Wednesday, February 06, 2008

Ek is nou oor die eerste klippe na 'n Australiese bestuurders-lisensie

Soggens, wanneer ek nog diep in droomland is, word ek deur my selfoon wakker gemaak deur die deuntjie van Elvis se "Return to Sender" op my selfoon. Amper soos in die fliek "Groundhog Day", gaan dinge maar betreklik monotoon en eentonig hul slakke gang hier in die land van die groot springhase. Vir die wat die fliek nog nie gesien het nie, wel dit handel oor 'n ou wat as gevolg van sy egosentriese lewe gedoem is om vasgevang te wees op dieselfde dag totdat hy geleer het om sy selfgesentreerde lewe te laat staan en meer vir sy medemens om te gee. Nogal 'n snaakse fliek van Bill Murray moet ek sê. Wel, dis nou NIE die rede waarom ek die storie ophaal nie, maar eerder omdat die lewe van 'n werkende pa maar baie soortgelyk vasgevang kan raak in roetine...

Wel, totdat jy nou die dag besluit het jou eerste probeerslag in 'n land werk nie so mooi uit soos jy wou gehad het nie, en jy maak daardie finale, diep oordinkte, haas onomkeerbare, verreikende en moedige besluit om te emigreer, dan word jy feitlik weer teruggestuur in tyd om deur dieselfde toetse en beproewings te gaan wat jy, reeds bykans 17 jaar gelede, so naief gedink het jy nooit weer gaan teëkom nie...

...en dit is: om weer 'n keer jou Leerling Bestuurstoets af te lê !!!

Lag maar lekker...maar dit was deel van al die implikasies wat ek reeds in Suid Afrika moes oorweeg, saam met ander goeters soos om weer soos 'n skoolkind Engelse toets te skryf, om van voor af werk te soek, om van voor af blyplek te soek, om van voor af vriende te maak, om weer van voor af vir 'n bankrekening en 'n kredietkaart aansoek te doen, en dan natuurlik om weer jou bestuurstoets te slaag !!!

Dit laat my amper dink aan daai bekende woorde:"...as julle nie verander en soos kindertjies word nie..."
Dit is nogal 'n "humbling experience".

My leerlinglisensie toets het ek by die (NSW) New South Wales RTA (Roads and Traffic Authority) www.rta.nsw.gov.au se myTests webtuiste bespreek vir vanoggend 08h30 hier in Castle Hill. Die DKT ("Driver Knowledge Test) is daarop gemik om jou kennis van die Australiese padreëls te toets en het die formaat van 'n rekenaar gebaseerde "monkey puzzle" / (AAP-RAAISEL) waar jy telkens met behulp van jou vinger een van 3 keuses op die tassensitiewe skerm moet uitoefen. Julle kan die juiste, eenderse en wraggies presies dieselfde toets gaan oefen by hierdie bladsy van die RTA. En nou maak ek nie grappies nie, want hulle stel selfs AL die moontlike DKT toetsvrae beskikbaar om af te laai, sodat jy dubbel en dwars kan seker maak dat jy nie een van die vrae verkeerd het nie. En dit is ook nogal belangrik, want mens word slegs toegelaat om DRIE vrae verkeerd te hê in die algemene kennis afdeling en maar net EEN in die padveiligheid afdeling van die toets. Die toets is in geheel gebaseer op die Padgebruikershandleiding ("Road Users Handbook") van die RTA wat mens ook moet aflaai en leer. Hulle verduidelik daarin breedvoerig hoe die lisensiestelsel in NSW werk.

Kom ons sê jy was 'n jeukerige tiener van so 16 jaar in Sydney. Volgens die NSW padreëls is jy geregtig om jouself van 16 jarige ouderdom in te skryf in wat hulle hier noem: die "Graduated Licensing Scheme" (vanaf bladsy 9 in die handboek)) of GLS ...Aussies het ok mos afkortings vir als. Vir 'n nuweling aspirant bestuurder behels dit die verkryging van 3 verskillende lisensies oor 'n minimum tydperk van 4 jaar voordat hy/sy kan aanspraak maak op die voorreg van 'n VOLWAARDIGE lisensie.

Op 16 jarige ouderdom, na harde swot van al die boeke, gaan skryf jy die DKT Toets ("Driver Knowledge Test") nadat jy 'n oogtoets afgelê het en jy jouself volledig geidentifiseer het en die papiere het om te bewys dat jy in NSW bly. Jy word dan ge-"issue" met 'n log-boek en "L"-skyfie nommerplate wat jy opmerklik voor en agter op jou kar moet aanbring om vir almal om jou te laat weet: PASOP! PADGEVAAR! HIERDIE OU WEET NOG NIE WAT HY DOEN NIE! ...en natuurlik dat jy nie meer as 80 km/h mag ry nie! Verder moet jy ten minste 120 uur (vlieg-ure), ek bedoel ry-ure in jou logboek opteken, waarvan 20 uur in die nag MOET wees. Jy moet heeltyd 'n baby-sitter met 'n vol-lisensie hê, en daar word in swart en wit gestipuleer dat jy volstrek nie in Centennial Park in Sydney mag bestuur nie, en ook nie ander persone op jou kar se dak of in die kattebak rondry nie...(so staan dit daar, net so). As jy enige oortreding begaan..."gaan terug na begin soos in Monopoly".

Na 'n MINIMUM tydperk van 'n jaar (indien jy jonger as 25 is) en jy ouer as 17 is, mag jy 'n bestuurstoets bespreek en indien jy die paal haal, die pyp kan rook of indien dit soos nou, baie hier reën: die mas kan opkom, dan word jy bevorder tot 'n "Provisional Phase 1" P1 lisensie. Nou maak jy opgang in die geledere van die padgebruikers, want sien...nou het jy nie meer 'n baby-sitter nodig nie! Jy moet egter nog met so 'n ROOI P1 letter voor en agter op jou kar rondry vir ten minste NOG 'n jaar. As jy vier strafpunte in hierdie tyd teen jou lisensie kry...word jou P1 lisensie summier vir 3 maande opgeskort. Jy word steeds beperk tot 'n maksimum van 1 passasier onder die ouderdom van 21 jaar tussen 11 PM en 5 AM, en jy mag nie meer as 90 km/h ry nie, al het jy jou bestuurstoets geslaag. Jy mag ook geen voertuig bestuur met 8 or meer silinders of wat "warm gemaak" is nie.

Na nog 'n jaar, wanneer jy 18 is, mag jy die "Hazard Perception Test" (HPT) gaan skryf, voordat jy bevorder word tot 'n "Provisional Phase 2" P2 lisensie. Nou is jou P2 skuifie al groen, wat ook beteken dat jy nou wettiglik 100 km/h op die snelweë mag ry. Jou lisensie word eers na 7 straf-punte ("Demerit Points") vir 3 maande opgeskort. Soos met die Leerling, P1 en P2 lisensies word jy GEEN alkohol in jou boed toegelaat nie, en jy mag ook nog nie 'n ander leerling bestuurder wettiglik touwys maak nie, daarvoor moet jy eers 'n VOL lisensie kry. En daarvoor mag jy eers na 2 jaar aansoek doen, wanneer jy die "Driver Qualification Test" (DQT) moet skryf. (Nou moet jy al baie goed kar-speletjies op jou rekenaar kan speel, want die rekenaar toets se karretjie ry nou wraggies vinnig....)
Dan eers, kry jy jou VOLWAARDIGE AUSTRALIESE MOTOR BESTUURDERSLISENSIE. Met 'n VOL lisensie mag jy 110 km/h op die snelweg ry, jou lisensie word eers na 12 strafpunte in 3 jaar opgeskort en jy mag nou eers 0.05 bloed alkohol konsentrasie registreer...wat 2 biere beteken.

Gelukkig vir ons emigrante aanvaar die RTA darem ons Suid Afrikaanse bestuurderslisensies terwyl jy op 'n tydelike VISA is. Ons mag sommer van die staanspoor af 110 km/h ry, maar die oomblik wat jy 'n permanente VISA kry het jy 3 maande om vir jou 'n Australiese lisensiekaartjie te gaan kry. Dit doen jy deur die "Driver Knowledge Test" te gaan doen (en te slaag) en dan dadelik weer 'n bestuurstoets te bespreek. Indien jy beide toetse slaag word jy in 3 kategorieë lisensies ingedeel:
  • Jy kry 'n P1 (rooi/90 kph) lisensie as jy jou oorsese lisensie vir minder as 1 jaar gehad het
  • Jy kry 'n P2 (groen/100 kph) lisensie as jy jou oorsese lisensie vir tussen 1 en 3 jaar gehad het
  • Jy kry 'n VOL (110 kph) lisensie as jy vir 3 of meer jaar al 'n lisensie in Suid Afrika gehad het
Dit beteken natuurlik jy moet jou SA Lisensie kan vertoon en dit moet steeds geldig wees, want op jou SA Lisensie staan daar wat jou "Date of first Issue" is.
Verder moet jy ook jou Water & Ligte, Telefoon of Huurkontrak bring as bewys dat jy in NSW woonagtig is. Om te wys dat jy nie 'n vervalsing is nie, moet jy 'n ID dokument soos 'n paspoort wys met jou foto daarin asook 'n bankkaart met jou handtekening daarop. Daarby moet jy ook 'n voltooide Lisensie Aansoekvorm saambring.

Ek het 8h30 by die RTA in Castle Hill (18 Anella Ave, Castle Hill) aangekom. Daar was so 15 mense wat gestaan en wag het vir die deure om oop te maak. Anders as altyd hoef jy nie 'n kaartjie te vat en te wag nie, want ek het die hele toets klaar bespreek en betaal teen $35 aanlyn. Die DKT neem so 11-15 minute, waarna hulle die res van jou gegewens op die rekenaar invul. So teen 9h00 was ek klaar met die hele proses. Nou lê nog net die bestuurstoets in 2 weke se tyd oor...dan is ek oor die rivier se brug of oor die hond se stert....

2 comments:

  1. Goeie dag,

    Is op die oomblik in Ierland en gaan direk Oz toe begin Junie. My SA lisensie verval 24 Augustus 2008. Ek sien op die RTA webblad vanaf 18 April 2008 moet tydelike besoekers 6 maande in Oz wees voor hul kan aansoek doen vir 'n Oz lisensie. Weet jy dalk of ek met ' probleem gaan sit of is daar dalk 'n maklike oplossing?

    ReplyDelete
  2. Ek het in dieselfde dilemma gesit hier in Oz. My SA lisensie het verval gelukkig na ek my DKT gedoen het. Ek kon net bestuur terwyl my SA lisensie geldig was - en toe moes ek staak tot ek die bestuurstoets afgele het. Ek stel voor jy doen jou DKT so gou moontlik - al die vrae is op die RTA se webblad - dieselfdes! Oefen hulle en gaan en dan, as jy wil boek, dan bring jy dit onder hulle aandag dat jou lisensie verval. Hulle waive dan die 6 maande periode (met my was dit die geval) Groete JJ

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings