Sunday, August 19, 2007

Dit reën vandag weer in Sydney

Dit reën die afgelope paar dae weer baie in Sydney. Dit kortwiek ons bietjie in al ons verkenningstogte, maar die land het dit nodig. Hulle sê hier is droogte, maar ek moet sê, van al my jare in Pretoria, het ek nog nooit so baie bome en groenigheid gesien soos hier nie. Daar is oral parke, die strate is groen met bome. Daar is plek plek die teken dat die lente aan die kom is in die vorm van lentebloeisels en die vars geur van reën is op hierdie oomblik in die lug net hier buite ons venster. Gister was ek vir die eerste keer in Australië by die haarkapper, en ek moet sê, sy het haarself goed van haar taak gekwyt. Natuulik land en sand gesels oor alles en nog wat by die haarkapper, want hulle wil mos altyd alles uitvis as hulle hoor jy is van Suid Afrika.

Ek en my vriend was vandag as 2 manne alleen saam met die ses kinders na die Powerhouse museum in Sydney. Wat anders kan mens nou doen op so 'n nat dag. Daar is allerhande aktiwiteite vir om kinders in te lig oor die wetenskap en tegnologie. Dit was baie interessant en die kinders het dit baie geniet...van die uitstallings oor vliegtuie, die ruimteprogram, robotte, tot oor hoe animasie en films werk.



Daar was ook uitstallings oor die mooiste glas kuns, en selfs 'n driedimensionele video van hoe dit lyk in 'n glasblaas ateljee.


Hier is 'n video van een van die uitstallings vir die kinders:


Dis nou al amper 3 maande wat ons hier in Sydney is. 'n Paar dinge wat ek waarneem in my eie lewe vandat ons hier bly, is:

  • Ek is baie meer "relaxed" oor my kinders en bekommer my baie minder oor hulle. Hulle loop nou al alleen in winkelsentrums na die kleedkamers toe en as ons in die park is, laat ek myself toe dat ons hulle soms uit die oog verloor.
  • My gesondheid het verbeter. Ek het elke jaar teen hierdie tyd erg aan hoesbuie en sinus gely, iets wat nou soos mis voor die son verdwyn het.
  • Ek is nou alreeds net so ingeburger by my werk dat dit voel asof ek al lank daar werk, dinge gaan aan soos tevore.
  • Ek is minder agterdogtig oor mense en begin weer stadig maar seker glo in die mensdom.
  • Ek kry weer lewenslus...het vir my en my seun rollerblades/inline scates gekoop en ons skaats te lekker hier in ons straat...beplan om sodra die son weer meer skyn oor naweke na Centennial Park toe te gaan, want ek hoor daar is kilometers se paadjies om te ry met skaatse.
  • Ons bekommer ons minder oor besittings...inteendeel ek het selfs al een keer die huis verlaat net om toe ons teruggekom het te besef ons het nie eens die deure gesluit nie.
  • Maar ek kom ook agter dat "die besef" van in hoe 'n mate jy nou weg is van jou kultuur, jou mense en hoe vêr mens nou werklik van alles af is wat jy sooooo lank geken het. Mens verlang nogal hoor. Dit voel asof 'n stuk van jou afgeskeur is soos 'n stuk lap uit 'n kledingstuk, of soos my vrou dit stel: mens voel asof jy erens op die oop see ronddobber besig om te wag vir vasmeerplek.
  • Glo my: imigrasie het sy soet en sy suur, soms kan jy nie jou geluk glo nie, en ander kere is dit asof 'n paniek jou beetpak as jy besef wat die besluit se implikasies was.

3 comments:

  1. Ek het 'n paar vrae as jy tydjie het om dalk te antwoord sal ek dit baie wardeer.

    • Moet beide die primary en secondary applicant die IELTS toetse doen
    • Moet beide partye police clearance en tax clearance doen voor ons oorgaan
    • Sal hulle my laat weet of ek vir 'n vol medies moet gaan doen of is xtrale voldoende, SA is high risk
    • Hoe het julle begin kyk vir akkomodasie en aangesien ek in die North shore gaan werk, North Sydney kode 2060 wat gaan ons +- betaal vir 'n plek vir 2 mense, flat of townhouse vir eers ?
    • Kan mens 'n container deel met ander gesinne ?
    • Reel jy met die company om jou te ontmoet op jou eerste dag of kom jy op jou eie reg ?
    • Ons wil graag die katte oorvat en baie mense het gesê dis ongelooflik duur en dalk nie die moeite werd nie, ons het hulle al van kleintyd af en dit gaan baie swaar wees.
    • Medies – ek sien erens op jou website julle betaal $134 of in daai lyn, ek sien nie die opsie vir dit onder 120 nie. moet jy alreeds medies hê voor jy oorgaan ?
    • Wat is die kans dat die 457 nie goedgekeur kan word as jy ‘n nominasie van jou toekomstige werkgewer af kry ? Is daar risiko’s wat ek in ag moet neem.
    • Het jy jou pensioen geld uitgevat of herblê in SA

    ReplyDelete
  2. Hi Johan. Ek sou nou nie sê dat ek 'n ekspert is op emigrasie nie, maar ek kan jou wel antwoord uit my eie ervaring:

    - Beide ek en my vrou moes IELTS toetse doen (die General een), maar afhangende van jou beroep sal jy dalk 'n "Academic" een moet doen. Hulle raak al hoe strenger op die taalvereistes. Van 1 September af kry selfs tradisioneel Engelse lande nie meer outomaties volle "Competent" erkenning vir hul Engelse taal nie, maar hulle moet ook die toets gaan skryf as hulle die volle 20 punte wil hê.

    -Police clearance is nodig slegs vir die PR 136 VISA vir alle aansoekers 18 jaar en ouer. Tax clearance doen jy net as jy meer as die travel allowance van R160000 per volwassene en R50000 vir kind onder 12 wil oorbring.

    -Vir 457 VISA moet slegs die kinders vol medies doen en die volwassenes slegs X-Strale (Maar nie x-strale vir die kinders nie)
    Vir die 136 VISA moet almal vol mediese ondersoeke hê, maar X-strale net vir die volwassenes. Maar hulle het op ons 457 presies die vorm nommers en ondersoeke gespesifiseer. Ons het egter alles ingegee vir beide 457 en 136 (dus dubbel x-strale) en dubbel mediese ondersoek vorms...die dokter was so gaaf om dit sommer gelyk in te dien onder beide VISA nommers.

    -Vir gemeubileerde tydelike akkommodasie het ons $125 (spesiale prys) per dag betaal vir die eerste maand. Maar ek skat jy sal nou ten minste $150 per dag betaal. As jy eers (ongemeubileerde) huis huur is dit so $64 per dag. Kyk op www.realestate.com.au

    - Ja mens kan blykbaar 'n container deel, maar dan moet jy natuurlik was vir die ander gesin se planne ok. Ons het 'n hele een vir onsself gehad en het Biddulphs gebruik. 7 meter container. Was baie tevrede met hulle.

    - Toe ons hier kom het ons self reggekom. Die company sponsor impliseer nie dat hulle vir jou behuising reëlings en "settling in" moet sorg nie...net dat hulle vir jou werk gee en jou VISA sponsor. Gelukkig het ons baie lieflike vriende hier wat ons die eerste week uitgehelp het tot ons in ons
    tydelike plek was. Maar ons kon net sowel 'n airport shuttle geneem het daarnatoe.

    - Ja, die afskeid van jou diere is swaar, maar ek sien geen ander opsie nie. Ons is nie die Rockefellars nie.

    - Die IMAN medies se opsies op http://www.aushealth.com/
    sê dit kos $460 per kwart jaar of $153 per maand vir 'n familie - maar jy betaal dit elke 3 maande. Hulle het nie ons SA Medies in ag geneem nie.

    - As die nominasie goedgekeur is en julle het nie ernstige longsiektes nie dan dink ek alles sal deurgaan. Julle is dan OOR DIE HOND SE STERT.

    - Hier in Oz kan jy jou pensioen / superannuation op dieselfde plek hou al skuif jy maatskappye. Hulle moedig doe mense aan om te spaar. Jy kan dus jou SA pensioen (as jy dit kan uit SA kry) hier in jou super fonds instort.

    -

    ReplyDelete
  3. Ek wil net laat weet:: mens kan 'n eenmalige oorsese belegging maak - derhalwe kan jy van jou geld uitkry as jy nie die reistoelaagopsie wil volg nie. Beveel egter aan dat mens 'n kenner raadpleeg.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings