n foto van een wat iemand anders naby Wattamolla geneem het (naby waar ons ook al gaan stap het).
Ek het heelwat "Sand Rays" gesien hierdie keer, op een plek by Suid Durras het ek sommer meer as 12 getel wat onder die sand teen die rotse gelê en wegkruip het. Hulle is baie volop in die vlak sandbanke naby die strand.
Ek het hieridie keer nog 'n ray gesien wat amper geen stert gehad het nie, maar meer gelyk het soos 'n ovaalvormige valletjies tafeldoek. Dit is die eerste keer wat ek so iets teegekom het en het aanvanklik nie geweet wat dit is nie. Dit het deur die water beweeg deur met sy hele lyf golwende bewegings te maak. Ek het een by Suid Durras sowel as by Gorilla Bay gesien - ek het nou net toe ek op die Internet gesoek het vir fotos gesien dit was 'n "Coffin Ray" of "Electric numbfish" (Hypnos monopterygium). Ek het by Suid Durras dit 'n geruime tyd gelê en dophou so 5 meter onder my, dit was net so om en by 30 meter van die strand af by die rotse. Dit het so onskadelik gelyk, maar kan mens blykbaar 'n gevaarlike elektriese skok gee. Hier is 'n video van een in die water.
Daar is 'n magdom visse by Guerill Bay, ek het onder andere 'n pers "Threebar Porcupine fish" (Dicotylichthys punctulatus) daar gesien. Hier is 'n foto op 'n ander webtuiste.
Een soort vis wat daar baie is, is die "Footballer" of Stripey (Microcanthus strigatus)
Hier is 'n foto wat ek van dit geneem het.
Hier is 'n foto wat ek by Guerilla Baai geneem het, dit is net suid van Batemans Bay en is 'n uitstekende plek vir snorkel omdat dit 'n baie beskutte baai het.
Ag man, daar is nog baie ander soorte visse, regte visse, hul ma en hul pa is visse, en ek het nou nie soos die toeriste in die Krugerwildtuin fotos van almal van hulle geneem soos van die rooibokke en bobejane nie.
Soos julle kan sien het ek vir my 'n boek gekoop om al die visse wat ek raakloop te kan identifiseer. Dit is Graham J. Edgar se boek "Australian Marine Life" (Second Edition) ISBN 9781877069482. Daar is oor die 1400 spesies plante en vissoorte in die boek.
Verder het ons lekker ge-"bodyboard" in die uitstekende branderry strand van Durras...hier is 'n agter-die-skerms video waar ek bodyboard ry...
Een oggend het ons vroeg opgestaan (soos wat ons gewoonte is) om na die sonsopkoms te kyk.
Hier onder is die ligtoring by Kiama oppad na Wollongong.
Wednesday, January 27, 2010
Gaan lees asseblief hierdie artikel in Beeld
Hallo julle. Ek het vandag 'n baie interessante artikel in Beeld gelees. Dit is geskryf deur Bertus de Villiers.
Hy werk by die "State Administrative Tribunal" (SAT) van Westelike Australie.
Hier is 'n uittreksel wat die SAT oor Bertus skryf:
Bertus de Villiers
Bertus de Villiers (BA Law, LL.B, LL.D) is admitted as a legal practitioner in Australia and South Africa. He is a visiting fellow of the Law School of the University of Western Australia and has taught on a part time basis constitutional and administrative law at UWA. He is also an inaugural Fellow of the Western Australian Institute of Dispute Management under the auspices of the Murdoch University. His areas of specialisation are constitutional and administrative law, environmental law and human rights, and native title and commercial law. He has published widely on these topics. His professional background includes positions as Manager (Principal Legal Officer) of the Goldfields Land and Sea Council and Principal Legal Officer for South African National Parks. From 1990-1996 he was head of the Centre for Constitutional Analysis in Pretoria where he had close involvement in the debates leading to and the drafting of the South African Constitution.
As mens op Google gaan soek vir Bertus, is daar ook heelwat verwysings na boeke wat hy al geskryf het.
Gaan lees asseblief sy uitstekende brief in Beeld:
Julle het my droom gesteel
2010-01-21 20:31Die voordele, die nadele. Die verlange, die nuwe identiteit.
Die haat, die liefde.
Die verwyt, die droom.
Oor ’n tydperk van tien jaar sedert ek geëmigreer het, het ek met honderde emigrante gesels om agter te kom wat in hul kop aangaan.
Ek het verby die gewone stories van geweld probeer kom na die dieperliggende psigologiese motivering.
Die gaping tussen wat wit mense verwag het gaan gebeur in die nuwe Suid-Afrika en wat gebeur het, was en bly net eenvoudig te groot (lees die volle brief......)
Daar is ook heelwat kommentaar van mensop op die brief wat baie interessant is.
Monday, January 04, 2010
So 'n brokkie nuus uit hierdie geweste
So ja... die slag is gelewer en die feesseisoen is op 'n einde. Dit was 'n baie aangename afgelope twee langnaweke hier in Sydney. Ek het nie verlof gehad nie en was steeds volstoom aan die werk so tussen die vakansiedae deur. Tog het mense 'n gevoel gekry van die vakansie. Alles kom so pop 'n manier tot ruste en dis heerlik as die busse in die oggend nie in die verkeer vassit nie, dan kom mens sommer 'n halfuur gouer by die stasie. Daar het heerlike reën geval gedurende so 'n paar dae van die vakansie, wat die wêreld lekker afgekoel het. Hier in Sydney bêre jy nooit heeltemal jou komberse nie, want sommige aande is nog heerlik koel, maar in die dae sweet jy jou broekspype nat.
Vrydag het ons nuwejaar by die Lane Cove Natuurreservaat saam met vriende. Dit is heerlik daar. Ons het twee roeibote gehuur en so 'n uur met die rivier op geroei en toe sommer op die water gaan piekniek hou nadat ons die bote met die tou aanmekaar vasgebind het. Ons het lekker Hans worsbroodjies geëet en vleskoffie gedrink en ure lank gesit en kuier terwyl ons net so rondgedobber het. Dit het met tye so bietjie gereën, nou nie dat dit ons juis gepla het nie. Dit verg nogal koordinasie om met twee spane 'n skuit in die regte rigting te stuur en ons het meeste van die tyd sulke esdraaie op die rivier uitgevoer en kort kort amper in die takke langs die rivier beland.
Saterdag is ons laatmiddag Freshwater Beach toe. Ek het vir my klein "Body Glove" bodyboard fins gekry. Hulle is heelwat kleiner as scuba fins, en maak mens se enkels nie so moeg nie. Ek moes dit net gaan uitprobeer. Hier ry ons gereëld eers so na 15h00 see toe, want as jy eers daar is, kan jy maklik nog tot na 20h00 in die see swem. Dit vat mens net so 40 minute, dan is jou tone in die see. Die hele familie het nou al wetsuits en almal neem deel aan die snorkel en branderry. Ek was Saterdag besonder gelukkig om twee interessante visse onder die water te sien. Ek het weereens die Wobbegong gesien, maar hierdie keer het ek nie so groot geskrik soos laas nie...die goed eet mos nie mense nie.
Hier is 'n foto van 'n ander webblad:
Die ou lyk geweldig skrikwekkend as jy hom die eerste keer sien, maar is nie agressief nie. Mense is ook nie op sy spyskaart nie. Hy lê hoofsaaklik en wag vir kleiner visse en vang hulle dan soos 'n groot brulpadda vanuit sy gekamoefleurde posisie. Hier is nog 'n paar ander haai en rog ("ray") spesies wat mens hier rond kry.
Daar was heelwat klein wit jong sand "rays", hulle lê die hele seebodem vol. Dan het ons ook nog 'n rog gesien wat ek nog nie vorheen gesien het nie, naamlik die "Eastern shovelnose ray". Hy lyk baie soos die sand rog, maar het meer van 'n diamantvormige voorkoms. Ek moes nogal soek om 'n foto te kry wat presies lyk soos die een wat ek gesien het, maar hier is dit:
Ek het aanvanklik gedink dis een of ander soort haai, maar dit blyk dat die rog en haai familie baie ooreenkomste het. Hier is nog 'n foto:
Nog 'n baie handige blad wat mens kan help om die visse te identifiseer is hierdie een by OzAnimals is nogal ok.
Sondag het ons net ge-"chill" by die huis. Daar het heelwat druppels geval en ons het Sondag by die huis gespandeer. My Mario sleepwa is nou goed waterdig gemaak, want ons een van die dae weer kamp by Batemans Baai, suid Durras om presies te wees en ons sien baie uit daarna. Dis mos in 'n "Marine Sanctuary", so dit beloof om baie mooi seelewe fotos op te lewer.
Vandag was ek maar besig by die werk, maar ek het vanoggend 'n baie besonderse ervaring gehad... 'n Chinese Sydney busbestuurder het uit sy eie vir my vir 'n koppie koffie gekoop. Ek lieg nou nie. Daar was net so drie mense op die bus. Hierdie ou was baie vriendelik...hy het feitlik al die passasiers met die hand gegroet en voorspoedige nuwejaar toegewens. Hy was duidelik nuut, want hy het nie mooi geweet hoe om die masjientjie te bewerk nie en my toe sommer ook net 2 dollar ge-"charge" omdat hy nie die $3.20 knoppie kon kry nie... Ek sê toe maar dankie en gaan sit. Ek sit en boeklees in die oggende, op die oomblik is dit "Programming Microsoft Linq". Ek sit toe nog so met my een been oor die ander gekruis...toe vat hy die roundabout met so 'n vaart dat ek amper skoon van my bankie afval. Toe weet ek die ou is nuut, vandag kom ek gou by die stasie... By die stasie afgeklim koop ek vir my 'n weeklikse kaartjie. Die prys het nou opgegaan van $27 na $29 per week. Hier sien ek nou mos kom die busbestuurder aan...hy wil weet of hy my kan "stick" vir 'n koffie, want ek is sy eerste "customer" vir die dag. En daar koop hy toe sommer by Ester vir my 'n lekker koffie. Dis mos die naam van die Koreaanse meisie by die koffieshop. Sy vra my gereëld uit oor Suid Afrika. Die busbestuurder is van China. Hy wil toe weet waar is Suid Afrika. Ek sê toe maar dat dit aan die suidpunt van Afrika is. Ester vra of hulle ook nuwejaar vier, ja sê hy, maar eintlik vier hulle dit op 14 Februarie...Ester sê, O, op Valenteinsdag. Hy sê ja. Hy sê sy naam is "Ba", dit beteken glo die golwe van die see. Ek sê toe maar baai vir hulle, want hier kom my trein. Dit was nou 'n interessante bederf.
Kontak my gerus...
Die mees populêre inskrywings
-
Hoeveel is vryheid vir jou werd? Wat is die prys wat jy daarop kan plaas om snags rustig te kan slaap? Hoeveel is jy bereid om te ruil vir g...
-
Dis vroeg Saterdagoggend. Ek sit hier voor my rekenaar en kyk uit by die venster. Daar is 'n digte mis oor die stad. Die afgelope wee...
-
Die skakel na hierdie inskrywing Een van my groot liefdes in my lewe is fotografie. Ek geniet 'n mooi foto en ek probeer om altyd ...
-
Ek sit en luister vandag lekker Internet radio op my iPod op die bus oppad terug huis toe, en daar hoor ek Jak de Priester se nuutste liedj...
-
Bo kan julle een van die mooi geboue in Sydney sien wat naby die Darling hawe is. Ons het vandag via die Internet aansoek gedoen vir ons Aus...
-
Goeiedag ( Skakel na hierdie bladsy ) Ek het dit goedgedink om weereens 'n bladsy te maak wat die nuutste Australiese sensus-data va...
-
Een van die wonderlikste ervarings wat ek nog ooit in my lewe gehad het was laasjaar toe ek en my vrou by die koraalriwwe van Sodwana aan di...
-
( Skakel na hierdie inskrywing ) So gereeld as wat ek moontlik kan, probeer ek om 'n goeie snorkel in te kry. Wanneer mens mos by die...
-
Siende dat ons al so vêr in die pad af is met ons emigrasie reëlings, en omdat ek weet dat daar baie IT mense daarbuite is wat ook hierdie l...
-
Kyk mooi na die volgende foto... Kliek op dit om dit groter te sien. Wat dink jy sien jy? Australië? Kyk weer. Ek het, presies op skaal ,...
MY BESTE PENVRUGTE en ANDER GUNSTELING INSKRYWINGS
- Waar woon die oud Suid Afrikaners in Australië? Aflewering 3 : New South Wales, Victoria, Queensland, Suid en Wes Australië, Noordelike en Capital Territory en Tasmanië
- Jy bekyk jou wêreld nou uit ander oë en lewe jou lewe nou tot op die droesem van jou bottel
- Die lewe is 'n reis na 'n spieëlbeeld
- Soms is mens se verlange baie groot
- Die lewe van 'n skoenlapper
- 'n Mens mis jou ouers, maar tog is hulle altyd saam met jou
- Om altyd die mooi in die lewe raak te sien...
- Wanneer drome binne jou bereik kom
- Ek hou daarvan hier...dit laat my terugdink aan die ou dae
- Sydney is stadig maar seker besig om soos ons huis te voel
- Nou kry ek elke oggend die trein en sit nie gefrustreerd in die verkeer vas nie
- Ek het nog altyd gewonder hoe dit sou voel om in 'n woud te kan gaan stap net wanneer ek wil
- Die son skyn nog helder in die land van Kokanje
- Sydney is pragtig
- Ek ry nou met die aposteldonkie
- Vir die swartste moerbei klim 'n mens die hoogste in die boom
- Hoekom herhaal die geskiedenis homself ?
- Soms is die staptog moeilik, soms maklik, maar altyd vol nuwe avonture
- Dinge voel maar baie deurmekaar hier...
- 'n Nuwe lewe wink anderkant die see
- Wonderlike nuus...
- Scuba-duik
- Hoe ek op die oomblik voel...
- Die IELTS (Engelse) Toets is nou agter die rug
- Eendag sal ons rus kry...
- Om afskeid te neem van jou land...
- Die nimmereindigende gewoel van die lewe


