Sunday, October 28, 2007

Skulpe op pêrel strand

Twee weke gelede was ons die naweek by Pêrelstrand (Pearl Beach). Ons het vir die naweek 'n huis daar gehuur sodat ons lekker naby die see kon wees om sommer saam met ons kuiergaste te kan afstap na die strand toe as ons wou. Dit was 'n wonderlike naweek.

Ek het weereens 'n foto album van so 140+ fotos opgelaai vir julle. Daar is ook 'n paar videos wat die atmosfeer by die see asook die magdom voëlgeluide in die woonbuurt langs die Brisbane Water natuurreservaat by Woy Woy.



Hier is die album met die videos asook die "slideshow"

Kom besoek die Sydney Heuwels

Hier is 'n nuttige skakel na ons geweste in die Hills / Heuwels van Sydney
Sydney Hills

Hier is 'n kaart...

'n Paar plekke in die Hills is:
Annangrove,Arcadia,Baulkham Hills,Bella Vista,Berowra Waters Berrilee, Box Hill, Carlingford, Castle Hill, Cattai, Cliftonville, Dural (M), Galston, Glenhaven, Glenorie, Kellyville, Kenthurst, Lower Portland, Maraylya, Maroota, Middle Dural, Nelson, North Parramatta, North Rocks, Northmead, Oatlands, Pitt Town, Richmond, Rouse Hill, Sackville North, South Maroota, St Albans, Vinegar Hill, West Pennant Hills, Windsor, Winston Hills, Wisemans Ferry, en natuurlik ook Cherrybrook (DIS WAAR ONS BLY)

Ek het die plekke waar ons kom en bly met bold gemerk.

Ons staan van more af 'n uur vroeër op

Die afgelope ruk het die son al hoe later en later begin sak sodat die son eers 18h20 se kant agter die blou berge begin verdwyn het. Soggens 05h00 is die son dan al op. Maar gisteraand (Saterdag 27 Oktober) moes ons al ons horlosies een uur later stel. Dit beteken dus dat waar mens gewoond is om 06h00 op te staan, ons nou skielik een uur vroeër sal moet opstaan. Ons horlosies is een uur aan gestel in die dag.

Dit beteken dus:

  • dat die son nou 06h00 opkom en eers 19h20 se kant sak hier in Sydney. Die laaste lig verdwyn dus nou eers 19h45 in die aand.
  • Dat ons nou 9 ure voor Suid Afrika opstaan en werk toe gaan en nie meer 8 ure soos die afgelope week die geval was nie. Hulle noem dit daglig besparing omdat mens nou 1 ekstra daglig uur aan die einde van jou dag het om te geniet.

Ek was hierdie week biblioteek toe

Ek het besluit om hierdie week bietjie te gaan inloer in die openbare biblioteek in West Ryde. Ek het iewers gehoor mens kan allerhande miltimedia soos videos, DVDs, oudio boeke en gewone boeke by die biblioteke hier in Australië uitneem absoluut gratis. Selfs die biblioteek lidmaatskap is verniet. As mens die tyd wat jy op die treine en busse spandeer nuttig wil benut, watter beter besteding van tyd as om bietjie van hierdie land te leer.

Dit kos absoluut niks om aan te sluit nie. Jy kry 'n lidmaatskap kaart wat geldig is in al die biblioteke in jou stadsraad se area. Om te kan aansluit het jy nie eens nodig om jou paspoort te wys nie - slegs 'n gedrukte rekening (enige rekening) waar op jou naam en van gedruk is saam met jou woonadres. Jy kry ook 'n "login" sodat jy deur hulle katalogus kan soek op die internet. Daar is nuttige inligting oor die biblioteek hier en mens kan die biblioteek se "online" indeks hier deursoek.
Die diens laat jou toe om al die media (boeke, Videos ens.) van die Ryde Sentrale biblioteek, die Gladesville tak, die Eastwood tak, die North Ryde tak asook die West Ryde tak te deursoek. Dit wys jou dan of die media beskikbaar is, wanneer dit terugverwag word, en laat jou toe om dit te bespreek. Jy kan ook sê by watter een van die bogenoemde biblioteke jy dit dan wil kom uitneem. Daar is 'n daaglikse diens wat die bespreekte boeke na die regte biblioteke aanry en jy word dan via epos of gewone pos in kennis gestel dat die boek, DVD of video daar is om uitgeneem te word. Items kan tot en met 21 dae uitgeneem word en 2 keer na mekaar uitgeneem word - kyk hier om te sien wat alles en vir hoe lank. Die Videos wat ek uitgeneem het is nog in uitstekende toestand en goed opgepas.

Die mense by die biblioteek is baie vriendelik en die hele boek uitneem proses is "doen dit self". Al die boeke of media het RFIDs (radio frekwensie IDs). Jy stap in die biblioteek in, neem dit wat jy wil hê, sit jou biblioteek kaart op 'n blad neer wat dit dan registreer. Sit dan een vir een die media items neer wat dit dan aan jou naam koppel en jy loop weer...sonder enige moeite.

Tuesday, October 23, 2007

Gaan Jake White die Wallabies se afrigter word?

Hierdie is sommer net 'n klip in die bos...

Gaan Jake White die Wallabies se afrigter word?

Ek lees die volgende berig vandag in die koerant:

"Australian Rugby Union supremo John O'Neill says South Africa's World Cup-winning mentor Jake White would certainly come under consideration for the vacant Wallabies coaching job - if he applies....."

Sunday, October 21, 2007

'n Tikkie Aussie gasvryheid in die blou berge

Ons het 'n baie avontuurgevulde naweek gehad. Ons het gekuier op die "Blue Mountains" plaas van mense wat baie oop te tafel (oftewel gasvry) is. Soos julle teen hierdie tyd seker al weet...ons familie kuier mos vir ons. Daarom het ons vir die afgelope twee naweke vir ons lekker wegbreek naweke bespreek weg van die huis af. Laas naweek was ons by Pearl beach, en hierdie naweek in die "Blue Mountains". Ek sal nog bietjie later fotos oplaai van ons verblyf daar by Pearl beach, maar ek gaan nou eers vir julle vertel van hierdie afgelope naweek. Ons het vir ons vir die naweek naby Kurrajong in die "Blue Mountains" 'n berghut/kothuis bespreek waar mens op bergstaproetes kan gaan, in kajakke op die "Creek" kan ry en die naweek as familie net rustig saam kan spandeer.

Hier in Australië mag mens mos nie karre oorlaai nie...en aangesien ons sulke wetsgehoorsame (lees "versigtige") voornemende landsburgers is, het ons toe maar besluit om in twee aparte vervoermiddels na die plek in die "Blou Berge" te ry (of ten minste vir die grootste deel van die pad)...my vrou, kinders, skoonma en skoonsus in die kar en ek in die trein. Ek het natuurlik eers op die 131500 website gaan kyk watter treine ek moet neem - die "Northern Line" tot by Strathfield en dan weer die "Western Line" al die pad via iets soos 15 stasies tot by Richmond, wat dan net 'n hanetreetjie van die plekkie is. Ek koop toe vroegoggend al 'n kaartjie. Die treinkaartjie kos net $6.50. Ek geniet die ritte nogal, want mens sien soveel nuwe en verskillende mense...leer ken die stad se mense op grondvlak en mens word stukkie vir stukkie 'n Sydney-sider. Van West Ryde af kom ek toe so 17h15 op Strathfield stasie aan. Vandaar kry ek toe 17h30 die trein Richmond toe. As julle op die kaart kyk sal julle sien dis ook hier waar die treinspoor eindig. Aanvanklik is die trein nogal vol. Moeë mense sit en staan die hele treinwa vol. Almal oppad iewers heen. Ek oppad na die blou berge. Ek en vroulief konfereer oor die foon waar ons nou trek. Sy ry nogal gou en hulle sit toe vir my en wag op Richmond. Die stasies flits verby: Strathfield, Lidcombe, Auburn, Clyde, Granville, Harris Park, Parramatta, Westmead, Wentworthville, Pendle Hill, Toongabbie, Seven Hills, Blacktown, Marayong, Quakers Hill, Schofields, Riverstone, Vineyard, Mulgrave, Windsor, Clarendon, East Richmond en uiteindelik...Richmond. Net voor Richmond klim drie van die treinpolisie op die trein, maar teen hierdie tyd is die treinwaens al bykans leeg. Hul vra my kaartjie, gaan sorgvuldig die gegewens na en stap verder. Mens sien hulle eintlik maar min op die treine, maar wanneer jy hulle sien...dan wil jy nie sonder kaartjie gevang word nie. Teen 18h36 kom die trein op Richmond aan, en teen hierdie tyd is ek alreeds in 'n lekker naweek "mood", want ek luister na Richard en Lochner se "Tussen Treine" en ek af en stap vrolik, want my familie wag en 'n lekker naweek lê voor ons.

Ons "squeeze" in die kar in. Net 'n kort entjie en ons bereik met behulp van die Navman GPS die Kirkwood afdraai uit Blaxlands Ridge pad. Die plekkie waarheen ons oppad is, is Kurrajong Trails & Cottages. Baiemaal het ons so in Suid Afrika saam as familie gaan stap...Naboomspruit, Warmbad, die Waterberge, Potgietersrus en Thaba Patswa. Wel, dit is nou weer sulke tyd. Alhoewel 11000 km weg, was ons oppad om dieselfde te doen. Kurrajong Trails & Cottages is geleë op die plaas van Steve en Lee Finnane wat hulle reeds 25 jaar gelede vir $30000 gekoop het...die plek moet nou 'n fortuin werd wees...maar hulle gee nie om nie, want hulle is nie van plan om dit ooit te verkoop nie.
Hier is 'n foto vanaf hulle website:


Hulle het eers hier op die plaas 'n perdeskool bedryf, maar omdat die versekeringspremies te hoog geraak het, het hulle besluit om verder net staproetes hier te bedryf. Die afdraaipad na Kurrajong Trails is hier. Mens kan die plek maklik sonder 'n 4x4 bereik. Ons het omtrent al die pad na die kothuise op 'n sagte sand pad gery onder bloekombome. Dit is by -33.4599° (Suid), 150.771° (Oos)
Hier is 'n kaart van die plek...

View Larger Map

Daar is vier volledig toegeruste kothuise (Cottages) met slaapplek vir 6-7 mense. 'n Stuk of 12 pragtige bruin maanhaar perde wei nou vryelik op hulle plaas. Die verblyf kos sowat $385 per naweek en ook $385 van Maandag tot Vrydag. Die kothuise het 'n volledig toegeruste kombuis, 'n badkamer, 'n groot dubbelbed en 4 ander beddens op die eerste vloer,'n kaggel, sagte rusbanke, muskietnette oral en 'n stoep waarop mens lekker kan sit en kuier. Daar is ook plek om 'n lekker kampvuur te maak en hout kan jy kry net soveel jy wil...bring net jou eie rooster saam - want hier is net 'n plaat om op vleis te braai. Daar is egter 'n gesamentlike BBQ area by die skuur (wat tafeltennis is) waar jy die gasbraaier kan gebruik.

Wel, om terug te kom by die naweek...ons kom toe reeds na donker daar aan. Kothuis nr. 4 was ons s'n. Nadat ons afgepak het gaan sit ons toe in die aandluggie en luister na die soete geluid van krieke in die berge. Af en toe verbreek die ge-hoe-hoe van 'n uil die naggeluide. Daar waai nie eens 'n windjie nie, maar dit is nie te koud of te warm nie. Dis perfek. Die helder maan bo ons koppe is feitlik die enigste lig rondom ons en dit verlig die omgewing net genoeg om te kan sien dat daar nie eens 'n geritsel in die blare van die hoë bloekombome oral rondom ons is nie. Die toneel is amper onwerklik...dis soos om in 'n foto rond te loop, want al wat beweeg is ons. Die maan en helder sterrehemel, asook die bloekomboomblare bokant ons koppe staan doodstil. Verder is daar niks ander geluide nie. Ons gesels en kuier tot laat in die nag. Toe ons gaan slaap los ons die kamervenster se blinders opgetrek sodat die helder maanlig in die kamer in kan val en ons vroegoggend deur die morestond begroet kan word in die bed. Hier word dit kort na 5 in die oggend lig en dan hang daar 'n mis uitgestrek oor die vallei soos watte. (Verskoon maar die fotos se kwaliteit...het my kamera by die huis vergeet en moes toe maar die Navman N40i s'n gebruik.)

Vroegoggend maak ons vir ons koffie en luister onder die bome na die magdom voëlgeluide. Daar is helder groen voëls met helderrooi koppe. Vir die eerste keer sien ons alles wat rondom ons lê. Reg voor ons is 3 ander kothuise. Twee kothuise staan leeg die naweek, en in die ander een is nog 'n gesin wat ook hou van braaivleis oor die vuur.

So entjie van ons kothuis is 'n sinkskuur met 'n regte werkende trekker en 'n magdom tierlantyntjies wat mens op 'n perdeplaas gebruik. Stiebeuels word oral vir handvatsels gebruik en in die kuierskuur is daar oral fotos teen die mure van Aussies van vergange se dae. Daar is fotos van skaapkrale waar daar duisende skape bymekaar is. Vriendelike Aussies op trapfietse en op ander fotos weer fotos van 'n "Rodeo" en manne wat soos lappe van die bulle afgegooi word. By die klein "kroegie" die tafel is 'n perdesaal met stiebeuels en teuels. Buite die skuur staan een goedversorgde perd en wei in 'n kampie by 'n baal hooi, en ver in die vallei kan mens 9 ander perde tel wat vry rondloop langs die rivier en wei op die vlakte groen groen gras.

Maar hier noem hulle die rivier 'n "Creek". Amper soos "Dawson's Creek" op die TV...maar in hierdie geval net "Steve en Lee" se "Creek". So na ontbyt besluit ons toe om die grondpad af te stap in die vallei. Die "Creek" loop deur 'n vloedvlakte wat geheel bedek is met groen gras. Die hoogte bo seespieël onder by die rivier is so 4 meter volgens my Garmin Foretrex 101 GPS, terwyl die kothuise op 'n hoogte van 140 meter lê. Daar is 'n kuier area reg langs Steve hulle se huis wat uitkyk oor die hele vallei en vanwaar mens die perde in die verte kan sien wei. Hulle hol regtig hier vry rond soos wat ek gehoor het by Kaapsehoop in SA gebeur. Teen laatmiddag, dan klap Steve net die sweep so paar keer en die perde kom self met die pad langs op vanaf die vallei terug boontoe...ongewoon, maar tog nie, want sien, dis alles mak perde. Onder in die vloedvlakte gee die gras mens die induk van 'n baie groot park in die middel van die berge, maar ek skat mens noem dit seker 'n "meadow" in Ingels. 'n Rivier loop al langs die kant van die klowe en in die water dryf ronde waterplante. Die water is suiwer en skoon. As mens na die perde aangestap kom, dan kom hulle spontaan aangegalop. Ek vryf oor hulle sagte neuse en hulle staan vriendelik stil. Hulle wei langs 'n enorme groen boom wat sy koelte oor 'n kol van seker so 15 meter in deursnee gooi. Die gras lyk koel en sag onder die bome en daar staan 'n suurlemoenboom so 'n entjie verder. Ek onthou goed dat ons net so 'n suurlemoenboom in Silverton gehad het as kinders. Dis daardie suurlemoene met die growwe skille en as jy hulle afdom kan jy die suurlemoenskydies soos naartjies eet - alhoewel ietwat suurder. Die kinders hardloop sommer sulke ente van 50 meter vooruit oor die natuurlike "grasperk". So 'n ent verder vernou die grasperk tossen die klowe en aan die punt van die rivier lê daar 3 kajakke waarmee mens 670 meter in die rivier af kan roei. Aan weerskante van die gras en die rivier is daar hoë sandsteen kranse waarteen daar oral groen bome gewortel staan. Hulle groei sommer so teen die rante en boomvarings hang teen die wande af. Daar is ook 'n hele klomp natuurlike "grotte" langs die kranse soos wat mens in die rivier afroei. Die water is suiwer en op die diepste seker so 2 meter diep. Op die bodem kan mens lang peulvormige bloekomblare gesink sien.

Die water is so stil soos 'n spieël en dit is net ons geroei wat rimpels in die die oppervlak veroorsaak. Die geklank van 'n magdom voëlgeluide laat jou soms vergeet dat jy nie in die paradys is nie. Ons het gedurende die naweek 'n paar keer die 2 km in die vallei afgestap en gaan kajak ry. Hier is die kinders op een saam met my. Steve is op die een in die agtergrond. Hy het sy bejaarde ma, wat by hulle kuier, vir 'n entjie op die "Creek" gaan roei...om vir haar en ons te wys waar die platypus (eendbekdier) soos 'n wewer nesmaak aan die kant van die rivier.



Daar is voëls wat klink of hulle vir mekaar sit en lag in die bome en so af en toe duik daar 'n ander een af en vang iets in die rivier. Ek het geskat dat sommige van die bome, waarvan sommiges sommer in die middel van die rivier staan, sowat 20-25 meter (amper 6 verdiepings) hoog is. Dit is 'n fantasties rustige ervaring om so in 'n "Creek" af te roei. Ek en my vrou het dit vanoggend alleen gaan doen en sowat 650 meter (het ge-check op my GPS) ver in die rivier af geroei onder bome. Daar is sulke stokkies-spinnekoppe in die takke wat oor die rivier hang. Mens voel of jy die plek vir jouself het. Steve hulle se een seun en sy maatjie het sommer in hulle se klere daar in die water gebaljaar en vir hulle boomhuise gebou in die dooie boomstompe wat omgeval het in die water. Toe ons gister saam met die kinders teruggestap het na ons kothuis, kies ons toe sommer kortpad teen die berg op...toemaar, daar is darem oral gemerkte "tracks" wat met gekleurde toutjies om die baie bome aangedui word. So het ons saam met die 2 kalante die 140 meter uitgeklim. Vir hulle was dit 'n groot avontuur. Ek moes my dogtertjie op plekke selfs optel by die kranse en rotskeure waarteen ons opgeklim het - maar nerens is dit lewensgevaarlik nie.

So 'n rukkie voor sononder kom Steve daar by ons kothuis verby en vra wie wil saamry met die 4x4 tot onder in die vallei. Ek en die kinders spring toe in, want hier kyk mens nie 'n gegewe perd in die bek nie...mens maak vriende met elke nuwe Aussie wat jou net 'n halwe pinkie gee. Toe ek my mond vir die eerste keer oopmaak...sê Steve: "Oh, you're from South Africa ! We've has some South Africans over here the other day..." En so sit ons en gesels oor SA en oor die tyd toe hy in 1969 as skoolseun in SA op 'n rugby toer was, en oor hoe dit nou in SA gaan en hy bewus is van wat Robert Mugabe in Zimbabwe aanvang. Hy vra my hoe dit nou daar gaan...en ek antwoord maar met min woorde, want wat kan mens nou sê...wat sal dit tog help...mens besef alte goed hoe totaal oningelig meeste mense hier oor SA is...hulle is salig onbewus van alles in SA...hulle hoor maar net as Suid Afrikaners vir hom sê hoe wonderlik dit is dat hul kinders hier so vry kan rondspeel. Terug by die kothuis nooi hy ons uit om die wereldbeker rugbywedstryd saam met sy familie te kom kyk, want, sê hy vir my, "sy hele familie skreeu moreoggend vir die Springbokke"...hulle kan mos nie toelaat dat die pommies wen nie - net so sê hy! Wel, ek aanvaar toe met graagte die uitnodiging en sê vir hom ons is daar! Anders sou ons die wedstryd gemis het...want in die kothuise is nie TVs wat opvang nie.

Later die aand, toe die son vreedsaam sak agter die blou berge, het ek gedink aan daai liedjie..."when the sun says g'day to the mountains", toe ek die son sien sak terwyl ek vir ons lekker skaaptjoppies op die gasbraaier BBQ maak met Suid Afrikaanse Steak en Tjops speserye... Hier praat die son seker Aussie as hy vir die berge "goodnight" sê.

(ja, reg geraai..die Navman se kamera het nie 'n zoom funksie nie)

Wel, vanoggend vroeg, 04h40 is ek, vroulief en skoonsus op in suiker ons toe af na Steve hulle se huis wat, heel nederig, van enkelmuur bakstene gebou is om te gaan kyk wat gebeur in die stryd.
Hulle het die mees asemrowendste uitsig oor die bloekomwoude en oor die "Creek" onder in die vallei.

12 Jaar gelede het die bokke mos laas die wêreldbeker gewen. Meeste van ons vriende was toe nog nie eens getroud nie, en ek het my vrou eers later daardie jaar ontmoet. Ek onthou nog goed...ek het saam met vriende by die "Robbers den" gastehuisie naby Pelgrims Rus in die laeveld gekamp. Ons het die wêreldbeker en Joel Stransky se geskiedkundige skop van daar op die TV dopgehou. Een van my vriende was so op sy senuwees oor die amperse verloor dat hy sommer in die kamer langsaan gaan staan het, en ons vir hom moes sê wat gebeur omdat hy nie meer die spanning kon vat nie. Ja...baie jare terug. Ek was toe nog op Tuks. En, nou sit ek hier in Oz met 'n liefling vrou en 2 kinders! Hoe loop die lewe nie jakkalsdraaie met 'n mens nie.

Wel, terug by die wêreldbeker wat ons saam met hierdie gasvrye Aussie familie gevier het. Toe ons daar by hulle kom was die huis reeds wakker. Ons word vroegoggend tee geskink en Steve haal grappendergewys sy beste Suid Afrikaanse aksent uit om ons welkom te laat voel. Hy sê: "Vanoggend skree ons saam met julle...en ons hoop ons span wen!"...nou net in Engels natuurlik.
En daar sit ons, soos medelandsgenote, met ons voete op dieselfde voetkussings en drink tee en skuif reg om die 2007 wêreldbeker eindstryd tussen die Engelse rose en die Springbokke te ondersteun. Dit was ons, Steve, sy gryse moeder en sy dogter se vriend Richard. Ons gesels oor Percy Montgomery se skoppe, oor Jake White en Os du Randt en ek verduidelik vir Steve dat "Os" dieselfde beteken as "Ox", nadat Steve die opmerking maak dat Os seker nie deur sy deurkoesyn sal kom so groot is hy nie. Ons gesels oor die baie skoppery in die game en Steve sê hy hoop Suid Afrika kan nou net 'n "try score", sodat daar darem bietjie opwinding in die game kan kom. Steve vra of Thabo Mbeki nou die president is, en ek wys vir hom wie dit is. Hy sê vir my, hy hoop net nie alles rafel uit as Mandela eendag doodgaan nie. En so sit ons en gesels en toe die Springbokke uiteindelik as die wenners uit die stryd tree wens ons mekaar geluk met "ons" span se oorwinning. Die bokke wen toe mos die pommies met 15-6, alles via van skoppe. Dit was 'n stryf van epidermiese proporsies sodat selfs die kaptein met bloedbelope oë van die veld af is op 'n stadium. Maar uiteindelik het beide van ons spanne nou gewen...die Blou Bulle die Super 14 en die Bokke die Wêreldbeker!! Selfs die ouens by my werk..almal Aussies het gesê hulle skreeu hierdie naweek vir die bokke!

Na ontbyt gaan stap ek en vroulief toe die Black Gully (Gully = deep ditch cut by running water) roete (die vorige dag het ons die Rock Wallaby gestap). Oral waar ons gaan stap "Peanuts" saam. Hy ken die staproetes al uit sy kop uit en hy wag geduldig dat ons opvang met hom. "Peanuts" is natuurlik die mak Dingo hond van Steve hulle. Dit is die slimste hond. En hy het verseker nie 'n hondelewe nie! Hieronder is hy in die foto.


Waar ons by die rivier kom, spring hy in die water en swem al voor ons kajak uit tot aan die ander kant. Hy klim oor die boomstompe wat oor die rivier lê en as ons weer by die wal kom, dan skud hy hom af sodat jy sommer papnat kan word. Hy is hier so vry soos 'n perd want hy het kilometers se groen gras waarop hy vryelik kan rondhardloop. Waar ons langs die rivier gesit en kuier het, kom skud hy die koel water sommer tussen ons af...asof hy die koel lafenis van die water met ons wil kom deel.

Vanmiddag is ons terug...almal in dieselfde kar..dit is so 50km van ons huis in Cherrybrook af. Mens ry oral deur groen landerye, met besproeiing, deur die historiese dorpie Windsor al langs Windsor road, tot waar mens uiteindelik links draai in Showground road in Castle Hill.

Dit was 'n lekker naweek...en ek dink aan die liedjie: "Once a jolly swagman camped by a billabong under the shade of a coolibah tree..."

Groete...van die Australiese korrespondent

Wednesday, October 17, 2007

Ons het 'n brief van die "Case Officer" gekry

Ons het gister 'n brief van ons "Case Officer" (CO) gekry wat vra dat ons hom in kennis stel van ons oorsese reisplanne. Dit lui as volg:

Australian Government
Department of Immigration and Citizenship

Level 4, 55 Currie Street Adelaide SA 5000
GPO Box 1638 ADELAIDE SA 5001 • Telephone 131 881 • Facsimile (08) 8237 6629 • Website: www.immi.gov.au
IN REPLY PLEASE QUOTE –
File Reference:
CLF2007/.......
ICSE Request ID:
....................
Case Officer:
............. – ASPC R5

Primary Applicant: ....................................
Application Type: Class BN Subclass 136 Skilled – Independent

I refer to this application for a Class BN, subclass 136 Skilled – Independent visa, received on 11th January 2007.

I am writing to advise that this application for migration to Australia is nearing completion.
A decision as to whether or not visas will be granted for travel to Australia will be made once all of
the requirements listed in this letter have been addressed satisfactorily.
The information in this letter applies to the following:
• ................................
• ................................
• ................................
• ................................

Initial Entry Date
If all requirements are met and visas are granted, all applicants will be required to make at least an
initial entry to Australia on these visas by no later than – 18th April 2008.
The initial entry date attached to a granted visa cannot be extended once the application is finalised and
a visa may be cancelled where a visa holder does not satisfy this requirement.
Requirement to depart Australia
Every person, included in, and intending to migrate to Australia as part of this application must be
outside of Australia, at the same time, to enable a decision to grant visas to occur.
Those applicants who are currently in Australia must now provide details of their travel itinerary
including the date of departure from Australia, at least a week in advance of their departure.

Departure and itinerary details including flight number, destination, date and time of departure should be e-mailed
to –
..........@immi.gov.au
Applicants who are not planning to leave Australia for some time should still advise this office of their departure plans by the date specified below. An itinerary should be provided once travel plans are finalised. Please note that failure to provide adequate notice of departing Australia may result in delays in finalising the application.

At least 3 working days, after departure from Australia, must be allowed before approaching
the overseas mission to have visas evidenced, to allow time for the electronic transfer of visa data to that mission to occur.

It may then take at least a further 5 working days for the full evidencing process to be finalised,
depending on the processing priorities at the overseas mission. If applicants are unable to go to the Australian overseas mission in person, they should check with the mission for other arrangements.

If this office has already been provided with the travel itinerary and advice of the Australian
overseas mission for evidencing of the visas, then there will be no further communication from this office until after the visas have been granted. When approaching the overseas mission, please take a copy of this letter for verification. If travel plans are altered, this office must be immediately advised of the changes.

Arrangements for visa evidencing
As any visas granted will be linked to the passport information held by this office, applicants need to have provided current valid passport information to the department prior to this application being finalised.
Please advise this office which Australian overseas mission will be used for evidencing of any visa grants into passports.
A list of Australian overseas missions is available at the Department’s website. Please note that not all Australian missions overseas have visa evidencing facilities. If unable to attend an Australian overseas mission in person, applicants should check with the mission for other arrangements.

Contact details for Australian overseas missions are also available from the Department’s website
http://www.immi.gov.au/contacts/overseas.htm .
If a material change occurs in an applicant’s circumstances after visas have been granted but before arrival in Australia this office must be informed immediately that a change has occurred. Failure to do so could result in a visa holder being refused entry to Australia.

Note: At time of writing, this application has not been finalised and visas have not been granted.
Applicants are cautioned not to give up a job, dispose of property, or make other
arrangements, until notified that the application has been approved and visas granted.

Sunday, October 14, 2007

Koala kontrei

Daar hol mos leeus in die strate rond in Suid Afrika... Dis mos wat mense sê uitlanders dink as hulle dink aan Suid Afrika...wel, ek kan nou vir julle onomwonde sê: Daar spring ook nie kangaroos hier in die strate rond nie. Daar hang ook nie Koalas in die bome rond nie. Wat 'n skok! G'n krokodille waarmee mens moet stoei soos in Krokodil Dundee nie!

Ons het tot dusver nog nie baie Aussie diere gesien nie...dit het ons maar gespaar vir as ons skoonmense sou kom kuier. Wat 'n mens wel baie hier sien, dan is dit groot wit Kakatoe's wat vry hier rondvlieg, die mooiste lovebirds wat ek reeds voorheen op my blog gehad het.


Nadat ons eers by die Cumberland woud 'n draai gemaak het, het ons gaan inloer by die Koala bewaringspark in West Pennant Hills. Ons het sommer daarnatoe gestap omdat die park net sowat 1000 meter van ons huis af is, net om bietjie te gaan ondersoek instel hoe 'n kangaroo en koala regtig van naderby lyk en voel. Daar is nou nie so 'n magdom verskillende spesies "wilde" diere soos in Afrika nie, maar die "dieretuin" gee mens wel die geleentheid om baie naby aan die diere te kom.


Kom laat ons sien of ek die verskillende soorte diere, wat daar in die park is, vir julle so bietjie kan beskryf uit 'n eerstehande ondervinding oogpunt. Daar is 'n verskeidenheid diere soos wat die voorafgaande foto aandui.

Wel, 'n Dingo word beskou as die eerste hond wat eie is aan Australië omdat dit blykbaar baie duisende jare gelede hier aangekom het. Hier is 'n foto:


Dan is daar ook nog Wallabies, wat soos kleinerige kangaroos lyk. Jy kry hulle as moeras/"Swamp" Wallabies en Rooinek/"Red necked" wallabies. Hulle dra ook soos Kangaroos hulle kleintjies in hul "pouch".

Dan is daar 'n klein diertjie wat soos 'n ystervark lyk, wat 'n Echidna genoem word. Maar wat hierdie diertjies so interessant maak is die feit dat hulle eiers lê. Dit lê een eier wat na 10 dae in die dier se "pouch" uitbroei, en dan nog 12 weke in die buidelsak bly en soog aan die ma. Hulle leef van termiete en woon in gate oraloor Australië. Sien die volgende foto...

Die wit kaketoe kom vry in Oz voor. Ek sien dit baie gereeld langs die stasies as ek werk toe en terug ry. Die voëls kan "praat" deur dit wat hulle hoor na te maak.

Hier is een wat op die videotjie wat volg "Hello Darling" sê.

video

Daar is ook ander voëls soos die Reënboog Lorikeet, wat ek hier van onder afgeneem het.

Daar was ook die mooiste poue.


Ek het vir julle 93 fotos van ons tyd by die Koala Park op my web album geplaas.

Ons het ook die geleentheid gehad om aan Kangaroos en Koalas te vat en hulle van naderby te beskou. Die kinders het dat die Kangeroos uit hulle hand eet en het hulle oor die kop gestreel.
Die Kangaroo se pels voel so sag die hare van 'n Persiese kat. Hulle is wonderlik sag, self sagter as die pels van die Koala, wat baie harder hare het, amper soos die hare van 'n steekhaar brak.

Hier is die kinders besig om die kangaroos te voer en te streel:


Hier is 'n foto van klein "Joey" van naderby...

Dan is daar natuurlik ook nog die Koalas. Hulle leef van Eucalyptus blare en spandeer blykbaar 16 ure van 'n dag besig om te slaap in die bome om energie te bespaar. Hulle word nie juis omgekrap deur die nabyheid van baie mense rondom hulle nie en sit heel gewillig stil dat al die mense hom kan streel.

Maar kyk gerus die fotos, daar is baie meer.
Groete uit Koala Kontrei.

Toe die familie hier aankom

Saterdagmiddag 6 Oktober ruk ons toe met tipies Suid Afrikaanse gasvryheid op na die Sydney Lughawe se aankomssaal. Want sien...'n stukkie van ons hart kom vir ons 3 weke hier in Sydney kuier. Dis nou my skoonsus en skoonma. Na 4 maande het ons hulle nogal baie gemis. Julle weet mos wat ek geskryf het oor die "suurstof" wat mens so waardeer as jy weet jy min daarvan het.

Wel...so het ons toe mos, uitgevat in Aussie klere en hoede die twee gaan inwag by die aankomssaal van die Sydney Internasionale lughawe. Omdat dit so 'n "spesiale" gebeurtenis is, het ons dit goedgedink om so bietjie uit te staan uit die "skare" sodat hulle ons maklik kan eien.
Ek wou eers vir my so 'n groot bord maak om om my nek te hang soos wat die mense op die lughawe maak as hulle iemand moet kom oplaai...'n bord wat lui: "SKOONMA".

Wel...hier is 'n foto:

Laat net een $@#!& lag.
Die hoed is soos julle kan sien vol kurkproppe aan toutjies om die vlieë weg te hou...sodat mens nie heeltyd die Aussie saluut moet uitvoer nie.

Natuulik het ons mense met hoedens van die Suid Afrikaanse vlag ons kom begroet...ek is seker die ander mense op die lughawe het dadelik geweet hierdie 2 groepe mense kom sekerlik uit dieselfde familie...

video
Die ontmoeting was soet.

Hier is my vrou, my skoonsus en moeks.

Waardeer julle familie...

Natuurlik het Swerwer Junior al te lekker gepronk met die hoed wat sy ouma saamgebring het.

Ons is toe oor die Sydney Hawebrug terug huistoe om hulle aan ons lewe hier in Aussie land bekend te begin stel. Aan die linkerkant kan julle 'n trein saam met die motors oor die brug sien ry.

Posted by Picasa

Wednesday, October 10, 2007

Soms is mens se verlange baie groot

Goeiedag vriende

Soms gaan daar dae verby dat mens baie dink, terugverlang en nie eens tyd kry om te blog nie.

'n Mens berei jouself voor in jou hart op die groot verandering, en verwydering van alles wat jy ken. Maar laat ek jou nou een ding vertel: Jy kan dit nie regtig vir jouself voorstel voor die tyd as jy dit nie self gedoen het nie. Dis nie maklik om dit te beskryf nie. Ek dink die gevoelens wat mens kry is deels afkomstig van die feit dat mens fisies in afstand en tyd so vêr is (vrek vêr) van al die bekende, en deels as gevolg van die besef in jou kop dat dit PERMANENT is. Hierdie besef werk soos 'n klankversterker en maak alles wat jy ervaar soveel meer intens.

Dis soos om met SCUBA (Self Contained Underwater Breathing Apparatus) toerusting diep onder die see rond te swem...jy kan dan nie sommer net wanneer jy lus is na die oppervlak gaan om gou asem te skep nie. Nee, as jy so 20-30 meter onder die massas en massas water is diep in die see, besef mens gou-gou dat jy moet klaarkom met net die lug wat jy op jou rug vasgegespe het. Dink bietjie mooi aan hierdie analogie... (selah) As jy sou toegee aan die instinktiewe (en baie menslike) drang om gou by die oppervlak uit te kom, gaan die lug in jou longe met 4 keer hul volume opblaas en dis klaarpraat met jou. Jy leer ook om ELKE asemteug te tel, nie meer lug as vanselfsprekend te aanvaar nie. As mens net begin SCUBA, dan kan jy met 'n groot silinder selfs nie eens 25 minute onder die water hou nie...jy is eenvoudig te gulsig vir lug! Maar soos wat jy meer ontspanne en gemaklik word onder die water. Soos wat jy leer om rustend met die seestrome saam te dryf, eerder as as om verwoed met jou eie krag van een plek na 'n ander te swem - leer jy om die kosbare lug te spaar. Jy leer om te luister na jou asemhaling en jy kry weer waardering vir die suurstof wat jy so as vanselfsprekend aanvaar het. Op hierdie manier kan jy later maklik 50 minute onder die water deurbring sodat dit eerder die risiko van stikstof wat oplos in jou bloed is wat jou beperk en nie meer die hoeveelheid lug in jou silinder nie.

Net so...so voel mens soms...hier in die vreemde. Jy is net 'n telefoonoproep vêr van jou mense in Suid Afrika (daardie naelstring wat jy so nodig het), maar jy kan nie sommer vinnig opgaan oppervlak toe vir lug nie! Want jy is 11000 kilometer vêr!!! Jy kan nie meer sommer gou vir 'n kuiertjie inval om hulle warmte te ervaar of om saam met hulle koffie te gaan drink nie. 'n Hele nuwe lewe het hier vir jou aangebreek: jou kinders gaan hier skool, jou werk is hier, alles wat jy besit is hier, maar soms voel dit nogsteeds soos 'n baba wat half gebore is...die kop is al uit, maar die lyf is nog binne. Jy en jou gesin geniet reeds die voordele van die nuwe land, maar die ander deel van jou familie is nog in Suid Afrika, wat maak dat jou lewe hier nie kompleet is nie! Die ravyn van afstand en tyd is so ontsaglik groot dat die gedagte wel soms deur jou kop gaan dat jy hulle dalk NOOIT weer gaan sien nie! Maar ons weet dit is nie so nie...danksy aan moderne tegnologie en beter lugvervoer....maar ai - dit kos baie geld. Moet dus nie dink dat as jy hierheen kom jy bly net in 'n ander dorp nie!

Indien jy baie geheg is aan jou familie moet julle baie oor die saak praat en 'n "lobster meeting" hou met hulle. Hoor hoe staan die saak...sou hulle dit ook wil doen? Kry dan voordat jy nog hiernatoe kom reeds 'n plan in plek om daardie persone wat bereid is ook hier te kry, want soos ek reeds gesê het: Lug word baie kosbaar as dit in "short supply" is. Mens waardeer dit wanneer dit skaars is.

As mens eers PR (Permanent Residence) het en 50% of meer van die kinders bly hier in Aus, dan is mens geregtig om aansoek te doen om jou ouers ook oor te bring. Dit is natuurlik 'n ander storie om te weet of hul hier sal kan aanpas...

Die vrae: "Of hierdie dan nou die toestand van jou hart gaan wees van die res van jou lewe...so sonder jou ma of pa ? Of jy haar ooit weer gaan sien? Of jy dit gaan maak sonder daai liefde? Gaan jy hulle ooit hier by jou hê?" Dis maar alles vrae wat by mens opkom. Dit kan wees soos 'n groot donker tonnel wat jy in die gesig staar. In SA was die "suurstof" volop...en jy het nie geweet wat jy het nie, maar hier is dit skaars....dus moet jy sorg dat jy planne het om daai mense "suurstof" hier te kry, of andersins moet jy seker maak dat jy planne maak om af en toe "op te gaan vir asem", al is dit duur en die afstand groot en diep. Maar soos wat die tyd aanstap leer 'n mens om te "cope" met die verlange en jy leer hoe om met minder "suurstof" klaar te kom en langer onder water te bly.

'n "Kop besluit" is nie noodwendig maklik nie. Selfs al sê jou hart ook vir jou dis die regte ding en al val alles in plek...al is jou paaie na Oz geplavei, weet mens een ding: "As iemand wat op jou gegroei het...weg moet gaan (of weg moet wees), dan kom daar 'n seerplek...wat net nie wil genees nie." Amper soos 'n seer knie wat sukkel om gesond te word omdat jy dit heeltyd moet gebruik en die inflammasie nie wil weggaan nie. Maar ek skat dis die lewe van 'n pionier...daardie mense wat die ongekaarte grondgebied vir hulle navolgers moet gaan ontdek, alhoewel die "gevare" hier meer te doen het met die seerkry van jou hart.

Ek kan eerlikwaar op hierdie stadium nog nie sê dat ek enigsins my lewe in SA mis nie, net die mense wat na aan my was. Hier is net soveel, indien nie meer, mooi plekke. Ek geniet 'n ongekende rustigheid in my hart oor die lewe en oor die toekoms, alhoewel die feit dat huispryse so hoog is hier wel 'n vlieg in my salf is. Mens bekommer jou nogsteeds oor jou mense in Gangster's Paradise. Hier is 'n liedjie van Richard van der Westhuyzen oor mens se gevoelens oor die land aan die suide van die donker kontinent....

Anthem

Woorde en musiek; Richard van der Westhuizen

Dis skemer oor ons land
Die vreemde gloed van 'n verre brand
Hang oor die newels van die rookmis en reën
Die kranse staan as skildwag
Voor die donker drom se hoonlag
Waar die slanggif in die koue aarde pols

Oor die witkant, oor die swartkant
Oor die skaakbord van die hartland
Kruip die groot kanonne al hoe nader
Ongehoord en ongesiene
In die drup-drup van morfiene
Loop die uurglas nou algaande leeg

Maar iewers is daar vrede
En 'n beter dag, en 'n nuwe hede
Iewers is daar vrede
En die weerklank van 'n suiwer rede
Iewers is daar vrede, wie weet waar?
Mag die gode ons bewaar
Mag die gode ons bewaar
Mag die gode ons almal bewaar

Waarheen daal die donker maan
Wat sal op sy sekel staan
Die land lê vol en ryp in vrug en blom
Voor die silwer, voor die rooi
Voor die mespunt en die prooi
Slaan die staalblou weerlig op die valbyl se lem

Nou weerklink die horinggeskal
En iewers moet die dolos val
In die droë stof wat oor die aarde lê
Oor die erwe van ons vaad're
Woed die wilde en makab're
Klink die somber klaaglied van die naderende dood


(Luister na so 'n uittreksel van hierdie liedjie by www.rhythmonline.co.za, waar mens ook aparte snitte van liedjies teen so R7.00 vanaf Suid Afrika kan aflaai in MP3 formaat. Ek het lank gesoek na 'n plek waar mens lekker Afrikaanse musiek binne 'n paar minute kan betaal, aflaai en luister.) Julle kan dit ook probber luister by Richard se eie Website : www.richardvdw.co.za, maar dit is aansienlik stadiger.

Mag God ons familie bewaar

Sunday, October 07, 2007

So ietsie oor die kinders en hul skool

Soos ek reeds voorheen vermeld het is ons kinders in 'n publieke skool, in Oakhill Drive. Een van die eerste stappe wat ons geneem het toe ons besluit het om Australië toe te verhuis was om vir ons dogtertjie Naomi plek in 'n engelse Graad R in Suid Afrika te bespreek. Sy is van die begin van die jaar totdat ons vertrek het hiernatoe vir die eerste keer in haar lewe in die engelse taal geleer. Sy het baie goed gedoen en sommer gougou aangepas. Ons seun het ons in Bakenkop gelos. Toe ons hier aangekom het is Markus (wat in SA in Graad 2 was) in Year 3 ingeskryf. Naomi is in Kindy (Kindergarten ingeskryf, wat die jaar voor Year 1 is hier). Hier in Oz begin hulle alreeds in Kindy met formele lees en skryf. Sy het BAIE goed aangepas en waar sy in SA nogal gesukkel het, doen sy hier baie goed. Die juffrou sê ook sy is 'n klein kunstenaartjie, want sy teken net oral prentjies.


Selfs in Kindy (oftewel die jaar voor Year 1) word daar van hulle verwag om in Engels klein toesprake te kan maak oor wie sy is en wat sy daardie week gedoen het...'n "News day". Hier is 'n toesprakie wat sy alles op haar eie (as 6 jarige) moes maak voor die klas.

video

Wat Markus betref, was ons aan die begin bekommerd omdat hy nie net 'n hele jaar gespring het nie, maar ook nog die eerste helfte van die jaar gemis het. Hy is egter op aandrang van die (ek moet sê) baie viendelike hoof saam met sy ouderdom in Graad 3 ingeskryf. Hy het ook sommer baie goed ingeskakel en skryf al opstelletjies in Engels.

Hy het aal heelwat Australiese maatjies en gaan speel so af en toe by sy beste maatjie wat 'n Aussie is. As ek vir hom vra of hy hou van Australië...dan sê hy "Pappa sommer BAIE".

Die volgende fotos is van die "Grandparent's day" by die skool waar die kinders van hul "kunswerke" moes vertoon.

Hier is die twee kalante voor voor Naomi se klaskamer.



Hier is die Year 3 klas, met Markus in die agtergrond.



Hulle sing ook daagliks in die klas en hy ken al heelwat Aussie liedjies uit sy kop uit. Hier sing hulle "Rocking Robin".

video.

Selfde met die Kindegarten klassie. Hier tree hulle weer op, maar tydens 'n vorige okkasie.

video


Saturday, October 06, 2007

Ons kuiergaste is oppad....

Op hierdie einste oomblik is my skoonma en skoonsus op Johannesburg lughawe besig om te wag vir hul vlug Oz toe. Net na 17h00 gaan hulle deur die "poorte". Hulle vlieg so 18h00 SA tyd en land more middag na middagete hier in Sydney. Hulle kom ons verlange so 3 weke lank les hier in Sydney.

Tuesday, October 02, 2007

Geld wat krom is maak reg wat stom is

Hoeveel is vryheid vir jou werd?
Wat is die prys wat jy daarop kan plaas om snags rustig te kan slaap?
Hoeveel is jy bereid om te ruil vir gemoedsrus?
Wat is jy bereid om alles prys te gee om weer 'n "normale" lewe te lei?
Dit is met geen geld te betaal nie!

Jy maak dalk nou geld soos bossies en jy kan met geld speel soos 'n bobejaan met waboomblare. Dalk brand jou geld jou en jy spandeer duisende rande aan die mees nuwerwetse alarmstelsels omdat jy moeg is vir mense wat net agter jou geld aan is soos die duiwel agter 'n siel is.

As jy Australië toe wil kom sal jy NIE jou geld in die water gooi nie, maar weet: dit kos 'n plaas se prys om te emigreer en om jou voete hier te vind gaan jou baie geld uit die sak jaag, maar as jy eers hier is sal jy dit vir geen geld ter wêreld verruil nie. Geld groei nie op mens se rug of aan bome nie, en dus sal jy die bul vierkantig in die oë moet kyk en jou hande uit die mou haal en skouer aan die wiel sit as jy hierheen kom.

Iemand het my gevra om 'n beraming te gee van wat dit kos om hier in Sydney te bly. Wel aangesien dit baie subjektiewe inligting is kan dit baie verskil van persoon tot persoon. Ek wil julle egter 'n idee gee van wat dit kos om hier te bly. Ek is seker mens sal met minder kan wegkom as jy op 'n hele paar plekke dit fyn sny, maar 'n mens se 'budget' stabiliseer namate jy agterkom hoe en waar om te koop. Ons hou van plekke sien, dus is ons 'rondrits koste' op die oomblik meer. Omdat ons graag goed in kontak wil bly met almal daarbuite is kommunikasie kostes ook hoër.

Besluit maar self... Hier is beraamde maandelikse uitgawes vir 'n familie van 4.













































































Kruideniersware + Klere
$1400
Maandelikse huur van 3 slaapkamer huis in Cherrybrook
$1870
Motorversekering (Budget Direct)
$86
Optus Internet
$69
2 x Optus Selfone
$60
True Energy Elektrisiteit
$72
Water
$12
Private Medical (IMAN)
$154
AGL Retail Gas
$72
Petrol
$200
Trein + bus
$220
RoamExpress Tolgeld
$50
Bank diensgeld
$5
Motorlisensie ($261/jaar)
$21.75
Skoolklere (2 kinders) (Jaarliks : Winter=$600 Somer=$300)
$75
Publieke skoolgeld vir 2 kinders (indien op 457 VISA)
$750
'Spending money'
$200
Totaal:
$5316.75


Indien ons 136 VISA deurkom betaal ons nie die $4500 per jaar per kind meer nie en is die werklike uitgawes nader aan $4566.75 per maand.

Ek het op 'n baie handige 'Salary Calculator' afgekom by CareerOne. Dit het 'n glyskaal sodat jy maklik kan bepaal wat jy moet kry om jou kostes te kan dek. As mens byvoorbeeld $80000 in totaal kry per jaar...dan kry jy na verpligte Superannuation/Pensioen en belasting afgetrek is $60290 netto inkomste uit per jaar = $5024 per maand.

Dus...as jy die bogenoemde uitgawes van $4566.75 per maand moet kan dek, dan het jy ten minste 12 x 4566.75 / 52 = $1053.86 per week nodig. Indien jy nou die 'Slider' skuif tot jou 'Weekly Take Home' gelyk is aan $1057, dan is die salaris wat jy moet kry per jaar (met belasting en Pensioen/Super ingesluit gelyk aan $72229). As jy nog die skoolgeld ook moet betaal, dan benodig jy $85000 per jaar).

Die som is heel eenvoudig...maar die besluit is moeilik. 'n Mens kan nie hier kom krepeer nie, maar mens moet ook besluit dat jy 'n ruiltransaksie maak van LEWENSKWALITEIT teenoor MATERIELE WELVAART.

Wil jy eerder iemand anders betaal om jou bed op te maak, maar die risiko loop om daarin geskiet te word, of sal jy self help huisskoon maak in ruil vir die vryheid hier?

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings